WIE IS DIE SKULDIGES (33)

Harm Oost

"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".

Lees reeks by Wie is die skuldiges

"DIE BLOED IS OP U HOOF”

Tussen twee- en drie-uur die môre van 27 Oktober het genl. Botha sy trein met die burgerkommando’s ten ooste van Rusten­burg Iaat stilhou. In die sterk donker is almal en alles afgelaai en die kommandant-generaal het die rante aan die oostekant van Commissiedrift Iaat beset. Toe die dag deurbreek, was huIIe op Magaliesberg. Komdt. Koos van Heerden, van Rustenburg, wat die wêreld die beste geken het, moes die hoogste punt inneem en die bewegings van genl. Beyers spioeneer. Genl. Botha en sy staf staan in die nek. En toe begin die aanval.

Daar was min heldhaftigheid nodig om die klomp mense op Commissiedrift uitmekaar te jaag en te vervolg, ofskoon daar onder huIIe ook burgers was met geweers om terug te skiet. Van die paar honderd Boere wat van Rustenburg se kant af by genl. Beyers aangesluit het, is daar tussen 70 en 75 gevang. HuIIe was merendeels ongewapende voetgangers. Genl. Botha rapporteer die volgende dag dat hy meer as honderd gevangenes geneem het, die resultaat van die hele dag se agtervolging in die rigting van Koster, dis suidwestelik.

Genl. Smuts het aan pres. Steyn Iaat weet dat Beyers in ‘n noordoostelike rigting gevlug het, maar daardie rap­port het ‘n spesiale doel gehad.

Genl. Botha het by Koster omgedraai, terug Pretoria toe. Maar genl. Beyers, komdt. Sarel Alberts, mnr. Piet Grobler en ds. Van Broekhuizen het almal uitgejaag, die ellende tegemoet.

Mevrou Beyers het oor die gebeurtenis op Commissiedrift ‘n brief van haar man gekry, wat ook sy bedoelings opnuut beklemtoon:

"Dist. Lichtenburg, 31 Okt. 14.

Onze is nog om met de wapen in die hand te protesteeren tegen handeling van Regering  niet om aan te vallen maar slechts om te verdedigen tegen Russische methoden, vandaar dat ik overal orders gegeven heb nie te schieten, maar liever te vIuchten. In Rustenburg heb ik over de 2 uren geretireerd en toch Iiet de Regering schieten met het gevolg, dat 5 of 7 man van de Regering en 2 van myn comdo gevallen zyn. Hetselfde is ook hier gebeurd. ‘n Juiste getal dooden en gewonden is onbekend. Wy (Kemp en ik) hebben hier 140 man van de Regering gevangen. Zy hebben vrywillig overgegeven. Wy verIangen niet ons broeder's bloed,  dat is het verste van onze gedachten. Die burgers in ‘t veld zyn vast besloten hunne rechten te handhaven . . . Wy kommandeeren niets. Zy geven hunne goederen en personen vrywillig."

Volgens genl. Beyers se inligting het die botsing op Commissiedrift die Iewe van minstens sewe burgers gekos. Die verliese sou baie groter gewees het as die nuwe kommandant-generaal (Botha) se bevele sou gewees het om te skiet wat voorkom, maar die bevele was om te vang wat sy troepe in die hande kon kry.

Die nag na die geveg het genl. Beyers-huIIe geslaap op die plaas Steenbokfontein ten weste van Koster, en die môre het die generaal en mnr. Grobler weer ‘n gesprek gehad oor die toestand. Dit was op 28 Oktober. Eersgenoemde was heftig verontwaardig, want hy het sy hoop gestel op ‘n ontmoeting wat deur bemiddeling van president Steyn sou plaasvind tussen hom, genl. De Wet en genl. Botha. Genl. Beyers was 'n man van beskaafde maniere en woorde, maar toe onderhandelings ter sprake gebring word deur mnr. Grobler, bars die generaal uit: "Ek wil niks met die skurk (genl. Botha) te doen hê nie, want terwyl huIIe onderhandel, kom hy ‘n mens skiet. Maar ek sal deurgaan om te probeer met President onderhandelings aan die gang te kry.”

n Paar uur later (omtrent tien-uur die voormiddag) het genl. Jan Kemp ook op Steenbokfontein aangekom uit die rigting van Lichtenburg. Dit was die gevolg van ‘n ou afspraak wat hy met genl. Beyers gehad het, en die twee besluit toe dat huIIe sal teruggaan na die wêreld waarvan genl. Kemp nou kom, dis na die weste. Ds. Van Broekhuizen, wat die hele tyd by genl. Beyers was na huIIe saam Pretoria verlaat het, sou saamgaan as sekretaris en veldprediker, en natuurlik ‘n aantal ondergeskikte offisiere en burgers. Maar mnr. Grobler en Sarel Alberts het omgedraai, want huIIe wou Rooi Jan du Plessis, die Ieier van die burgers uit die suidelike deel van Rustenburg, gaan opsoek.

Op Steenbokfontein het genl. Beyers sy proklamasie uitgevaardig, wat wêreldbekendheid verwerf het. Hy het dit ook namens genl. De Wet gedoen, want hy het geweet dat hy handel in die gees van die groot Vrystater. Terwyl hy nog op Damhoek was, op 25 Oktober 1914, het hy dit reeds gedikteer. En die aanval wat genl. Botha met sy kommando op hom gemaak het, het geen verandering in sy sienswyse veroorsaak nie. Die "Kennisgeving”, soos hy dit ewe eenvoudig genoem het, bevat dieselfde punte as sy bedanking vir die kommandant-generaalskap, naamlik dat die "goddeIose aanval op Duitswes” hom noodsaak om te protesteer, en dat die kans daarvoor nou ontneem is deur die afkondiging van die krygswet en regulasies. "Zo is het, dat wy blyven protesteren met het wapen in de hand.” Nie om broedersbloed te vergiet nie of om aanvallend op te tree nie. Soos reeds bewys is, probeer ons waar moontlik om bloedvergieting te vermy, en die mense word gevra om hul nie te Iaat gebruik vir wapengeweld teen die "protesterende burgers”.

Die datum van die "Kennisgeving” is 29 Oktober en afskrifte is gemaak deur onderwysers wat by genl. Beyers aangesluit het. In sommige afskrifte het ‘n skryffout ingesluip. Die verspreiding het geskied onder altwee seksies van die bevolking, sodat niemand die minste twyfel kon hê omtrent genl. Beyers se verblyf op daardie datum nie; net genl. Smuts het beweer dat hy daaromtrent onwetend was! Beyers was, vir hom, nog iewers dwalende in die Bosveld.

Op dieselfde dag, 29 Oktober, het Colin Steyn as afgesant van sy vader, die oud-president, in Pretoria teruggekom van sy Vrystaatse besoek om reëlings te tref vir die besoek van die twee generaals (Beyers en De Wet) aan Bloemfontein. Genl. De Wet was bereid om na die President, sy vaderlike vriend, te gaan; maar hy het dieselfde houding    ingeneem as genl. Beyers. Laasgenoemde         wou nie onderhandel sonder genl. De Wet, wat as nadruklike voorwaarde gestel het, dat genl. Beyers moes deelneem.

Toe genl. De Wet aan my (as sy sekretaris) opdrag gee om my gereed te hou, want ek sou moes saamgaan met hom na "Onze Rust”, voeg hy daarby: "GenI. Beyers moet ook by die presi­dent wees. Ek        is heeltemal bereid om my neer te Iê by enige besluit wat die president en Beyers mag neem, maar ek het nie die reg om te verwag dat genl. Beyers tevrede moet wees oor beslissings wat ons sou kan neem sonder hom nie.” Maar toe kry die ou generaal die berig van regeringskant afkomstig: Beyers kan nêrens gevind word nie; hy swerf iewers in die Bosveld rond. Hy het dadelik besef dat daardie rapport vals was en bedoel om genl. Beyers van president Steyn af weg te hou. Daar was 'n slang in die gras! Genl. Smuts se bedoelings was nie om te onderhandel nie, maar om die twee hoofleiers van die "protesterende burgers” van huIIe kommando’s af weg te kry. Genl. Smuts (so was die rapport van Colin Steyn) kon nie die minste versekering gee dat genl. Beyers binne die eersvolgende dae gevind sou kon word nie. Maar die regering doen sy bes en sal onmiddellik na huIIe hom "ontdek" het, 'n vrygeleide vir hom gee na die president. "As Beyers die vrygeleide wil hê,” sê genl. Smuts. Ondertussen moet huIIe, sê genl. Smuts verder, genl. de Wet na Onze Rust bring en hom daar hou tot Beyers daar is.

Genl. De Wet, met sy groot intelligensie (en sy kennis van genl. Smuts se taktiek) het volkome begryp wat agter dit alles gesteek het, naamlik om die rebelle-organisasie so swak moontlik te hou tot die regering gereed sou wees om dit in bloed te onderdruk. Die sterkste getuie (as daar enige verdere getuienis nodig was as wat die hiervoor aangehaalde feite verstrek - die duidelikste getuie) omtrent die opsetlike oneerlikheid van die rapport  is genl. Louis Botha. Op bladsy 382 van die Blouboek U.G. 42r-T6, dit is die "NotuIen van Getuigenis” van die "RechterIike Kommissie van Onderzoek tot de recente rebellie in Zuid Afrika” staan genl. Botha se verklaring omtrent die gebeurtenisse op Commissiedrift (27 Oktober) en daarna. Hy vertel hoe die donker verdere vervolging van die rebelle onmoontlik gemaak het, en hoe een van sy offisiere (Dirk van Deventer) Beyers persoonlik opgemerk het. En dan:

"Van Kommissiedrift ging ik naar Koster en daar vond ik uit dat Kemp de dag tevoren doorgekomen was met enige bereden mannen en Beyers met zich had genomen in de ricKhting van Lichtenburg. Die andere lot met Piet Grobler was in de richting van het Bosveld gegaan.”

Steenbokfontein, waar genl. Beyers die 28ste deurgebring het, is slegs 'n paar myl anderkant Koster. Genl. Botha en hy was dus naby mekaar, en een van die regeringsoffisiere het genl. Beyers met eie oë gesien.

Bowendien het Iaasgenoemde 'n telegram aan die Eerste Minis­ter gestuur wat lui: "Eerste Afrikanerbloed het gevloei. Verantwoordelikheid rust op U hoofd. Het bloed zal van U geëischt worden.”

As genl. Beyers daardie dag op die balkon van die ou Goewermentsgebou, Kerkplein, Pretoria, gestaan het en byvoorbeeld die troepe wat verbymarsjeer, aangemaan het om huIIe wapens neer te Iê, sou die plek van sy aanwesigheid nie minder bekend gewees het by die regering as wat dit nou was nie.

Hy het nie lank gebly in die kloof van Steenbokfontein, waar

hy skuiling gesoek het nie, want 'n klomp offisiere van die westelike Transvaal het hom kom soek, volgens ’n afspraak wat voor die tyd met genl. Kemp gemaak was. Van die beste offisiere van genl. De la Rey was daar: Kemp, Frikkie Wolmarans, Danie Flemming, De Kock, Jack Smith en ook die ou profeet, oom Niklaas. HuIIe het 'n sterk Iyfwag by huIIe gehad. HuIIe het natuurlik duidelike spore nagelaat, wat dit vir die vyand maklik gemaak het om huIIe te volg. Maar huIIe het ook duidelike spore ontdek, spore van verwoesting, soos dooie perde, stukkende karre, verskeurde bokseile, 'n vleispot, 'n klompie boerbeskuit. Dit was by Treurfontein (nou Coligny), waar die dag voor huIIe aankoms die kommando’s, bymekaar geroep deur Izak Claasen, vernietig is. En wel deur een van sy vroeëre krygsmakkers, komdt. Joof Alberts, van Standerton. Hy was in die Driejarige Oorlog 'n baie kwaai bittereinder en het as afgevaardigde na Vereeniging saam met vier ander geweier om die oorgawe van die republieke te onderteken. Maar as een van die Iojaalste aanhangers van genl. Botha in die Volksraad en daar buite het hy nou Claasen aangeval. Hy was op pad met sy kommando na Duitswes, en het op bevel van genl. Smuts sy troepe by Kingswood in die westelike Transvaal afgelaai om die "rebelle van Lichtenburg” uitmekaar te ja. En hy het dit met groot sukses gedoen. Claasen is swaar gewond en het as prisonier onmenslike mishandeling moes verduur.

Dis hierdie slagveld waaroor genl. Beyers-huIIe nou ry. Die offisiere het die oorblyfsels van die verwilderde kommando’s binne 'n paar dae gereorganiseer. En op 2 November was almal saamgetrek op VIeeschkraal, ten noorde van Schweizer-Reneke. Daar het genl. Kemp die dag met 600 geesdriftige vrywilligers die woestyn gaan intrek met die kreet: "Ons gaan na Oom Manie.” Maritz was die groot aantrekkingskrag. Ds. E. J. J. v. d. Horst was deur genl. Botha gestuur om die mense af te raai. Maar "Oom Manie” was te sterk vir hom.

Die rebelle het 13 dooies en 36 gewondes op die slagveld agtergelaat, volgens Joof Alberts. Genl. Kemp sê 6 gesneuweldes en 12 gewondes. Die regeringstroepe het net kapt. Nolte verloor, ’n dapper man, wat met ’n briefie van sy broer, komdt. Nolte, na die rebellekant gestap het, omdat hulle met die hoede wink vir besprekings. Terwyl hy soontoe loop, het daar blykbaar van regeringstroepe op ’n afstand daarvan skote gekom, en kapt. Nolte is met twee koeëls in sy bors doodgeskiet. Volgens sommige getuies het hy ’n wit sakdoek aan ’n stokkie gedra; maar die bevelvoerder van regeringskant, komdt. Joof Alberts, getuig voor die Regterlike Kommissie net van ’n brief wat kapt. Nolte in sy hand gehad het: die brief van sy broer. Moontlik as ’n gevolg van herbaalde verwarrings is daar meermale gevalle gerapporteer dat die wit vlag nie geëerbiedig is nie. Op Doornberg (8 November) het genl. De Wet ’n tiental van sy burgers, onder wie sy seun Danie, verloor terwyl daar aan die regeringskant 'n wit vlaggie opgesteek is – later meer hieroor.

Vervolg...