Harm Oost
"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".
Lees reeks by Wie is die skuldiges
DIE HOFSAAK (2)
"Wat was Leech se beweegrede om nie betyds die nie-skietbevel telefonies aan Langlaagte te gee nie en daardeur genl De la Rey se dood te veroorsaak? Die antwoord daarop sal nooit gegee kan word nie, want die mond wat dit sou kon doen, is vir altyd gesluit: net 'n paar dae na die Hofondersoek beëindig is, het Leech sy hand aan sy eie lewe geslaan. Die verborgenbeid is daardeur nie alleen verdiep nie, maar ook nog bestendig."
Alles draai om die nie-skietbevel. Sub-inspekteur Leech besoek persoonlik Marshallplein, en as hy terugkom in sy kantoor in Fordsburg, kom daar die telefoonberig van dieselfde persoon - dat daar nie geskiet moet word nie. Leech stuur 'n sersant om die nabye wagte daarvan te verwittig en telefoneer na die ander stasies onder sy bevel. Maar aan Langlaagte, een van sy stasies, gee hy nie dadelik kennis nie. Vir Langlaagte maak hy 'n uitsondering. Hy klim agter op die motorfiets van 'n sersant om die instruksie daarheen te bring. Daardeur word Langlaagte eers 'n halfuur later ingelig. As hy, soos vir die ander stasies sy instruksies telefonies oorgestuur het sou dit Langlaagte bereik het nog voor Drury en Ives (wat op die hoek van Du Toit- en De Willestraat posisie moes inneem om motor te keer, desnoods met wapengeweld) van die stasie af vertrek en hulle sou die nie-skietbevel betyds in die stasie ontvang het. Dis sowat sewe minute met die voet na hulle wagplek en hulle is nog geen tien minute daar nie, toe val die noodlottige skoot.
Al die getuies in die Hof van Ondersoek wat daarom ondervra is, het verklaar dat die manier wat sub-inspekteur gevolg het, naamlik om met die motorfiets na Langlaagte uit kom en nie die dringende instruksie te telefoneer nie, as ongewoon beskou moet word. Onder diegene wat dit gesê het was ook Drury en Ives. Leech het probeer om die "toevaI" die skuld te gee; en dit sou moontlik aanvaar kon word as dit meermale gebeur het dat die sub-inspekteur dringende instruksies met die motorfiets gaan bring het pleks van om te telefoneer. Maar sover bekend, het dit nie tevore gebeur nie.
Wat was Leech se beweegrede om nie betyds die nie-skietbevel telefonies aan Langlaagte te gee nie en daardeur genl De la Rey se dood te veroorsaak? Die antwoord daarop sal nooit gegee kan word nie, want die mond wat dit sou kon doen, is vir altyd gesluit: net 'n paar dae na die Hofondersoek beëindig is, het Leech sy hand aan sy eie Iewe geslaan. Die verborgenbeid is daardeur nie alleen verdiep nie, maar ook nog bestendig.
Met sy ondergeskikte, konstabel Charles Drury, het dit skynbaar, altans in die eerste tyd beter gegaan. Kort ná sy koeël genl. De la Rey gedood het, is hy op die staf van genl. Botha in die Duitswes-ekspedisie geplaas, maar sy bruikbaarheid was beperk: hy moes kok speel. Herhaaldelik moes hy die spot verduur van sy Iyfwag-koIIegas, wat sy ongewisheid as skutter op sarkastiese manier in verband gebring het met die gebeurtenis op 15 September. Sy senuwees het ernstig daaronder gely en hy het 'n Iiefde vir die bottel ontwikkel. Kort na die verowering van Duitswes is die veertigjarige konstabel met pensioen ontslaan. Hy het bekend gestaan as 'n Boerehater.) Dit alles het talle mense wat geglo het dat genl. De la Rey nie die slagoffer van die "toevaI” geword het nie, maar van ’n opsetlik gepleegde daad, versterk in hul mening.
Dis van groot belang om te weet wat genl. Beyers se opinie was omtrent die gebeurtenisse in verband met genl. De la Rey se dood. Ons gaan terug na die snelskrifverslag van die hof se verrigtinge. Dit blyk dat genl. Beyers in sy getuienis 'n paar keer gekla het oor die feit dat die publiek nie gewaarsku is teen die gevare waaraan reisigers die aand van die vyftiende blootgestaan het nie. Voor die polisie geskiet het om te raak, kon huIIe tog eers 'n skoot in die lug afgetrek het, meen hy.
Die Sunday Times van 27 Julie 1941 bevat ’n artikel waarin berig word dat Charles Drury nou in 'n agterkamertjie woon op Johannesburg en moet Ieef van sy karige pensioen. Daardie pensioen het 2 sjielings, 2 pennies per dag beloop. Hy is (volgens daardie artikel) nie slegs bekend as die man wat "per ongeluk genl. De la Rey doodgeskiet het nie,” maar ook deurdat hy in 1911 ’n kind van 18 maande gered het van die dood in 'n motorongeluk. Die moeder van daardie kind (aldus die koerantverhaal verder) het vir Drury ’n beloning van £500 aangebied, maar hy kon dit nie aanneem nie, omdat dit teen die regulasies was. Drury was nou (in 1941) besig om te probeer uitvind of daardie moeder nog Ieef en nog bereid sou wees om geldelike hulp aan hom te verleen.
In die offisiële lêers van die polisiemag word die volgende omtrent Drury gemeld: " Hy is op 20 Oktober 1916 uit die Mag ontslaan as medies ongeskik. Hy kry ’n pensioen van £39 18s. 4d. per jaar. Hy het ’n ontslagsertifikaat gekry wat sy karakter as voorbeeldig bestempeL” En hy het werk gekry op Crown Mines, Fordsburg. In die wapenregister staan hy aangemerk as ’n "average shot”.
Majoor Douglas, die hoof van polisie op die Rand, het in die hof, op 'n vraag van adv. Van Hees, wat, soos reeds vermeld, opgetree het namens die familie van die oorlede generaal, nadrukIik verklaar: "Op die aand van 15 September het ek geen instruksies gekry omtrent motorkarre van Pretoria nie.”
Genl. Beyers het onder 'n ander indruk verkeer. Hy verklaar voor die hof: "Die offisier van polisie vertel my dat 'n speurder gedood was. Ek glo hy het my dit vertel op die aand van 15 September. Toe wys hy my 'n boek met telefoniese instruksies, en vir sover ek my kan herinner, het hy my dit voorgelees. Die Iaaste instruksie was, so het ek dit verstaan volgens wat my voorgelees is, dat al die motorkarre op die pad van Pretoria en op party ander paaie moes gekeer word. Ek het dit verstaan in die sin, dat dit betrekking het op motorkarre van Pretoria; die aand tot die more meen ek. Daar was geen waarskuwing uitgegee aan die publiek nie."
Maar majoor Douglas het reeds eerder gesê: "Ek het genl. Beyers heeltemal geen instruksies gewys nie die aand (van die vyftiende). Ek het hom die instruksies vervat in hierdie boek (met telefoniese opdrag) die volgende more (die sestiende dus) gewys. Toe ek in die kantoor van die polisie op Fordsburg was, is hierdie register ingebring. Ek deel aan genl. Beyers mee dat dit die instruksies was wat aan die Polisie op Fordsburg gegee is. Hy vra of dit strydig met die regulasies sou wees om hulle deur te kyk. Ek antwoord: nee, dit sal baie goed wees om u enige ding te wys wat ek het in verband met instruksies wat uitgevaardig is.”
Die hoof van die Randse Polisie en genl. Beyers het op hierdie punt mekaar teengespreek, maar Iaasgenoemde is gesteun deur 'n verklaring van die getroue motorbestuurder Koos Wagner, wat aan my verklaar het:
"Toe hy (genl. Beyers) in die polisiestasie (van Fordsburg) kom (dis net na die dood van genl. De la Rey, en dus op die aand van die vyftiende) gaan ek saam met hom in. Ons kry kol. (majoor) Douglas daar. Genl. Beyers se eerste woorde was: "Skow me your books". Kol. Douglas vroetel in die brandkas van die stasie, en bring 'n boek uit. Genl. Beyers het die boek deurgekyk en dit toe Iaat staan. Sonder om verder te praat, sit hy die boek neer en haal 'n ander een uit. Daar was vyf of ses groot boeke in die brandkas. Nadat hy deur die boeke gekyk het, sê hy vir my hy sal by ds. Theron gaan bly die aand. 'n Paar dae daarna sê hy vir my: in die boeke staan "stop all cars between Pretoria and Johanneskurg. 7.15 .” (Die twee generaals het om sewe-uur van Pretoria af vertrek.)
Genl. Beyers het hom kort voor sy dood in die Vaalrivier oor hierdie tragiese gebeurtenis uitgelaat. Dit word uitvoerig verhaal deur prof. S. P. E. Boshoff in sy nougesette beskrywing in die boek :Vaalrivier, die Broederstroom” op bladsye 33 en 34. Op vrae het die generaal eers half ontwykend geantwoord. "’n Mens mag dink wat jy wil, maar jy mag nie sê wat jy wil nie. Wat 'n mens voor die hof sê moet jy absoluut kan bewys, maar wat ek gedink het, kon ek nie onweerlegbaar bewys nie, en uit hierdie oogpunt moet jy my verklaringe voor die Hof beskou.”
"Maar wat het u eintlik daarvan gedink?” vra genl. Bert Wessels vriendelik.
"Ek sal u vraag eerlik beantwoord,” was sy antwoord duidelik en beslis, "en dan moet ek rondborstig verklaar dat ek gedink het dat die lot, wat genl. Koos de la Rey getref het, bedoel was vir ons altwee, en miskien in die eerste plek vir my, en nie vir oom Koos nie. En dit is nou nog my oortuiging."
Daardie selfde oortuiging het hy ook teenoor ander vriende uitgespreek.
Ten slotte gaan ons nog 'n bietjie terug na die verklaring van adv. Bertie van Hees. Hy skryf:
"Die Iaaste twee getuies in die Hof was minister N. J. de Wet en kol. Truter. (Eersgenoemde was minister van Justisie en die ander, later sir Theo Truter en voorsitter van die krygsraad, wat Jopie Fourie tot die dood veroordeel het, wat ook kommissaris van Polisie was.) Die getuies het my voortdurend in die versoeking gebring om te vra of die polisie die instruksies van Pretoria gekry het. Dan kon hulle natuurlik nee sê, en dan was die Regering vry. Maar ek wou nooit die vraag stel nie. En toe verklaar minister De Wet: 'Ons het hulle geen instruksies gegee nie.’ Hoekom hierdie verklaring? Ek het tog niks daarvan gevra nie?”
Niemand sal die verklaring van minister De Wet in twyfel trek nie, en uit die ondersoek het nie geblyk dat Drury bedoel het om genl. De la Rey of genl. Beyers dood te skiet nie, want daar is geen enkele bewys dat hy hulle geken of herken het nie.
Maar daarmee is, soos ons uitvoerig probeer aantoon het, die geheimsinnighede in verband met die dood van die groot Boere- generaal nie verduidelik nie. Die verborgenheid is daar. En dit sal nooit geopenbaar kan word nie.
Genl. De Wet was volkome op hoogte van die planne wat sy ou wapenbroeder op die vyftiende sou uitvoer, en hy het van sy ou getroues aangesê om hulle gereed te hou. Op die more van die sestiende sou die burgers van die distrik Vrede opgeroep word. En toe die boodskappers klaar staan om daardie bevel uit te voer,
kom Wynand Tromp, prinsipaal van die skool op Memel, aangeja met die verpletterende nuus dat genl. De la Rey doodgeskiet is. Die telefoon het in daardie dae maar net tot die dorpie Memel gekom.
Genl. De Wet, wat nooit vir genl. De la Rey in die steek gelaat het nie, moes nou sy planne prysgee, en die oproep is nie uitgevoer nie.
Maar die doodskiet van genl. De la Rey het die Vrystaters altyd meer onleefbaar gemaak, en toe op 12 Oktober die krygswet afgekondig is en die Regering die burgers gekommandeer het om Maritz en sy "seuns” (hulle eie mense) te gaan skiet, kon niemand hulle meer teenhou nie. Wynand Tromp het in die geveg van Doornberg (8 November) voor die oë van skrywer 'n koeël deur sy hart gekry.
Daar moet op gewys word dat genl. De Wet nie die moontlikheid oorweeg het of genl. Beyers op 15 September in die plek sal gaan staan wat deur genl. De la Rey se dood oopgeval het nie
'n Pers-intermezzo: vervolg...