Harm Oost
"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".
Lees reeks by Wie is die skuldiges
Publieke vergadering die dag na genl De la Rey se begrafnis
"Die Smuts-regering hou die front van vrywillige deelname aan die oorlog teen die Duitsers sodat die gemoedere nie te hoog loop nie; intussen kommandeer hy elke burgermag op om na sy pype te dans. Vrywillig in die publieke oog, maar onder dwang van die regering – wat 'n valsheid!"
Die dag na genl De la Rey se begrafnis, 21 September, was daar op Lichtenburg 'n publieke vergadering wat deur aanwesiges tussen 800 en 1200 geskat is. Die voorsitter was genl. Kemp wat as majoor van die Verdedigingsmag en hoof van die Potchefstroomse oefenkamp, nes ander offisiere bedank het op dieselfde dag dat genl. Beyers sy kommandant-generaalskap neergelê het. Genl. Kemp het dadelik na die doodsberig van genl. De la Rey ontvang is, sy bedanking herroep, maar dis nie deur die minister aanvaar nie!
By daardie byeenkoms, nes by die begrafnis, het genl. Beyers gebruik gemaak van die Daimler, wat 'n groot gat in die bakwerk gehad het van die opslagkoeël waardeur genl. De la Rey gedood is.
By die vergadering is 'n sestal sprekers gehoor, onder wie genl. De Wet, Totius (prof. J. D. du Toit) en as Iaaste genl. Beyers. Ook hier het hy die ontsteltenis van die aanwesiges probeer afkoel. Aan die einde is 'n aantal besluite geneem.
- Die eerste besluit smeek die regering eerbiediglik om dadelik "alle offensieve krygsoperasies te staken en Unie-strydmachten terug te roepen." En beleefd is 'n antwoord gevra voor 30 September, "ten einde op 'n volksvergadering overwogen te worden."
Van hierdie versoek het die regering nie die minste notisie geneem nie, wat 'n groot fout aan hulle kant was want hulle het daarmee selfs van hulle eie vriende ontstem en al hulle teenstanders beledig. Maar dit was in ooreenstemming hul verdere agterbakse planne.
Die eerste besluit is geneem met nege teenstemme.
- Die tweede was: die aanstelling van 'n voorlopige komitee met reg van uitbreiding en met opdrag om protesvergaderings dwars- deur die land te hou. Die gekose Iede was genls. De Wet, Beyers, Kemp en Liebenberg.
- Die derde was 'n mosie wat dank bring aan genl. Beyers vir sy edelmoedige opoffering om uit te tree uit die verdedigingsmag en waarin beloof word om hom "verder te zullen volgen".
- En die vierde was die aanstelling van 'n komitee om fondse in te samel vir 'n standbeeld van genl. De la Rey. Tot op die huidige dag is daar nie so 'n monument opgerig nie.
Die vergadering is met gebed afgesluit.
Die beoogde volksvergadering is nooit gehou nie want die krygswet het die monde van die volk enkele weke later toegemaak. Dit was geweers wat toe gepraat het. Genl. De Wet het die opdrag aan hom en ander om byeenkomste te hou met die doel om te protesteer teen die inval, gehoorsaam uitgevoer, al het dit hom, soos op 2 Oktober op Potchefstroom, pynlike vernederinge besorg. Genl. Beyers het egter gemeen dat sy bedanking voldoende protes van sy kant was en het op 26 September in hierdie gees geskryf aan genl. Hertzog, wat volmondig met hom saamgestem het.
Maar hy het hom deur vriende Iaat oorhaal om op 10 Oktober (weer 'n krisis-dag in die geskiedenis van hierdie periode), 'n godsdienstige gedenkdag gewy aan pres. Kruger, voor die publiek te verskyn. Die gevolg van daardie Tiende-Oktober-fees van 1914 was soos blitse in ’n droë grasveld.
Die onenigheid onder die publiek het al groter geword namate die planne van die regering duideliker geword het. Dit het ontaard in 'n vyandigheid wat mens Iaat terugdink het aan die dae kort voor die oorlog van 1899. Brits- en Boergesindes het mekaar begin haat. Die konsiliasie-politiek van genls. Botha en Smuts, wat op die oog af so 'n edele doel-van-eenheid gehad het, het juis die teenoorgestelde van daardie doel bereik ten gevolge van die nuwe oorlog en die manier waarop die regering daaraan deelgeneem het.
Genl. Botha het probeer om die gemoedere effens te kalmeer deur ‘n groot vergadering wat hy in sy afdeling bymekaar geroep het (28 September) om te verseker dat die inval alleen met vrywilligers sou plaasvind en dat niemand gekommandeer sou word nie. Maar ofskoon die byeenkoms duidelik ten gunste van die Eerste Minister plaasgevind het volgens die offisiële mededeling in die koerante, het dit geen blywende indruk op die publiek gemaak nie. Die vergadering is opsigtelik kunsmatig bewerk met spesiale treine en mense wat aangery is wat huIIe ten gunste van die regering uitgespreek het. Nog ‘n rede vir die mislukking van die vergadering was dat daar geen sprake van was om die troepe uit Duitswes terug te roep nie, soos versoek in die Lichtenburgse besluit van 21 September. Die meeste van die troepe het juis uit gekommandeerde Iede van die Aktiewe Burgermag bestaan. En kort daarna word dit wyd bekend dat Manie Maritz omtrent dieselfde tyd met sy "seuns” beveel is om oor die grenslyn te trek. Dit het gebeur nadat ook aan hom, nes aan al die ander offisiere, magistrate en ander outoriteite, dieselfde "alleen-vrywilliger" besluit telegrafies gestuur was! Die Smuts-regering hou die front van vrywillige deelname aan die oorlog teen die Duitsers sodat die gemoedere nie te hoog loop nie; intussen kommandeer hy elke burgermag op om na sy pype te dans. Vrywillig in die publieke oog, maar onder dwang van die regering – wat 'n valsheid!
Op 10 Oktober in die voormiddag, het dit vir my duidelik geword (in soverre ek dit nie reeds geweet het nie) hoe kriewelrig die mense gevoel het. Om tienuur was daar 'n vergadering van minister F. S. Malan in die ontspanningslokaal op Premiermyn onder voorsitterskap van genl. Jaap van Deventer. Dit was 'n politieke byeenkoms, waaraan die Engelse van die myn en die Boere uit die distrik Pretoria deelgeneem het. Minister Malan was nie ‘n aggressiewe Ieier nie, en onder normale omstandighede sou alles waarskynlik glad verloop het. Maar een onoordeelkundige opmerking van die spreker het die Boere se humeur uitgelok sodat huIIe opspring en na ‘n kort woordewisseling met die minister, in hul tientalle uitstap. In die deur tel huIIe my op huIIe skouers en dra my na ‘n koppie net buitekant die saal, met die kort opdrag: "praat”! Wat ek toe gedoen het. Die polisie het dadelik ‘n kring om ons getrek, en tot my verbasing (want almal was nou warm, ingeslote die impromptu-spreker) het huIIe my Iaat klaar praat en nie gearresteer nie.
Dit was op dieselfde dag en uur dat Manie Maritz op Van Rooisvlei vir Ben Bouwer as afgevaardigde van genl. Smuts ontmoet het, dus die oomblik dat die Maritz-rebellie op die uitbreekpunt gekom het.
Die skandale in die Operagebou te Pretoria - vervolg...