Harm Oost
"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".
Lees reeks by Wie is die skuldiges
DOORNBERG
Doornberg was 'n plek van onheil. Dit was die dood van ‘n tiental jong Afrikaners en van die vurige hoop op vrede deur president Steyn gekoester. Doornberg was ook die gesogte geleentheid vir genl. Smuts om die onderhandelings met pres. Steyn af te breek.
Die geveg van Doornberg, ofskoon daar aanvanklik maar ‘n klein aantal persone in betrokke was, was nietemin van groot invloed op die verloop van ons geskiedenis. Ons beskik oor 'n betroubare relaas van die gebeurtenisse wat daar op 8 November 1914 plaasgevind het. Die verslag van die Gekose Komitee bevat die getuienisse van die kommandant (volksraadslid Frikkie Cronjè) en van een van sy vernaamste manne, senator H. G. Stuart. Ons het die verhaal van genl. De Wet persoonlik en die herinnerings van skrywer.
Komdt. Cronjè het met 170 regeringstroepe op Saterdag 7 November, uit Winburg vertrek op pad na Kroonstad, waar hulle sou aansluit by kol. Brand, wat in die Driejarige Oorlog ‘n generaal van genl. De Wet was, maar wat nou aan die "loyalist" behoort. Hy het drie uur te perd getrek tot by die Sandrivier, waar hy verslag kry dat 600 rebelle op Lindequeskraal, Iangs die groot pad, vertoef. Die komdt. besluit toe om aan die suidekant van die rivier te gaan kampeer. Die volgende môre trek hy met 70 man, onder wie 20 lede van die polisiemag, oor die brug en neem posisie in die rantjies van Doornberg. Terwyl hy die vorige namiddag weg was uit sy kamp, het genl. Hattingh, ‘n hooggerespekteerde Boeregeneraal, daar aangekom en aan een van sy offisiere meegedeel dat hy op koers is van genl. De Wet af na president Steyn. Verder deel hy mee dat genl. De ’Wet ook die president wil besoek en met sy kommando kom, en dat komdt. Cronjè tog uit genl. De Wet se pad moet gaan "ten einde sake makliker te maak”. Komdt. Cronjè het al voor die tyd kennis gedra van die onderhandelings. Hierdie verslae het hom nie gekeer nie, maar hy het posisie gevat Iangs die pad waarmee genl. De Wet na die suide in die rigting van Bloemfontein trek.
Sy bevele was om nie eerste te skiet nie.
Genl. De Wet het die more na die woning van ‘n ou kennis van hom, genl. Andries Cronjè, gery en gemerk dat die rante van Doornberg vol mense is. Hy het gehoor dat volksraadslld Frikkie Cronjè (die generaal se seun) ‘n handlanger van regering is. Ons wagte waarsku genl. De Wet, wat toe opsaal om verder te ry Iangs die weg waarmee hy trek. Hy het net dertig man saamgeneem na die koppies. Skrywer was een van die dertig.
Die bevele was: "Moenie julle geweers Iaai nie, maar as iemand op jou skiet, gee kom drie koeëls vir een van hom."
Dit was Sondagmore, en die twee koppies van Doornberg het 'n mens Iaat dink aan die dubbele toring van die ou kerk op Bloemfontein. Ons ry wyd uitmekaar die rantjie in en voor ons, op 20 en 30 tree Iê troepe in kakie. 'n Sarsie van hulle ratel, en ons val plat. Die vyand het sekerlik een of twee skerpskutters onder hulle gehad, want binne ‘n kort tyd Iê daar 'n tiental jong Afrikaners met kopskote. HuIIe het ook amper vir genl. De Wet gekry. Hy Iê agter ‘n plat ysterklip, toe ‘n koeël die klip net voor hom raakskiet. As die vyand ‘n half duim hoër gemik het, sou dit met hom gegaan het soos met sy seun Danie, wat onder die dooies Iê. Dis nou net ‘n splintertjie van die rots wat hom in sy Iinkerwang getref het. Hy sien die vyand maak aanstaltes om te vlug, maar sy paar burgers wat nog oor is, wil ook padgee. Hy "skree: "Mense kom!’ En toe hy naby sy perd is, ‘n tree of vier van hom af, kry die dier ‘n koeël in sy boud. Sy seun Izak is by, en die generaal spring somar op ‘n ponie-perd. Die saal het Iang stiebeuels gehad (die Generaal was aan korter stiegrieme gewoon) en die perd was hardbekkig. Hy hardloop met sy ruiter weg, agter in die kakies in . . .
Hoe lank hierdie voorgeveg geduur het? Dis moeilik om te sê, want ‘n mens kry by sulke geleenthede nie kans om jou horlosie te raadpleeg nie. Maar die rekenkunstige Ieser kan moontlik by benadering die tyd vasstel, as hy my persoonlike ondervinding nagaan.
Ek was ongelukkig, want nog skaars Iê ek agter ‘n klip en het ‘n patroon ingesteek, toe val ‘n perd, wat ‘n doodskoot gekry het, hier op my. Om so ‘n duisend-pond dier, wat spartel in sy nood, te moet dra is benouend, en by die pogings om onder hom uit te kruip, moes ek versigtig te werk gaan, want as my kop uitsteek, is dit die dood. Ek waag toe maar net my bene (met kamaste daaraan!) Die moes hulle dan maar raakskiet; en stadig wurm ek my Iyf Ios. Maar skaars kan ek weer redelik asem sleep, toe draai die arme dier in sy doodstryd vir die tweede keer op my om. En nadat ek vir die tweede keer Ios is, besluit ek maar om die perd se Iyf as my skans te kies.
Toe ek rondkyk, merk ek dat my maats wat nog kan uitkom, op hulle perde spring. Twee of drie van hulle. En ek, sonder perd alleen agterbly, was glad nie aanloklik nie, en ek roep die naaste burger dat ek agter hom op sy perd sal klim wat hy toelaat, in weerwil van die swerm van koeëls wat hy op hom saamtrek. Ons is nou drie perde en vier ruiters, en die dum-dums kerm om ons ore. Vir iemand wat oorlog ken, bestaan daar nooit twyfel of dit dum-dums of staalpunte is wat kom soek nie. Laasgenoemdes fluit; eersgenoemdes huil.
Ek sê toe aan my vriend, in sy oor, dat ons maar so gou moontlik moet probeer om uit die ellendige klippe te kom, want die vyand sal moonllik anders die plesier kry dat een van sy dum-dums twee burgers doodmaak.
Op daardie selfde oomblik kry ons maat aan die Iinkerkant van ons ‘n koeel deur sy hart. Maar hy was 'n sterk man en het net regop in sy saal bly sit, tot hy soos ‘n blok hout neerslaan. Hy was Wynand Tromp. My maat, wie se ligbruin perd ons veilig altwee uitgebring het, was Kota de Jager, later Provinsiale Raadslid.
Hoe lank of kort dit kon geduur het, weet ons nou min ofmeer, maar die geveg is daarmee nie afgeloop nie.
Toe ons drie wat oorgebly het die kliprantjie uit was, steek ons vas agter die eerste koppie wat ons kry. Daar was 'n versameling van 'n klein aantal burgers en van ontsettende nuus: die onverwagse en noodlottige sarsie van die troepe; die gebrul van dum-dums (deur die Internasionale Konvensie verbied); die dood van 'n tiental van ons mense, onder wie die besonder populêre seun van die ou generaal, Danie de Wet; en die misbruik van die witvlag deur die vyand.
Die bloed van ons klompie was vuurwarm. En toe ons sien dat 'n kommando Heilbronners omja, met die blykbare bedoeling om die vyand af te sny, spring ons maar weer in die saal en ry vir die tweede keer in, nou gereed en begerig om te veg.
Die vyand vlug en ons agtervolg huIIe. Daar kom 'n rapport dat onder die rooikruis-waentjie van die vyand kakies Iê wat op ons skiet. Dit veroorsaak meer woede onder ons mense, want dit was n verdere oortreding van die Geneefse Konvensie, wat die Rooikruis onskendbaar verklaar het. My woede oorheers my rede en met die loop van my geweer in die hand swaai ek die kolf teen die skouer van 'n gevangene.
Daar was nou paniek onder die vyand. Elke troeper probeer om vir homself n heenkome te kry. Ons agtervolg huIIe skerper. Party is drie uur te perd ver tot in Winburg gedryf.
Toe ek die brug oor Sandrivier n kort distansie agter my het, staan daar Iangs die pad 'n motorkar. Ek herken die mense. Dis die ou generaal, Colin Steyn en Charley Fichardt. Aan die stuurwiel sit 'n seun. Ek vra genl. De Wet of hy die nuus omtrent Danie gehoor het. Hy sê: "Hy is gewond, nê?”
My antwoord was net een woord: "Dood ".
Die generaal se stem klink soos 'n hoIIe eggo. Hy herhaal daardie woord: "Dood."
Toe die geveg verby was, ontmoet ons mekaar weer. Daar is nie 'n woord tussen ons gewissel nie. Dit sou oorbodig wees. Die generaal se swart deurdringende oë is sterker van kyk as ooit. Hulle hou myne vas, n hele tyd. En die oë het so gepraat dat woorde dit nie kon uiter nie.
Maar die namiddag Iaat, toe Danie se Iyk, in 'n kombers toegedraai in die graf Iaat sak is, soen die ou vader sy kind vir die Iaaste maal. En hy kerm: "Danie, my Iiefste, my enigste.”
Daar is naderhand allerhande stories vertel oor die wit vlag wat gedurende die geveg opgesteek is op Doornberg. Hier volg die korrekte verhaal:
Ons het agt dooies en elf gewondes. Van Iaasgenoemdes is later nog twee dood. Tien gesneuweldes dus. Komdt. Cronjè se verliese was drie dood, ses gewond.
Danie de Wet is met die vinnige inry deur die eerste, heeltemal onverwagse, sarsie van die regeringstroepe van sy perd afgeskiet. Die troepe het omtrent twintig tree van hom af in posisie gelê en het met die dooie rus gevuur. Danie se Iyk het van die perd afgeval teen Jan Stoffberg, wat Iangs hom gery het. Stoffberg het gemeen, dat die perd hom afgegooi het, tot hy die skokkende werklikheid gewaar.
Op die rantjies wat deur die vyand beset is, was 'n paar kraaltjies. Daar naby is dadelik, ná die troepe die eerste skoot Iosgebrand het, van die burgers gekwes en D. F. de Villiers van Marquard (wie se verklaring die grondslag vorm van hierdie mededeling) is met 'n paar gewonde burgers deur die vyand in een van daardie kraaltjies gebring. 'n Tree of tien daarvandaan het 'n regeringstroep gelê, dood of gewond. Sy geweer, soos dit uit sy hande geval het, Iê half oor 'n bos, en aan daardie geweer was 'n wit sakdoek vas.
Na 'n paar sarsies gevuur was, het die vyand drie van die burgers as prisoniers uit die kraal geja en elkeen twee geweers gegee om te dra, na hulle die slotte uitgehaal het. Gewonde burger Naude het die geweer met die sakdoek daaraan, gekry om te dra, en hy vra vir sy maat De Villiers: "Wat maak ek hiermee?” terwyl hy na die sakdoek wys. De Villiers se advies was: 'Man, ruk dit af ".
Naude het die wit doek afgehaal en in sy sak gesteek.
By die behandeling van die sake van die rebelle, is daardie doek in die hof vertoon.
Die uitwerking wat Danie se tragiese einde gehad het op die gemoed van sy vader, is ons bekend. Dit was nie bitterheid wat hy gevoel het nie, maar eerder dankbaarheid dat God hom waardig geag het om so 'n groot offer te bring vir sy volk. Behalwe woorde wat hy later persoonlik oor die onderwerp tot skrywer gerig het, was dit aan al sy medegevangenes in die Bloemfonteinse tronk, dat hy dit in treffende taal vertolk het. Die datum was I April 1915, dus 'n kleine drie maande voor die generaal se vonnis gevel is. En dit was na aanleiding van die dood van sy dogter Bettie, wat op die Ieeftyd van 19 jaar aan kanker gesterf het. Die outoriteite wou haar vader nie toestaan om die begrafnis van sy kind by te woon nie. Hy sou net aan die kerkdiens mog deelneem. Die plegtigheid sou te Bloemfontein plaasvind, want daar is sy dood. Die generaal het geweier om 'n voet buitekant die tronk te sit, of hulle moes kom toelaat om ook na die kerkkof te gaan. Na baie gesukkel, en toe die generaal se predikant, ds. Kestell, nie met die diens wou aangaan sonder die aanwesigheid van die vader nie, het hulle ’n vriend toegestaan om kom te kom haal. Maar die oorledene se broer Piet en haar swaer, komdt. Mentz, wat ook prisoniers in dieselfde gevangenis was, is by die tronkdeur teruggewys.
Dit alles het die meegevoel van die gevangenes met hulle groot Ieier nog verhoog, en n tydjie daarna het hulle kom in die tronk 'n oorkonde en 'n stolp-krans aangebied. Die rebel-predikant , ds. C. R. Ferreira, het die gevoeiens van die mede-offisiere in treffende taal weergegee. En genl. De Wet het daarna, diep ontroerd, sodat hy sy woorde nouliks kon uiter, getuig van die groot Iiefde vir sy oorlede dogter, wat die son in sy huis was. En na aanIeiding van 'n opmerking deur ds. Ferreira het by daarby gevoeg: "Toe die berig van Danie se dood aan my gegee is, het ek wonderlik gesterk geword. En selfs dankbaar gevoel jeens God, wat my waardig geag het om so 'n groot offer te bring vir 'n nog groter saak as wat die Driejarige Oorlog was."
Hy sou die treffende krans (daar was die beeld van 'n engel onder die stolp aangebring) op die graf van sy geliefde Iaat plaas. "MoontIik sal dit nog tot harte spreek wat op die oomblik nasionaal verdwaal is,” sê genl. De Wet. Verder het die generaal uiting gegee aan sy moed vir die toekoms en net asof die natuur daardie hoop wou versterk, klim die son oor die norse muur van die "tronkyard” en beskyn die gryswordende hoof van die ou generaal.
Veldk. ds. Hendrik Boshoff, ook 'n gevangene, het 'n bemoedigende dankgebed uitgespreek, nadat die generaal toegesing is: "Dat’s Heren zegen op U daal".
Baie van die prisoniers, almal geharde manne wat die ellende en stryd van die Iewe deurgemaak het, het stilletjies die trane onder hulle ooglede probeer wegknip.
En dit is die soort lyding wat Smuts en Botha aan die Afrikanervolk besorg het – tweespalt, haat, nyd en die dood van geliefdes.