V. E. d'Assonville
Lees reeks by TOTIUS - Profeet van Mooirivier
OP POTCHEFSTROOM SE VLAKTES
In sy oorlogsdagboekie skryf Totius op 18 November 1899 die volgende: "Met my pers potlood sit ek nou op die vlaktes van Potchefstroom en skryf. Het vanoggend om 6-uur vertrek. Om halfnege het ek die perd afgesaal en is op pad na Ventersdorp...”
So ken die mense hom nie. Hy is ’n eensame burger van die Boeremagte wat aansluiting soek by die Potchefstroomkommando, ’n swerwer wat daardie aand met slegs ’n stukkie droë brood in sy saalsak êrens in ’n veekraal moet skuil. Jacob Daniël du Toit, die later beroemde volksdigter, predikant, teologiese professor, volksman, Bybelvertaler, Psalmberymer, taalstryder, was op daardie dag nog ’n jong man van twee en twintig jaar oud. Soos die einde van die 18de eeu toe reeds in sig was, het die wye horison van Totius se toekomsuitsig vereng tot ’n einde. Toe al moet die onherbergsaamheid - waarvan prof. Theunis Cloete baie jare later sou skryf — iets aan hom gedoen het. Hierdie vlaktes van Wes-Transvaal sien ’n mens later voortdurend in sy digwerk. Van die meedoënlose verlatenheid op aarde sou hy nooit weer loskom nie. Op daardie dag het hy dit nog nie in ’n gedig beskryf nie. Toe het hy nog nie eens ’n besef van sy toekoms in hierdie wêreld gehad nie. Dat Potchefstroom en die Mooirivier en die vlaktes van Wes-Transvaal ná die oorlog ’n halwe eeu lank sy werkplek sou wees, het hy toe in sy moedeloosheid nog nie geweet nie. Daar het die leeurik waarmee die digter Leipoldt sy tydgenoot Totius vergelyk het, opgestyg:
"Toe dagbreek nog duister was, met dou op die gras langs die voetpaaie wat ons moes betree, het daar ’n leeurik opgestyg wat in die skemermôre gesing het. Dit was ’n treurlied soms, maar altyd ’n trooslied, want daarin was geloof wat twyfel oorwin het en hoop wat vir teëspoed kon vergoed. Daardeur het getril die eenvoudige liriek van opreg gevoelde liefde vir skoonheid, vir die wesentlike waardes van bestaan en die grondverpligtings van menslikheid. Daarin was waardering vir wat goed is in die verlede, vir die werk van vandag en aansporing tot opbou van die toekoms.”
Soos ’n mens vandag nog in die veld van Wes-Transvaal veldvoëltjies kan sien wat moet opstyg om sy lied te sing het Leipoldt die digter Totius se plek in die Afrikaanse volkserfenis gesien. En hy vervolg:
"Ons is dankbaar vir hom vir die sang wat hy gesing het ter aanmoediging wat sy vroeë môrelied aan ons geskenk het, en dat daar nog baie was wat nie die voortekens van die helder dag gewaar en wat neergedruk gegaan het onder die skaduwee van droefenis en bitterheid van gees en gedagte."
Maar Totius se oog het die gelykenis self ook gesien. Nog lank voor Leipoldt. Dit is egter geen selfroem, uiters beskeie, byna neerslagtig:
Ja, sing maar, sanger van die hoogte, hier is jou maat wat ook probeer, wat ook wil styg by somb’re lugte wanneer die stormslag hom wil keer.
Ek sing ook bo ’n vlaktewêreld, bo ’n matelose veldverdriet; ek sing met op en neer geworstel my gou-vergane stemmingslied.
Op daardie someroggend van 18 November 1899 is hy nog die vermoeide Boeresoldaat. ’n Verwarde heimweë pak hom beet; in 'n sakboekie skryf hy enkele woorde neer, en die jong man dink aan wat die naaste aan hom is - sy verloofde daar ver . . . Wat sou Marie tog nou doen? Waaraan sou sy dink . Na drie ure se gesukkel om die perd op die heiningloop te vang, is hy weer op pad na Ventersdorp. Hy moet by die Potchefstroomkommando probeer uitkom.
Vervolg...