Harm Oost
"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".
Lees reeks by Wie is die skuldiges
DIE GEWELDDADIGE DOOD VAN GENL. DE LA REY — ’N VERBORGENHEID? (3)
"Gedurende die ete rig genl. De la Rey hom een keer tot mev. Beyers, en terwyl hy na die jong kêrels wat die gesprek aan die gang hou wys, sê hy: 'Hoe ouer ek word, hoe meer voel ek, as ek sulke jonge manne aanskou en aan hulle toekoms dink: Iiewer geen nasie nie as 'n nasie sonder land. Watter plek is daar vir hulle in hulle geboorteIand? ' ”
Genl Botha het volgehou met sy leuen dat die Duitsers by Nakob oor die grens gekom het en hulle daarom op hulle plek gesit is. Ongelukkig vir Botha het niemand hom werklik geglo nie, en senator A. D. W. Wolmarans het die inval in Duitswes kaalkop as "Iandroof” beskryf.
Genl. De la Rey het hierdie woord "Iandroof” afgekeur. Dit was te skerp na sy sin. En weer pleit hy vir verdraagsaamheid. Bitsige woorde kon moeilikhede, selfs burgeroorlog afgee. Hy wil tot die uiterste die so nodige volkseenheid probeer bewaar of bewerkstellig. Hy sal nie teen die Regeringsmosie stem nie, maar maak duidelik dat hy hom nie verplig reken om deel te neem aan enige oorlog wat Engeland verkies om te maak nie.
Die Eerste Minister het gesê: van neutraliteit kan geen sprake wees nie. Sy antwoord daarop is:
"Toe ek die Verdrag van Vereeniging geteken het, het die gedagte nooit by my opgekom dat ek daardeur die land verplig tot oorlog, as Brittanje in ‘n oorlog gewikkel word nie. Die volk van Suid- Afrika kan tog maar baie min doen in die wêreldoorlog, en waarvoor moet die volk dan in gevaar gebring word? Sedert die verdrag van Vereeniging het die volk nog niks dislojaals gedoen teen die Britse vlag nie . . . Dit sou 'n ander saak wees as daar 'n Duitse leërmag sou kom om Suid-Afrika te vat. Dan sou hy sy uiterste bes doen om die land te verdedig. Maar die Duitsers sal wel oppas, want ons is nou vier Provinsies, ‘n Verenigde Suid-Afrika. En dit sal bulle Ianger as drie jaar vat om ons land te verower."
Vir die verdediging van die land is sy dienste altyd beskikbaar, maar hy kan nie vir die mosie stem nie, want sy gewete Iaat hom dit nie toe nie. As 'n mens deurgemaak het wat hy deurgegaan het, sou elkeen sy beswaar kan voel. Daar is baie mense wat na hom opsien vir leiding, en teenoor dié mense dra hy verantwoordelikheid.
Hierdie besadigde rede van die ridderlike held van Tweebosch is met groot belangstelling gevolg, ook deur Iede van die Volksraad, wat, soos gebruiklik is, soms ‘n belangrike debat in die senaat kom bywoon.
GenI. De la Rey het dadelik na sy toespraak die saal verlaat; hy sou mos nie aan die stemming deelneem nie. En ‘n paar Volksraadslede, begerig om die generaal te raadpleeg oor die krisis, volg kom. HuIIe was Niki Serfontein (later ook Senator) en Jan Brand Wessels, altwee Vrystaters. Heeltemal onverwags het hulle oor- en ooggetuies geword van ‘n gebeurtenis wat hul nooit kon vergeet nie. Mnr. Serfontein het dit naderkand vir my op skrif gestel en dis sy verhaal:
"Die dag waarop die besluit om Suidwes te vat bevestig is deur die Senaat (12 September 1914), het genl. Koos de la Rey ‘n toespraak gehou. Oorlede Jan Brand Wessels (ook ‘n lid van die Volksraad) en ek het van die Volksraad gegaan na die Senaat om die toesprake te hoor, veral die een van genl. De la Rey. Dit was duidelik aan die manier, waarop genl. De la Rey praat, dat hy baie ontevrede was met die houding van die Regering, Genl. Botha, Minister in die Senaat, se om die besluit deur te druk.
"Nadat genl. De la Rey klaar gepraat het, stap hy uit en vat sy hoed. Ons het ook uitgegaan met die bedoeling om hom te vra wat die posisie nou is, want ons het gemerk, dat hy teen die besluit was. Ons was 'n paar treë agter kom. Hy stap na die noordelike uitgang van die Parlementshuis, die trappe van die stoep af, aan die Iinkerhand.
"GenI. Botha kom ook agter genl. De la Rey aan en toe ons dit sien, stap ons links om, agter die stoep se muur. Genl. De la Rey was tussen die beeld van Koningin Victoria en die gebou. Toe genl. Botha die kliptrappe afkom en roep: "Oom Koos, wag ’n bietjie, ek wil jou sien.”
"GenI. De la Rey draai hom om weer terug na die stoep toe. Hulle staan ses tree van ons af, maar kan ons nie sien nie.
"GenI. Botha sê: 'Oom Koos, wat gaan jy doen?'
"Toe antwoord genl. De la Rey: 'Generaal, dis nou ons tyd om die plegtige ooreenkoms, wat ek en jy en De Wet gemaak het by Vereeniging, uit te voer en ons vryheid terug te vat.'
"GenI. Botha antwoord: 'Oom Koos, ek sal jou later weer sien.'
"GenI. Botha daarop terug in die Parlementsgebou, en genl. De la Rey is vort, stasie-toe en na Transvaal.
"Later het ek genl. De Wet daaroor gesien, en hy bevestig die bestaan van die plegtige ooreenkoms.
" 'GenI. Botha, genl. De la Rey en ek ‘n besluit gemaak,’ sê genl. De Wet. 'Botha het die voorstel aan my gemaak. Hy sê wat betref die voorwaardes wat die Engelse ons aangebied het, ons drie gaan 'n ooreenkoms aan, dat ons die eerste kans sal vat wat daar kom om ons vryheid terug te neem’."
Daar is 'n foto op bladsy 115 van 'n boek oor genl Botha se lewensbeskrywing wat dr. Engelenburg uitgegee het in 1928, met die volgende onderskrif: "Botha en De la Rey verlaat die Parlementsgebou. Kaapstad, Septembersitting 1914." Die generaals word hier gesien op die plek, waar, volgens Volksraadslid Serfontein, hulle gesprek plaasgevind het. Baie moontlik behoort die datum te wees: 12 September 1914.
Volgens mevrou De la Rey later verneem het, is dit nie die Iaaste keer dat die twee ou boesemvriende van vroeër mekaar ontmoet het nie. Die finale afskeid was op die stasie van Kaapstad, toe genl. De la Rey daardie selfde Saterdag na Transvaal teruggekeer het. "Hy het genl. Botha om die nek gevat en gesoen. En voor hy inklim, draai hy om en doen dit nog 'n keer.” Die breuk tussen hulle het die oudste van die twee bitter swaar getref. Of genl. Botha dit ook so diep gevoel het, is twyfelagtig. Hy het hom uitgelaat dat genl. De la Rey, "’n doring in sy vlees” geword het. Altwee was ewe beslis: die een dat die inval in Duitswes onverenigbaar was met die uitspraak van sy konsensie; die ander dat dit moes gebeur, al gebeur wat. Die verskil kon nie oorbrug word nie. Dit was 'n botsing tussen twee sterk persoonlikhede, wat na 'n eenheid-in-stryd van twintig jaar uitmekaar geruk is. Genl. De la Rey was die fyngevoeligste en het die swaarste gely. Genl. Botha, die praktiese politikus, onherroepelik gebind deur sy beloftes aan en ooreenkomste met die imperiale outoriteite, moes persoonlike sentimente onderdruk. En bowendien het sy ou dierbare vriend geweier om hom te steun in die uitvoering van sy onkeerbare invalsplanne.
Maar genl. De la Rey het die voormiddag in sy Senaatstoespraak daar nadruk op gelê dat hy sy persoonlike gehegtheid aan die Regering, dis aan genl. Botha, handhaaf. Sy woorde, volgens die Hansard, was: "Hy zou niet voor de motie stemmen, niet omdat hy iets tegen de Regering had, doch uit gewetensbezwaar," en nou, by die afskeid, die roerende betoning van Iiefde vir sy ou krygsmakker. Sou hy "Lewies” nog kan herwin? Sou hulle by die ingrypende gebeurtenisse wat onvermydelik hier voorIê, nog weer saam die volk kan lei in die rigting van die hartstogteIik begeerde onafhanklikheid, waarvoor albei saam so swaar geveg en gely het? Sou genl. Botha hom nog getrou gebonde voel aan die "plegtige ooreenkoms” tussen hulle twee, wat hul saam met Christiaan de Wet gesluit het?
Terwyl genl. De la Rey dus probeer het om sy jarelange intieme vriendskap met genl. Botha te red van die wrede verskeuring deur die politiek, het hy gedurende die spesiale sitting probeer toenadering soek tot genl. Hertzog, want hulle persoonlike vriendskap het gely deurdat genl. De la Rey ná 1912 ‘n "Botha-man" gebly het. Hulle het mekaar in die voorportaal van die Volksraad ontmoet, en hy knik vir genl. Hertzog; hulle is saam in die afsondering van die wasplek waar hulle die onverwagse gewilligeid van die Volksraad om die inval goed te keur, bespreek het. Genl. De la Rey sê: "Barry, hulle het dit gedoen. Ons het nou niks meer om te doen nie. Ons moet na ons huise teruggaan, as ons hulle ten minste nog kan bereik.”
Genl. De la Rey was van plan om Woensdag 16 September, terug te wees in Lichtenburg, en het dit uit Kaapstad aan mevrou De la Rey getelegrafeer. Maar hy het sy Iewensmaat en sy geliefde op plaas nie bereik nie. Die môre van daardie sestiende kry sy telefonies berig dat haar man in ‘n straat van Langlaagte doodgeskiet is.
Genl. De la Rey het met sy opmerking omtrent die persoonlike onveiligheid van hom en genl. Hertzog egter gedink aan die dreigement van die minister van Justisie dat hy"die wet op hom sou toepas". Hy het geweet dat beroepspeurders sowel as spioene al vir ‘n geruime tyd al hulle bewegings dophou, en dit van nou af nog skerper sal doen. Hierdie vernedering, wat die minister op beroemde Boeregeneraals toepas, is deur hom nog soveel skerper gevoel, omdat die minister nie die minste aanspraak op krygsverdienste kon maak nie, hoe grootliks genl. Botha ook sy werk as privaatsekretaris en as regsadviseur in oorlogstyd waardeer het. Hoe genl. De la Rey se vryheid van handeling deur daardie minister belemmer is, het hy ook in sy Iaaste paar Iewensdae ondervind.
Op sy treinreis na Transvaal het genl. De la Rey geselskap gekry, naamlik van 'Joubertjie', wat van Upington af gekom en op De Aar by die generaal aangesluit het. Hy was 'n jongkêrel, 27 jaar oud, en ‘n boodskapper van Manie Maritz, die stafoffisier van militêre distrik No. 12. 'Joubertjie' was nou Manie se kaptein-adjudant; hy het op die Ieeftyd van 15 jaar dieselfde posisie beklee in die Driejarige Oorlog, en reeds as seun deur sy dapperheid, intelligensie en veral deur sy rotsvaste getrouheid aan sy generaal Manie Maritz, se groot vriendskap en onbeperkte vertroue geniet. Piet Joubert was ‘n Vrystater van geboorte, maar na die vrede van Vereeniging het hy, nes Maritz, die Duitse gebied ingetrek en daar gaan boer. Hy het bevriend geraak met sekere outoriteite in die Duitse kolonie en die groot waarde daarvan besef vir die toekoms, as die stryd vir die onafhanklikheid van die Republieke hervat moes word, ‘n dag wat hy, sowel as tienduisende ander, met ongeduld afgewag het.
En nou was dit die tyd om die (Driejarige) oorlog voort te sit, teen die empaaier vir die onafhanklikheid van Suid-Afrika. Maar die Unie- regering was reeds besig met ‘n ander oorlog, saam met en vir die Britse empaaier. Genl. Tim Lukin het reeds op 1 September met ‘n mag van ‘n kleine 2,500 man geland in Port NoIIoth. Britse skepe het hom daarheen gebring, omdat dit die naaste punt was by die suidelike grens van die Duitse gebied, en hy het soheentoe getrek om by Ramonsdrift die Grootrivier te kan deurgaan vir die inval. Sy troepe was oorwegend burgermagte van Natal, die oostelike Kaapprovinsie en die Rand. En kol. Beves was met ruim 1,500 man, ‘n mag van ongeveer dieselfde samestelling, op see om Lüderitzbucht te beset, wat hy sonder teenstand van die Duitsers ‘n paar dae later (op 18 September) onder beskerming van die Britse oorlogsvloot tot uitvoer gebring het. Hierdie aksies is geneem ooreenkomstig ‘n plan van aanval, uitgewerk deur genl. Smuts saam met ‘n paar van sy Engelse militêre adviseurs en dit is streng geheim gehou. Die derde mag sou die "seuns van Manie Maritz” wees, dis die Boer-kêreltjies uit die noordwestelike deel van die Kaapprovinsie, wat vir "vredesoefeninge” op Upington saamgetrek was – die leuen wat deur Smuts en Botha aan hulle ouers vertel is - sowat 1,000 van hulle.
Genl. Smuts bet voor sy vertrek na die Kaap om die spesiale sitting by te woon, aan genl. Beyers as kommandant-generaal versoek om na Upington te gaan, terwyl die Parlement bymekaar is. Die rede van daardie versoek was nie bekend nie, maar die vermoede was geregverdig, naamlik dat genl. Beyers die drietandvurk teen die Duitsers moes help hanteer volgens die bedoeling van genl. Smuts of anders sy gesindheid openbaar, want hy was agterdogtig.
Ook Manie Maritz het vir genl. Beyers gevra om na Upington te kom, en wel op 15 September, dus op dieselfde tyd dat genl. Smuts hom daar wou hê. Maar om ‘n heeltemal ander rede. 'Joubert]ie’ en ander vriende van die Duitsers het met outoriteite van die Duitse kolonie besprekings gevoer oor samewerking vir die bereiking van die onafhanklikheid van Suid-Afrika, en hulle sowel as Manie Maritz het daarmee ingestem, maar laasgenoemde het as voorwaarde gestel dat een van die groot Boereleiers hierdie voorgestelde samewerking deur ‘n getekende ooreenkoms moes bekragtig, en daardie Ieier sou genl. Beyers moes wees. Toe Iaasgenoemde, onbekend met daardie plan, dringend deur Maritz gevra is om na Upington te kom was sy antwoord dat hy Pretoria nie kon verlaat nie, maar dat Maritz hom moes besoek of anders 'Joubertjie' stuur, wat al vroeër as boodskapper tussen die twee diens gedoen het. Maritz kon sy pos ook nie verlaat nie, en nou was 'Joubertjie' dan oppad Pretoria toe.
Hy het in die trein nie alleen vir genl. De la Rey ontmoet nie, maar ook vir "Harry” Mentz, die Volksraadslid vir Soutpansberg.
Hendrik Mentz was in die Driejarige Oorlog een van genl. Beyers se adjudante. Hy en Maurits Dommisse het as sodanig ‘n groot naam verwerf vir hulle dapperheid. "Harry” het daarna in Pietersburg as prokureur gaan praktiseer en hom in die politiek gewerp. Hy het naderhand genl. Smuts se opvolger as minister van Verdediging geword. Sy bekwaamheid was groot, maar sy eersug groter en hy het 'n sterk neiging vir die materialistiese kant van die Iewe getoon. Bowendien was sy aanhanklikheid jeens genl. Botha algemeen bekend. Dit verklaar sy gesindheid ten gunste van die inval, en ook dat hy dadelik op Pretoria vir 'Joubertjie' by die polisie gaan aankla het as ‘n "verraaier - hy het gekom om kwaad te doen.”
Op 14 September kom die Kaapse trein met genl. De la Rey-huIIe in Transvaal aan. Die generaal en 'Joubertjie ’ het op Germiston uitmekaar gegaan. Eersgenoemde wou nie deurry Pretoria toe nie maar het weggeswaai na Johannesburg om die opIettenheid van die speurders te ontglip. Sy mede-reisiger het Pretoria die aand bereik en die volgende more genl. Beyers ontmoet. Dit was die 15 de, die gewigtige dag. Genl. Beyers het hom die brief voorgelees wat ‘n paar uur later aan die Regering en die pers oorhandig is en . . . wat sy bedanking as kommandant- generaal behels. Die besoek aan Upington, wat genl. Smuts wou gehad het, sowel as dié waarop Manie Maritz aangedring het, was daarmee vir goed uitgeskakel. 'Joubertjie' was toe nie bereid om terug te gaan na Maritz nie, want die polisie sou tog verhinder dat hy sy kommando bereik, maar op versoek van genl. Beyers besluit hy om die middagtrein na Johannesburg te haal en genl. De la Rey die volgende boodskap te bring:
"AIIes is reg. Genl. Beyers sal oorkom na Johannesburg om u te sien. Maar as hy nie voor sesuur daar is nie, moet genl. De la Rey na Lichtenburg gaan en daar alles reghou.” Genl. Beyers sou dadelik vir genl. De la Rey telefonies meedeel dat 'Joubertjie' na hom toe kom. En so gebeur dit dat genl. De la Rey om halfdrie vir 'Joubertjie' op die Johannesburgse stasie ontmoet en van hom die boodskap en die nuus van genl. Beyers se bedanking verneem.
HuIIe is saam na 'n nabye hotel, en daar blyk dit dat ander planne as genl. Beyers s’n, gemaak is omtrent genl. De la Rey. In die sitkamer gewaar 'Joubertjie' ' n dame wat hy nie ken nie. Sy kom die generaal met 'n motor haal, maar die voertuig staan nie voor die hotel nie. Hy betaal sy rekening en Iaat sy bagasie deur 'n bediende na die buitekantse perron van die stasie bring, maar hy klim kort daarna met 'n handkoffertjie in die motor, wat met 'n bestuurder op 'n afstand staan. Saam met die dame en 'n vriendin van haar ry hy weg. Dit alles moes dien om die polisie te ontduik.
Genl. De la Rey is Pretoria toe, 'Joubertjie' met die trein in die rigting van Potchefstroom.
Die vir hom onbekende dame, wat 'Joubertjie’ in die hotel se sitkamer gesien het, was mev. genl. Beyers. Sy het oom Koos kom haal. En hulle vat nou koers Pretoria toe.
Daar was die dag 'n sterk wind, en genl. De la Rey se gehoor was nie meer te goed nie; veral die regteroor was swak. As gevolg hiervan was daar maar min gesprekvoering op die reis met die oop Daimler. Op die vraag van die generaal wat op Pretoria gebeur het, bevestig mev. Beyers die bedanking van baar man, waarop hy antwoord: "So; dis miskien nog te vroeg."
Dit was omtrent vyfuur die namiddag van 15 September dat die motor stilgehou het te Beyerheim, die Walkerstraatse woning van mnr. Piet Beyers in die voorstad Sunnyside, Pretoria. Genl. Beyers het hom die paar uur wat hy gewag het vir die koms van sy vaderIike ou vriend, teruggetrek in een van die agterste kamers van sy broer se woning. Baie vriende het in die paar uur gekom met die bedoeling om hom te spreek oor sy bedanking maar hy het geweier om iemand te ontvang. Dadelik na genl. De la Rey uit die motor stap, lei adv. Gert Maritz ( 'n kleinneef van genl. Beyers) die verwagte gas in die kamer in.
Van vyfuur tot halfsewe het die twee generaals daar saam deurgebring.
Die gesprek daar was onder vier oë en die enigste wat enigsins iets daarvan kan vertel, is mevrou genl. Beyers, wat om halfses koffie ingebring het. Toe sy die deur inkom, se haar man: "Vroutjie, oom Koos wil hê ek moet met hom saam, en hy wil somar vanaand nog weg. Ek het vir hom gesê dat ek elke versoek om Pretoria te verlaat, geweier het.”
Mev. Beyers kyk haar gas aan, wat dadelik inval met die woorde: "Kyk, jy moenie onrustig wees oor jou man nie.”
"Nee, oom Koos,” antwoord sy, "ek is nooit onrustig oor my man nie, maar ons kan darem nie so uitmekaar gaan nie. Ek moet eers hoor wat u planne is. Wat gaan u doen?”
"Ons gaan om ons volk te red, en om bloedvergieting te voorkom".
En daarop vertel genl. De la Rey in watter sieledonkerheid hy verkeer het, maar dat hy hierdie oggend tot lig gekom het deur gebed en deur sekere Bybelverse. Hy voel na sy Bybeltjie om die verse voor te lees, maar het die Boekie nie in sy sak nie. Daarop sê hy:
"Lees dit self. Dis die tweede Kronieke, hoofstuk 32, die 7de en 8ste versie.”
Genl. De la Rey het mevrou Beyers sterk onder die indruk gebring dat dit sy plan was om haar man saam te neem na Lichtenburg om daardie eerste stoot van die storm wat sy bedanking onder die oorlogsgesindes sou veroorsaak, te Iaat verbygaan. En onder daardie indruk vra sy vir hom hoekom dan so haastig? "Waarom vanaand nog weg? As u more vertrek, dan ry ek saam, minstens tot in Potcbefstroom.”
Genl. De la Rey se antwoord aan haar was: "Dan kan dit te Iaat wees om die mense wat ek nog wil sien, daar te kry, en ek wil Hendrik ook somar oplaai."
Hendrik was die seun van die generaal, wat te Potcbefstroom as offisier onder genl. Kemp dien.
Mevrou Beyers het voorbereidings getref vir die reis van haar man en sy vriend en dit heeltemal natuurlik gevind dat die twee manne so lank en so intiem met mekaar praat onder hierdie Iandsomstandigbede, met die oog op die posisie waarin altwee verkeer. En sy het dit ook heeltemal redelik geag dat genl. De la Rey vir genl. Beyers 'n bietjie wou wegvat uit die groot stede, waar die Engelssprekende bevolking al taamlik die oorlogskoors gehad het, kunsmatig opgewek en verhoog deur regeringskoerante en agente.
Sy en haar man sou al 'n tydjie gelede na Potchefstroom gereis het; die hele vorige week is die plan bespreek maar tot 'n uitvoering het dit nie gekom nie, omdat die bedankingsplanne steeds die aandag en tyd van die kommandant-generaal in beslag geneem het. Aan mevrou Beyers het hy gesê: "Kemp is my offisier wat ek die hoogste ag, en ek was nog nooit in een van sy oefenkampe nie." Op die aand van die veertiende, toe genl. Beyers sy bedanking reeds klaar gehad het, gee hy weer sy begeerte te kenne om die kamp van genl. Kemp te besoek, en hy voeg daarby dat hy kom sal moet haas, want die burgers sal een van die dae huistoe gaan.
Die datum bepaal vir die opbreek van die Potcbefstroomse kamp was 16 September. Genl. Kemp het dadelik na die Volksraad die oorlogsmosie goedgekeur het, sy bedanking skriftelik ingedien; dit was op die dertiende. Maar hy het hoof van die kamp gebly, omdat die bedanking nog nie aangeneem was nie.
Genl. Beyers het hom dadelik na die indiening van sy ontslag as 'n privaat burger beskou, maar hy het gemeen dat hy ook as sodanig die kamp kon toespreek om die posisie en die rede van sy bedanking goed duidelik te maak aan die burgers. Sy sorgsame vrou het met die oog op die voorgenome reis die môre van die vyftiende padkos klaargemaak, nl. die vaderlandse biltong en beskuit.
Om halfsewe die aand van 15 September 1914 het hulle geëet in die woning van mnr. Piet Beyers (Beyerheim). Dit was die Iaaste maaltyd van genl. De la Rey. Die hoof van die gesin was afwesig, en sy plek aan die tafel is ingeneem deur sy broer Christiaan. Aan die regterkant van die afgetrede kommandant- generaal het mevrou Piet Beyers en 'n paar van haar seuns gesit. Genl. De la Rey, mevrou Beyers en adv. Gert Maritz het sitplekke gekry aan die linkerkant. Die generaals het min gepraat. HuIIe gedagtes was ongetwyfeld by die planne wat daar net 'n bepaalde vorm gekry het en wat nou op die punt staan om uitgevoer te word. Die worsteling wat hulle saam in die eensaambeid deurgemaak het, was verskillend van uitwerking op hulle. Genl. De la Rey se oë het geskitter net asof daar 'n binnekantse vuur uitstraal, terwyl genl. Beyers afgemat Iyk. Hy probeer nog sy ouere vriend van die reisplan af te hou en sô:
"Kyk, oom Koos; dis al Iaat. Kom ons wag nou maar tot morevroeg, dan gaan ek saam Potchefstroom toe.”
Maar genl. De la Rey was beslis: "Krisjan, ons het die saak klaar bespreek, ons moet vanaand gaan. Ek het Kemp belowe dat ek sal daar wees.”
Toe haal genl. Beyers die skouers op asof om te beduie dat hy ingee.
Gedurende die ete rig genl. De la Rey hom een keer tot mev. Beyers, en terwyl hy wys na die jong kêrels wat die gesprek aan die gang hou, sê hy:
"Hoe ouer ek word, hoe meer voel ek, as ek sulke jonge manne aanskou en aan hulle toekoms dink: Iiewer geen nasie nie as 'n nasie sonder land. Watter plek is daar vir hulle in hulle geboorteIand?”
Die Iydingsgeskiedenis van sy ganse volk moet die Iandsvader in hierdie ure weer deur die siel gegaan het en die verlies van die onafhanklikheid twaalf jaar gelede moes hom weer in al sy bitterheid getref het. Die redding Iê by die jongmense wat aan die dodelike atmosfeer van die konsentrasiekampe ontsnap het; hulle is daar om die volksbestaan te red; daarvoor het die Almagtige hulle gespaar. En tot een van die jongmense, advokaat (later hoofregter) Gert Maritz, rig hy die vraag:
" Kan ons op julle reken . . . ? Jy moet 'n paar rapporte wegbring."
Dit blyk naderhand dat een van die verslae (rapporte) vir 'n familieIid van die generaal wat regs van Krugersdorp woon bedoel was, en die rapport lui: "Oom Koos trek van Potchefstroom op, en jy moet jou klaarmaak om hom tegemoet te kom."
Die kommando, wat van die ou republikeinse hoofstad sou optrek onder sy opperbevel, het ook die seuns van die konsentrasiekampe, nou daar bymekaar vir sogenaamde "vredesoefeninge", ingesluit.
Genl. Beyers aan die hoof van die tafel, was swaarmoedig.
Ons besit van genl. Beyers getuienis omtrent die aanleiding en die doel van hulle ontmoeting en hulle reis die aand van 15 September. Dis afgelê voor die Regterlike Kommissie, onder voorsitterskap van Regter Gregorowski wat gesit het tussen 22 en 29 September. Daardie Hof van Ondersoek is nominaal aangestel om in diepte in te gaan op gebeurtenisse in verband met die Fosterbende, die drietal moordenaars wat in die wêreld ten ooste van Johannesburg gruwelike misdade gepleeg het, voor hulle huIIeself doodgeskiet het. Op dié manier is daar deur die Regering 'n moontlikheid geskep om genl. Beyers noukeurig te ondervra omtrent sy bedoelinge met die reis na Potchefstroom. Adv. De Waal, regskundige verteenwoordiger van die Regering, het die kans aangegryp om genl. Beyers (maar niemand anders nie) onder kruisverhoor te plaas. Hier volg 'n vertaling van die generaal se getuienis soos opgeteken deur 'n offisiele snelskrywer:
"Toe ek informasie van genl. De la Rey ontvang het, op Dinsdag 15 September, was hy in Johannesburg. Hy het nie getelegrafeer nie. 'n Man met die naam Joubert het oorgekom. Ek dink hy was op pad van Kaapstad af. Hy sê net dat hulle saam gereis het. Genl. De la Rey het nie van Johannesburg af gekom om my te spreek nie, maar het Joubert gestuur om my te spreek. Nie met 'n brief nie, eenvoudig met 'n boodskap dat hy my graag wou spreek. Ek was op daardie oomblik baie besig. Op 'n boodskap van Joubert wou ek nie na Johannesburg toe gaan om genl. De la Rey te ontmoet nie. Ek het die motor oorgestuur. Pleks van direk van Johannesburg te kom met die trein, stuur genl. De la Rey 'n boodskapper na my, en ek moes my motor na Johannesburg stuur om hom te gaan haal . . . Ek het hom (De la Rey) 'n telegram gestuur na Kaapstad; ek meen gedurende die sitting van die Parlement; dat ek bly sou wees as hy my sou opsoek voor hy na sy huis teruggaan. Hy wou my spreek en ek hom . . . Ek het na die oefenkamp (op Potchefstroom) gereis as 'n privaat persoon en as 'n Ieier van die volk. Ek het dit gedoen omdat dit toe al duidelik geblyk het dat die Regering besig was om my bedanking (as kommandant-generaal) te onderdruk.
Die Iaaste sinsnede van genl. Beyers se getuienis voor die Hof van Ondersoek kan enigsins toegelig word uit die persoonlike herinnerings van skrywer. Dit was my bekend dat hy sou aftree en dat hy sy bedankbrief aan die pers sou oorhandig. Dit was die eerste aan my, dat hy dit gedoen het, op sy kantoor, omtrent twaalfuur die middag van 15 September. Hy was kalm en vriendeIik soos altyd. Die koerant "Het Volk” het daardie Dinsdag nog nie verskyn nie (dit was 'n halfweeklikse blad); en met buitengewone haas is die belangrike 'scoop' deur my opgestel, sodat die uitgawe nog betyds aan die poskantoor besorg kon word. Die uitgawe is egter daardie dag op bevel van genl. Smuts vertraag, en Johannes Leipoldt (die sensor) het, volgens 'n verklaring in my besit, instruksies gekry om ook vir die buiteland die groot nuus te keer.
Genl. Beyers se bedoeling met die voorgenome reis was ongetwyfeld om te voldoen aan die versoek van genl. De la Rey en ander om aan die vergadering op Potchefstroom die rede van sy bedanking te verduidelik.
Die aandete in Beyerheim, volgens die gewoonte van die voorvaders, afgesluit met 'n kort godsdiensoefening, waarna die geselskap uit die huis uit gaan na waar die motor van genl. Beyers gereed gestaan het. Kort na die aankoms van genl. De la Rey uit Johannesburg het genl. Beyers vir sy bestuurder gevra of hy die pad na Potchefstroom ken. Op sy bevestigende antwoord het hy hom instruksies gegee om die motor klaar te maak vir 'n reis daarheen.
Terwyl hulle van die huis, wat 'n taamlike afstand van die straat af staan, na die motor loop, het genl. De la Rey blykbaar 'n besef gehad van die gevare waaraan hy hom nou gaan blootstel. Nie die vrees vir koeëls het hom gepla nie, maar wel die moontlike vernedering van in die tronk te beland deur sy eie mense. Hy herinner hom weer die bedreiging deur minister Niklaas de Wet in Kaapstad; en meer tot homself as vir genl. Beyers en adv. Maritz wat Iangs hom gestap het, sê hy met skorheid in sy stem:
"Hm... Niklaas de Wet wil mos die wet op my toepas.”
Die Daimler wat genl. Beyers 'n tyd gelede persoonlik uit Engeland ingevoer het, staan Iangs die straat. Die bestuurder, J. A. Wagner, was al 'n uur gereed en het agter in die motor gesit en wag vir die koms van die generaals. Die Iigte was nie aan nie en hy was nie sigbaar daar op die agtersitplek nie. Omtrent tien minute voor sewe sien hy 'n konstabel na die kar kom, wat 'n vuurhoutjie trek en die nommer aanteken. Daarop stap die konstabel terug in die skaduwee van die bome.
Voor genl. De la Rey inklim, probeer hy weer vir mevrou Beyers gerusstel met die woorde: "Kyk, jy moet nou nie onrustig wees oor jou man nie."
Die gebruiklike afskeidswense van 'goeie reis' en 'goed verblyf' word oor en weer tussen agterblywendes en vertrekkendes gewissel en geni. Beyers Iaat genl. De la Rey uit hoflikbeid eerste inklim.
Die kragtige, jeugdige figuur van die pas afgetrede kommandant-generaal sit Iangs die kleinere, bejaarde "Koning van Westelike Transvaal”, wie se Iang, gryswordende baard deur die sterk wind heen en weer geruk word oor sy bors. Sy hoe voorhoof is vir 'n groot deel bedek deur 'n Boerehoed met 'n breë rand.
In Walkerstraat, waar "Beyerheim” staan (dit was later die woning van minister Tielman Roos) is hulle naby die hoek van Celliersstraat. Toe die motor nog skaars die geraas van die verandering van die versnellings deurgegaan het, draai die konstabel op sy rywiel, wat 'n tydjie tevore reeds deur die bestuurder opgemerk was, sy rywiellamp op die nommerplaat van die Daimler; hy ry daarop haastig weg in die rigting van die polisiestasie op Sunnyside, waar hy sy waarnemings gerapporteer het. Genl. De la Rey merk hom op, en nog altyd met die onaangename woorde van die minister van Justisie in sy gedagtes merk hy op:
"Ai, hoe Iyk dit hulle wil ons nou al voorlê."
Die motor met sy skerp Iigte, twee grotes en twee kleineres, gly weg in die donker Celliersstraat.
Dit was sewe-uur, die aand van Dinsdag 13 September 1914.
Wagner, die bestuurder, verklaar dat genl. De la Rey eers agter hom, dis links, gesit het, en dat genl. Beyers en genl. De la Rey halfpad tussen Johannesburg en Pretoria van sitplek verwissel het, sodat die koeël vir genl. Beyers sou getref het as dit nie gebeur het nie.
Het genl. Beyers so 'n voorgevoel gehad? Was die droefheid, wat hom ongetwyfeld gedruk het (al het hy, as 'n man van 'n besonder geduldige geaardheid daaraan skaars uiting gegee) 'n vaag gevoelde openbaring van die Almagtige?
'n Mens is geneig om dit te glo, want die sameloop van gebeurtenisse op daardie merkwaardige Dinsdag is so ongewoon soos maar selde, indien ooit, voorgekom het in die geskiedenis van die wêreld. Die mens, in sy gemaksugtigheid, noem dit 'n "snaakse toeval”. Maar wat hierdie aand gebeur het, kon by die groot pubIiek selfs nie met die "toevaIIigheids”-argument op bevredigende manier voorgestel word nie, sodat daar tot jare later talle mense was wat aangeneem het dat daar 'n weldeurdagte plan uitgevoer is, waardeur genl. De la Rey sy lewe ingeboet het, terwyl in werk!ikheid (soos hulle meen) die koeël bedoel was vir genl. Beyers.
'n Noukeurige ondersoek van die feite bring die volgende aan die Iig:
Terwyl die twee generaals in Beyerheim se eensaamheid worstel om Iig te kry in die benouende donkerheid, het daar op Johannesburg 'n bloedige gebeurtenis plaasgevind. Omtrent 'n kwartier voor vyf die namiddag het Foster die bandiet, vir die speurder Mynott doodgeskiet.
Foster was die hoof van 'n kleine bende wat van Aprilmaand af allerhande moorde en ander misdade gepleeg het op die Rand. Hy was 'n wreedaardige kêrel, 25 jaar oud, wat op 27 Februarie 1914 uit die tronk ontsnap het en net 'n maand later met sy maats Maxim en Mezar op Roodepoort 'n bankinbraak gepleeg het. Op 17 Julie skiet hulle in 'n poging om op Boksburg-Noord 'n bank te beroof, een witman dood en hulle wond twee mense. Op 26 Julie en 12 September pleeg hulle misdade op Vrededorp en in Johannesburg; 'n konstabel word bewusteloos geslaan, en in die vroeë more van 13 September vermoor hulle voor 'n drankwinkel te Jeppe twee sersante van polisie en verwond 'n konstabel. 'n Prys van £500 is uitgeloof vir wie hulle vang — maar hulle slaag daarin om op vrye voete te bly.
Op die more van 15 September kry die polisie inligting dat die Fosterbende so te sê onder hulle neus in Regentspark woon, maar daar is min geloof aan geheg; en eers die namiddag word speurder Mynott met twee maats gestuur om 'n ondersoek in te stel. Dis moontlik dat hy nie eerder kon gaan nie; daar bestaan 'n gedagte dat hy die namiddag eers gebruik het om Joubertjie en genl. De la Rey te bespied.
Die drie beamptes van polisie kry die moordenaars werklik in Regentspark, en wel by 'n motor wat staan Iangs die huis waarin hulle woon. 'n Vrou, met wie Foster saamleef, en 'n babatjie sit in die motor; hy staan by 'n ander bandiet Iangs die voertuig, terwyl die derde waarskynlik onder die motor gelê bet om daar iets reg te maak. Speurder Mynott was 'n onversigtige kêrel, wat nie gewag het tot sy maats versterkings gaan haal het nie, maar het kalm met die rewolwer vooruit op die moordenaars afgestap en gesê: "Handsup, Foster”. Foster steek nie sy hande op nie, Mynott se een maat skree: "Skiet hom!” Mynott het geaarsel. Soos blits ruk Foster 'n rewolwer uit en skiet Mynott op die plek dood. Sy een maat het nog 'n bietjie geveg en daarop geretireer. Foster het kalm die rewolwer van Mynott se lyk weggeneem. Daarop het die hele bende verdwyn in die motor 'n swart voertuig.
Al drie het die sewentiende, toe hul vasgekeer was, in 'n grot op die Oos-Rand selfmoord gepleeg.
Die omstandighede wat vir die polisie van die meeste belang was, is dat dit 'n groot, swart motor was waarmee die bandiete die vlug geneem het; dat hulle drie mans en een vrou was en dat hulle in 'n oostelike rigting gery het. Dit was tussen vyfuur en kwart oor vyf in die namiddag.
Die hoof van die polisie in Johannesburg het dadelik op die berig van Mynott se dood en die vlug van die Fosterbende bevele gegee dat die polisie die weë wat in 'n oostelike rigting loop, moes beset, en sy kollega van Germiston het dieselfde gedoen. Ook het majoor Douglas (dis die assist.-kommissaris van polisie te Johannesburg) die hoofkantoor in Pretoria in kennis gestel en Heidelberg sowel as Vereeniging, ten ooste en ten suide van die goudstad, gevra om waaksaam te wees.
Polisiepatrollies, voorsien van gewere en ammunisie, is te perd en met motors in 'n oostelike rigting gestuur, en hier en daar is polisieposte, wat bestaan het uit twee man elk, opgestel met instruksies om alle motors voor te keer. Deur die offisiere is nie met soveel woorde bevel gegee om te skiet nie, maar die feit dat die konstabels met gewere bewapen is (terwyl hulle anders hoogstens 'n rewolwer mog dra) het reeds beteken dat hulle, indien hulle dit noodsaaklik ag, gewelddadig sou mog optree. Naderhand, so teen half -sewe, is daar selfs nadruklik bevel gegee dat die gewere gebruik moes word as die swart motor met die drie bandiete en die vrou sou verskyn. Majoor Douglas is daaromtrent skerp ondervra in die spesiale Hof van Ondersoek wat 'n dag of tien later gesit het, en hy het hardnekkig volgehou dat daardie bevel van 'n ondergeskikte afkomstig was.
Die polisie was vas oortuig (en tereg) dat die bandiete in 'n oostelike rigting, Heidelberg se kant toe, vlug, en die paaie daarnatoe is sorgvuldig bewaak.
Daar is geen oomblik veronderstel dat die Foster-bende in 'n westelike rigting, na die kant van Potcbefstroom, wegvlug nie, want dit sou beteken dat hulle eers dwarsdeur Johannesburg sou moes ry.
Die motors wat op hierdie tydstip op die paaie ten ooste van Johannesburg gery het, is gelas om stil te hou, orals waar hulle by 'n polisiepos kom.
Dr. Grace, 'n geneesheer van Johannesburg, het die aand uitgery om 'n pasient op die Oos-Rand te besoek. Sy vrou was by hKom, en hulle het 'n motor gebruik wat swart en groot was, nes die een van die Fosterbende. Die instruksies van die outoriteite aan die spoorwegwagter Kruger by die oorweg te Geldenhuis, in die buurt van Germiston was, dat hy die sluitbome moes Iaat sak sodra daar 'n motor op koms was. Toe dr. en mevrou Grace by die spoorlyn kom, was die hekke dus toe, maar die wagter het die dokter dadelik herken en hulle deurgelaat. 'n Rukkie later kom hulle by 'n polisie-pos wat hulle beveel om stil te hou. Dr. Grace het dit blykbaar nie opgemerk nie, en hulle was skaars die konstabels verby, of drie skote blits uit hulle gewere; die motor loop vas teen 'n walletjie en bly staan. Eers is die polisie skrikkerig om nader te kom, want hulle weet dat die Fosterbandiete uit die Iaagste soort van moordenaars bestaan. Maar as hulle die krete van mevrou Grace hoor, kom hulle nader en vind haar Iig gewond en haar man dood.
Drie "toevaIIighede” in hierdie tragiese gebeurtenis het, na hulle bekend geword het, 'n groot indruk gemaak en wantroue veroorsaak, naamlik:
(1) dat die koeël waardeur dr. Grace gedood is 'n opslag was, nes die een wat omtrent 'n uur en 'n half later die Iewe aan genl. De la Rey ontneem het;
(2) dat die koeël op omtrent dieselfde hoogte en dieselfde plek die kar van dr. Grace getref het, as waar die skoot in genl. Beyers se kar binnegekom het;
(3) dat dr. Grace 'n man was met 'n donker baard en omtrent van dieselfde postuur as genl. Beyers.
Vyftien minute ná dr. Grace deur die spoorwegwagter Kruger deurgelaat was, het daar weer 'n swart motor gekom, en weer was die sluitbome toe. Hierdie keer was dit regtig die motor van die bandiete en Foster spring uit, stap reguit op Kruger af met die rewolwer gereed en eis onmiddellik deurgang. Die spoorwegwagter het sonder versuim gehoor gegee, maar was nie so verskrik nie dat hy nie kon sien dat 'n vrou die motorvenster opdraai en dat daar agter in die voertuig 'n bondel swart goed Iê, wat waarskynlik die versteekte bandiete Maxim en Mezar was.
Die spoorwegwagter het die polisie dadelik in kennis gestel, sodat daar nou nog meer sekerheid was dat die bende in 'n oostelike rigting vlug.
Dit was omtrent op dieselfde oomblik dat die twee generaals Pretoria verlaat. Van die opgewondenheid op die Rand en die polisiemaatreëls is hulle totaal niks bekend nie. Wel is hulle bekend met die bedreiging van die minister van Justisie en met die nuuskierige konstabel (en sy rywiellamp) wat hulle beskou as ’n duidelike bevestiging van die vermoede dat die polisie op hulle spore is. HuIIe weet dat die wetlike beskerming, waar 'n burger aanspraak op het, nie swaar weeg by die Regering nie, want nog maar kort gelede is nege arbeidersvoormanne gedeporteer teen alle wet in. Ook was dit reeds by genl. Beyers bekend gewees dat sy bedanking so onaangenaam was by die Regering, dat hulle die twee koerante wat die middag sy bedankingsbrief gepubliseer het, op onwettige manier in die poskantoor teruggehou het.
Soos 'n bondel Iig trek die Daimler oor die donker, eensame pad Johannesburg toe. Die tent is af. Die wind is nog altyd sterk in die oop motor en raas om die ore van die reisigers. Genl. De la Rey se gebrek aan die regteroor maak dit nog swaarder vir die twee Generaals om 'n gesprek te voer.
Genl. De la Rey sê: "Sien jy nou Krisjan, ek het jou mos altyd gesê genl. Botha sal wys waar hy staan as die oomblik daarvoor gekom het.”
Genl. Beyers antwoord dat sy vertroue in genl. Botha geskok is, waarop oom Koos nadruklik opmerk:
"Louis het my gesê Ky sal nie 'n skoot Iaat skiet nie.” Daarop bekyk hy die troebele lug en merk op dat hy nie sterre sien nie. Genl. Beyers buk oor na hom toe en sê ook iets van die onweer. Dit herinner genl. De la Rey aan 'n gesig van die "profeet Van Rensburg.”
"NikIaas het al gesê dit sal gebeur in die tyd wat die modder begin en gesien word.”
Daar steek die gesprek weer vas. Altwee het baie belangrike dinge om aan te dink.
Die flikkerligte van die Johannesburgse voorstede het ondertussen naby gekom. Links en regs op die rante voor hulle skyn die elektriese lampe van die ryk wonings. HuIIe is nou in Orange Grove, regs die tremhuisie, links die hotel. Bokant die sterk geraas van die wind uit klink plotseling 'n halt-geroep van die polisie. 'n Konstabel staan voor die motor in die pad. Baie groot pakkiste is opgestapel aan weerskante, sodat daar net 'n nou deurgang vir die motor is. By die kiste is meer polisie en ook burgers. Vir die tweede keer die aand weer polisie in sig, en hierdie keer konstabels met gewere. Die Regering het waarlik uitgebreide maatreëls getref om hulle te vang... en terwyl dié gedagtes deur die koppe van die twee generaals blits, vra genl. Beyers:
"Oom Koos, sal ons stilhou?”
Vervolg...