WIE IS DIE SKULDIGES (17)

Harm Oost

"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".

Lees reeks by Wie is die skuldiges

’N PERS-INTERMEZZO

" Maar midde in die felle stryd om Die Week se vryheid, het sy en haar man my nie alleen in die sleek gelaat nie, maar die vyand gaan help. HuIIe het 'n hofsaak oor die besitreg van die koerantjie met my aangegaan. Mnr. en mev. Logan het die saak gewen. Adv. Danie de Waal, skoonseun van genl. Botha was huIIe advokaat, en die koste was so hoog dat ek genoodsaak is om boedeI oor te gee. Die Week is toe, met Nig Mimmie as redaktrise, uitgegee by De Volksstem-drukkery, maar nie lank nie, want noudat die blaadjie ook 'n Botha-orgaan geword het, is die bestaansreg opgehef. En Die Week het verdwyn. Hierdie politiese strategie is so oud soos die berge..."

Christiaan Frederik Beyers het die Driejarige Oorlog ingegaan as ‘n onbekende prokureur van die Oos-Rand en daar uitgekom as 'n gewilde volksheld,  een van die baie wat so uitstekend oorlog gemaak het dat hulle deur die oorlog "gemaak” is. Hy was een van die bestes, ‘n pragtig-geboude sesvoeter met 'n paar sterk donker oë, ‘n dik, swart snor en donker baard. Hy was nie onbewus van die aandag wat sy voorkoms getrek het nie en hy het deur sorgvuldigbeid in sy optrede die indruk daarvan nog verhoog. Ek het herhaaldelik as jong koerantskrywer met hom saamgegaan na buitevergaderings wat hy toegespreek het. Die byeenkomste is in die buitelug gehou, want daar was ná die oorlog se verwoesting geen geboue beskikbaar nie. Hy het altyd gesorg dat hy betyds opdaag. As hy effentjies vroeg was, hou hy hier agter die bultjie ‘n rukkie stil (die mense waardeer jou koms meer as hulle ‘n bietjie vir jou moet wag). Hy het die gawe van welsprekendheid gehad en sy kragtige stem bereik maklik ook die buitekant van die meeste groot byeenkomste. Almal het met aandag en respek na hom geluister, veral omdat hy na die hart van sy mense gepraat het. Hy het hulle opgebeur uit die drukkende vernedering waarin die verlies van die onafhanklikheid hulle gedompel het.

Genls. Botha en Smuts, die erkende hoofleiers, het hom glad nie gewaardeer nie. HuIIe konsiliasie-politiek was die oorsaak. En ofskoon hy, volgens die mening van sy bewonderende vrou, die middelaar was tussen die twee generaals en die volk, sou hulle eerder wou toesien dat sy politieke aktiwiteit minder indruk op die volk gemaak het. Toe hy in 1907 vanselfsprekend vir die Transvaalse Parlement gekies is, het hulle hom nie ’n setel as minister nie, maar hom die Speakerstoel toegeken, met die wagting dat hy dit met waardigheid en bekwaamheid moes beset. Want as voorsitter van die Kommando-afgevaardigdes by die besprekings oor die voorgestelde vrede het hy daardie eienskappe getoon. En hulle keuse vir die Speakerskap was duidelik die regte keuse. As voorsitter van die volksverteenwoordiging het hy die waardering en selfs bewondering ook van die opposisie verwerf.

Toe die Unieverkiesing in 1910 agter die rug was, het die Speakerskap egter aan iemand anders oorgelaat, omdat die Vrystaat by die Kaapse kandidaat gaan staan het.

So was genl. Beyers dan in die eerste Unie-parlement ‘n gewone lid, wat egter af en toe met buitengewone selfstandigheid getrou aan sy geaardheid, die Regeringsparty opdraande gegee het by die hantering van nasionale onderwerpe soos onderwys, Sondagsheiliging en verdedigingsontwerp.

By dit alles het hy sy getrouheid aan genl. Botha uitgeleef, al moes dit hom stryd gekos het.

Dit blyk uit ‘n paar briewe van genl. Beyers wat hy geskryf het in die middel van 1912, toe die Hertzog-krisis voelbaar nader gekom het en wel na aanleiding van my ou koerantjie, “De Week”. Dit was die eerste selfstandige joernalistieke poging om die beleid te steun, wat toe al bekend was as die Hertzog-politek. Die een brief was aan my en het ‘n veroordeling bevat van my werk. Die ander was vir Preller en was nog kwaaier teen Preller en genl. Beyers bewoord insake hulle politiek. Altwee was in daardie terminologie, nasionaal in huIIe hart en Botha-mense in huIIe trou. Preller het as assistent-redakteur van "De Volksstem” (dit was toe die naam en spelling van die koerant) noue kontakte gehad met genl. Botha en ander Ieiers.

Gustav Schoeman Preller is net na die Driejarige Oorlog deur genl. Botha aangestel as redakteur van "Land en Volk”, ‘n Pretoriase nuusblad, wat voor die oorlog onder Ieiding onder ander van Eugene Marais die belange van die Joubertseksie sterk voorgestaan het; dit was dus ook genl. Botha se koerant, want  Botha was ‘n sterk Joubertman. "De Volksstem” was 'n Regeringsorgaan en het die eiendom geword van die knap redakteur dr. Frans Vredenrijk Engelenburg. Gedurende die latere deel van die oorlogstyd is altwee gestaak, maar ná Vereeniging het huIIe weer herleef. "Land en Volk” het die dienste van Preller nie lank geniet nie, want dr. Engelenburg het hom en daarmee die onbeperkte invloed van genl. Botha, aan "De Volksstem” verbind. "Land en Volk" het in die hande van sir Abe Bailey geval.

Gustav, ‘n paar jaar ouer as ek, het deur sy begaafdheid, werkkrag en patriotisme as joernalis en naderhand Ieier van die Afrikaanse taalbeweging in Transvaal, hom in besonder op die geskiedenis van die Voortrekkers toegespits. Sy "Piet Retief” is herhaaldelik aangevul en herdruk, en was sy eerste en belangrikste historiese werk. Ons het dag vir dag oor ’n tydperk van agt jaar saamgewerk met ‘n geesdrif vir die ontwikkeling van die Afrikaanse taal, wat 'n voortdurende inspirasie gaande gehou het. Hy was die assistent-redakteur van "De Volksstem" en ek was sy junior. Sy geskrif "Laat ‘t ons toch ernst wezen”, en my "Ou Daniël" (met ‘n voorwoord van hom wat blywende waarde het) is hartlik verwelkom deur almal wat, soos ons doel was, wou saamwerk om onder die "opgevoede” mense die Afrikaanse taal uit die kombuis, waarheen dit verban was, uit te bring na die waardiger atmosfeer van die sitkamer. Want die "beskaafde" mense van die groot dorpe was in hulle kultuur tog maar Engels georiënteer, al het hulle in hulle gesprekke af en toe ‘n Afrikaanse woord Iaat val om te beduie dat jy darem nie juis 'n Engelsman is nie, al gebruik jy die Engelsman se taal. Die Afrikaans-HoIIandse toneelvereniging, wat ons spesiaal gestig het vir die opvoering van "Ou Daniel” en ander Afrikaanse stukke, het met Gustav as voorsitter groot belangstelling geniet, soos duidelik geblyk het uit die voI sale wat ons amateur-toneelspelers getrek het. Onder die tegniese Ieiding van mev. Engel Wilson het die toneelvereniging selfs die 'media' met welslae vertolk.

Al die vreugde is egter doodgesmoor deur die party-politiek. Gustav was ‘n getroue en vertroude volgeling van genl. Botha, wat hom groot steun, maar ook baie smarte besorg het. Die versoeningsbeleid het hom ontstem, naderhand verbitter. Hy het daarvan oortuig geword dat die "konsiIiasie-kuItuur”, die baksel uit die oond van die konsiliasie-politiek, die volksiel totaal sou vergiftig. In 1911 al het hy dit gevoel, en die besef daarvan het altyd dieper ingevreet.

Ek het van 1908 af selfstandig opgetree in my joernalistieke werk, maar tog as deel van De Volksstem-redaksie. En dit het gebeur deur die stigting van 'n byblad met die naam "De Boer”, wat onder my redaksie meer in die besonder Iandboubelange van die VolksstemIesers sou behartig, sonder om die nasionale inspirasies te verwaarloos. Dit het daartoe gelei dat die hoofblad die "Botha-poIitiek verkondig het en die kykblad meer die Iig Iaat skyn het op wat stadigaan as "Hertzog-beIeid” bekend geword het. Dr. Engelenburg het dit in die begin aangemoedig, want daardeur bly die aanhangers van altwee die rigtings onder die vlerke van "De Volksstem. Tot in 1911 het die twee hande mekaar gewas, maar genls. Botha en Smuts, wat 'n dominerende invloed gehad het op De Volksstem , het gemeen dat die Hertzoghand te sterk sou word, en dr. Engelenburg het my 'n paar keer 'n vriendskaplike wenk gegee om meer na die Bothakant oor te Ieun. Gedurende die Iaaste kwartaal van 1911 het dit egter geblyk dat dit nie voldoende was nie.  Die VoIksstem-redakteurskring het my moreel verplig dat ek van toe af moes skryf in die gees van genl. Botha. Indien ek daarvoor nie kans sou sien nie, moes ek " 'n ander uitweg soek" vir my "joernalistieke energie.” Om my tegemoet te kom, het dr. Engelenburg hom verneder deur te verklaar: "Ek is 'n nusies-koopman”. Die ou gentleman kon partykeer as 'n sinikus voorkom, maar ek het die bedoeling agter sy woorde goed verstaan en sy houding van bedekte vriendskap vir my op prys gestel.

So het dit gebeur dat ek op 1 Desember 1911 sou uittree. Maar Gustav wou daarvan niks weet nie. Dag vir dag het hy my probeer oortuig dat ek my bedanking moes terugtrek. En elke dag het ek hom gevra om my te beduie hoe ek dit kan doen en eerlik teenoor myself bly. My probleem het ek ook aan dr. Engelenburg voorgelê toe hy by my aandring om op sy redaksie te bly.

Die voorlaaste dag het ons weer oor die probleem gepraat maar sonder enige resultaat, tot Gustav skielik uitbars met betuigings van respek vir my houding, en hy voeg daarby: "Harm, ek voel net soos jy, en dit skeel my min of ek stap more saam met jou uit."

Ons het verder daaroor besin en ek het hom daarop gewys dat daar ook vir ons huisgesinne groot probleme wag, en dat daar selfs armoede sou voorlê. "En vandag het ons tog elke dag ons stukkie vleis op die tafel". Hy sou my vroeg die volgende oggend sy beslissing gee.

En daardie more, die laaste dag van my jarelange werksaamheid daar, maak ek sy deur oop, en vra:

"Oom Gustav, wat gaan dit wees: beesvleis of mieliepap?"

Hy skud sy kop. "Ek kan nie. Ek kan nie."

Ek het dit verwag, want ek het geweet dat daar behalwe die persoonlike bande wat hom bind aan genl. Botha, ook nog die finansiële verantwoordelikhede is, wat hy met De Volksstem se organisasie aangegaan het.

So het hy agtergebly en ek het die Nasionale "wildernis" ingetrek. Dit het tot 1925 geduur voor hy daar losgebreek het. En toe was genl. Botha al 'n ruk dood. Hy het my opvolger geword as redakteur van "Ons Vaderland" .

Maar hoe sy gevoelens hom partykeer baasgeraak het, kom duidelik aan die Iig in sy private memo van 15 Desember 1914, en wat Iui:

"Konsiliasie is eenvoudig 'rampant’, dikker en taaier en walgeliker as ooit. Taal en nasionaliteit is dinge wat gelykstaan met rebellie. Die Nuusblad-pers, wat nog op 'n halfbartige manier geprobeer het om die saak van die HoIIandse taal omhoog te hou, die word skriftelik belet om 'n woord te rep van 'the language question, concerning which difference of opinion exists’.  Aan die ander kant is mense wat hul skuldig gemaak het vies omdat hul (natuurlik heeltemal ten onregte) meen, dat die nasionale saak tot sy Iogiese konsekwensies deurgevoer moes word in wat daar gebeur het, en so baie het nie opgestaan nie!”

Hierdie ontboeseming het gekom toe die spanning onder die volk baie groot was, naamlik in die rebellietyd. Preller was 'n kombers-rebel maar hy het sy kombers dig oor sy kop getrek!

Die koerantjie "Die Week” was natuurlik van sy geboorte af 'n ergernis vir "De Volksstem” en van sy ondersteuners (dit is die Bothamense onder wie genl. Beyers.) Die genl. is blykbaar deur Preller daaroor genader toe "Die Week” al meer aanhangers begin kry; dit het die volgende antwoord uitgelok:

Library of Parliament, 19 Junie, 1912.

Waarde Gustav,

Jou brief re Oost en zyn blaadje ontvangen. De geschiedenis van de zaak is kortliks deze: Kort voor myn vertrek in Jan. 1912 het de heer Oost naar Hertzog en myzelf gekomen om ondersteuning van zyn blad dat hy toe voornemens was te beginnen en hetwelk nu onder de naam De Week bekend staat. Wy hebben hem geen steun gegeven, doch vonden toen geen kwaad in zyn voornemens aangezien hy uitdrukkelijk gestipuleerd heeft dat daar geen vyandskap bedoeld was op De Volksstem zowel als op onze voormannen.

Sedert de verschyning van  De Week heb ik de keer Oost geschreven dat ek heelemal afkeur zyn politiek en dat als hy zo voortgaat geen fatsoenlike en rechtschapen man zyn blad zal Iezen of woorden te dien effekte. Wat Hertzog gedaan heeft sedertdien weet ik niet.

Binnenkort hoop ik om terug te zyn dan kom ik jou hierover spreken.

GeheeI de Uwe,

C. F. Beyers.

Genl. Beyers was dus in die tyd hoogs ontevrede met my joernalistieke arbeid en die nasionale koerantjie, omdat dit vyandskap teen De Volksstem en teen "onze voormannen” sou kweek. Hy het waarskynlik net gedink aan sekere van die voormanne, wat nie genls. Hertzog en De Wet ingesluit het nie. Laasgenoemde het naamlik op die groot vergadering by genl. Hertzog se huis, onderkant Meintjeskop, op die namiddag van die "miskoop”-dag (28 Desember 1912) in teenoorgestelde sin oor De Week gepraat. Met duidelike waardering het die ou generaal die groot (nasionale) fondament wat deur die koerant gelê is en die koerant self geroem met die woorde: "De Week is 'n blad van die volk; dit Iuister na die wil van die volk en werk vir die volk."

Genl. Beyers het sy brief met die skerp kritiek geskryf elf dae voor hy die kommandant-generaalskap aanvaar het. In die loop van tyd het hy sy oordeel gewysig, want toe hy op 15 September 1914 sy bedankbrief as kommandant-generaal aan die wêreld wou bekendmaak, was ek die eerste koerantskrywer aan wie hy dit in sy kantoor vir publikasie oorhandig het.

As genl. Beyers in die midde van 1912 ontevrede was met die onnasionale koerantjie was ek ook, ofskoon om ander redes. My moeilikhede was menigvuldig, vernaamlik gebrek aan kapitaal. My middels van produksie was primitief, hulp het my ontbreek, sodat ek bv. selfs as verkoper van advertensieruimte moes optree. Omtrent al die nuusblaaie van daardie tyd (meer nog as nou) was in die hande van die 'kapitaiiste’ en huIIe was die imperialiste, die aartsvyande. Om die waarderende woorde van genl. De Wet waardig te wees, moes ek selfstandig bly, en dit het swaar gegaan, veral omdat ek dadelik aan die begin moes ondervind dat geesdriftige vriende wat my sterk aangemoedig het, in die praktyk waardeloos (of erger) geblyk te wees het. Maar ander sterk manne het by my kom staan in die moeilike stryd; Tielman Roos, dr. A. M. Moll en andere was onder huIIe. Tielman, die leier van die klompie 'Jong Turke’, wat reeds in 1909 aan die kant van A. D. W. Wolmarans, Rooi Danie Opperman en ander Transvalers teen unifikasie opgetree het (huIIe wou federasie bevorder) en so effentjies op die voorgrond gekom het, het sy skitterende talent en sy onwrikbare patriotisme sowel as sy gloeiende verontwaardiging af en toe in Die Week uitgegiet. Hy was 'n groot man wat deur die nageslag (nes baie ander grotes) totaal verwaarloos is. Dr. A. M. Moll, die Johannesburgse sielkundige en medikus, was 'n man wat sy nasionalisme helder en saaklik beredeneer het (in ons koerantjie) sonder 'n greintjie eiebelang. Daar was meer van huIIe, bv. Volksraadslid Piet Grobler, wat in sy hart 'n koerantskrywer was.

Van diegene wat my medewerking verleen het, moet veral 'Nig Mimmie ’ genoem word. Sy was begaaf, haar styl was Iewendig en die inhoud van haar weeklikse bydraes was na die smaak van die publiek. Sy was 'n nooi Naude en haar man, C. C. Logan, 'n amptenaar. Maar midde in die felle stryd om Die Week se vryheid, het sy en haar man my nie alleen in die sleek gelaat nie, maar die vyand gaan help. HuIIe het 'n hofsaak oor die besitreg van die koerantjie met my aangegaan. Mnr. en mev. Logan het die saak gewen. Adv. Danie de Waal, skoonseun van genl. Botha was huIIe advokaat, en die koste was so hoog dat ek genoodsaak is om boedeI oor te gee.         Die Week is toe, met Nig Mimmie as redaktrise, uitgegee by De Volksstem-drukkery, maar nie lank nie, want noudat die blaadjie ook 'n Botha-orgaan geword het, is die bestaansreg opgehef. En Die Week het verdwyn. Hierdie politiese strategie is so oud soos die berge...

Dit was in September 1913. My koerant het op Vrydae verskyn . . . en aanhou verskyn op die vasgestelde dag sonder om een keer oor te slaan—maar nou onder die naam Het Volk want nog skaars het die hofuitspraak bekend geword, of vriende (onder hulle was arm mense) het gekom met voldoende geld om my ’n kans te gee tot voortsetting van my arbeid. Die koerant is verdoop van Die Week na Het Volk. Vir my persoonlike geldsake was die gebeurtenis noodlottig, want die koste van die Hooggeregshofsaak het so hoog geloop dat ek dit selfs met hulp van my vriende, nie bymekaar sou kan skraap nie. Boedel-oorgee was my enigste voorland, maar met al die teenspoed is die geesdrif vir die nasionale saak nie verswak nie. Inteendeel: die wil om te volhard, is versterk. My naam kon, as gevolg van my bankrotskap, nie offisiëel as redakteur verskyn nie. Adv. A. S. van Hees en ná hom H. S. Webb het hulle name geleen vir daardie doel, en dit het niemand gehinder nie. My rehabilitasie is eers op 5 Augustus 1914, die dag ná die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, in die Staatskoerant gepubliseer.

Die koerant het nou aan 'n sindikaat behoort, waardeur my taak verlig is, want die finansiële las moes deur hulle gedra word, en my werk as redakteur, wat ingesluit het die Ieiding van die versending, sowel as van ander administratiewe werksaamhede, was swaar genoeg. Ons veg in die gebied van die Botha-kraal want Transvaal was genl. Botha se provinsie. Na die uitsetting van genl. Hertzog en die "miskoop-demonstrasie” (28 Desember 1912) was daar groot geesdrif vir ons politiek. maar stadigaan het daar 'n reaksie ontstaan, wat later eers oorkom kon word. Het Volk het egter aan invloed en intekenaars gewen, sodat dit naderhand 'n half-weeklikse koerant kon word. Die vyandskap van regeringskant het verskerp, en met die uitbreek van die rebellie het die Regering die verdere verskyning verbied. Herhaaldelik is ek persoonlik gedreig met gevangeneming, en so het ek die pen verruil vir die ou poena.

Maar ook Het Volk het herlewe, al het dit 'n tyd geduur. Toe ek in die middel van 1916 die verwenste poort van die Fort-gevangenis agter my het, was ek 'n vry man. Want die parool, wat ook my aangebied is in Desember 1915, het ek geweier omdat dit my werksaamhede as persman sou belemmer, moontlik selfs belet en my vryheid as burger sou gekniehalter het. Ek ket dus my straftyd uitgedien en kon die redakteurskap van Ons Vaderland (dit was die voortsetting van  Het Volk ) aanvaar. Prof. Jan Kamp en dr. Johannes Grosskopf het dit aan my oorgedra, en ek het daardie arbeid verrig tot my werksaamhede as volksverteenwoordiger te veeleisend geword het. In 1925, amper 14 jaar ná ons van mekaar afskeid geneem het by De Volksstem, het Gustav Preller my opvolger geword. Daardie veertienjarige periode was vir my 'n tydperk van die uiterste kragsinspanning wat alleen deur 'n diepgevoelde oortuiging gaande gehou kon word: Van groot hoogtepunte sowel as van diep vernederings. Die howe, waarmee ek meermale kennis gemaak ket, was naderhand meer genadig teenoor my. Selfs die spesiale regterlike kommissie van ondersoek wat moes nagaan hoe ek die befaamde "Maritz-dokumente” wat ek in 1922 gepubliseer het, bekom het, kon nie anders nie as om my vry Iaat uitgaan. Maar gedurende die periode van krygswet na aanleiding van die groot staking in 1922 is ek maar weer gearresteer en gevonnis. Nie omdat ek geen bewyse van my onskuld kon Iewer nie, maar omdat (volgens die oordeel van die betrokke Hof) "truth no defence” is in sulke tye nie.

My werk as eerste nasionale koerantskrywer vind tot op hierdie dag sy voortsetting in Die Vaderland.

Maar Die Volkstem is in 1951 'oorIede' sonder 'n opvolger. Hierdie koerant het na my verwydering aan die einde van 1911 sy opgelegde taak as Botha-orgaan voortgeset, maar nie sonder verdere "suiwering” nie. Ook "De Kreupele Donkie” moes padgee.

Wie was hierdie "Kreupele Donkie”?  - Nee, nie 'n persoon nie, maar 'n rubriek, 'n vaste kolom in De Volksstem, wat aangehou het om die offisiële sondes deur regeringsdepartemente teen artikel 137 van die Suid-Afrika-wet, uit te basuin. Hierdie klousule van taalgelykheid is deur die Engelse Iede van die Nasionale Konvensie beskou as 'n toegewing aan die kinderlike begeerte van die Afrikaners om hulself te wees, 'n droombeeld, wat (soos hulle gereken het) tog nooit verwesenlik kon word vir 'n verowerde volk, selfs nie onder die Union Jack nie. In die praktyk sou dit nooit plaasvind nie, en die gevolge was (met genls. Botha en Smuts as hoofde) 'n skandelike mishandeling van die "tweede taal” - en tegelykertyd was dit in stryd met die "konsiliasie-politiek” van die Botha-regering om op taalgelykstelIing in die praktyk aan te dring, soos in De Kreupele Donkie-rubriek van De Volksstem by voortduring gedaan is.

Die Kreupele Donkie se doodvonnis (sover dit die De Volksstem betref) is uitgespreek by geleentheid van die Dingaansfees van 1911 te Grootfontein, volgens 'n nie-gepubliseerde studie van C. L. Engelbrecht oor die Hertzog-krisis. Hy verhaal: "Op die genoemde feesviering (1911), in die distrik Standerton was onder meer teenwoordig genl. Botha en mnr. Preller, sub-editeur van De Volksstem. Hier het die Iokale voormanne wat op die fees was, saamgekom en besluit om druk uit te oefen op De Volksstem vir verandering (nl. die afskaffing o.a. van Die KreupeIe Donkie-rubriek). En waarom genl. Hertzog se vergaderings altyd met vet letters (in De Volksstem ) adverteer? So 'n man soos genl. Hertzog, wat nie eers die Speakerskap gegun het aan 'n groot Afrikaner soos genl. Beyers niel” * Gepubliseer in Ons Vaderland, jaargang 1922.

En hierdie privaat-byeenkoms van Hoëveldse voormanne besluit om 'n konfidensiële skrywe aan die redakteur van De Volksstem te rig, waarin aangedring word om daarin verandering te bring. "Dit is aanneemlik” (aldus kol. Engelbrecht) "dat die handelinge te Grootfontein gebeur het op ingewing van genl. Botha”. En Preller was aanwesig om dit verder toe te Iig by sy terugkoms in Pretoria.

Hieraan is deur De Volksstem gehoor gegee. "En in die inleidingsartikel van die daaropvolgende uitgawe vind ons die aankondiging en uitleg, dat hierdie dinge gestaak sou word in belang van konsiliasie,” skryf hy.

Dit spreek vanself dat Die Week hom oor die KreupeIe Donkie erbarm het na sy verwydering uit De Volksstem, en teen oortredings van art. 137 - ook as dit gepleeg is deur 'n offisier van die Burgermag (onder huIIe was Engelse, al was genl. Beyers die hoof) is daar erg geprotesteer in die kolomme van Die Week en later in  Het Volk.

Genl Beyers as Kommandant-generaal van die Burgermagte: vervolg...