WIE IS DIE SKULDIGES (57) (SLOT)

Harm Oost

"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".

Lees reeks by Wie is die skuldiges

DIE DOLK

VIR DIE EERSTE KEER na vyftien jaar het ons ‘n neerlaag gely in die Parlement. En dit was die verwerping van die Hertzogbeleid om neutraal te bly in die tweede wêreldoorlog.

Die datum waarop ons verslaan is, was 4 September 1939. Die Volksraad het besluit dat daar oorlog aan Duitsland verklaar sal word. Na 9 September 1914, toe die Volksraad die inval in Suidwes-Afrika goedgekeur het, was dit die belangrikste beslissing van die Parlement.

Toe, in 1914. was die jong Unie nog ondergeskik aan die beslissing van die Imperiale Regering. As Engeland oorlog verklaar was ons outomaties ook daarin betrokke. Maar in die vyf-en- twintig jaar wat verloop het is ons status verhoog. Ons het soewerein geword en beslis self oor oorlog en vrede.

Op 9 September 1914 was die groot meerderheid van die Volksraad, wat die Regeringsbesluit goedgekeur het om Suidwes-Afrika in te val so opgewonde as wat ek dit nooit voorheen nog daarna gesien het nie. Die Engelse (hul was toe nog Engelse ) het in die Unie-Volksraad die Engelse volkslied uitgeblêr soos speenlammers, en genl. Smuts wat hom altyd taamlik goed onder beheer kon hou, het genl. Hertzog smalend 'n "blatant patriot” genoem. In die persgalery, waar ek saam met ander koerantskrywers die verloop van gebeurtenisse daaronder ons gewoonlik met siniese kalmte waargeneem en rapporteer het, het die hitte ook opgeslaan, en toe die resultaat van die stemming bekend gemaak is (91 voor en 12 teen) het ek met die vuis die Iessenaar gemoker en gesê: "Dit beteken rebellie,” so seker was ek daarvan dat hierdie beslissing tot verset sou lei. En die rebellie het ses weke later uitgebreek.

Op 4 September 1939 was daar egter geen merkbare opgewondenheid in die Volksraad nie. Die harte van die Iede, veral van die Verenigde Nasionale Party, was swaar. Ek was een van hulle. Gedurende die bespreking of ons oorlog teen Duitsland moet verklaar, of nie, het ons al hoe droewiger geword, omdat dit duidelik geblyk het, namate ons die end genader het, dat ‘n skeuring onvermydelik sou wees. Ses en 'n half gelukkige jare het ons in die eenheid van die Party deurgebring, en die verwagting van nog ‘n gelukkiger toekoms, van ’n nog groter eenheid, waarin almal saamgebind sou wees, wat Suid-Afrika Iiefhet, afgesien van tradisie of taal, het hierdie geslag besiel — tot op die tragiese 4 September. En by die "crossing of the floor" , toe ou maats teenmekaar verby in plaas van saam met mekaar loop, is stille handdrukke van afskeid gegee en stille trane gestort.

Genl. Smuts, "the great chancer”, het gewen. Genl. Hertzog, ons onversetlike held van beginselsake, is verslaan. En ons, die Hertzogmense van ouds, saam met hom.

Daar was negentien van ons wat die volgende môre vaster as ooit om ons ou Ieier versamel het in ‘n "koukusvergadering" . Hy het ons toegespreek op ‘n rustige toon, maar die van ons wat hom goed geken het, weet dat daar onder die kalme oppervlakte diepe strominge roer. In sulke oomblikke van krisis het genl. Hertzog soms ‘n Nederlandse woord of uitdrukking gebesig. Hy het in Nederland studeer met Nederlands as medium en het sy jeugIiefde vir daardie taal behou. En dit het uit die diepte van sy bestaan opgeborrel as daardie diepte, soos nou, beroer geword het. Hy sê dat, toe die beslissing gister geval het, hy van plan was om heeltemal terug te staan. "Maar toe ek my vanmôre klee; het ek die gedagte gekry, dat die volk my nog nodig mag hê."

Die negentien het hierdie bemoedigende aankondiging met dankbare blydskap ontvang. En toe kom die vraag: wat nou?

Wat voor die hand gelê het, was toenadering tot die "Gesuiwerdes" wat onder Ieiding van dr. Malan die generaal gister gesteun het. Die paar Kaapse Iede onder ons het gemeen dat hulle maar Iiewers hul lot by dr. Malan moes ingooi, en hul het dit naderhand ook gedoen. Ek het aan die hand gegee dat ons almal sonder versuim polieke vergaderings moes gaan hou om te organiseer en het groot sukses verwag, want die mense aan wie genl. Hertzog as ‘n verraaier voorgehou was, sal nou sien dat hul mislei is. En as ons eers ‘n organisasie tot ons beskikking het, sal ons met welslae kan onderhandel. Hierop is nie ingegaan nie, en ek het verwag dat die Party-masjinerie waaroor die "Gesuiwerdes" beskik met volle krag aan die werk gesit sou word. Ek was ook nie verkeerd nie. Toe genl. Hertzog ‘n paar dae later Transvaal toe gaan, het groot getalle mense orals by stasies hom kom toejuig.

Op Monumentkoppie sou ‘n oorweldigende herenigingsfees gevier word. En dit het gebeur. Selfs is daar 'n eed van onderlinge vertroue voorgelees. En baie mense het dit eerlik bedoel, maar sonder werklike besef. Vir hul was genl. Hertzog die verlore seun wat na sy volk terug gekeer het in die veilige hawe van die Gesuiwerde Party. Nie die groot Ieier wat sy volk gered het uit ‘n toestand van verwording nie, soos dit na die driejarige oorlog was.

Daar is onderhandel, en daar is in die Transvaal en die Vrystaat voorlopige reëlings getref vir hoof- en dagbesture. Soos al jare lank in ons vorige organisasies het ek ook nou van daardie besture die Iidmaatskap aanvaar en as sodanig partyvergaderings toegespreek.

Daarby is bevestig wat ek reeds vermoed het, naamlik dat die opinies van die "Gesuiwerde” kiesers van 1933 af aanmerklik verander het. Dit het my getref hoe betreklik eenvoudig dit blykbaar is om die mentaliteit van die kieserspubliek te wysig en met watter eenvoudige middele, veral anti-middele soos anti-semiet, anti-naturel, anti-kleurling. Die verteenwoordigers van naturelle in die Volksraad moes afgeskaf word. Die kleurlinge moet geen stemreg meer hê soos die witmense nie. En die Republiek, ja dit moet dadelik uitgeroep word. By navraag blyk dan dat daar hoegenaamd geen begrip is van hoe en wat so ‘n republiek beteken nie, en dat dit net ‘n leë partykreet is om stemme te vang. Dit alles was baie ontmoedigend, en veral die gebrek aan agting vir Ieiers met opmerkings soos hierdie: "Wat, ‘n Ieier? Hy word daar deur ons gesit en bly daar so lank as wat ons hom wil hê." Die begrip van gesag as 'n afstraling van die Hoogste Gesag, volgens die Calvinistiese Iewensbeskouing, het verdwyn. In die plek daarvan het die heidense opvatting die geeste gaan beheers: Vox Populi, Vox Dei. Elke Ieier, (ook genl. Hertzog) se waarde, word geskat ooreenkomstig sy bruikbaarheid, sy nuttigheid vir partypolitieke doeleindes.

Ek was diep ongelukkig, en het met 'n beswaarde hart probeer om "hereniging” te bevorder. In die dagbestuur en die hoofbestuur het daar nog altyd 'n gevoel van vyandskap teen genl. Hertzog opgedoem. "As ons maar van daardie ou geraamte kon ontslae raak", was een van die gruwelike opmerkings wat van die Iippe van verantwoordelike politici (ons nuwe partygenote!) opgevang is. En toe dieselfde gebrek aan eerbied weer op 'n vergadering van die hoofbestuur geblyk het, is ek na my kantoor en het my bedanking uitgeskryf. Dit was toe Oktober 1940.

'n Paar dae later het ek weer een van my menigvuldige besoeke aan genl. Hertzog op Waterval afgelê. Ek kon gou merk dat hy iets besonders op sy hart gedra het en dat die oorsaak my bedanking as lid van die hoofbestuur was. Hy vra my op vriendelike toon: :"Was dit verstandig van jou?” Ek het beduie dat ek geen skeuring bedoel nie, en nie van die party afskeid geneem het nie. Net van die hoofbestuur, omdat dit onmoontlik is om daar die allernoodsaaklikste samewerking te verkry. Totaal onmoontlik.

Die ou Generaal het toe in een van sy intense oomblikke sy hande op my skouers gelê en sy gesig nader aan myne gebring, terwyl hy gemoedelik sê: "Ou Harmpie, ek dink jy was te haastig. Volgens my berigte is die Vrystaat nog reg. Die ou Vrystaat staan nog by my.’’

My beskeie antwoord was: "Ou Generaal, ek hoop van harte dat ek verkeerd is.”

Ek het nie die moed gehad om te sê wat ek ondervind het nie en dat my berigte uit die Vrystaat van syne aanmerklik verskil, want ek het geweet hoe lief hy sy Vrystaat het. En ook dat dit baie swaar gaan vir 'n man soos hy, die vleesgeworde eerlikheid, om oneerlikheid en onderkruipery in ander raak te sien. Die Vry­staat, die hart van Suid-Afrika, was sy hart, sy ganse hart.

‘n Paar dae later, 6 November 1940, het die stigtingskongres op Bloemfontein die dolksteek gegee . . .

Sewe weke daarna (op 11 Desember 1940) was ek al vroeg die môre op Waterval. Ons het plekke aan die ontbyttafel ingeneem: genl. Hertzog, senator Jack Brebner en ek. Die maal was smaaklik voorberei, maar het ons tog nie veel geëet nie. Want Generaal het besluit om sy bedanking as Volksraadslid in te dien en hom aan die praktiese Ieiding van sy volk te onttrek. Die tele­gram wat sy bedanking bevat, is al aan die Speaker gestuur. "En Klaas s’n ook  - Oom Jack gaan ook as senator aftree.”

Daar het ‘n oomblik van drukkende stilte gevolg. Die spanning het elke beweging verstyf. Skielik buig die Generaal hom na my toe oor, met 'n skokkende beweging van sy bolyf. En soos 'n knetterslag slaan sy woorde in my in: "En wat gaan iy maak?”

Ek het 'n rukkie gesoek om woorde te vind. Toe antwoord ek:

"Generaal, ek het van 1907 af by u gestaan. Twee-en-dertig jaar het ons saam geveg om te verwesenlik wat ons altwee so diep voel. Dit Iyk vir my dat dit my plig is om aan te hou veg vir daardie beginsels. Veral nou . . . Ek sal maar aanhou veg."

Onmiddellik volg sy woorde, heftig soos al sy woorde in hierdie kort gesprek aan die onthyttafel:

"Ja . . . En jy sal die kern van die volk by jou hê.”

En daarna is eers die Afrikaner Unie en toe die Afrikaner Party gestig. Hierdie Party se program van beginsels was deur die ou generaal in sy eie handskrif, skerp en helder, soos altyd, opgestel. Dit was, wat hy voor die Kongres op Bloem­fontein wou gelê het, op 6 November . . . as hy die geleentheid daarvoor sou gekry het.

EINDE