WIE IS DIE SKULDIGES (38)

Harm Oost

"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".

Lees reeks by Wie is die skuldiges

DIE WÊRELDBETEKENIS VAN DIE REBELLIE (3)

Die besware in die 'Steenbokfonteinse Kennisgeving' uiteengesit was nie die enigste wat gelei het tot rebellie nie. Besonderlik in die Vrystaat het daar 'n algemene teensin teen die Unieregering ontstaan, vernaamlik as gevolg van die altyd meer diktatoriale gedrag van sekere ministers. Pres. Steyn het  reeds daarteen gewaarsku by die stigting van die Suid-Afrikaanse Party, in die begin van 1911, toe hy sy bekommernis uitgespreek het dat die partystelsel wat nou in die Unie van krag sou word, sou kon voer tot koukus-oorheersing. Die Hertzog-uitsluiting uit die kabinet van Desember 1912 het in die Vrystaat daardie waarskuwing as 'n voorspelling beskou, wat toe in vervulling gegaan het. Genl. Hertzog wou deur sy 'tweestroom”-beleid die nasionale karakter van die volk—wat swaar gely het deur en ten gevolge van die Driejarige Oorlog — weer opbou tot selfstandigheid. Daarom was gelykgeregtigheid tussen die twee seksies van die blanke bevolking sy eerste doelwit. En die behandeling van hom deur die Unieregering is deur die Vrystaters in die eerste plek beskou as 'n mishandeling van hulle provinsie. Die elftal Hertzog-volgelinge in die Volksraad was almal Vrystaters, met uitsondering van Piet Grobler van Rustenburg wat eers na  aarseling van amper 'n jaar ná die "Hertzog- krisis” aan die Hertzog-kant sy plek ingeneem het.

Maar die bewering van genl. Botha gedurende die verkiesing in 1915 — onder andere in sy toespraak op Dordrecht, naamlik dat die tweestroom-politiek tot rebellie gelei het — is in stryd met die geskiedkundige feite. Genl. Hertzog was teen die rebellie, ofskoon nie teen die rebelle nie. Hul het hy beskou as opregte patriotte.

Wat in die Vrystaat ook 'n groot grief teen die regering Iaat ontstaan het, was die gebrek aan vertroue in die volk. Genl. De Wet was daarvan die mondstuk op vergaderings wat hy aan die begin van die rebellie gehou bet. Daardie wantroue was oorsaak daarvan dat die burgers geen geweers kon kry nie. En toe hy by die groot staking in die begin van 1914 sy dienste aangebied het, was die enigste antwoord van genl. Smuts: Dankie vir die aanbod. Wapens kon die mense nie bemagtig nie, selfs nie die mense in die grensdistrikte van Basoetoland nie. By die Basoeto’s sou ons kon gekry het, maar dit was vir ons 'n te groot vernedering, was sy woorde.

Dan was daar elke dag se seermaakhoue, soos die veroordeling van genl. De Wet deur magistraat Fraser ( 'n 'EngeIsman ’, ofskoon hy pres. Steyn se swaer was), omdat hy 'n naturel "aangeraak het”.

En by die begin van die rebellie, toe genl. De Wet 'n toe­spraak gehou het by die Boere-oorlogsmonument op Vrede (magistraat Fraser moes deur burgers gedwing word om soontoe te kom) het hy dit die vyandiggesinde amptenaar deeglik ingepeper.

Die persoonlike verhouding tussen genl. De Wet aan die een kant, en genls. Botha en Smuts aan die ander kant, het van 1912 af deur die Hertzog-uitskuiwing aanmerklik versleg, want eersgenoemde het al sy krag ingegooi aan die kant van die Vrystaatse leier. Die verskil in geaardheid en Iewensopvatting was altyd daar, en herinnering aan die verlede het weer opgekom. Die 'MiddeIburgse onderhandelings' van 1901, en veral die oorgawe op Vereeniging het 'n bittere smaak gegee aan daardie verlede. Daar was die geheime verbond tussen genls. Botha, De la Rey en hom, aangegaan by die vredesluiting, en waarvan die bedoeling was, dat kanse om die onafhanklikheid terug te wen, aangepak sou word by die eerste geleentheid wat moontlik sou ontstaan. Dit is nou verbreek, en nie deur genl. De la Rey of genl. De Wet nie! Die uitsoekbehandeling wat aan genl. Botha deur die leiers in Engeland toegeken is by die besoek van die driemanskap (Botha-De Wet-De la Rey) aan Europa, kort na die vrede, om fondse in te samel vir die uitgeroeide volk, was ooglopend. Genls. De la Rey en De Wet moes by hulle besoek aan Londen hulle tyd in eensaamheid binne hulle hotelkamers deurbring, terwyl hulle kollega voortdurend genooi is as gas na die "paleise” van die imperiale maghebbers.

Toe genl. De Wet tien jaar later (op 28 Desember 1912) die vernaamste woordvoerder was op die protesvergadering teen die uitsetting van genl. Hertzog, by die sogenaamde mishoop-demonstrasie te Pretoria, het sy herinnering moontlik teruggegaan na die Londense besoek. Genl. De Wet het nooit sy toesprake voorberei nie. Hy het hom nooit gekwel oor hoe of wat hy sou spreek nie , maar geglo dat die regte woord op die regte oomblik in sy mond gegee sou word. Dis daardeur dat hy partykeer treffende, onvergeetlike woorde geuiter het. "Ek staan Iiewers met my volk op 'n mishoop, as in 'n paleis met vreemdelinge”. Dis een van die uitings wat uit die diepte van sy siel in die hart van sy volk oorgeplant is.

In weerwil van hulle diepgaande verskille het hy nooit kon verdra dat genl. Botha se naam op beledigende of onregverdige manier genoem word nie; selfs nie in die rebellie nie. Toe hy slegs een dag in die veld was — en met 'n 70 of 80 burgers wat hulle rondom hom vergader het op die plaas Stormhoek tussen Memel en Vrede, bymekaar was — het 'n aanhanger van genl. Botha dit ondervind. Sy naam was J. Steenkamp, van Rietfontein, naby Volksrust. Mnr. Steenkamp vergesel van prokureur J. A. B. Joubert, ook van Volksrust, met 'n motorbestuurder genaamd Woods, het op Stormhoek genl. De Wet kom opsoek. HuIIe het met voorkennis van die regeringstafoffisier van Standerton uitgegaan om die publiek te beweeg om nie te gaan rebelleer nie, en toe hulle vind dat genl. De Wet reeds in die veld is, besluit hulle om die generaal self te gaan spreek. Daar was eers 'n samespreking in die woning van Stormhoek, waarin hulle kort en kragtig ingelig is omtrent die doel van die gewapende protes en dat dit nou die plan is om na Maritz te gaan vir wapens, want die volk word nie deur die regering vertrou nie. Die volgende dag het die Generaal dieselfde onderwerp in nog kragtiger taal op Vrede by die monument behandel, met die onwillige magistraat Fraser as een van die hoorders.

Mnr. Steenkamp roer daarop die kwessie van 'n republiek aan. Die regering sal met gewapende magte teenstand doen.

Dit het die generaal warm gemaak en hy verklaar heftig: "My mense is hier uit hulle eie vrye wil, en hulle moet weet; ek wil niks vir hulle wegsteek nie. Kom saam na die stoep en vertel hulle.”

Mnr. Steenkamp en sy maats het duidelike tekens van ongerustheid getoon, maar hulle moes gehoorsaam. ’n Oomblik later staan die generaal en 'n paar van ons saam met die besoekers op die stoep, en die burgers voor die stoep. Die generaal beveel: "Praat.” Hy lei self vir mnr. Steenkamp kortliks in. Laasgenoemde probeer om uit sy moeilikbeid te kom deur te verseker: "Maar Generaal, ek het gekom om met u te praat en nie met die burgers nie.”

Dit het hom nie gebaat nie, en na hy kortliks die woord gevoer het, vra een van die burgers (een van die dapper Theunissens) heel beleef sekere vrae. Uit die antwoorde blyk toe dat mnr. Steen­kamp in die Driejarige Oorlog geen getroue burger was nie. Om homself te verskoon, voer hy aan dat hy nie met genl. Botha kon saamwerk nie, en dat dit die oorsaak was van sy ontrou. "Dit was Botha se skuld,” het hy probeer om homself te verskoon.

Maar dit het genl. De Wet eers reg verontwaardig gemaak en hy sê: "Nee, kyk, nou moet ek weer vir genl. Botha opkom. Toe genl. Botha sy plig teenoor sy volk gedoen het, was jy teen hom. En noudat genl. Botha hom anders gedra, wil jy saamgaan met hom."

Toe draai genl. De Wet hom na een van die burger-offisiere met die bevel: "Arresteer hulle.” Die drie moes 'n bele paar dae as prisoniers met genl. De Wet se kommando saamgaan.

Sy ridderlikbeid het hom nooit verlaat niel

Teenoor genl. Smuts was genl. De Wet se gevoelens nooit van die kameraadskaplike geneentheid wat hy vir genl. Botha gekoester het nie. Wat hom altyd diep gegrief het, was die gedagte aan die Kaapse rebelle se lot. Vir hulle - ofskoon Britse onderdane wat hulle lot en lewe meer in die waagskaal gewerp het as die republikeinse burgers self vir die heilige saak van die republieke — is daar as hulle in die hande van die vyand raak, geen genade betoon nie. En daardie Kaapse rebelle is in die steek gelaat, sodat 'n aantal van hulle toevlug moes soek in die Duitse gebied, waar hulle gasvry ontvang is en nou nog vertoef. Enkele van hulle het Duitse onderdane geword. Saam met die Duitsers is daardie volksgenote — beide uit die stryd vir ons onafbanklikbeid — nou deur die oorlogsverklaring gemaak tot ons vyande wat nou deur ons geskiet moet word. En daarvoor het genl. De Wet allereers en allermees genl. Smuts geblameer. Dis vernaamlik Smuts wat hulle in 1901 tot rebelle gemaak het; dis hy wat die toestand van die kommando’s in die Kaap by die onderhandelings op Vereeniging as onhoudbaar voorgestel het, terwyl dit in werkIikheid gunstiger was as ooit. En daardie onjuiste rapporte aan die kommando-afgevaardigdes op Vereeniging het vernaamlik ons onafhanklikheid gekos en die rebelle aan die vyandige Kaapse regering oorgelewer. Dit was genl. De Wet se gedagtegang, wanneer hy aan daardie dae teruggedink het.

Vervolg...