Harm Oost
"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".
Lees reeks by Wie is die skuldiges
AS DIE KOEI BULK (2)
Die strop is van my nek afgehaal!
Op 2 April 1915 het die regering op vertoë van buite, selfs van hulle eie ondersteuners en ook van Charley Fichardt in die Parlement, van opinie geword dat my afgesonderde opsluiting vir die landsbelang nie meer nodig was nie. Ek het plek gekry saam met my mede-broeders in die tronk – in die gesamentlike tronk. My hare wat besig was om wit te word, het hul normale kleur herwin.
Die kalf het nooit nodig gehad om antwoord te gee nie want die koei het nooit gebulk nie. Genl. De Wet, ofskoon 'n magtelose gevangene, sou nooit die naturelle betrek in 'n stryd tussen witmense nie. Maar die beeld van die koei en die kalf gee in minder as 'n dosyn woorde die hele moeilike vraagstuk van die inboorlinge se oplossing – 'n flits van sy genie wat, laat ons hoop, ook vir komende geslagte 'n baken van lig sal wees.
Daar was nog nooit 'n tyd in die geskiedenis van die mensheid toe die behoefte groter was aan leiers van genl De Wet se talent en geaardheid as vandag nie.
Die vraag kom dan of die rebellie, waarvan genl De Wet die groot hoof was, daardie noodsaaklike verhouding tussen wit en swart nie tydelik of blywend uit balans gegooi het nie.
Die antwoord daarop is die boodskap aan hom van Paramount Chief Griffith, soos voorheen aangehaal. Ook die verhaal wat hier volg van 'n gewone naturel, ou Andries.
Genl. Edwin Conroy was ook oppad na Maritz, dus naby die einde van die rebellie. Hy het ook nog steeds enkele volgelinge by hom gehad en het deur die vyandelike kommando's in die westelike Vrystaat probeer deurbreek. Na 'n nagtelike tog in die distrik Hoopstad het hy en sy mense 'n bietjie rus probeer geniet, maar die brandwag was uit en rapporteer omtrent tien uur die oggend dat daar 'n swarte te perd gekom het. Genl Conroy laat die swarte voor hom bring. Sy naam was ou Andries, blykbaar 'n oorlamse skepsel wie se baas die kommandant van die regeringstroepe daar was. Om begryplike redes van veiligheid het genl. Conroy sy lyf ook maar regeringsman gehou. Ou Andries vertel dat hy 'n verlore skaap van sy baas soek. Genl. Conroy praat verder:
" Ek sê vir hom dat hy hier moet bly totdat ek sou vertrek. Hy kom nader en vra my heel beleefd met die hoed in sy hand: 'Baas, van watter mense is julle?' Ek antwoord: 'Ons is regeringsmense.'
"Hy vra: 'Baas, wie is die Regering?'
"Ek sê: 'Generaal Botha'.
"Ou Andries sê: 'Baas, skuus dat ek dit vir baas vra. Baas moet nie vir my kwaad wees nie maar Baas, julle skiet die rebelle?'
"Ek antwoord bevestigend.
"Hy vra verder: 'Baas, die rebelle is mos Boere en die baas is ook mos 'n Boer. Hoekom skiet julle die rebelle? Dis mos hulle land dié. Waaragtig my baas, God sal julle straf omdat julle broersbloed vergiet. Genl Botha, hy veg mos vir die Engelsman.'
"Ek sê: 'Ja, maar die rebelle skiet mos vir my ook.'
"Ou Andries: 'Ja maar die rebel, ek hoor hy wil sy land vat wat die Engelsman hy het gesteel.'
"Ek was so onder die indruk van die ou naturel se woorde dat ek hom niks verder kon antwoord nie. Ek sê toe net: 'Jy moet dit aan jou baas ook vertel.' Want sy baas was die Regeringskommandant. Dit het my diep getref dat selfs die swarte 'n besef gehad het van die heiligheid en regverdigheid van ons saak. Ek het gewens die duisende Afrikaners wat ons geja het, dieselfde gevoelens moes hê as hierdie ou swartman."
Wat 'n mens ook tref by hierdie verhaal, is dat nie alleen die groot kaptein nie maar ook hierdie nederige skaapwagter 'n diep respek besit het vir genl. De Wet en sy mede-standers.
Vervolg...