Harm Oost
"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".
Lees reeks by Wie is die skuldiges
GENL. DE WET SE LAASTE TREK
Ná die geveg by Virginia op 16 November 1914 het ‘n deel van die Opstandelinge-kommando teruggeslaan na die ooste, en die ander deel het deurgebreek na die weste. HuIIe het hulle rondom hulle groot Generaal geskaar in die bosse Iangs Vetrivier. Genl. De Wet het hulle beduie dat ‘n kommando, veral ‘n amper ongewapende kommando, net ‘n beslommering sou wees in die trek na Duitswes, wat nou sou begin. Hy het twaalf man uitgesoek om hom te vergesel, en die ander beveel om na hulle wonings terug te keer of om uit te hou tot hy van die nodige wapens voorsien na Pretoria sou optrek om daar die Vierkleur te hys en die onafhankIikheid uit te roep.
Nou, dertien dae later, op 29 November het ons by 'n pannetjie in die droë wêreld ten weste van Vryburg, ons perde Iaat drink en ons waterbottels volgemaak. Ons moes nag en dag tussen die duisende vyande deurvleg. En dit was alleen genl. De Wet wat so ‘n trek kon volvoer. Ofskoon reeds 60 jaar oud, was sy militêre talent onverswak, en sy fisieke toestand nog voldoende om die oneindige worsteling met die vyand, honger, vermoeidheid en kommer te deurstaan. Alhoewel daar in daardie dertien dae van ons twaalf net enkeles oorgebly het, naamlik twee Vrystaatse oorlogshelde: veldkornet Koos van Coller ( ‘n broer van die beroemde Heilbronse kommandant) en veldkornet Wessel Potgieter, wie se broer later ‘n bekende senator was. En dan ‘n seun van agtien jaar, Gert Muller, van Noord-Natal, populêr bekend as "VoeItjie”. Met die ou Generaal en my altesaam vyf. Die ander agt het in die voortdurende gevegte van ons afgeraak of is gewond en het in hande van die vyand geval.
Maar ons het ook versterkings gekry gedurende die gevegte rondom VIeeschkraal, in die westelike Transvaal. Dit was ‘n vyftigtal Transvalers onder Hans en Cornelis Wolmarans van Scheerpoort, Krugersdorp; komdt. Strydom van die westelike Transvaal en komdt. Japie Neser van Boshof, nou ‘n Vrystater, maar in die oorlog van 1899-1902 een van die getrouste rebelkommandante, wat gehelp het om genl. Smuts se naam op te bou en later met groot bitterheid moes ervaar, hoe die Kaapse rebelle in die steek gelaat en die onafhanklikheid prysgegee is,’n toestand waarvoor hy, nes generaal De Wet, in besonder genl. Smuts verantwoordelik gehou het. Genl. De Wet het meermale gesê: "GenI. Smuts was ons doodsteek by Vereeniging.” Komdt. Neser en sy 50 man was nou die dekking van genl. De Wet. Ook het ons nog ‘n spesiale Iyfwag van elf man gehad, met my as hoof.
Ons het op 27 November naby Devondale, 18 myl ten noorde van Vryburg, oor die spoor getrek en kort daarna ‘n geveggie gehad met veldk. Heymans se troepe, waarby aan die Iyfwag ‘n spesiale posisie toevertrou was. My mense het nie teleurgestel nie. In die nag daarop sien ons groot getalle motors by ons verbytrek: die motorkontingent, wie se eerste sukses was die gevangeneming van die Wolmaranskommando; hulle perde het ingegee. Genl. De Wet was daaroor nie bekommerd nie, want hy wou sy volgelinge beperk tot ‘n klein getal met goeie perde. Die derde ontmoeting met die vyand was toe veldk. Andries Cronjè, een van komdt. Neser se offisiere, op helder ligdag ‘n konvooi van ses motorvoertuie afneem. Dié het voorrade aangery na die vyand se basis Marokween, honderd myl ten weste van Vryburg. Die rebelle het die motorbande verniel, hulle met die nodige buit gehelp, onder ander met bandeliers vol patrone, en toe maar weer by ons aangesluit en vir komdt. Neser se burgers verryk met ‘n hele klompie onontbeerlike ammunisie.
Dit was by ‘n pan, maar die pan het slegs modderwater gehad wat die perde nie kon suip nie. Hulle Iek darem aan die modder.
Ons het die hele nag deurgetrek in die rigting van Marokween, ’n groot polisiestasie, waar, volgens ons rapporte, goeie perde en selfs kamele was . . . maar ook die hoofkwartier van genl. Coen Brits.
Komdt. Neser gewaar tussen die bosse ‘n vaal huisie en stuur twee van sy burgers soontoe, terwyl hy met sy ander mense afsaal by ‘n pannetjie, wat egter ook min water opgelewer het. Die twee kêrels kom hard aangeja met die boodskap dat die regeringstroepe naby ons op ons hakke is met ‘n kontingent van vierhonderd motors, en dat hulle ons vandag nog sal kom vang. Dit was die rapport wat deur die bewoonster van die vaal huisie verstrek was; haar seun by die regeringstroepe is dieselfde môre daar verby.
Hulle was werklik op ons hakke; net tweehonderd tree van ons af. En hulle probeer om aan altwee ons flanke te kom, met die doel om ons vas te keer. Gelukkig was ons kommandotjie opgesaal, en daar begin toe ‘n naelloop tussen die perd en die motor deur die sanderige boswêreld, Die vyand se sterkste motor is voor en maak spore vir die ander. Genl. De Wet, komdt. Neser en ek is met ‘n man of 15 reg voor die motors, terwyl die ander burgers versprei deur die boswêreld ja. Die motors brul van 150 tot 100 tree agter ons. Hulle het ons gedryf van omtrent sewe-uur die more tot die middag om eenuur, deur die dorre woestyn. Ons perde het dit geweet, en ons ook.
Dit was Sondag 29 November 1914. Ek het nie geweet dis Sondag nie, want gedurende die een maand en vyf dae wat die ou generaal en ek toe al in die oorlogsveld deurgebring het, net met veg en vlug, het dag of datum vir my alle betekenis verloor. Maar as ek my daarvan bewus gewees het dat dit Sondag was, sou dit my versterk het in my gevoel dat ons n beslissende gebeurtenis beleef, want ons ondervinding van 12 jaar gelede was al dat die Britse leër (waarvan ons vyand, tegnies altans, ‘n onderdeel was) by voorkeur die Sabbatdag gebruik vir gekonsentreerde optrede.
Hierdie Sondagmore vroeg het ek ons waterbotteltjies volgemaak en die modder in die pannetjie soveel moontlik vermy. Die Generaal se kannetjie het ek aan hom oorhandig. My eie gevul om my lyf gehang en ‘n reserwe sorgvuldig in my binnebaadjiesak weggesteek, want ek het geweet dat die Generaal, hoe sterk hy ook mog wees teen die wreedheid van die oorlogslewe, baie water moes gebruik; tot in die nag het hy gedrink.
Gedurende die vlug van ses uur voor die vyandelike motors aan was die toestand van die kommando'tjie so dat daar al perde flou agtergelaat moes word en mense verniet Iek om hulle lippe nat te hou. Ons probeer om die skuiling van die een bos na die ander te bereik; en terwyl ons in ‘n digte klomp bome inry, waag ek die opmerking: "As die motors hier kan deurkom, eet ek my hoed op.”
Gelukkig het niemand my aan daardie dwase woord gehou nie, want net daarna trek die dreunende motors onder ons in en klap die koeëls tussen ons. Ek het juis die vorige dag die kans gekry om my perd, wat klaar gery was. te verruil vir een wat deur ons mense gebuit was by Piet de Wet; die wat in die Driejarige Oorlog teen sy eie mense en veral teen sy eie broer gedraai en opgetree het, en wat nou in hierdie wêreld woon. Ongelukkig was daardie perd egter ‘n floukop, nie ‘n Vrystater nie. Toe die koeëls om ons gons, het hy gewys dat hy darem vinnig kon hardloop, as hy net genoeg skrik, en by die uitja sien ek dat Strydom, 'n poliesman wat by ons aangesluit het, hier Iangs my neerslaan. Sy perd het ‘n koeël gekry en met sy ruiter tussen die vyand beland. Ek het teruggeja om hom uit te haal. Maar toe ek daar kom, het hy al 'n ander perd in die hande gekry, sodat ons saam veiligheid kon soek. Die gevolg was dat Strydom en ek die Iaaste uitgekom het, en ‘n kort distansie daarvandaan kry ek genl. De Wet wat alleen agter ‘n bos staan. Die ou Generaal was nukkerig vir my; dit het my diep getref want dit was die eerste keer dat ons intieme verhouding deur ontevredenheid van sy kant geskok is. Nors sê hy: "Waar is jou mense?" My antwoord was: "Generaal, hulle het om daardie bos heen uitgeja." Hy sê: "’n Offisier Iaat nie sy burgers uitja nie. Bring hulle hier. Ons moet die vyand terugskiet."
Die norsbeid van die ou Generaal het my ellendig ontstel, want ek het gemeen dat ek my plig gedoen het deur een van ons burgers uit te bring.
Half verbouereerd druk ek my perd reguit in die rigting waar ek my mense sien uitry het. Dit het maar op 'n stap gegaan, want die perd het sy haastigheid heeltemal kwytgeraak; en so sukkel ek op 'n klein afstand van die vyand se motors verby. Enkeles van die offisiere herken ek soos hulle my moet herken het. Een van hulle was die seun van n predikant van Pretoria. Ek het net 'n rewolwer gedra; hulle was eersteklas bewapen, en hulle het hulle geweers deeglik op my probeer.
Maar dit het nie verhinder nie dat ek my elf kêrels met die kortste roete en in die kortste tyd bereik het en hulle kon beveel om met 'n draai om die koppie heen hulle by die generaal te voeg. Ek beloof hulle dat ek voor hulle daar sal wees en ry op my spore terug met die ou bloue. Merkwaardig genoeg sit die vyand gemoedelik vir my en kyk toe ek weer voor hulle verbyry. Hierdie skoot spaar hulle hulle ammunisie: nie 'n enkele skoot het hulle gevuur nie. Nog maar 'n rukkie was ek terug by die generaal, toe was my burgers ook daar — en nog 'n stuk of sewe man van komdt. Neser, onder veldkornet Stefanus van Rooyen. Ons het die vyand 'n weinigie gepeper, wat hulle met 'n oorvloed van koeëls beantwoord het. Ek weet nie wat die uitwerking van ons geweers gewees het nie, maar hulle het daarin geslaag om veldk. Van Rooyen se een voet ernstig seer te maak.
Eers lateraan toe ek tyd gekry het om na te dink, het ek my fout duidelik besef. Genl. De Wet se optrede was dié van 'n groot man, wat die geheel nooit uit die oog verloor het nie, al was dit moontlik ten koste van die individu. Die eenheid moes behou word, selfs al moes die enkeling daarmee ondergaan. Ook as volksman was sy doelwit in alles voIkseenheid —selfs as dit gelyk het asof sy optrede daarmee soms in stryd was. Dit was slegs skyn. want die dryfveer van sy strewe was onveranderIik selfopofferende Iiefde vir sy nasie as ’n geheel.
En nou trek ons verder. Ons pak die sandvlakte aan en Iaat die vyandelike motorkommando agter ons: die grond was te Ios vir hulle bande. Ons ry die wydgolwende wêreld in. Slegs verkrimpte bossies hier en daar. Geen bek vol gras, geen mond vol water nie. En ons sowel as ons perde is amper dood van die dors.
Dit was 'n oneindigheid van sand, waaroor die hitte tril met 'n vyandige bewing. Maar ons moes daardie hel deur, want anderkant Iê die Malopo met water; en verder Duitswes; daar is Maritz. Maritz was Duitswes en Duitswes was Maritz. Dit beteken wapens, en dit beteken weer: oorwinning. Duitswes was die onmiddellike aanleiding tot die opstand. Genl. De Wet sê: "As die regering nie besluit het om Duitswes aan te val en 'n ander se Iandpale te versit nie, sou daar geen rebellie ontstaan het nie.” Dis oor Duitswes dat ons opgestaan het en van Duitswes moet ons die geweers kry om te kan wen.
Die beslissing van die regering om te voldoen aan die uitnodiging van die Brits-imperiale outoriteite en Duitswes in te trek met die beskikbare militêre magte, het die volk tot in sy siel gegryp en al die ellende en onreg van twaalf jaar gelede sowel as die skrynende vernedering wat daarop gevolg het, Iaat oplaai tot 'n onkeerbare vlam van verset. Ons het die slagoffers geword van Britse imperialisme, wat ons land verwoes, ons onafhanklikheid vernietig, ons vrouens en kinders in moordkampe saamgehoop het. Die kinders wat die marteling oorleef het, is nou groot; die seuns van militêre Ieeftyd. Dis hulle wat, na Gods genade hbulle gered het uit die wrede behandeling van die Britse imperialisme, nou deur en vir dieselfde imperialisme as kakies gebruik word om ” 'n ander man se Iandpale te verset." Die Duitse kolonie moet met wapengeweld verower word vir dieselfde doel as waarvoor die republieke vernietig is, en die slagoffers wat toe die pynigings oorleef het, word nou gebruik om nuwe slagoffers te maak.
En so het die opstand Iosgebreek en so word ons hier oor die vlaktes gedryf deur die vlae van hitte en stof.
Ek het na die geveggie my floukop perd verruil vir 'n Vrystater wat al van Vrede af by ons gebly en wat my vroeër by 'n nagtelike skermutseling duskant Vaalrivier tussen die vyand uitgedra het. Hy het al sy vlees verloor, maar sy moed behou, en dapper stap hy Iangs ou Dokter, die sterk perd wat deur Generaal gekoop is in die buurt van Lindley. Ou Dokterl Drie weke lank, dag en nag, dra by sy beroemde baas. Na Doornberg (die geveg, waarin 'n perd van die ou Generaal gekwes en hyself 'n wondjie in die gesig gekry het, van 'n opslagkoeël wat hom amper 'n kopskoot gegee het, en waar sy seun Danie en ander burgers geval het) net drie weke gelede het die vaalbruin perd, ou Dokter, sy ruiter deur riviere en oor vlaktes, deur koeëlreëns veral, gedra en met onverstoorbare getrouheid uitgebring. Sonder kos, menigmaal; sonder water, baie maal. Sonder rus. In dieselfde drie weke het ek agt of nege perde nodig gehad om by hom te kan bly. 'n Paar van hulle is doodgeskiet, maar ou Dokter is gelukkig nooit eers gekwes nie. Maar nou kom die swaarste van alles: die woestynhitte van die woestynvlakte.
Ons ry op die gewone manier; Generaal regs met sy perd so effentjies voor myne, en ek merk dat sy waterbotteltjie vinnig Ieeg raak. Dit was vir my 'n aanmaning om uiters spaarsaam met my watervoorraad te werk. Ek het probeer om my dors te verminder deur 'n stukkie tabak tussen my tande te bêre; maar so n keiltjie moet jy versigtig behandel, anders raak hy jou moontlik baas.
Die hitte word nog strawwer en die vermoeienis vermeerder. Dit Iê soos swart strepe oor die Generaal se skielik verouderde gesig. Ek sien dat hy velle van sy Iippe begin aftrek. En ek haal my eie botteltjie, wat nog half vol was, uit vir hom; maar my reserwe bIy ek sorgvuldig wegsteek, want die ergste sal nog deurstaan moet word.
Sy toestand begin my besorgdheid wek, en ek merk dat sy Iippe barste vertoon. Hy vra vir my: "Hoe hou jy dit?”
Net om maar iets te sê antwoord ek: "Nee, Generaal ek voel honger.”
"Honger!," roep hy uit, " en ek vergaan van dors.” Op sy verdere vrae antwoord ek hom dat ek my medisyne in my regter onderbaadjiesak dra saam met my knipmes. Hy probeer dit ook, maar spuug die tabak dadelik weer uit terwyl hy kla: "Dit maak my nog slegter.”
Toe haal ek maar die derde botteltjie uit en Iaat hom drink.
Daar begin nou 'n dofheid deur my hoof en Iede trek. Tydeloosheid bevang my. Die perde stap outomaties aan. Ek sien burgers wat klere en komberse weggooi. Ek sien burgers wat 'n perd in sy nek steek en hulle Iippe teen die wond druk. Hulle gesigte word blou, sodra hulle die bloed drink. Maar dit maak geen sterk indruk op my nie. My gedagtes vervaag tot stemmings, hulle kristaliseer nie meer in vaste vorms nie.
My onderbewuste neem beheer. Ek voel skaars die brandende strale op my kop, en feitlik niks hinder my nie -— behalwe 'n grammofoon wat hier bo in my kop draai. Altyd dieselfde ou deuntjie en daarvan net een strofe: "Britons never, never, never shall be slaves." Ek verset my daarteen en probeer daarvan ontslae te raak deur te dink, dat niemand slawe van die Britte wil maak nie, maar dat ons net daarop uit is om van slawerny verlos te word. Dit help niks nie: "Britons never, never, never shall be slaves” kraak dit in my kop, met 'n metaalklank soos van die naald op die grammofoonplaat. Ek word vreeslik ergerlik vir myself, omdat ek nie van daardie spotduiwel ontslae kan raak nie. Maar hy hou aan met nadruk op sy "never, never, never."
Uiteindelik raak ek hom baas, maar ek glo eintlik dat dit nie ek was nie, maar die koelte wat begin neersak op en om ons. Voor ons Iê 'n groen rant met beboste klowe. Maar die generaal sê daar is nie water nie. 'n Vrystaatse familie met die naam van Klopper het in hierdie wêreld ingetrek, en hulle rigting moet meer noord wees. Ek het al eerder gemerk dat komdt. Japie Neser regs weggeswaai het met die meerderheid van sy mense, en dat ons nog met 'n kleine twintig man by die Generaal is. Die bytende bitte van die dag en die brandende opslae van die veld raak versag tot die silwer atmosfeer en weldadige afkoeling van 'n maanligaand. Dit was na middernag, toe klink daar ver voor ons hondegeblaf, nie wreed nie, maar welluidend, soos klokke van verlossing. Ons uitgeputte rydiere kry weer moed en galop in die rigting van die geluid.
Daar staan 'n wit plaashuis voor ons en 'n dammetjie water Iê daarvoor. Ou Generaal klim moeisaam af van ou Dokter se rug. Ek keer die burgers en hulle perde en verhinder dat hulle hulle siek maak deur te haastig te drink. Vir die ou Generaal was dit nie nodig nie, want die water loop uit sy neus terug. Sy sluk is toegeskroei en sy Iippe het diep krake. Eers na 'n tydjie geluk dit vir mevrou Klopper om hom met melk te Iawe.
Ons was op die plaas Deelfontein, reg noord van Marokween. Ons gasbeer was mnr. T. F. Klopper, 'n voortrekker in hierdie wêreld, 'n man met al die hartlikheid en gasvryheid, wat pioniers kenmerk. Die dag vantevore het hy reeds van die naturelle berigte gekry dat daar Boere op koms is, maar hy wou hulle nie glo nie. In elk geval kon 'n mens nie verwag dat 'n klomp gaste so ver in die wilde wêreld, van alles voorsien kon word nie. Maar alles wat hy gehad het, sy boermeel en sy biltong, is beskikbaar gestel, en die pappot het gou-gou gekook. Die Generaal kon dit geniet, in weerwil van sy vermoeidheid; en onmiddellik daarna het ons 'n paar uur gaan rus: hy op 'n bank Iangs die een muur van die voorkamer, en ek Iangs die ander muur. Die volgende more, 30 November, was mnr. J. B. Wessels, ook 'n bewoner van Deelfontein, al vroeg by die Generaal met 'n paar hoendereiers; en saam het hulle die moontlikheid om Duitswes te bereik nagegaan. Die Generaal vra om 'n persoon wat hom kan lei deur die woestyn. Maar daar was niemand wat as gids kon optree nie. Die generaal meen al was dit net 'n paar naturelle. Maar Klopper en Wessels het gevrees: as daar naturelle gehuur word, sal hulle maats daarvan hoor, en dan is daar moeilikheid.
Die bevel om op te saal, word gegee; en die burgers hys hulle pynlike lywe op die nog baie swak perde om verder in 'n noordelike rigting te trek, nou gelei deur Gys Klopper, die seun. Want 'n paar uur te perd daarvandaan staan 'n "wonderkoppie”, en die vermoede is dat komdt. Neser en sy mense daar moontlik die vorige dag al aangekom het. Daar is drie "wonderputte aan die noordekant van hierdie plat koppie, dis na die bos se kant toe. Hulle is nie diep nie en hou net syfer-water. In die winter is hulle meestal droog, maar gelukkig het daar ’n week voor ons aankoms ’n bui uitgesak. Daar is meer van hierdie soort "putte” in daardie wêreld, almal teen die noordelike hellings van koppe binne 'n afstand van 30 myl en ten suide van die Molopo. Vir sover bekend, is daar ses sulke "wonderkoppe”.
Dis die plaas Waterbury; en ons ry stadig verder. Langs die pad het ek nog een van my kêrels in 'n boom Iaat klim om te spioeneer, want vyandelike verrassings kon verwag word.
'n Ruk na die middag kom ons aan by die "wonderputte”, waar komdt. Neser en sy burgers (onder wie die gewonde) rus soek na al die bittere swaar. Water was daar genoeg in die putte, en ons sowel as ons diere kon volop daarvan geniet.
Ons kry, behalwe komdt. Neser en sy mense, drie blankes daar: twee mans en 'n vrou: Fourie en die Jacobs-gesin. Hulle beweer dat hulle wildskuts is. Die groot hoeveelhede biltong wat aan latte in 'n rondawel hang, was die resultaat van hul skiettog. Hulle gedrag het geen vertroue gewek nie; 'n mens voel mos dinge wat jy nie kan bewys nie. Genl. De Wet was kopsku vir hulle, nes ek, en wou dadelik deurdruk na die Molopo, wat volgens rapporte twee uur te perd ten noorde daarvan Iê. Die rivier sou in hierdie tyd van die jaar staan, maar daar sou wel plekke wees waar 'n mens kon water uitgrawe.
Maar vir verder trek was op die oomblik geen kans nie. Jy kon dit aan die diere en ook aan die houding van die burgers sien. Die getrouheid was daar, maar die kragte het heeltemal ontbreek.
Toe is daar besluit, noodgedwonge, om algar 'n nag te Iaat slaap, en morevroeg, 1 Desember, sou die trek hervat word.
En dit het die einde beteken.
Vervolg...