WIE IS DIE SKULDIGES (18)

Harm Oost

"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".

Lees reeks by Wie is die skuldiges

Genl Beyers as Kommandant-generaal van die Burgermagte

Genl. Beyers se aanstelling, soos gepubliseer in die spesiale Staatskoerant van 5 Julie 1912, het geldig geword op die eerste van daardie maand. Sy titel was: Kommandant-generaal van die Burgermagte, onder die Verdedigingswet wat net dae tevore deur die goewerneur-generaal onderteken was en op 14 Junie 1912 offisiëel afgekondig is. Hy was die regte man: sy aangebore eienskappe as Ieier, sy ondervinding in die oorlogsveld, en veral sy populariteit by die Afrikaanssprekende en selfs by ‘n deel van die Engelse bevolking, het ongetwyfeld die nuttigheid van sy aan­stelling by genls. Botha en Smuts beklemtoon - veral sy gewildheid by die volk, want die Afrikaners het maar taamlik baie agterdog oor baie dinge gehad.

Daar was art. 1 van die Wet, wat verdediging binne en buitekant die Unie neerlê. En daar is in daardie tyd eerder al gesê en geskryf dat Engeland ons burgers miskien sou gebruik om Duitswes te annekseer. Ook het genl. Smuts, wat andersins versigtig was in sy publieke uitlatings, sy mond taamlik verbygepraat toe hy sê dat die Parlement waarskynlik nie so maklik tot goedkeuring van die Verdedigingswet sou oorgegaan het as hulle geweet het waarvoor hulle stem nie.

Genl. Beyers het die titel kommandant-generaal begeer.

Hy het die hoë posisie aanvaar in die hoop dat hy daardeur Suid-Afrika sou kon dien. Met die eenvoud en opregtheid wat die hoekstene van sy karakter was. skryf hy omtrent daardie tyd aan ‘n vriend: "'n GevoeI van dankbaarheid kom in my op, as ek my volk in die geringste mate tot hulp kan wees of tot hulp was."

Maar "kommandant-generaal” was net 'n titel, nie ‘n rang nie. Sy rang in die militêre organisasie wat hy moes help vorm, was "brigadier-generaal van die Verdedigingsmag’. Die Suid-Afrikaanse strydmagte was geskakel aan die Imperiale magte. Van die Driejarige Oorlog af was daar nog altyd Britse besettingstroepe in verskillende sentrums van ons land. HuIIe is teruggetrek eers toe die eerste wêreldoorlog 'n tydjie aan die gang was. Die hele hoofkwartierstaf onder ons Verdedigingswet was Engelse, met net een uitsondering, nl. genl. Beyers. Nes hy was ook Tim Lukin brigadier-generaal, en daar was nog ses ander Iede van die hoofkwartierstaf. Volgens die "demokratiese stelsel” in Engeland was "the army the servant of the State ".

In die ou Republieke was dit glad anders. HuIIe het ‘n volksleer besit in die wydste betekenis, en daardie leer was nie die dienaar van die staat nie, maar die staat self, in soverre elke seun op sy sestiende jaar die stemreg ontvang en tegelykertyd dienspligtig geword het vir Iandsverdediging. Die krygsoffisiere van die kommandant-generaal af tot die korporaal is deur die bur­gers gekies, en siviele sowel as militêre magte is saamgetrek in een selfde ampsdraer. Die veldkornet was behalwe krygsoffisier ook onder-naturellekommissaris, ‘n polisie-offisier; hy het hofsittings gehou en allerhande administratiewe verantwoordelikhede moes behartig, soos die byhou van die burgerlyste wat tegelyk kieserslyste was. Die kommandant-generaal gekies volgens dieselfde stelsel as die president, was nie alleen die Opperste Krygsoffisier nie, maar ook vise-president, en lid van die Uitvoerende Raad (die Kabinet). Hy was verder (tot 1898) hoof van Naturellesake en het in status onmiddellik op die staatspresident gevolg.

Maar onder die Verdedigingswet van 1912 was die komman­dant-generaal slegs ‘n lid van die hoofkwartierstaf en as sodanig ondergeskik aan die bevele van die minister en genl. Smuts het dit vir genl. Beyers nou en dan duidelik Iaat besef. Die hele militêre inrigting was volgens Britse model; die organisasie was in die praktyk ‘n deel van die imperiale leër. Daardie verhouding is nog geaksentueer deurdat genl. Botha ‘n ere-generaal en sy seun Louis ‘n kaptein was in daardie leer, terwyl genl. Smuts daarin opgeklim het tot hy later as veldmaarskalk sy imperiale staf kon hooghou.

(Toe die manuskrip van hierdie boek al by die drukker was, is deur die Minister van Verdediging, mnr. Francois Christiaan Erasmus, besluit tot herstel van die titel Kom­mandant-generaal, en dit het op die verjaarsdag van genl. Christiaan Beyers van krag geword op 23 September 1956.) Generaal-majoor Hendrik B. Klopper, tot die tyd Hoof van die Generale-Staf, is die eerste, wat die vierde Kommandant-generaalskap gaan beklee het. Elkeen van die vier verskil van die ander. Onder die republikeinse wet van Transvaal, was die Kommandant-generaal, Piet Joubert, hoof van al die verdedigingsmagte, en verder vise-President en Hoof van Naturellesake. Ook was hy ’n lid van die Uitvoerende Raad - dit is ’n minister. Hy was ’n verkosene van die volk. Ná hom (begin 1900) is genl. Louis Botha deur die republikeinse regering aangestel as waarnemende Kommandant-generaal van die Transvaalse kommando’s, maar nie as vise-President, en ook nie as Hoof van naturelle­sake nie. Die einde van die driejarige oorlog was ook die einde van die kommandant-generaalskap. Die titel is egter in 1912 herstel deur die aanstelling van genl. Beyers as sodanig, maar dis baie afgewater -  Beyers se rang was net brigade-generaal (Brigadier-generaal) onder die Minister van Verdediging, en sy bevel beperk tot die burgermag. Hierdie derde Kommandant-generaalskap het verdwyn deur die bedanking van genl. Beyers op 15 September 1914. En nou is die funksies van die Kommandant-generaal, wat militêre mag betref, gelykstaande aan die van sy voorganger in die republikeinse tyd. Kommandant-generaal Klopper is bevelvoerder van die Verdedigingsmag in sy drie vertakkings: leer, lugmag en vloot. Verder is hy ’n lid van die Verdedigings-stafraad onder voorsitterskap van die Minister, en die voorsitter van die Generale Stafraad.

Hoe geliefd die titel Kommandant-generaal is onder die ouere bevolking van ons land het in 1914 geblyk, toe die rebellie uitgebreek het. Dadelik al by die begin is genl. De Wet as sodanig gekies in die Vrystaat en genl. Beyers in Transvaal.

(Nog ’n staaltjie van die respek wat deur die Transvalers opgeëis is vir die Kommandant-generaalskap, is die gebeurtenis met die lyk van Colley ná die Majoebaslag op die laaste dag van Februarie 1881, soos verhaal deur Harm Oost onder die titel Die viertal vierkleurhysers van 1880 in Die Huisgenoot van 2 September 1927. Daar lees ’n mens dat die Boere die liggaam van die Engelse bevelvoerder na hulle laer gebring het en dat genl. Joubert toe aan die vyand laat weet het, hulle kon die lyk kry.  En toe hulle (die Engelse) om die lyk stuur, skryf hulle: "Aan die Voorman van die Opstandelinge". Maar die Generaal wou die lyk nie afstaan voor hulle hom erken het as Kommandant-generaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek nie. Hulle het dit moes doen, en op dié manier het hulle op die derde dag ná die Majuba-slag die lyk gekry — Die titel Kommandant-generaal en die onafhanklikheid was volgens Boere-opinie onafskeidbaar van mekaar.)

Toe na 'n paar jaar ’n botsing ontstaan tussen genl. Beyers en die regering oor die inval in Duitswes, en genl. Beyers sy oortuiging hoër gestel het as sy kommandant-generaalskap, kon ‘n mens verstaan dat mevrou Beyers die blye versugting geuiter het: "Wat my betref, voel ek hartlik dankbaar dat ons die brigadier-generaal begrawe het. Nou het ek weer my ou Boere-generaal." Maar dit was in September 1914.

Genl. Beyers het sy werk as hoof van die Burgermagte in 1912 met groot geesdrif aangepak. Hy het gereken dat hy sy volk in ‘n grootse toekoms kon inlei deur nasionale trots en selfvertroue so swaar geskok deur die verlies van die onafkanklikheid te herskep. Die moeilikhede was groot maar nie onoorkombaar nie, en sy hoë posisie het so uitnemend by hom gepas soos sy indrukwekkende uniform by sy mooi geboude en goed versorgde Iyf.

Die verdedigingswetsontwerp is deur die regering bedoel om 'n militêre organisasie moontlik te maak, wat aan die behoeftes van Suid-Afrikaanse sowel as imperiale beskerming sou voldoen, soos duidelik gemaak is by die behandeling van die gebeurtenisse in 1911. In die praktyk het dit neergekom op die voorsiening van militêre hulp aan die empaaier. Maar die volksleer-idee, soos in die wetsontwerp neergelê, is vir ‘n aanmerklike deel geinspireer deur die Switserse voorbeeld; en toe daar in 1912 maneuvers in Switserland plaasvind, het genl. Beyers in Augustus soheentoe gereis om hulle te bestudeer. Ander nasies was soos gewoonlik ook verteenwoordig: Duitsland deur keiser Wilhelm II in eie persoon; die twee het ‘n vriendskaplike gesprek gehad, nie oor militêre sake nie. Die kennismaking was aangenaam en die keiser het hom naderhand ‘n eresabel aangebied. Later het Iasteraars daardie toevallige ontmoeting gebruik om verraad te skreeu.

‘n Krygskool is te Tempe (Bloemfontein) gestig vir die opleiding van offisiere wat aan die hoof sou staan van die militêre distrikte waarin die Unie verdeel is. Manne soos Manie Maritz, Nussey, Brand, Kemp, Bouwer en Pienaar wat in die Driejarige Oorlog hulle talent as krygsoffisiere getoon en ontwikkel het, was daar om onder die veranderde omstandighede gereed gemaak te word vir hulle nuwe taak.

Die Aktiewe Burgermag het die jong mense militêr gevorm en skietverenigings het orals hulle 'skywe’ gehou soos in die ou dae. Toe die regering in die begin van 1914 die Verdedigingsmag Iaat kommandeer om op te tree teen die stakers in Johannesburg, het die nougesetheid waarmee die kommando’s opgekom het, ‘n verdiende vertroue gewek in die groot werk wat die nuwe kom­mandant-generaal in so ’n kort tyd tot stand gebring het, ook al was daar onder die burgers min geesdrif vir die doel waarvoor hulle onder die wapen geroep is.

Soos bekend, het die arbeiders moes ingee en het genl. Smuts groot sensasie verwek deur van hulle leiers teen alle reg en wet in te deporteer. Daar het 'n swaar tyd vir die werkende klas gevolg. Wat die reaksie van genl. Beyers daarop was, blyk uit die volgende gebeurtenis wat uit die aantekenings van sy motorbestuurder, J. A. Wagner, geneem is:

In 1914, kort na die staking, ry die generaal van Johannesburg na Pretoria. Langs die pad stap 'n arm man in die teenoorgestelde rigting. Hy is blykbaar 'n Engelsman en dra 'n bondel op sy rug. Genl. Beyers gee bevel om stil te hou. Hy roep die bondeldraer en vra: "Waar gaan jy heen?” Die antwoord was: "Na Johan­nesburg om werk te soek.” Die generaal vra verder: "Het jy geëet vanmore?" Die antwoord was ontkennend.

Die generaal haal 'n pond uit sy sak en gee dit vir die arme ou Engelsman. Toe trek hy sy pragtige swart jas uit en gee dit ook vir kom.

Wagner vra: "Hoekom gee Generaal u jas weg?”

Genl. Beyers antwoord: "Die arm man ket nog nie geëet nie, en ek kan die koue beter verduur as hy.”

Hulle het die Engelsman nooit vantevore en nooit daarna gesien nie.

Vervolg...