WIE IS DIE SKULDIGES (32)

Harm Oost

"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".

Lees reeks by Wie is die skuldiges

DIE NUT VAN ONDERHANDELINGS (2)

"Mens sou graag wou glo dat droefheid oor gebroke kameraadskap Botha meermale tot trane ontroer het maar as gekyk word na die onmenslike behandeling wat genl. De Wet en sy mede-offisiere as gevangenes vir 'n lang, lang tyd moes verduur, kan daardie gedagte dadelik in die vuur gegooi word."

Op Damhoek het genl. Beyers besoeke ontvang van vooraanstaande vriende, onder andere van die hooggeagte ds. Kriel van Langlaagte, en die gesprekke wat gevoer is, het geen veranderings veroorsaak nie. Dan het (op 24 Oktober) dr. Colin Steyn by hom aangekom, as afgevaardigde van sy beroemde vader, die president. En kort na hom Piet G. W. Grobler, Volksraadslid van die afdeling Rustenburg, en vanaf 1924 minister van die Unie.

Dr. Colin Steyn is deur sy hooggeëerde vader gestuur na aanIeiding van 'n besoek wat hy (die president) op 22 Oktober gehad het van genl. Schalk Burger (vise-president van Transvaal in die jare van die Driejarige Oorlog). Genl. Burger het 'n brief gebring van genl. Botha, waarin die Eerste Minister die skokkende mededeling doen dat "missckien reeds in enige dagen 'n burgeroorlog sal uitbreek". — 'n Voorspelling wat hy met sekerheid kon maak, want 'n paar dae later het hy genl. Beyers met gewapende magte onverhoeds aangeval en dus self die burgeroorlog laat aan die gang gesit!

Genl. Botha se brief aan die President eindig:

" Ik acht het noodzaaklik dat U zonder verzuim 'n brief aan De Wet, Beyers en Kemp zende door Uw zoon Colin en ander vertrouwde mannen en ken of naar U laat roepen of op enige andere wyze ken heren van het pad des verderfs waarop zy nu zyn. Indien zy naar U komen, zal de Regering niets doen om hen te arresteren en alle faciliteiten voor uw boodsckappers versckaffen.” Hy sluit met daarop aan te dring dat die president tog dadelik moet handel "om deze smaad en onuitwisbare oneer van ons volk te weren.”

President Steyn het onmiddellik geantwoord omdat daar blykbaar 'n burgeroorlog ontstaan het, "waartegen ik de Iaatste tien jaren reeds heb gebeden, gewerkt en gewaarskuwd het.” Hy sal alles doen wat sy swak kragte (die president was van die Drie­jarige Oorlog af nog altyd ernstig siek) toelaat en smeek genl. Botha om tog toegewend te wees, ook in sy eie belang, want as daar eenmaal bloed gestort is, sal die regering "terecht of ten onrechte” die blaam kry "dat het onder uw Regering was, dat de burger- zo niet de broeder-oorlog is uitgebroken.”

Die volgende dag, die 24ste, is Colin Steyn reeds by genl. Smuts in Pretoria en dieselfde dag nog by genl. Beyers op Dam­hoek. Hy oorhandig die boodskappe aan hulle en kry van genl. Smuts ' skriftelike versekering dat as genl. Beyers sy vader wil gaan spreek, 'n spesiale trein tussen Magalies (burg) stasie, die naaste aan Damhoek, na Kaalfontein (pres. Steyn se afklimplek) beskikbaar sal wees.

Genl. Beyers was heeltemal bereid om na die president te gaan, mits (en dit was ’n vanselfsprekende voorwaarde) genl. De Wet ook soontoe kom. Genl. Kemp kon maar uitgeskakel word, want genl. Beyers was seker om vir hom te kan optree.  Colin Steyn is onmiddellik weg om genl. De Wet, wat toe in die oostelike Vrystaat was, op te spoor.

Volksraadslid Piet Grobler het van die vergadering op Zandfontein na sy plaas Commissiedrift gegaan, 'n paar uur te perd ten weste van Damhoek. Hy het naderhand onveilig gevoel, en nie meer in sy huis geslaap nie, want hy het herhaaldelik waarskuwings ontvang dat die regering probeer om hom te vang. Saam met sy swaer, komdt. Danie Fouchè, 'n man van besonder hoogstaande karakter, het hy die nagte in die veld deurgebring. Die swaer, Fouchè, kry toe 'n briefie van genl. Beyers wat hom van Damhoek af gevra het om hom te kom spreek. Mnr. Grobler is saam met hom soontoe, die namiddag van 24 Oktober. En hier kry mnr. Piet Grobler (uit my dokumente) nou die woord: "Die mense wat by Beyers was, het self gekom. Ek sê vir Kom: 'As hul jou aanval, wat gaan jy maak? Dan het jy mos burgeroorlog.’ Beyers vertel toe dat die president vir Colin gestuur het om sake te bespreek. Hy het geantwoord dat hy Botha sal ontmoet, maar op twee voorwaardes. Dit moet nie in Johannesburg of Pretoria gebeur nie, en die ander: genl. De Wet moet by wees. Colin is nou terug om van Botha die datum en plek te kry en dan om genl. De Wet te gaan spreek."

Mnr. Grobler, wat 'n versigtige en verstandige man was, maar nie 'n krygsman nie (hy het gedurende die rebellie wat gevolg het nie eers 'n rewolwer gedra nie) het weer vir genl. Beyers gewys op die gevaar dat hy aan ’n aanval blootstaan, en dat dit 'n burgeroorlog sou Iaat ontbrand. En daarop gaan die verhaal van mnr. Grobler verder:

"Ek sê vir Beyers: 'Die mense weet nie waarom jy bedank het nie, waarvoor is jy hier? Roep al die mense op na Rustenburg vir 'n vergadering, dan kan jy hulle die hele saak duidelik maak: waarom jy bedank het, en waarom jy teen die Duitswes-inval is’.”

So is daar dan besluit tot ’n vergadering op Rustenburg, waar genl. Beyers aan die burgers alles sou duidelik maak wat die bestaande, ernstige krisis veroorsaak het. Hy sou dan die burgers aanraai dat hulle, as hulle aan die kant van die regering staan, maar moes aansluit by die kommando’s vir Duitswes, maar dat hulle, as hulle sy gevoelens toegedaan was, huistoe moes gaan.

Genl. Beyers het sy plan vir 'n byeenkoms op Rustenburg enigsins verander. Hy het verneem van die kommandeerdery in die nag van Saterdag tot Sondag (24-25 Oktober) en wou toe nie, sonder goedkeuring van die regeringskommandant na die dorp gaan nie, want hy wou enige gevaar van 'n botsing vermy. Hy besluit toe om die vergadering op Commissiedrift te hou, dis amper halfpad tussen Damhoek en Rustenburg, en is met 'n Iyfwag van 50 persone soontoe. J. J. Pienaar sou as offisier van die burgers, wat op Damhoek bly, optree en kry die titel van generaal.

Die volgende more, 26 Oktober, was genl. Beyers in die woning van komdt. Danie Fouchè op Commissiedrift, waar sy swaer, Volksraadslid Piet Grobler, ook woon. In die loop van die dag het mense van al kante aangekom; onder hulle was burgers, wat deur die regering gekommandeer was vir oorlogsdiens. Van die weste: Swartruggens-Koster se wêreld; van Rustenburg en omgewing was daar 'n paar honderd, onder wie tagtig voetgangers. Van die suide was daar komdt. Rooi Jan du Plessis (Soutpansdrif), maar hy het betyds omgespring (toe hy merk wat genl. Botha se planne was), want hy was later as die ander. Die toespraak sou om twee-uur op 27 Oktober gelewer word. Genl. Beyers en sy mense het glad nie verwag nie en nog minder geweet dat 'n regeringskommando hulle omsingel het. Daar was mos onderhandelings aan die gang en dr. Colin Steyn is enige oomblik terug verwag met die nuus oor waar die samesprekings sou begin, ooreenkomstig die versoek, wat genl. Botha so dringend tot president Steyn gerig het om burgeroorlog te vermy, 'n burgeroorlog wat, in genl. Botha se eie woorde aan die president, net kan "uitlopen op de algehele ondergang van ons volk.”

Nietemin het genl. Botha die more vroeg met sy talryke kommando’s gekom. Om eenuur die middag van 27 Oktober begin hulle op Commissiedrift die Boere skiet. Een van die regeringsmense is deur die troepe in die rug gekwes.

Volksraadslid Piet Grobler was daar, en hy verklaar later vir skrywer: "As Botha daardie dag, pleks van om Beyers te kom jaag, die gesprek met my voortgesit het soos die plan was, sou daar onderhandelinge plaasgevind het en geen burgeroorlog nie.”

Maar mnr. Grobler het nie geweet nie, net so min soos genl. Beyers of wie ook van die protesterende burgers, hoe ongenaakbaar die houding van die regering was, en dat welslae van onder­handelings geensins in die bedoeling van die twee generaals Botha en Smuts gelê het nie, net onderwerping aan hulle invalbeleid, en toepassing van die befaamde "platskiet-politiek” op die Iandsburgers, wat daarvoor nie bereid was nie.

Ook sal genl. Beyers of iemand van die "ontevredenes” (soos hulle tot nog toe genoem was) geweet het dat daar in die Spesiale Staatskoerant van ’n paar dae gelede (nl. op 21 Oktober)' n aankondiging van die goewerneur-generaal verskyn het. Daarby is genl. Botha as kommandant-generaal en meer nog aangestel, naamlik as bevelvoerder van al die Uniemagte te velde, waardeur die militêre bedoelings van die regering en die imperiale rigting daarvan verder aangedui is. Om taktiese redes is die nuwe aanstelling van genl. Botha tien dae lank stil gehou. Hoe dit plaasgevind het, is meermale Iewendig aan my beskrywe deur 'n aanwesige by daardie gebeurtenis, mnr. Josef Petrus Jooste, algemeen bekend as Piet Jooste.

Piet Jooste was hoof van genl. Botha se personeel (dis van sy Iyfwag) gedurende die Driejarige Oorlog en 'n hartlike, intieme verhouding het tussen die twee ook na die vredesluiting bly bestaan. HuIIe twee en genl. Smuts het in die kantoor van die minister van Verdediging, die bekende ou wit gebou in die toenmalige Markstraat (later Paul Krugerstraat) op die hoek van Schoemanstraat, aan 'n tafel gesit. Toe Jooste binnekom, was die twee generaals besig om die "rebellie” te bespreek. Genl. Botha sê: "Minister van Verdediging, die rebellie het uitgebreek. Jy moet weer 'n kommandant-generaal aanstel, en die kommandant-generaal sal Louis Botha wees.”

Die minister van Verdediging het daardie voorstel dadelik aanvaar en vir Bourne, die sekretaris van Verdediging, ingeroep om die aanstellingsbrief op te trek, 'n Kitsie later het genl. Smuts dit geteken.

Genl. Botha sê toe: ;As kommandant-generaal vra ek vir die minister van Verdediging, wat sy plan is om hierdie rebellie te onderdruk, en hoe lank kom dit sal duur? Wil hy dit laat sloer of so gou moontlik doen?”

Genl. Smuts antwoord: 'Gou . . Gou . . Gou.” En hy vervolg: 'Ek sal die Verdedigingswet toepas, deur eers die beroepsoldate (S.A.M.R.) en polisie op te roep daarvoor. Dan die Aktiewe Burgermag (die 'seuns') en verder die reserwes." (Dis die burgers tot die Ieeftyd van 60 jaar.)

Die nuwe kommandant-generaal merk op: 'As die minister van Verdediging vir Tim Lukin met sy polisie en berede skutters en die Aktiewe Burgermag dan gebruik, sal die gevolg wees, dat orals waar die troepe deurtrek, hulle nuwe rebelle sal maak; en die wat reeds in die veld is, sal hard veg. Daar sal baie bloed loop. Die minister van Verdediging moet dit net andersom doen. Eers die nasionale reserwe (dis die derde Iinie) opkommandeer met perd, saal en toom. HuIIe moet optree teen die rebelle, want hulle is ou maats van die rebelle, uit die Boereoorlog-tyd. Die rebelle sal nie die hart hê om hulle ou maats te skiet nie.”

Genl. Smuts het besluit om hierdie beleid sonder versuim toe te pas en het ooreenkomstige bevele gegee. Hy het die grootste vertroue gehad in die mensekennis van die Eerste Minister, nou sy kommandant-generaal, en besef dat die getrouheid aan genl. Botha persoonlik die gesag van die krygswet en die stoflike voordele wat hy kon aanbied by baie van die burgers, sterker sou wees as die ou Iiefde vir die onafhanklikheid, waarvoor verskeie van hulle 'n dosyn jare gelede so manmoedig geveg het.

Mnr. Piet Jooste is voor die drie uitmekaar gegaan het, aangestel as hoof van die Staf (Kommando’s) in die plek van kapt. Frikkie van Maanen, wat die ontsetting uit sy pos as 'n griewende Ieed gevoel het.

Hierdie historiese gebeurtenis het reeds plaasgevind op Sondag 11 Oktober 1914, toe die optrede van Manie Maritz by Van Rooisvlei skaars aan die regering gerapporteer was. Op dieselfde dag dus dat die afkondiging van krygswet klaar gereël is en genl. Smuts onder andere ook nog die "Bekendmaking of Manifest" uitgevaardig het. Maar die regering het tot 21 Oktober gewag om dit in die Staatskoerant bekend te maak en anders as wat op die elfde reeds besluit was. Genl. "De Hoogedel Gestrenge Louis Botha, P(rivy C(ouncil) Honoraire Generaal van het Britse Leger,” is naamlik nou "Generaal” en dit het Sy Eksellensie, die goewerneur-generaal behaag om hom "in bevel te plaatsen van al de Unie Verdedigingsmackten te velde."  Genl. Smuts het homself ook 'n bietjie opgeskuif, nl. tot majoor-generaal. As minister van Verdediging het hy al die magte besit wat sy heerssug kon begeer, onder krygswet. Die goewerneur-generaal het genl. Botha se verheffing tot opperbevelhebber (wat beter pas by 'n honorêre generaal van die Britse leër as kommandant-generaal van Boeremagte) reeds by besluit van 14 Oktober geteken, maar dis 'n week later gepubliseer, wat die minister van Verdediging ’n kans gegee het om voldoende dienspligtiges te kommandeer, sodat die nuwe "Hoof-te-velde’ 'n werklik bestaande leër onder hom kon hê.

Kaptein Jooste het op Sondag 11 Oktober sonder versuim kommando s telegrafies bymekaar geroep, onder ander dié van komdt. Myburgh van Vryheid. Dis die distrik wat vroeër deur generaal Botha as die "Nieuwe Republiek” onder die Zoeloes uitverdien is, en waarvan hy met Lucas Meyer en ander die hoofde was. Verder komdt. Joof Alberts van Standerton, 'n vegter wat in 1902 so verbitterd was dat hy saam met vier ander afgevaardigdes ná Vereeniging, geweier het om die traktaat te teken. Maar genl. Botha was sy ou kommandant-generaal en nou weer as sodanig sy hoof. Bill Collins, van Ermelo, en ander hoëveldse voormanne was ook onder diegene wat opgeroep is en gekom het. Hy was later genl. Botha se opvolger as minister van Landkou. Komdt. Van Heerden, van Rustenburg, wie se seun die Iaaste Kopjes-vergadering bygewoon het en van wie verwag is dat hy teen die inval sou wees, het die "IojaIe” Rustenburgers gebring. En op die aand van Maandag 26 Oktober, het die ywerige stafkaptein, die kom­mando’s met perde en al opgelaai gehad in 'n trein op die stasie van Pretoria. Genl. Botha was alreeds daar in sy spesiale spoorwegrytuig. Piet Jooste rapporteer: "AIIes is gereed. Wanneer moet ons vertrek?”

Die oë van die nuwe kommandant-generaal was op sy ou adjudant. HuIIe is vol trane, wat teen sy wange afloop, en hy sê: "Lubbe” (dis die naam wat hy Jooste altyd genoem het) "jy en ek het baie reisies in die wêreld aanvaar, maar nooit een wat so treurig is soos hierdie nie. Hoekom moet my vriend Krisjan Beyers my in die ongelukkige posisie stel dat ek met hom moet oorlog maak?” En daarop Iaat hy die bevel volg: "As dit donker is, trek ons weg. Geen Iigte in of aan die trein nie. Ry deur tot Rustenburg.”

En so was die oorlog van burger teen burger, 'n werklike burgeroorlog op die punt om aan die brand gesteek te word. Genl. Botha se kastige Iughartigheid wat hy getoon het met sy aanstelling as kommandant-generaal, het verdwyn. Hy is nou die uitvoerder van 'n beleid, van planne wat deur genl. Smuts uitgewerk word. Hy boer van nou af op die oorlogsveld teen sy eie mense, in 'n stryd van burger teen burger: 'n werklike burger­oorlog. Genl. Smuts sit in sy kantoor, die ou wit gebou in Pretoria, en dirigeer alles, ook vir genl. Botha. Hierdie generaal het rede vir swaarmoedigheid gehad, en hy was 'n man wat sensitief was, in besonder waar dit hom persoonlik betref het.

Hy het in die tyd van die rebellie meermale trane gestort. Onder andere op 1 Desember toe in sy spoorwegrytuig (wat toe op BethIehem gestaan het; hy was besig om Wessel Wessels se kommando te beveg) die berig kom van genl. De Wet se gevangeneming. Toe Piet Jooste die tog so verblydende nuus op hulle eie telegraaftoestel opvang en dit aan genl. Botha meedeel, was sy reaksie onverwags. Hy stort trane, en sê: "Is dit nou nie vreeslik nie, dat ’n vriend jou in die posisie plaas, waarin De Wet my nou geplaas het?” Jooste se weervraag was: "Maar hoe?” En genl. Botha vervolg: "Ek is die hoof van die regering en ek moet hom straf vir wat hy gedaan het. Dis 'n bittere ding, wat op my gelê is.”

En in dieselfde gemoedstemming het kol. Jordaan, wat genl. De Wet gevang het, hom aangetref toe hy rapport gedoen het van daardie gebeurtenis. Genl. Botha het die kolonel "bedank vir sy werk”. En weer stroom die trane toe hy byvoeg: "Jou werk is gedaan. My moeilikhede begin eers.” En wat hy daarmee bedoel het, word duidelik deur sy versugting: dat ou De Wet hom Iiewers moes doodgeveg het, dan sou hy (genl. Botha) nie nodig gehad het om hom te straf nie.

Sy ontroering by die drie aangehaalde geleenthede (wat met ander aangevul kon word) is blykbaar vir 'n deel in elk geval 'n uiting van jammerte vir homself, want veral na die beslissing van die parlement ten gunste van sy planne, het daar van al kante stemme opgeklink, in weerwil van die onderdrukking wat die publieke opinie van regeringsweë ondergaan het, dat die regering moes bedank. Die regering was genls. Botha en Smuts, want die ander Iede van die kabinet het 'n nougesette swygsaamheid gevolg. Enkele persoonlike uitlatings wat van huIIe bekend geword het, was negatief en het die vermoede gewek dat die kollegas van genls. Botha en Smuts nie met hulle saamgestem het nie. En die begeerte om van die Eerste Minister en sy dominerende minister van Verdediging ontslae te raak het selfs by die moderatuur van die magtige Ned. Herv. of Ger.("Verenigde”) Kerk steun ondervind. Die dag, nl. 27 Oktober, dat genl. Botha 'n gewapende aanval op genl. Beyers gedoen het, neem die moderatuur, onbewus van daardie gebeurtenis, 'n besluit om die regering sy dienste aan te bied vir onderhandelings met genl. Beyers. En as sulke besprekings nie sou kon plaasvind nie, dan om aan die Eerste Minister te vra "of dit niet 'n oplossing van de moeilikheid zal zyn, dat het Ministerie zyn bedanking zal indien.”

Genl. Botha het sy Eerste Ministerskap met moeite verwerf teen die sterk aansprake van John X. Merriman. Hy het in die sitting van 1913 sy posisie beswaarlik kon hou. En om hom nou van sy hoë posisie te laat beroof, sou hy sekerlik nie duld nie, al beweer hy wat. Die gewapende magte en die diktatorskap onder krygswet staan tot sy diens. Hy was die diktator.

Genl. Botha was altyd baie gevoelig vir menslike invloede. Daar (en in ander dinge) was hy die teenvoeter van die stoisynse genl. Smuts. Mens sou graag wou glo dat droefheid oor gebroke kameraadskap Botha meermale tot trane ontroer het maar as gekyk word na die onmenslike behandeling wat genl. De Wet en sy mede-offisiere as gevangenes vir 'n lang, Iang tyd moes verduur, kan daardie gedagte dadelik in die vuur gegooi word.

Vervolg...