Harm Oost
"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".
Lees reeks by Wie is die skuldiges
GENL. MULLER, KOMDT. HERMAN FOURIE EN JOPIE (2)
Onder die volk was daar op hierdie stadium in 1914 groot onrus. 'n Paar protesvergaderings was al gehou. Twee keer is daar reeds in die omgewing gekommandeer: die laaste maal om teen Maritz op te trek. En steeds het 'n groot deel van die burgers gehoorsaamheid geweier. Onder huIIe het selfs 'n verbond ontstaan, deur 'n onderlinge eed bevestig, om bymekaar te bly ten einde die regering te wys dat huIIe onder geen omstandighede vir die Engelse sou veg nie. En genl. Botha sou sekerlik hierdie onwrikbare volksgevoelens respekteer. Selfs genl. De Wet in die Vrystaat, het gemeen dat 'n duidelike demonstrasie van die volksbegeerte voldoende sou wees om genl. Botha terug te bring.
Genl. Muller en al die ander protesterendes, gewapend en ongewapend, het binne enige dae tot hul bittere verbasing ontdek dat huIIe verkeerd was in huIIe opvatting, en dat selfs van huIIe eie krygsmakkers bereid gevind is om hulle lewe te waag en broedersbloed te vergiet in 'n bitsige burgeroorlog. Dit was 'n uiting van hul getrouheid, wat met verwerping van die volksideaal deur huIIe getoon is aan leiers wat nou beklee is met die mag van regeringspersone en, nes vroeër, met militêre oppergesag.
Die eerste nag na sy vertrek uit Pretoria het genl. Muller deurgebring as gas van iemand wat nie teen die regeringsplanne was nie. Maar op Witfontein kry hy toe persone wat sy gevoel gedeel het, onder wie voormanne op die gebied van politiek en verdediging. Dr. Fourie was onder diegene wat daar aangekom het, en toe almal die volgende dag vertrek vir 'n vergadering wat inderhaas op Kleinfontein bymekaar geroep is, moes Sy Eerwaarde, in rybroek, eers 'n paartjie in die huwelik bevestig voordat hy die byeenkoms kon bywoon en eers na die opening daar aangekom het.
Die voorsitter was die veldkornet van die Verdedigingskiet- vereniging, Piet Viljoen. Ook was kaptein J. M. A. (Koos) Wol- marans onder die aanwesiges. Hy was 'n offisier van die ou Staatsartillerie, deeglik bekend met die wetgewing insake verdediging, 'n besadigde en besliste man. Die toesprake van genl. Muller, dr. Fourie en kaptein Wolmarans het as hooftema gehad: die verwagting dat die tyd nou aangebreek het vir die herwinning van die onafhanklikheid. Dr. Fourie het, soos altyd, reguit gepraat, en die moontlikheid voorgehou dat die regering die aanwesiges as rebelle sou beskou en as sodanig behandel.
Sonder dat dit nadruklik gesê is, het die vergadering 'n "kommando” geword.
Genl. Muller was optimisties in sy gesprekke met dr. Fourie. Oral het hy verset teen die inval in Duitswes verwag. Ook in Lydenburg (waar hy kommandant onder die Verdedigingsmag was). Daar het genl. Schalk Burger, wd. vise-president in die oorlogsdae, hom uitgelaat dat dit nou die tyd is om ons land terug te vat. Maar hy, genl. Muller, sal geen militêre stappe doen nie, voor genl. Beyers hom ingelig het omtrent die koers wat gevolg moet word. Hy reken 'n aanval moet nie gemaak word nie, want ons mense, al is huIIe regeringsondersteuners, sal nie tot oorlogsdade teen huIIe ou strydmakkers oorgaan nie. Op aandrang van sekere burgers skryf hy egter aan 'n paar aanhangers op die dorp Bronkhorstspruit om die polisie daar te ontwapen, want die polisiemag het in daardie tyd nog amper almal uit Engelse bestaan.
Die volgende dag, die 27ste, stuur hy twee burgers na Rustenburg. Ongewapen. HuIIe moet genl. Beyers besoek en rapporte van hom saambring. En op die 28ste het die aantal burgers rondom genl. Muller tot omtrent 50 aangegroei. Dit word nou tyd om te organiseer, en kaptein Koos Wolmarans word gekies as kommandant, met die opdrag om ten noorde van die spoorlyn die burgers te versamel. Dr. Fourie aanvaar ook 'n kommandantskap, maar net tydelik. Daar was groot geesdrif en sterk betuigings van onderlinge getrouheid. Saam met die entoesiasme het die kommando gegroei en die begeerte om die ou vyand 'by te loop’. Premiermyn was naby, 'n "nes van Engelse”. Die burgers wou genl. Muller beweeg om die plek te vat en die treinspoor by Pienaarsrivier onbruikbaar te maak. Maar die generaal was nie daartoe bereid nie.
Ondertussen kom daar rapporte dat twee bekende kommandante uit die Driejarige Oorlog besig is om agter genl. Muller se rug die burgers saam met perde en wapens, weg te kommandeer. Die een was komdt. Rooi Danie Opperman, 'n vegter van naam, en die ander komdt. Koos van der Walt, wat as Volksraadslid vir die distrik in die vorige maand vir die Bothamosie gestem het om die imperiale regering by te staan. Genl. Muller is ten weste verby Bronkhorstspruit en swaai by Balmoral noordwaarts, waar hy die Wilgerivier bokant genl. Hertzog se plaas Waterval oorsteek en komdt. Wolmarans ontmoet, wat 80 man bymekaar gemaak het. Volgens gewoonte word elke dag met 'n kort diens begin. Die kommando het geleef van wat die goedgesinde boere afstaan, maar op genl. Hertzog se plaas is 'n paar eersteklas perde en 'n paar muile en enkele slagosse gevat: die eienaar was nie daar sodat hulle hom nie kon vra nie; die burgers het verwag dat huIIe nie sou geweier word nie.
Die verhouding tot die mense wat andersgesind was, het nie moeilikheid opgelewer nie. Komdt. Fourie ontmoet Iangs die pad na Bronkhorstspruit 'n dertigtal burgers uit die omgewing van Rhenosterkop, wat gekommandeer was deur die regering. HuIIe Ieiers, veldk. Corn. Rijkaart, het uit die Driejarige Oorlog die naam van dapperheid verwerf, en sy mede-offisier, Gert Minnaar, was uit 'n heldhaftige geslag van wie se Iede in daardie oorlog verskeie gesneuwel het. Komdt. Fourie het met die twee 'n Iangdurige gesprek gevoer en huIIe beduie hoe dit sy plig as patriot is om hom te verset teen die rooftog ten bate van die empaaier.
HuIIe is vriendskaplik uitmekaar.
In weerwil van die belemmerings van regeringskant het die kommando van genl. Muller gegroei tot 252 man, almal vrywil- Iigers. Omtrent tweederdes van huIIe het een of ander geweer gedra: daar was mausers, Lee Metfords, poenas (Martini-Henry’s), haelgeweers en selfs ou Sannas van vorige geslagte. Maar ammunisie was daar baie min. Onder die 252 man was perderuiters, voetgangers en mense in perdekarre; ook ses Duitsers wat uit krygsgevangenskap ontvlug het.
Op Woensdag 4 November is krygsraad gehou by die Klapperkoppie. Die twee rapportgangers wat na genl. Beyers gestuur was, het teruggekom. Die nuus wat huIIe bring, was van belang, nie alleen vir genl. Muller se kommando nie, maar dit het wyere historiese betekenis gehad: genl. Beyers is saam met die mense wat huIIe rondom hom versamel het op Damhoek in die Moot ten weste van Pretoria, onder die Iood gesteek, terwyl huIIe oppad was na die Vrystaat, waar genl. Beyers vir president Steyn en generaal De Wet sou ontmoet. Op Commissiedrift is genl. Beyers en 'n deel van sy mense verwilder en party doodgeskiet. Maar die rapportgangers het 'n brief gebring van genl. J. J. Pienaar, waarin hy kortliks verslag doen van die aangrypende gebeurtenisse en dat genl. Muller self wel sou weet hoe om op te tree. Hy voeg daarby dat sy mense niks kommandeer nie, maar alleen aanvaar wat aan hulle gegee word. Dieselfde dus as wat genl. Muller doen.
Op die offisiersvergadering het dr. Fourie sy tydelike kommandantskap neergelê, maar niemand wou dit aanvaar nie, en stilswyend is sy aanstelling daardeur bevestig.
Onder die aanwesiges was ook oud-generaal C. E. Fourie van Middelburg, oor wie ek vroeër hier geskryf het, en hy kry opdrag om sy eie distrik te organiseer, wat hy ook gedoen het.
Genl. Muller en sy kommando het die nag gaan slaap by die Albert-silwermyn. Die reên het kwaai uitgesak, maar verkenners is uitgestuur. En die volgende more (Donderdag 5 November) kom huIIe rapporteer dat regeringstroepe saamgetrek is op Roodepoort, ses myl nader na die Premiermyn. Met die perderuiters ry genl. Muller in daardie rigting, maar die voetgangers en karryers word in 'n oostelike rigting gestuur na Gemsbokfontein; en daar het huIIe tussen die Natal Carabiniers ingery! Heeltemal onverwags. Niemand het gedroom dat daar Engelse troepe is wat huIIe voorlê nie, en niemand het 'n kans gekry om dit vir genl. Muller te Iaat weet nie want almal is gevang of so verwilder dat huIIe nie kon dink aan teruggaan nie. En so het genl. Muller oningelig gebly oor die gevare wat van die oostekant af kom.
Maar wat hy wel geweet het, is van die 800 tot 1,000 man daar oorkant die spruit. Hy hou huIIe dop.
Die more het hy met komdt. Fourie, komdt. Wolmarans, veldk. Mike Henn en korporaal Philip Schalekamp in 'n kring gesels. Die gesprek het vanselfsprekend geloop oor gebeurlikhede. Die korporaal, 'n penkop uit die oorlogsdae en veglustig, wil graag weet wat huIIe gaan maak? "Ons wil nie Duitswes toe gaan nie. Ons wil nie skiet nie. Moet ons maar net protesteer? En sê nou, huIIe skiet ons?"
Genl. Muller antwoord:, "Ons skiet nie."
Komdt. Fourie het daarmee glad nie saamgestem nie. "As huIIe skiet, sal ons ook skiet."
Maar genl. Muller het bietjie geheimsinnig gelag en bevestig: "Nee. Gooi Iiewers julle geweers weg."
Hy kon blykbaar nog nie besef dat ou strydmakkers wat daar voor hom Iê, sou aanval nie, nog dat genl. Botha ooit so iets sou toelaat. Hy was dit ten volle eens met genl. Beyers oor die nie-skietbeleid, terwyl komdt. Fourie van genl. De Wet se siening bewus was (sonder dat hy ooit dit met hom bespreek het). Laasgenoemde het dit voor die geveg van Doornberg in die Vrystaat op 8 November uitgedruk in die opdrag: "Moenie skiet nie. Maar as huIIe dit wel doen, gee huIIe dan vir elke koeël drie terug."
Maar almal, insluitende genl. De Wet en dr. Fourie, was daarvan oortuig dat geen bloedvergieting sou plaasvind nie. As genl. Muller en sy offisiere geweet het dat op hierdie oomblik die Natal Carabiniers van die ooste af op huIIe aanruk, terwyl die regeringsburgers op Roodepoort bewegingloos Iê, sou huIIe optimisme ongetwyfeld deur die dreigende werklikheid verdryf word.
Die korps Natal Carabiniers was ou vyande, bekende vyande, uit die Driejarige Oorlog, bekend veral aan Rooi Danie Opperman, wat in Januarie 1900 by Spioenkop onder huIIe deurgeloop het en wat bevind het dat huIIe nie alleen goeie skuts en dapper vegters was nie, maar ook ons manier van oorlogvoer deeglik geken en toegepas het. HuIIe het daarin geslaag om Rooi Danie met sy kommando tussen 'n paar koppies aan die Tugela in te Iok om hom daar onder 'n vernietigende kruisvuur te steek. Hy het uitgekom, maar sy rooi gesig (waaraan hy sy bynaam te wyte gehad het) het 'n dodelike bleekheid van ontsteltenis getoon. En 'n deel van sy mense het in hande van die Natal Carabiniers beland (ek meen 49) onder wie 'n aantal gesneuwel. Maar by die bestorming van Spioenkop, wat enkele dae later gevolg het, was ou Rooi Danie weer in die volle besit van sy kleur en sy ontwyfelbare moed. Toe het van hom net sy hoed dit moet ontgeld, want die vyand het 'n koeël daardeur geskiet. Veertien jaar gelede was hy met die Natal Carabiniers deurmekaar as vyande. Nou is huIIe bymekaar as bondgenote — teen sy ou strydmakkers, gelei deur 'n assistent-kommandant-generaal onder wie hy as offisier van die Republiek gedien het, en wat nou nog dieselfde nastreef as waarvoor huIIe 'n dosyn jare gelede saam geveg het, naamlik die onafhanklikheid.
Vervolg...