Harm Oost
"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".
Lees reeks by Wie is die skuldiges
DOODSKIET, OPHANG, OF WAT?
UIT ONS JEUG het ons 'n storie van president Abrabam Lincoln onthou, omdat dit so skerp die Iiefde van daardie vader van die Amerikaanse volk vir sy nasie teken. Ná die oorlog tussen die suidelike en die noordelike State (dit Iyk of dit nou eenmaal die lot is van 'n jong volk om die kwaai groeistuipe van burgeroorlog te moet deurgaan) was die bitterheid tussen die twee seksies ook wreed, nes by ons na 1914. Veral onder die oorwinnaar - dis die president se kant - was daar 'n sterk begeerte om die rebelle wraaksugtig te behandel. Maar Lincoln het hom bokant alle haatgevoelens verhef. Die hereenwording van die Amerikaanse volk was sy vernaamste doel, nadat die burgeroorlog uitgewoed is. En hy het die wraaksugtiges hulle gebrek aan patriotisme skerp ingevryf. Op 'n vergadering wat hy met sy ondersteuners gehad het, stel by hulle die vraag:
"And what to do with tbe rebels?”
Die vergadering skree die antwoord:
"Hang them.”
Maar die president se effektiewe teregwysing was:
"No, hang on to them.”
Die Unieregering het nie die versoenende beleid van die groot Amerikaanse president gevolg nie. HuIIe het meer ‘n voorbeeld geneem aan die metodes van Kitchener, wat hulle deeglik geken het, want hulle en hulle Boere was die slagoffers daarvan gedurende die Driejarige Oorlog. Dit was: wapengeweld om jou teenstander plat te slaan en dan versoeningsproklamasies om hulle met jou te kan saamsleep. Genls. Botha en Smuts het dit vertolk: isoleer die Ieiers met oorlogsmiddele soos die van Kitchener en pas dan swaar strawwe op hulle toe om voorbeelde te stel van wat dit beteken om wet en orde te handhaaf!
Ná die aanval op die vergadering te Commissiedrift, 27 Oktober, toe genl. Beyers en sy protesterende volgelinge uitmekaar geja en vervolg is, en toe met Izak Claasen en die westelike Transvalers 'n paar dae later dieselfde gebeur het, kom genl. Smuts met 'n bevel aan sy offisiere, dat die burgers wat wil ingee, maar kan huis toe gaan. Anders sal hulle soos rebelle behandel en hulle goed moontlik gekonfiskeer word. Vir mense wat 'n twaalftal jare gelede op hulle verwoeste plase uit die oorlog teruggekom en hulle plekke moeisaam weer opgekou het, was dit 'n hoogs ernstige bedreiging. En wat die "behandeling as rebelle” beteken, daarvan sou baie van hulle 'n verskriklike ondervinding opdoen. Genl. Smuts het daarby gevoeg: die kwaadstokers moet gearresteer word. Volgens die gerugte wat rondgestrooi was, sou dit beteken: doodskiet.
Toe op 4 November die "onderhandeIings tussen genl. Smuts se verteenwoordiger, prokureur Meintjes, en genl. Beyers plaasgevind het, is die voorwaarde gestel dat die burgers en mindere offisiere sou kon huis toe gaan, maar dat die offisiere bokant die rang van veldkornet gestraf sou word.
In die Vrystaat kom daar op 12 November, die dag van Mushroom Valley, 'n proklamasie uit, waarvan die eerste sin 'n mens se asem Iaat wegruk. Dit was 'n kennisgewing met die naam daaronder: "Louis Botha, Opperbevelhebber van die "Unie Verdedigingsmacht te Velde”. Op dieselfde oomblik dat genl. Botha met betraande oë die Iyke van Vrystaatse burgers en koIIe van hulle bloed sien op die dorre veld van Muskroom Valley en Hoenderkop, verskyn sy proklamasie met die begin-woorde: "Ten einde bloedvergieten te voorkomen” . . . en dit vervolg: het die regering diegene wat deelgeneem het aan opstand oorvloedig geleentheid verskaf om hulle wapens neer te Iê en weer getroue onderdane te word. In weerwil daarvan bly nog 'n groot aantal persone hulle verset teen die gesag van die Staat. Om nou alle twyfel weg te neem omtrent die manier waarop mense vermoedelik behandel sal word as hulle vrywillig oorgee, word bepaal dat hulle wapens en enige regeringseiendom wat in hulle besit is, moet oorhandig. Dan kan hulle huis toe gaan. Maar dit geld nie vir persone wat dade bedryf het in stryd met beskaafde oorlogvoer nie. En die wat hulle nie oorgee nie, sal met die uiterste van die wet gestraf word. HuIIe eiendomme kan belas word met die regstreekse verlies en skade wat gely is deur "IoyaIe en vreedzame burgers " (Dus weer: konfiskering.) Die "allergestrengste en krachtigste " maatreëls sal toegepas word op diegene wat nie voor 21 November oorgee nie.
Genl. Smuts voeg daar 'n instruksie by: dat die burgers wat oorgee, maar self moet sorg om by die huis te kom: dit wil sê te voet, want die perde word afgeneem en geen treinkaartjies word beskikkaar gestel nie. En as 'n Ieier of iemand van hoë posisie oorgee, mag hy nie huis toe gaan nie, maar sy oorgawe moet aan genl. Smuts getelegrafeer word.
Op 22 November kom daar weer 'n proklamasie wat 'n verIenging van dié van 12 November toestaan met dié byvoeging:
Natuurlik moet die rebelle wat gevang word as gevangenes aangehou word.
"Gevang word” en "oorgawe het toe omtrent dieselfde beteken. Die gevangenisse, kampe en die naturelle-tronk op Kimberley getuig daarvan.
Dan volg die berugte instruksies van 28 November aan die offisiere en magistrate van al die militêre distrikte waar rebelle aangetref word of kon word. Die bevat die bevel dat die Iewende hawe op plase van rebelkommandante of prominente rebelleiers wat nog in die veld is en selfs die vee van hulle wat op ander plekke as hulle eie plase is, deur die regeringsoffisiere gekommandeer moet word "sonder betaling" of "kwitansie” en gebruik word vir die regeringstroepe. Van alles moet nougeset aantekening gehou word. En as 'n regeringsoffisier kan uitvind waar op ander plekke vee van rebeloffisiere gevind kan word, moet hy daarvan kennis gee aan die magistraat van die distrik waar daardie vee is, en die magistraat moet dit op sy beurt rapporteer aan die bevelvoerende offisier van die regeringstroepe in sy distrik of anders aan die naaste polisie.
Die bedoeling van hierdie "instruksies” was om die rebelleiers te dwing tot oorgawe. Die uitwerking was (wat kon verwag word ná die ondervinding in die Driejarige Oorlog) dat regeringstroepe soms deur roof en plunder ten koste van hul teenstanders hulle soldateloon aangevul het, en dat vrouens en kinders nie alleen tot hulle Iaaste stukkie kos moes afgee nie, maar bowendien nog allerhande beledigings verduur. Hoe bitterheid en haat daardeur verskerp is, blyk uit die talle verhale.
Genl. Smuts se strafsugtigheid vermeerder met die toename van die sukses van sy wapens. Op 8 November, net na die slag van Doornberg, telegrafeer by aan pres. Steyn dat die toestand "zodanig veranderd is dat publiek gevoel, dat zeer verbitterd is, nie zal gedogen totale straffeloosstelling der voomaamste Ieiders, " en kort daarna Iaat by weet, dat "op die oomblik” die regering nog nie die doodstraf sal toepas nie. Maar op 20 Desember was "die toestand” blykbaar weer "veranderd” (die rebellie was verby!) want toe Iaat genl. Smuts (vlugtende vir die smeekbedes om genade van duisende) vir Jopie Fourie doodskiet in die tronk in Pretoria. En toe was dit sy plan om nog verskeie ander daardie lot te Iaat deel. In die tronke, waar die Ieiers opgesluit was, het berigte deur die gleufies van die seldeure geglip dat die Vrystaat agt van sy Ieiers vir die vuurpeloton sou moes afgee, en Transvaal dieselfde aantal. Die name is genoem, en skr. s’n het nie ontbreek nie. Die prosedure was baie eenvoudig: deur die tralies van my eensame sel in die Fort sien ek genl. Wessel Wessels en kol. Louis Döhne Keel rustig staan tussen 'n wag van kakies. Op 'n kort bevel verdwyn hulle. Die asst. hoofbewaarder was in 'n bui van menslike gevoelendheid en sê hy vrees dat daar 'n hele paar gevangenes met die dood gestraf sal word. Jopie is al doodgeskiet. "Met u sal dit nie gebeur nie,” voeg hy goedwillig-vertroostend by.
In my gedagte het ek genl. Wessels en Louis Döhne 'n vaarwel toegeroep, want hulle word na die krygshof in Pretoria vir beregting gestuur, en die uitspraak sou dieselfde wees as in die saak van Jopie Fourie. Waarvoor is daar anders 'n militêre hof?
En tog het dit nie gebeur nie. Die twee genoemde rebelleiers het enkele dae later in die Fort-gevangenis teruggekom, nes ander wat vir dieselfde doel in Pretoria bymekaar gemaak was.
Die uitleg van daardie beleidsverandering van die regering wat betref die lot van die gevange Ieiers, word verklaar deur 'n rapport wat afkomstig is van 'n amptenaar. Hy was op 'n kabinetsvergadering aanwesig, waar daardie kwessie behandel is. Die ministers sou uitmekaar gaan toe een van hulle, mnr. Harry van Heerden (Landbou) opstaan en sê: "Ek hoor, die plan is om nog meer mense (behalwe Jopie) dood te maak.”
Genls. Botha en Smuts bevestig dit.
Toe gaan mnr. Van Heerden verder: "Ek gee kennis dat ek my ontslag as minister sal indien.”
Kobie Graaff (sir Jacobus de Villiers Graaff, minister sonder portefeulje) steun Van Heerden en verklaar dat ook hy sal bedank.
Die derde Kaapse minister, mnr. F, S. Malan, was nou in die moeilikheid. As sy twee kollegas in hulle houding voIhard, en daaraan bestaan geen twyfel nie, sal hy hulle moet volg. Wat sal anders my posisie in die Kaap wees? so verontskuldig hy homself. In die Kaapprovinsie was die gevoelens baie sterk teen die toepassing van verdere doodvonisse op rebelle.
En nou was genls. Botha en Smuts in die pekel: die Vrystaat het hulle, politiek gesproke, reeds verloor. As hulle nou nog die Kaap kwytraak, sit hulle net met Natal en 'n deel van Transvaal. En dit beteken die end van hulle regeerders-Ioopbaan.
Die kabinet het naderhand besluit dat die rebel-prisoniers nie meer voor 'n krygshof sal verskyn nie, maar dat spesiale howe oor hulle sal moet regspreek, en dat daardie howe nie die reg sal hê om die doodstraf op te Iê nie. Hierdie besluit is goedgekeur deur die verteenwoordiger van die koning, goewerneur-generaal lord Buxton, wat hom later in 'n gesprek met mevr. De la Rey daarop beroem het dat hy die doodstraf van die mense af weggevat het. Dit was by die geleentheid dat sy met duisende ander volksmoeders vir die rebelle kom pleit het.
Genl. Smuts het sy wetsontwerp, wat die strawwe op rebelle moes reël, in gewysigde vorm laat herdruk; en die bepaling wat doodskiet of ophang moontlik sou maak, moes hy skraap.
So is die dood van Jopie Fourie die Iewe gewees vir 'n aantal van sy strydmakkers: 'n voorbeeld van "plaatsvervangend Iyden" , wat die kruisdood van Jesus (ondergaan vir die hele wêreld se redding) bevatlik maak en die wye misterie daarvan as 'n werklikheid laat aanvoel. Die merke op die tronkmuur, gemaak deur die geweerkoeëls wat op Sondagmore 20 Desember 1914, deur Jopie getrek het, wys die vorm van 'n kruis.
'n Toeval? Nee, nie vir diegene wat glo aan die redding deur die Kruis nie. Vir hulle is dit 'n teken van diepe betekenis. En vir hulle is die dood van Jopie Fourie nog meer as die heldkaftige einde van 'n onverskrokke patriot.
(Die onderste deel van ’n tien voet hoe muur in ’n "yard” van die sentrale Pretoriase gevangenis met gemerkte stene was, toe skr. die plek gesien het nog helder rooi van nuutheid. Hulle het die plekke ingeneem van die bakstene wat die merke gehad het van die koeëls waarmee Jopie Fourie deurboor is, en die vorm daarvan is in 'n kruis. Meer regs is ook 'n steen verwyder en vervang deur ’n nuwe een. Nog meer na die regterkant loop ’n gang, wat lei na Jopie se sel. Jopie het op ’n stoel gesit toe hy doodgeskiet is. Die stuk sementvloer wat bevlek was met die bloed uit sy "groot hart” is ook uitgekap en ander sement is aangebring.”
Die mededeling van die vriendskaplik gesinde amptenaar omtrent die verandering in die lot van die rebel-offisiere in die tronk het laasgenoemde eers na enige maande bereik. Die hele tyd sit hulle in hulle sombere selle so te sê met die strop bokant hulle koppe. Gedurende skrywer se alleen-opsluiting in die gevangenis van Bloemfontein het Vader Kestell by 'n besoek aan die gevangenes 'n skelm draai geloop deur my "yard" en in die Duitse taal (versigtigheid is die behoud van die tronkbesoeker sowel as van die gevangene) vir my die verlossende nuus gebring dat van verdere doodstrawwe afgesien is.
Ons deel saam – vervolg...