WIE IS DIE SKULDIGES (6)

Harm Oost

"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".

Lees reeks by Wie is die skuldiges

DEUTSCH-SüDWEST AFRIKA

Die Kolonie Duits Suidwes (Deutsch-Südwest Afrika) het slegs die Ieeftyd van dertig jaar bereik: op 22 Augustus 1884 het die Duitse Imperiale Regering kennis gegee aan die Britse Minister van Buitelandse Sake dat die oorlogskip 'WoIf' die 500 myl kuslyn van die Grootrivier se mond af na die noorde toe vir die Duitse Keiser in besit geneem het. Walvisbaai (in die eerste tyd 'WaIwick Bay' genoem) was reeds ‘n jaar of ses tevore deur die Engelse geannekseer.

In die maand Augustus 1914 is daar besluit dat die Duitse Kolonie deur die Britse Imperiale Goewerment ingeval sou word met die hulp van die Unieleër onder aanvoering van genl. Louis Botha.

Die hele dertig jaar van sy bestaan het Duitswes die begeerIikheid opgewek van die Britse imperialiste, veral van dié in die Britse Kolonie-met-selfregering, die Kaap die Goeie Hoop.

En daardie begeerte na die besit van die Duitse grondgebied het gegroei namate Duitswes ontwikkel is met groot inspanning van Duitse kragte en gebruik van Duitse kapitaal sowel as militêre mag, wat nodig geword het as gevolg van opstande deur inboorIinge. En met die toenemende verwerkliking van die Brits-imperialistiese idee van 'n Britse staat, waarvan die voete in Kaapstad sou staan en sy kop in die delta van die Nyl sou opsteek. In die wêreld ten noorde van die Zuid-Afrikaansche Republiek het Rhodes (die vader van die Engels-Afrika gedagte) die Boere-president Paul Kruger voorgesteek en die Engelse kolonie gestig, wat sy naam dra. Die Jameson Raid was die Iont wat, soos dit geskyn het, deur die Republikeinse burgers se perdepote doodgetrap is, maar wat in werklikheid Suid-Afrika aan die brand gesteek en verwoes het, ook die onafkanklikheid van die Republieke. Die Union Jack het in 1902 al gewaai van die Kaap tot by die sonlyn, en selfs benoorde daarvan in die Soedan.

Wat die honger na die besit van Duitswes (en van Duitsoos en van die Caprivi Zipfel) nog verskerp het, was die feit dat die Duitse imperialiste ook drome gedroom het met die oor op die Afrika-kussing, en verder dat daardie drome al in die besit van die drie genoemde streke gerealiseer het. In 1880 het Ernst von Weber (wat met ander Duitsers handels- en eiendomsbelange gehad het in Suidwes-Afrika) ‘n welsprekende pleidooi gelewer oor wat hy genoem het  "'n magtige en uiteindelik ryke, nuwe Duitsland op die “suidelike halfrond”, Afrika, soos hy beduie het. En hy het verwagtings gehad dat die Boere Iiewers Duits as Engels sou wou wees. Transvaal was deur die Engelse geannekseer en die Vrystaat sou wel daardie lot ook moes ondergaan. Hy het die Boere baie geprys, want hul was mos ook van die Teutoonse rasl

Von Weber en Iandgenote van hom het die Engelse baie skrik gemaak.

Dit verdien vermelding dat in die jare omstreeks 1900, toe die Republieke finaal onder die Union Jack ingeruk is, die maghebbers van Duitswes die idee van Boere-immigrasie na hulle gebied goedgesind was. Daardie emigrante sou, meen hulle, bereid wees om in die Duitse volkekompleks opgelos te word. Maar die Duitse regeerders het gou-gou ontdek dat die Boere net so steeks was om verduits te word as om verengels te wees. HuIIe wou maar net Boere bly en was bereid om die stryd vir ‘n eie nasieskap te stry teen Engelsman sowel as Duitser, want die roeping om ‘n eie blanke, Christelike beskawing in Suid-Afrika te stig en te verstewig was deel van die Afrikanersiel. En ná die ontdekking gemaak is, het die planne om Boere-immigrasie na Duitswes te bevorder, in duie geval, ofskoon die verkouding tussen Boer en Duitser vriendskaplik gebly het.

Maar wat die begeerte na die besit van die Duitse gebied by die Britse kapitaliste (die imperialiste by uitnemendheid) fel Iaat opvlam het, was die ontdekking van minerale en metale, veral van diamante.

In 1913 het Duitswes aan diamante omtrent ‘n waarde van drie miljoen pond opgelewer, wat vir daardie tyd ‘n groot som was, en van ander metale en minerale was die produksie daardie jaar ‘n halfmiljoen pond sterling. Die geesdrif wat mynmagnate soos sir George Farrar vir die inval in Duitswes getoon het, is heeltemal verklaarbaar. Sir George, wat ook as politikus groot bekendheid in die Unie geniet het, is saam met die Botha-Ieër en het sy Iewe gedurende die ekspedisie verloor, maar nie deur n Duitse koeël nie. Die 'Seitz-diamante', ‘n deel van die buit wat deur die invallers gemaak is, het nog lank ná die verowering 'n onaangename reuk behou.

As 'n mens die Hansard van die Kaapse Parlement bestudeer, tref dit hoe die grondgebied wat van Augustus 1884 af as Duits-Suidwes bekend sou staan, die aandag van politieke Ieiers in die ou Kolonie gaande gehou het. Dis te verstane want die Kaap het van 1893 af die administrasie van 'WaIfisch Bay' oorgeneem. (Op 'n kaart van daardie tyd staan dit ook gemerk as "WaIe Bay”).

Die oorname was natuurlik onder Imperiale toesig. Die baai insluitende 10 myl na die binneland en 15 myl Iangs die kus "was annexed to the Cape of Good Hope”. En voortdurend het die Kaap in Londen verlof gevra om die hele streek van Grootrivier tot die Portugese gebied te annekseer in naam van Koningin Victoria. Maar die Imperiale Regering was stadig om dit toe te staan want Engeland het genoeg moeilikhede gehad met ander nuwe gebiede wat baie Britse geld vreet en wou die woestyn van Suidwes-Afrika nie hê nie. En toe eindelik aan die dringende versoek van die Kaap toegegee word, het Bismarck net drie dae tevore die kuslyn Iaat beset in naam van die Duitse Keiser.

Oor daardie drie dae het die Kaapse anneksasie-imperialiste hulle hare uitgetrek! Maar hulle kon die Duitser nie verwyder uit wat van nou af "Deutsch-Südwest Afrika” was en as sodanig deur Engeland erken is nie.

Hou vir hou kry die Kaapse Parlement aanvalle van bitsige jaloesie oor die gemiste kans. Cecil John Rhodes was nog maar veertien dae Eerste Minister (31 Julie 1890) toe hy sy hartseer probeer dokter met die hoop dat die Duitsers tog nie hulle kolonie sal kan behou nie, omdat dit niks beteken sonder Walvisbaai nie. Dis interessant (ofskoon maklik verklaarbaar) hoe eenstemmig die Rhodes van 1895 was met die Smuts van 1908.

In eersgenoemde jaar verklaar Rhodes in die Kaapse Parlement: "I am not particular in love with German occupation there” (in Suidwes-Afrika). En dertien jaar later (in die middel van 1908) skryf genl. Smuts (volgens dr. Engelenburg) : "From the point of view of South Africa’s future, the German Empire is no desirable neighbour.”

Nog maar ruim ses jaar gelede het genl. Smuts as asst. komdt. generaal van die republikeinse burgers in die ou Kolonie (baie van hulle was rebelle deur hom tot rebellie gebring) die vriendskap en hulp van die Duitsers geniet. Sy rapportgangers wat met verslae na president Kruger in Europa gestuur is het vryelik oor die Duitse gebied gereis. Hy was een tyd van plan om persoonlik van die Duitse gasvryheid gebruik te maak en self na Europa te gaan om die Ieiers van die Republieke wat toe daar was, in te Iig, maar sy hoofde het dit gekeer. En ná die Driejarige Oorlog? Van sy rebel-offisiere het, toe hy hulle by die vredesluiting in die steek Iaat, in Duitswes skuiling gekry teen Britse strafvervolging. Verskeie het daar 'n nuwe, veilige tuiste gevind. Maar dit was in genl. Smuts se republikeinse periode. Hy, die vroeëre Rhodesman, het teruggekeer in die ou kraal.

'n Uiting daarvan was miskien ook sy herlewende belangstelling in Duitswes, ofskoon met heeltemal ander doeleindes as gedurende die Driejarige Oorlog. Kort na hy koloniale sekretaris geword het van die Transvaalse Regering, was hy van plan om die Duitse kolonie te besoek saam met genl. Manie Maritz, maar van die planne het niks gekom nie.

Toe hy ( in 1908) sy nuwe vyandskap teen ou vriende uiter, was daar moontlik nog 'n paar duisend ou Republikeine in die Duitse gebied, want gedurende die inboorlingopstande van 1904 tot 1907 was daar in Suidwes drieduisend Boere, onder wie bekende figure soos Manie Maritz, Jaap en Dirk van Deventer, die Wilkenses, wat in Duitse diens was vir die militêre transport.

Op dieselfde tyd dat genl. Smuts die hierbo aangehaalde brief geskryf het, is omtrent dieselfde opinie uitgespreek deur genl. Botha, ook in 'n brief aan die Kaapse Eerste Minister. Hy skryf: "Dis ons opinie hier dat Duitsland se invloed in Suid-Afrika nie behoort vermeerder te word nie; en, vir sover dit myself betref, ek sal geen skema aanmoedig wat sal strek om sodanige invloed te vergroot nie.”

Ook die Rhodes-taal. Dieselfde as wat sir Leander Starr Jameson, as Eerste Minister in Kaapstad geuiter het in 1905, toe hy die wens uitgespreek het dat Duitswes by die Britse empaaier ingeryg sou word, terwyl hy geheimsinnig daarby voeg: ,"t is just possible — the unexpected sometimes happens.”

Dit was seker onverwags, selfs vir Jameson, nou die vriend van genl. Botha, dat dit Iaasgenoemde moes wees wat Duitse gebied vir die Britse Ryk moes verower. Want genl. Botha se nog jonge trou aan daardie Ryk was altyd betwyfel, selfs toe sy meeste vroeëre maats hom oor daardie nuwe aanhanklikheid gewantrou het. Eers nadat genl. Botha dit nodig geag het om daardie ou wapenbroeders om die ontwil van die empaaier onder die Iood te steek, skryf Jameson aan sy broer dat hy nou omtrent Botha se lojaliteit jeens die Britse Ryk geen twyfel meer het nie. Die Unie se offisiële houding met betrekking tot die deelname aan die oorlog was ook in Imperiale Regeringskringe onverwags, ‘n aangename verrassing. Die beste wat hulle in Londen verwag het, was 'n afsydige houding van die Unie (dit was slegs twaalf jaar ná die verowering van die Republieke) met die toegewing alleen, dat vrywilligers van Suid-Afrika sou kan aansluit by die Engelse leër; ‘n “benevolent neutrality” dus.

Die groot vraag in die Iaaste deel van die tweede helfte van 1914 was: hoe groot is die militêre magte waaroor die Duitsers in Duitswes beskik? Want die invallers moes weet hoe sterk die vyand was wat hulle moes verslaan. En die rebellemoes weet watter hulp in bewapening hulle sou kon verwag om die stryd vir die onafhanklikheid mee te voer, want die burgers het baie min gewere en weinig patrone gehad, terwyl daar van groot geskut vir hulle alleen op Duitse kanonne gereken kon word.

Op die allesbeheersende vraag kon niemand, behalwe die Duitse militêre hoofde ‘n antwoord gee nie. En hulle het dit om verstaanbare redes sorgvuldig weggesteek. Selfs genl. Maritz wat bevriend was met Duitse offisiere en die militêre distrik wat grens aan die Duitse gebied onder sy bevel gehad het,  selfs hy het nie geweet nie; maar hy het (volgens maj. Johannes Leipoldt) die Duitse sterkte op 20,000 geskat. Genl. De Wet was van mening dat daar volop van alles te kry sou wees (deur Maritz) om sy kommando’s met welslae te kan Iaat optree. Die seshonderd helde van wyle genl. De la Rey het hulle tog na Duitswes aangepak (en voleindig) om te kyk hoe Iyk dit daar by Maritz. Genl. Botha het in sy Iaaste onderhoud met genl. Beyers gerapporteer dat daar 6,000 Duitse troepe beveg moet word. Genl. Beyers het in sy bedankbrief) die getal op 8,000 gestel. En om die woestynwêreld, waar die Duitsers hulle verskans het, te kon neem, moes die generaal 43,500 troepe gebruik, soos op die ou einde geblyk Ket.

Terwyl ons nou (in 1956) terugkyk, kan ons die antwoord met redelike sekerheid gee. BerthoId, ‘n Duitse joernalis van Windhoek, wat volgens sy verklaring voor die Regterlike Kommissie baie goed ingelig was, verseker dat die soldatemag in Duitswes "gestadig verminder (is) van 16,000 tot 1,920 geregelde troepen.” Dit stem taamlik ooreen met wat Rittmeister Richard Hennig meedeel in sy boek "Deutsch-Südwest im Weltkriege". Volgens hom was die aktiewe militêre mag van die Duitsers omtrent tweeduisend, waarby nog die polisie getel moet word. Met ander hulptroepe was die totale sterkte tussen 4,000 en 5,000.

Daar was dertig kanonne, merendeels van 'n verouderde model. Net tien daarvan was moderne kanonne. Die Duitse hoofde het tereg gereken dat hulle getalle geheim moes bly.  Daarom vernoem hulle "BataiIIon” en "ArtiIIerie-AbteiIung” na "Regiment”, waardeur hulle die skyn van hulle krag 20 of 25 maal die werklike sterkte gemaak het. Onder die nuwe benaming was ‘n "Regiment” slegs tussen 400 en 500 man.

Die beleid van die Duitse opperbevel was dat die troepe wat in Duitswes agtergelaat was, net moes dien as beskerming teen inboorlinge en op die grense. Onder geen omstandigheid moes hulle uittogte doen nie. Die Unie-regering het Nakob en Schuitdrift se voorvalle probeer voorstel as Duitse aanslae op Uniegrondgebied, in die hoop dat dit die Uniebevolking sou beweeg tot geesdrif vir die oorlog. HuIIe poging was moeilik, onmoontlik en ‘n mislukking wat dit betref. Die keiserlike regering het gereken dat die lot van hulle kolonies, ook van Duitswes, beslis sou word op die slagvelde van Europa, en daarom is hulle troepe daar saamgetrek ten koste van hul koloniale verdediging. Bowendien, so het hulle gereken, die oorlog sal tog maar enkele maande duur. Die keiserlike regering het hom daar, sowel as in ander dinge, skromelik misreken.

Vervolg...