Harm Oost
"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".
Lees reeks by Wie is die skuldiges
Die skandale op Krugerdag in die Operagebou te Pretoria
"Daar het boere van hulle plase gekom vir die gedenkdag; onder hulle was Jopie Fourie, wat op Wildebeesthoek gewoon het, daar anderkant Hornsnek, 'n uur of drie te perd vanaf Pretoria. Hy was 'n sterk man, bekend ook om sy moed gedurende die Driejarige Oorlog, kruppel geskiet deur die vyand en as gewonde mishandel deur die bevelvoerende offisier en later vermoor omdat Smuts soos 'n lafaard gevlug het toe daar vir Jopie se lewe genade gevra word. Jopie en ander sou, indien nodig, die orde in die saal wel kon handhaaf.... ‘n Minuut later staan Jopie Fourie voor ‘n man, wat agter die ballustrade sit met ‘n kassie eiers op sy skoot. Jopie vra: 'Is dit jou hoendereiers?' Die antwoord kom: 'Yes, have a few'. Jopie vat die hele kassie en druk dit met sy breekbare en ongeurige inhoud omgekeerd, soos 'n hoed, op die eierman se kop. Dit Iaat almal, vir hom padgee, ook die eierman se vriende. Toe begin Jopie en sy manne hulle vuiste gebruik. Jy sien net mense vlug. 'n Paar tuimel oor die ballustrade, en beland op die vloer van die saal. Jopie-hulle het aangehou tot die galery 'skoon' was en die leier van die oproermakers (die hoof van die British League) skoonveld."
Die bekende skandale in Pretoria was op die aand van dieselfde dag dat Manie Maritz op Van Rooisvlei vir Ben Bouwer as afgevaardigde van genl. Smuts ontmoet het, (dus die oomblik dat die Maritz-rebellie op die uitbreekpunt gekom het)
Hierdie voorval het 'n groot uitwerking gehad. Die pers is, onder bedreiging met die swaarste strawwe, deur die polisie verbied om ‘n woord daaroor te berig. Maar om historiese redes is dit egter wenslik om ‘n volledige verslag vir die nageslag te bewaar.
Dit was ‘n Krugeraand, dit wil sê die geboortedag van die ou president sou herdenk word. Dit was nie n vakansiedag nie, maar elke jaar is die herdenking geduld deur die Engelse en huIIe aanhangers —- soos die Afrikaners die Britse viering van die ontset van Ladysmith en ook van Mafeking sonder enige steurnis van huIIe kant toegelaat het. Op 14 Julie 1914, tien jaar ná sy dood, is reeds ‘n roudiens gehou, maar op daardie selfde dag was genl. Botha ongelukkig in Rhodesië op besoek aan die graf van .... Rhodes. Dit het toe in Afrikanerkringe groot aanstoot gegee.
Die ou president se verjaarsdag sou gevier word as ’n gewyde konsert, georganiseer deur die Christelike Jongeliede Vereniging van Pretoria, onder voorsitterskap van ds. H. D. van Broekhuizen, met mnr. Roelf v.d. Merwe as Sekretaris. Dit was bekend, ook dat genl. Beyers die spreker sou wees.
Die benaminge wat die predikant gebruik het, het die jingo's se reeds verhitte koppe nog rooier gemaak: "Rebel” en "Traitor”... Ds. Van Broekhuizen se opinies oor Iandstoestande was bekend en het algemeen die aandag getrek deur sy preek op Sondagaand, 13 September, in die Groot Kerk te Pretoria. Dis die dag nadat die parlement finaal goedkeuring geheg het aan die regeringsplanne vir die inval in Duitswes. Sy teks was: "Trekt niet op,” en daardie ou-testamentiese waarskuwing het hy van toepassing gemaak op die huidige oorlog. Daar was 'n skare van 'n paar duisend en die prediker het die talent besit om sy hoorders tot groot hoogtes van emosie te voer. Genl. Beyers was daar, uiterlik kalm soos steeds. Ook genl. Coen Brits en Barney Enslin, wat huIIeself skaars kon beheers tot huIIe die godsgebou verlaat het, waarop hulle in gesprekke met ander kerkgangers sterk uitgevaar het teen die predikant.
En hy, ds. Van Broekhuizen, sou voorsitter wees van die Krugeraand. Die saal was al in Juliemaand gehuur, en die Christelike Jongeliede Vereniging het toe maar besluit om met die "gewyde konsert" aan te gaan, al het die oorlog uitgebreek. As die spreker van die aand was daar, volgens hulle smaak, van die Ieiers in Transvaal net genl. Beyers wat in aanmerking kon kom. Toe die voorsitter hom nader met die versoek om die aand op te tree, was hy "eerst zeer onwillig”, maar na enkele dae van beraad het hy tog aangeneem.
Die viering het die more al begin met 'n kranslegging op die ou president se graf in die ou kerkhof te Pretoria. Mevrou F. C. Eloff, oudste dogter van Paul Kruger, en skoonmoeder van ds. Van Broekhuizen, het namens die Christelike Jongeliede Vereniging die plegtigheid waargeneem en ds. Du Plessis van die Geref. Kerk het 'n kort diens gehou. Dit het alles rustig verloop, maar later die dag kom daar voortdurend berigte in by die voorsitter, wat Iaat vrees dat daar die aand 'n georganiseerde verstoring sou plaasvind. Spesiale vuisvegters sou van Johannesburg kom en die minder vegvaardiges sou ruimskoots van bedorwe eiers voorsien word as "ammunisie” vir die verwagte geveg.
Die namiddag kom Vere Stent met 'n ophitsende epistel in die plaasIike Engelse blad, soos hy maar selde vantevore geskryf het — en hy was 'n meester in daardie soort joernalistiek! Die hoof van polisie is oor al die gevreesde gevare geraadpleeg, maar kon geen beskerming beloof nie, anders as buitekant die saal. En as daar binnekant rusversteurders is was die advies: gooi hulle uit.
Daar het boere van hulle plase gekom vir die gedenkdag; onder hulle was Jopie Fourie, wat op Wildebeesthoek gewoon het, daar anderkant Hornsnek, 'n uur of drie te perd van Pretoria af. Hy was 'n sterk man, bekend ook om sy moed gedurende die Driejarige Oorlog, kruppel geskiet deur die vyand en as gewonde mishandel deur die bevelvoerende offisier en later vermoor omdat Smuts soos 'n lafaard gevlug het toe daar vir Jopie se lewe genade gevra word. Jopie en ander sou, indien nodig, die orde in die saal wel kon handhaaf.
En toe die voorsitter en die spreker in die Operagebou kwart oor agt die aand aankom, was die saal van bo tot onder volgepak. ‘n Harde bui was besig om uit te sak maar dit kon die publiek nie keer nie, ofskoon die Pretorianers gewoonlik net soveel teënsin het om in reënweer uit te gaan, as die spreekwoordelike kat.
Die Operagebou was in 1914 die deftigste teater in Pretoria danksy die pragtige akoestiek. Dis te danke aan die argitektuur wat in die 19e eeu gebloei het op die vasteland van Europa. Die kosbare toneelgordyn in koninklike purper het vir die besoekers ‘n stemming van respek gegee. Die twaalf Iosies, twee onder en vier bo, aan die regter- sowel as aan die Iinkerkant voor, was vir die hoë besoekers, wat hulle in hulle deftige Ieunstoele intiem kon verskuil agter donkerkleurige gordyntjies. Die stoele in die saal was van dieprooi "plucke”, waardig en warm. Die pilare was van goud, omstringel met takke van dieselfde kleur. Daar was twee galerye: heelbo die "gods", of, in die gebruiklike Nederlands van toe, die "engelenbak" . Die eerste galery het hom uitgestrek oor die hele agterste helfte van die saal, sodat die voorste sitplekke daarvan slegs ‘n vyftigtal voet van die toneel verwyder was. Die ballustrade van die galery was ook ryklik met goud versier. Vir ons (dis vir die Afrikaans-HoIIandse Toneelvereniging van ‘n sewetal jare gelede) het daar in die gordynplooie ‘n rykdom van herinnerings gehang en die deftig-intieme teater as ‘n geheel was vol van gedagtenisse aan die aande toe ons hier die eerste Afrikaanse toneelstukke, oorspronklik of vertaal, opgevoer het met ‘n Iiefde en toewyding, wat die geesdrif van die groot skares gaande gemaak het. Die ruim 1,000 sitplekke was soms te min vir die belangstellendes.
Die Operateater was toe (in 1906-1907) nog maar drie jaar oud, en sy glinsterende rykdom het goed aangepas by ons jeugdige strewe om Afrikaans vir die eerste keer as ‘n waardige kultuurtaal "op die planke” te bring.
Maar die tiende Oktober 1914 was die Operagebou en die bevolking van Suid-Afrika onwaardig.
Die stemming van hierdie digte skare was dadelik voelbaar; dit was selfs anders as op ‘n rumoerige politieke vergadering, ofskoon die teenstanders hier moontlik gemeen het dat politieke toesprake gehou sou word. Maar dit was ‘n godsdienstige byeenkoms, soos die program duidelik gewys het, en daardie program is by die deure vir almal beskikbaar gestel teen ‘n klein bedrag. Daar was tien nommers, omtrent almal Christelike Iiedere, met behulp van dameskore gesing, en net een spreker, genl. Beyers, wat eers nommer 8 op die Iys gestaan het. Die verrigtinge sou met gebed geopen word deur die voorsitter. Die aandag van al die aanwesiges was gespits op die gordyn van die toneel; en toe dit wegskuif, staan die voorsitter daar met op die agtergrond ‘n koor, gereed om te sing. Die gebed kon nie uitgespreek word nie, want deur ‘n menigte wat op die eerste galery was, word ’n alles- oorheersende Iawaai gemaak: hulle swaai met wilde gebare die Engelse vlag, sing met skree-stemme die Engelse volkslied en daarna "RuIe Britannia”, waarby die reël "Brittons never, never, never shall be slaves” op die aanstootlikste manier uitgebrul word. Later, op ons woestyntog, het daardie woorde deur my kop gemaal, soos elders verhaal word.
Die empaaier-patriotte was meestal jongmanne, van wie 'n mens sou verwag het dat hulle hul dringend-nodige militêre dienste nou al in Duitse gebied sou vervul. Maar blykbaar het hulle die heldhaftigheid waaroor hulle behoort te beskik het, Iiewers op hierdie Krugeraand wou vertoon, meer in besonder omdat die hoë ballustrade van die galery hulle ‘n veilige posisie verskaf het, volgens hulle eie opvatting. 'n Wyduitgestrekte Union Jack word deur hulle oor daardie ballustrade gewerp, sodat dit afhang tot enkele voete bokant die koppe van die mense wat in die saal sit. Daar was nog selfbeheersing onder die feesgangers, wat egter tot diep in hulle binneste geskok was. Jopie Fourie het die belediging tot die dag van sy dood onthou. Toe hy voor sy regters, wat hom twee maande en tien dae later tot die dood veroordeel, staan in die sterk manlike houding wat hy gehad het, spreek hy nog vol verontwaardiging oor hierdie aand toe die gebed van die predikant oorstem is deur die geskree van die menigte, wat hulle jingoïsme "met stokke in ons kele wou afdruk”. Dis hierdie gebeurtenis wat hom weer in die oorlogsveld gedryf het as rebel.
Die stuitlike Union Jack is van die ballustrade afgeruk deur die mense oor wie se koppe dit hang. Dit het verdwyn.
Die voorsitter het sy geduld bewaar, wat ‘n groot inspanning moet gekos het, want ds. Van Broekhuizen was taamlik opvlieënd van aard. En met gesukkel het hy daarin geslaag om in elk geval ‘n deel van die program af te werk.
Eindelik kom die pouse. Netnou sou genl. Beyers sy toespraak moet hou. Majoor Trew, kommandant van polisie, is ingeroep om die rusverstoorders tot kalmte te bring. Van die verhoog af het hy hulle in hulle taal versoek "om hierdie dames en here ‘n kans te gee om die nagedagtenis van een van hulle groot manne te vier, naamlik van pres. Kruger. Ons eer ons helde. Gee hulle die geleentheid om dieselfde te doen. Ek gee u my woord van eer dat daar geen politiek gepraat sal word nie.” Maar ook hulle eie volksgenoot kon geen gehoor kry nie, maar wel gejou en belediginge.
Toe genl. Beyers op die toneel aangestap kom word hy begroet deur ‘n geskree van wilde woorde en eerlank van bedorwe eiers, pap tamaties en ander vullis. Die woorde "traitor” en "coward” word bokant die spektakel uit gehoor deur die Afrikaners, wie se bloed nou ook al warm geword het. Senator A. D. W. Wolmarans, wat in een van die onderste Iosies gesit het, spring op die verhoog met ‘n ratsheid wat 'n mens sy leeftyd laat vergeet het. Sy onafskeidelike sambreel ruk oop, en hy hou dit beskermend bokant die hoof van die generaal. Met sukses: sy nuttige skerm het al die vullis opgevang.
Nou begin die reaksie. Dames storm die verhoog op en bestrooi genl. Beyers met blomme. HuIIe gryp kom in hulle arms en dra hom rond. Iemand begin die Transvaalse volkslied sing, die lied wat saam met die Vierkleur geberg was, en wat nie te voorskyn gebring kon word nie, sonder vrees vir vervolging. Maar die kreet van die volk, "wat so lank gekneg” was, dreun deur die teater. Almal het nou opgespring, en ook die Vrystaatse Volkslied word geesdriftig gesing.
Die Union Jack-mense agter die ballustrade van die galery, begin dit nou moeilik kry. Jy sien Jopie Fourie gevolg deur enkele ander jong manne, soontoe verdwyn. Maar voor huIIe daar kon wees, skiet daar van die galery weer enkele tamaties na die verhoog toe.
‘n Minuut later staan Jopie Fourie voor ‘n man, wat agter die ballustrade sit met ‘n kassie eiers op sy skoot. Jopie vra: "Is dit jou hoendereiers?” Die antwoord kom: "Yes, have a few”. Jopie vat die hele kassie en druk dit met sy breekbare en ongeurige inhoud omgekeerd, soos 'n hoed, op die eierman se kop. Dit Iaat almal, vir hom padgee, ook die eierman se vriende. Toe begin Jopie en sy manne huIIe vuiste gebruik. Jy sien net mense vlug. 'n Paar tuimel oor die ballustrade, en beland op die vloer van die saal. Jopie-huIIe het aangehou tot die galery "skoon” was en die Ieier van die oproermakers (die hoof van die British League) skoonveld.
Ondertussen het mnr. Willie Beyers, later minister, maar toe prokureur-generaal, uit die vergadering gestap na die nabye Pretoria Klub op soek na 'n bevoegde persoon om bevele te gee vir beskerming deur die polisie. Hy tref niemand minder as genl. Smuts daar aan nie. Volgens sommige rapporte was daar van sy kollegas by hom. Mnr. Willie Beyers vertel wat aangaan in die Operagebou. Genl. Smuts (so word gemeld) het gelag. Sy kop was, ofskoon hy niks gepraat het nie, vol van groter moeilikhede, want al om sewe-uur die môre het hy ’n telegram van genl. Coen Brits, hoof van die regeringstroepe op Upington, ontvang, dat Manie Maritz weier om bevele te gehoorsaam en dus met sy 1,000 "seuns” sy Iyf oor die disselboom gegooi het. Mnr. Willie Beyers het maar teruggegaan en as prokureur-generaal self die verantwoordelikheid geneem en die polisie opdrag gegee om sake in die Operagebou tot kalmte te bring. Toe enkele oomblikke later die bloubaadjies verskyn, het huIIe ’n maklike taak gehad, want Jopie en sy mense het reeds die wêreld vir huIIe reg gemaak.
Die Iaaste deel van die program kon sonder groot steurnis afgehandel word. Genl. Beyers het sy toespraak gehou, die Iiefde en respek van die ou Republikeine vir die president vertolk. Maar of hy sy hele sorgvuldig uitgewerkte rede gelewer het, is nie waarskynlik nie, want die tyd was kort en die omgewing anders as wat hy kon verwag het.
Teen die einde van die verrigtinge in die Operagebou kom daar weer verontrustende berigte. Komdt. Trew kom die voorsitter verwittig dat daar minstens ‘n duisend mense voor die gebou staan, gewapend met stokke en klippe. Hulle bedoeling was duidelik. Maar die polisie sou huIIe bes doen om genl. Beyers te beskerm. "They would try.”
Toe die voorsitter en genl. Beyers huIIe verskyning in die straat maak, staan huIIe voor ’n see van mense , merendeels vyandig gesind. Dadelik skree iemand aan die generaal se adres: "Traitor" . Die man kry ‘n slag in sy gesig van ‘n dame. Die polisie vorm arm in arm ‘n ketting waarlangs genl. Beyers kan loop na sy Daimler. Die 'ketting ’ slinger heen en weer onder die druk van die opgewonde publiek. Daar vlieg klippe deur die lug. Een tref die hoof van ds. Van Broekhuizen; gelukkig beskerm sy hoed hom: Iemand anders word met ‘n yster in sy rug gesteek. Die bande van die generaal se motor word stukkend gesny, en sy bestuurder, Wagner, wat probeer om die noodwiel aan te sit, word geskop. Hy loop die aanranders met die wielyster by. Die motor moet nou op sy vellings probeer wegkom, en dit geluk. Agter op die Daimler word twee jongmanne geplaas om die generaal te beskerm. Op elke huurrytuig sit ‘n konstabel om te verhinder dat huIIe gebruik kan word om die generaal te agtervolg. Al wat hom nog bereik is die vloeke en verwensinge van die verwoede menigte. Die vuil en klippe wat in die oop Daimler gegooi is, het hom nie getref nie. Hy bereik die woning van sy skoonsuster op Sunnyside, mev. die weduwee Hofman.
Van ‘n offisiële ondersoek na die gebeurtenis was daar nooit sprake gewees nie. Skuldiges is nooit na die hof gebring nie. Maar vir sommige deelnemers aan die klein rasse-oorloggie, onder andere vir Jopie Fourie, was die geveggie in die Operagebou die eerste skermutseling in ‘n bloedige burgerstryd.
En niemand van al die duisende aanwesiges het geweet dat in die noordwestelike Kaapprovinsie die rebellie al uitgebreek het nie. Dit sou eers die volgende dag bekend word.
Vervolg...