Harm Oost
"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".
Lees reeks by Wie is die skuldiges
AS DIE KOEI BULK
Dit was in 1915, en die rebel-offisiere het in verskillende tronke opgesluit gesit in afwagting van hul vonnis. Die wat in die Vrystaat op kommando gegaan het, was in Bloemfontein versamel: genl. De Wet, genl. Wessel Wessels, genl. Conroy en enige tientalle ander Ieiers. Ek was ook daar, maar nie saam met hulle nie. My lot was die eensaamheid van 'n "dodeseI”, een van ‘n ry waar tot-die-doodveroordeeldes hul teregstelling moes afwag. My mede-offisiere was in die regtervleuel van die somber gebou vasgekeer. Helde van die vrye veld, afgehok tussen die hoë klipmure van eentonige grys. Ek was aan die Iinkerkant van die hoofingang; reg voor my sel het 'n sementpaadjie gelê van omtrent ‘n voet breed. Dit was die galgpad. Elke veroordeelde-tot-die-strop moes daaroor stap (of gesleep word as sy bene hom nie wou dra nie), 'n twintig, dertig tree. Dan was hy by die end van die pad, en van sy Iewe. Want daar het die galg gestaan. Hierdie paadjie van verskrikking sou moontlik ook my Iaaste Via Dolorosa wees.
Die voorgestelde wetgewing wat eers later verander is, was toe dat rebelle ook met die strop kon gestraf word.My afgesonderde opsluiting het al 'n maand of vier aangehou, in verskillende gevangenisse. Hier, op Bloemfontein, sou die beslissing val. Van die oorlogsveld af in ‘n sel alleen, uit die onbeperkte ruimte binne-in die troostelose dorheid van vier mure was my liggaamlike krag en my geestelike weerstand omtrent gebreek in daardie vier maande. En voor my, grys en grou, loop die voetpaadjie tot by die hangpaal. Sou die strop daaraan ook vir my bedoel wees? Gister nog is daar ‘n naturel gehang. Ek Ioer in sy sel, na hy weggeneem is, en sien in die hoek daarvan 'n stuk brood Iê, waaraan hy geknabbel het tot die Iaksman hom kom haal het.
Dit was nie vrees vir die dood wat my beklem het nie. Toe ek afskeid geneem het van my vrou om gevolg te gee aan die belofte wat genl. De Wet en ek aan mekaar gegee het, was my woorde: "Jy sal my terugsien as ‘n vrye man onder 'n vrye vlag, of jy sal my nooit terugsien nie.” En die daaglikse gevare van die kommandolewe was ‘n goeie voorbereiding vir die einde wat ek moes verwag na die militêre mislukking.
Kommentaar oorbodig.
Maar dit was vrees vir die galg, vrees vir die strop wat angste by my opgewek het, soos angste van die hel "die mij alleen troost deed missen.”
Daar was tog enkele Iigpunte in die verstikkende donkerheid; as een van my rebel-broers daarin slaag om die waaksaamheid van die wagte te verskalk en my ‘n stille handdruk kom gee; of as dit genl. De Wet geluk om ‘n briefie met behuIp van Dignus de Flamingh na my deur te smokkel. Net 'n paar potloodkrabbels op ‘n vodde stukkie papier, maar woorde van aangrypende vertroosting vir my: groot verkwikking; geen gerusstelling nie.
Die galg het op ‘n ruim, hoog-ommuurde plein gestaan, "’n groot yard" in tronktaal. Dit oorheers alles. Op die ander helfte van die "yard” was honderd of meer naturellebandiete gedurende die dag vasgekeer. Maar jy merk hul nie somar op nie. Die galg hou jou hele aandag vas. Die eerste die hangpaal, die dreigende arm wat uitsteek, en daaronder die dubbele Iuik, gelyk met die grond. Aan elke kant van die middelnaat ‘n voetmerk in kryt, net onderkant die strop. Die veroordeelde se voete word presies op die merke geskuif, die strop neergelaat met 'n Iyn wat oor ‘n katrol loop. Die tou vang om die nek, ‘n handvatsel word geswaai, die Iuik slaan ondertoe oop, en die Iiggaam verdwyn in die donker gat, tot die strop dit vasruk en die Iewe uitgeruk word.
Dis die bons van die klappe teen die kante van die doodskuil, wat soos 'n sielskokkende skree deurdring tot in die Iaaste hoekie van elke sel in die groot en omvangryke gebou-van-benoudheid, verharde bewaarders sowel as die gevangenes en misdadigers aangryp, en teen die doodse grys mure weerklink. Veral die gevangenes, wat soms soos vasgekeerde wilde diere ‘n gemeenskaplike gebrul van paniek uitstoot.
Aan al die gruwelikhede en aan die instrument van verskrikking moes ek probeer om myself te wen. Moontlik sou ek die galgpaadjie eendag moet loop met die dodemus op my kop en net die skrefie onder die klep wat my ‘n kans sou gee om die punte van my voete en 'n strepie van die paadjie te sien.
Ek het selfoorwinning nodig gehad. Ek moes my daarin oefen. Elke môre gaan my seldeure oop en word my die kans gegee om ‘n tyd rond te loop. En gereeld stap ek op die sementpaadiie, wat na die galg lei. Elke dag voel ek dat my stap vaster word. Ek leer om rustig te staan by die galg en kalm te oordink hoe ek vasgegryp is deur ‘n mag waaraan ek nie kan ontkom nie. Ek sien die klomp swart bandiete op ‘n afstand staan, oorbluf deur een van hulle met groot, barbaarse oë.
Een môre gewaar ek dat een van die naturelle hom afsonder en reguit na my toe kom. Hy was van middelbare Ieeftyd en gewone grootte. Hy groet my beleef; en die gesprek wat plaasgevind het, was merkwaardig.
Hy sê dat hy ‘n boodskap vir genl. De Wet moes bring.
Ek beduie hom dat ek nie die generaal is nie.
Hy sê, dat hy dit weet, en dat ek ‘n groot vriend van die Generaal is.
Toe ek hom vra wie hy is, antwoord hy:
"Ek is Griffith, 'n broer van die Paramount Chief van Basoetoland.”
"En hoe kom jy dan hier?” vra ek.
"Baas,” sê hy, "ek het opsetlik iets gedoen wat my in hierdie tronk gebring het, want ek moet die boodskap gee."
"En wat is dan jou boodskap?”
Hy antwoord: "Paramount Chief Griffith Iaat genl. De Wet weet dat sy impies gereed staan om hom en sy mense te kom verlos. En wanneer moet hulle hier wees?"
Ek het toe vir Griffith, die boodskapper, gesê hy moet my die volgende dag dieselfde tyd daar by die galg kom spreek.
My gedagtes het skielik in ‘n ander rigting geswaai. En my eerste aandag moes gegee word aan my pogings om die boodskap van die Paramount Chief aan genl. De Wet te Iaat weet en om die antwoord van hom te kry.
Die gebeurtenis met Griffith het nie heeltemal as 'n verrassing vir my gekom nie, want Dignus de Flamingh het my al eerder in stilte ’n briefie in die hand gestop, waarin van die Paramount Chief se bereidwilligheid sprake was.
D. A. J. de Flamingh was 'n Offisier-Instrukteur van die Staande Mag wat tot harde arbeid veroordeel was weens sy rebelsimpatie. ‘n Jong man, wat sy gevoelens nie voldoende kon wegsteek nie. Hy is op 17 November 1914 in die distrik Bloemfontein gearresteer en deur 'n Krygshof verhoor op ‘n aanklag van hoogverraad. Jopie Fourie, wie se dood menigeen se Iewe gespaar het, was oorsaak dat De Flamingh na die Spesiale Hof verwys is, wat hom tronkstraf met harde arbeid gegee het, en hy moes dit in Bloemfontein se gevangenis uitdien. En hy was die geheimsinnige tussenpersoon wat die verbinding tussen genl. De Wet en my in stand gehou het. Dit is moontlik gemaak deurdat die generaal en die ander offisiere soms by hom in ‘n sekere vertrek moes verbystap na die wasplek waar hy my boodskappe van genl. De Wet ontvang en my antwoorde oorhandig. En die vrywillige bandiet Griffith het De Flamingh ‘n briefie in die hand gedruk terwyl hy besig was om sy harde arbeid in die groot "yard” te verrig. De Flamingh se bereidwilligheid kon hom opsluiting in die donkere sel gekos het, maar die vrees daarvoor het hom nie gekeer nie.
Hier moes De Flamingh weer tot hulp kom. Hy het daarin geslaag om my briefie veilig deur te kry na die ander vleuel van die gevangenis. Sal die generaal my sy antwoord kan Iaat kry? En wat gaan die antwoord wees?
Genl. De Wet het ‘n besondere gawe gehad om met naturelle om te gaan. Dit het vroeër meermale gebeur dat hulle verteenwoordigers na hom gestuur het, en by daardie bespreking's is groot eerbied en vertroue deur hulle getoon, en die Generaal het hul ook met respek behandel. Daar was ‘n verhouding van waardering aan altwee kante. En aan die end van so 'n ondehoud het die Generaal hul aangemoedig en geprys. Dit het die naturelle beantwoord met hulle karakteristieke uitings van hoogagting, wat amper tot aanbidding gestyg het. As hul dan so van hom af wegstap, draai hy hom na my toe met 'n knipogie van verstandhouding en dan sê hy: "0 ja, hulle het ook hul rassetrots, en ‘n mens moet dit aanmoedig.”
En wat gaan die optrede van die oubaas nou wees? Hy, verneder deur sy eie volk, opgesluit saam met bandiete?
My verwagtings is meer as bevredig, en die volgende môre was my paadjie van smarte somar Iig. Die galg het nie meer so vreeslik gelyk nie. Ek sien Griffith kom uit die ander hoek van die "yard" ; met haastige woorde vra hy my wat die antwoord is. En toe ek dit vir hom gee, was dit dadelik helder vir hom.
Dit was 'n baie eenvoudige antwoord wat genl. De Wet aan die Paramount Chief van Basoetoland gestuur het op die aanbieding om Basoetokommando’s te stuur vir die verlossing van genl. De Wet en sy mense. Net dit:
"As die koei bulk, moet die kalf antwoord gee."
Sy broer, die boodskapper, het "dankie baas” gesê en enkele oomblikke later verdwyn lussen sy rasgenote.
Vir my was die antwoord groots, nie alleen om die kinderlike duidelikheid daarvan nie, maar veral om sy groot menslike diepte.
Ds. Kestell van Bloemfontein het verlof gekry om ’n diens te lei vir die rebel-offisiere wat in die regtervleuel van die gevangenis was. Ek mog nie deelneem nie, want my lot was nog altyd die van die eensame. Maar die kerkvader maak by sy besoek aan die tronk ‘n draai, so na moontlik by my verby. 'n Paar bewaarders volg op sy hakke, maar hy waag dit om my in die Duitse taal kortIiks mee te deel dat daar volgens berig wat hy gekry het geen rebelle meer sal doodgemaak word nie. Hy praat met 'n strakke gesig, sodat die oppassers niks kon uitmaak nie, en ek moes toe ook maar onverskillig kyk.
Vervolg...