WIE IS DIE SKULDIGES (40)

Harm Oost

"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".

Lees reeks by Wie is die skuldiges

DIE DRIE KOPJESVERGADERINGS (2)

Die tweede ontmoeting op Kopjes was op 13 Oktober. Die regering se "Bekendmaking of Manifest” oor Maritz was die vorige dag gepubliseer; ook die krygswet. Ook het die opkommandeer van burgers begin. In die Vrystaat het die regering tot op daardie datum hom sorgvuldig daarvan onthou, maar nou het dit die provinsie ook getref en grote, bittere ontsteltenis verwek.

Die tweede Kopjesvergadering was bedoel om te oorweeg wat toe gedoen moes word, want die regering het van die dringende smeekbedes wat deur die vergadering op Lichtenburg en ander plekke geneem is, geen die minste notisie geneem nie. Daar het mense van verskillende kante opgekom, maar aan hulle is beduie dat die vergadering privaat sou wees en net sou bestaan uit sewe afgevaardigdes van Transvaal en ’n gelyke getal van die Vrystaat.

In ’n vorige aflewering is lesers reeds meegedeel dat die verteenwoordigers besluit het om 'n deputasie te stuur na die Eerste Minister, wat die volgende dag, dis 14 Oktober, gebeur het. Die bedoeling was om hom te beweeg om die Duitswesinval op te gee. Die vernaamste woordvoerders van daardie deputasie was ds. Louis P. Vorster en volksraadslid Jan Brand Wessel, wat altwee gewoond was om hulle mening te sê sonder doekies omdraai. Onmiddellik daarna het die afgevaardigdes in Beyerheim, die woning van mnr. Piet Beyers te Pretoria, aan genl. De Wet, genl. Beyers en ander Iede van die tweede Kopjesvergadering verslag gedoen. HuIIe het vertel dat genl. Botha tot dreigemente oorgegaan het en o.a. gesê het dat daar geen proteste bedoel was nie, maar 'n rebellie; verder dat hy die samesweerders ken en hulle sou Iaat arresteer.

Die twee woordvoerders van die deputasie het albei in die tronk beland — Brand Wessels 'n tyd later, maar ds. Vorster kort daarna. Hy het voor sy gemeente (Rustenburg, van die Gereformeerde Kerk) 'n preek gebou oor II Kronieke 18: die goddelose koning Agab, wat sy swaer koning Josafat van Juda, oorgehaal het om met hom saam op te trek teen die Arameers. Josafat het eers besluit om aan die oorlog deel te neem, en daarna vir die Here gevra of dit goed sou wees. Toe Miga, die profeet en vertolker van God se wil, voorspel wat die gevolge sou wees, het huIIe hom in die tronk gedruk en "gespysig met brood van verdrukking en water van verdrukking.”

Wat met die Israelitiese profeet gebeur het, was kort na die Rustenburgse preek ook die lot van ds. Vorster. Hy het na Zeerust gegaan om daar die nagmaal te bedien. Die Saterdagnamiddag sou die voorbereiding vir die nagmaal plaasvind. Maar net voor die diens sou begin, word die predikant gearresteer! Oor Mafeking het hulle hom met die trein vervoer na Kaapstad. Maar naby Matjesfontein, in die donker nag, het hy sonder skoene of baadjie, onder sy gewapende wagte uitgespring, ofskoon hy al 52 jaar oud was. Hy het ten koste van ’n baie pynlike skouer sy vrybeid herwin. Maar slegs vir kort, want 'n Swarte by wie se blyplek hy met sy pynlike Iyf en stukkende voete in die nag aangekom het, het hom verraai en die polisie was gou-gou daar. HuIIe het hom na die wagkamer van die stasie gebring; en terwyl hulle hom skerp bewaak, hoor hy hulle sê dat hulle opdrag het om hom dood te skiet. Ds. Vorster het hom daarop besin hoe hy 'n berig sou kan deurkry na sy vrou op Rustenburg. Al wat hy kon doen was, om in 'n Bybel, wat in die wagkamer gelê het, 'n boodskap vir haar te skryf, met die versoek aan Iesers om dit aan haar deur te stuur.

Hy is na die Roelandstraat-tronk in Kaapstad gebring, en nie doodgeskiet nie. Maar die brood en water van verdrukking was sy deel, want hy is skerp volgens die kwaai krygswetregulasies behandel. Naderhand is hy na die "Tokai Convict Station” oorgeplaas, waar hy saam met nog 300 politieke gevangenes (meestal burgers wat geweier het om hulle te Iaat opkommandeer vir die inval in Duitswes) ’n tyd deurgebring het, tot ’n Engelse offisier hom parool toegeken het na aanleiding van die siekte van sy vrou wat in die hospitaal 'n operasie moes ondergaan.

Daar is nooit 'n aanklag teen hom uitgevaardig nie, wat verstaanbaar is, as 'n mens sy preek (wat nog deur sy familie bewaar word) onbevooroordeeld lees. Geen regter sou 'n vonnis teen hom kon uitspreek nie. Maar onder die krygswet van 1914 was daar, net so min as onder koning Agab, 'n hof nodig om 'n man van sy vryheid te beroof.

Vervolg...