TOTIUS – PROFEET VAN DIE MOOIRIVIER (5)

V. E. d'Assonville

Lees reeks by TOTIUS - Profeet van Mooirivier

BURGERSDORP TOE (2)

Gert en Japie praat weer oor prof. Leon Cachet, ’n unieke mens, ’n uitstaande leermeester. Japie sien die diepere betekenis wat hierdie man vir sy studente het helder raak: "Gert, het jy al gedink aan die woord van Paulus? Hy het gesê dat al sou julle tienduisend leermeesters hê, dan het julle tog nog nie baie vaders nie. Die kerk kan ’n leermeester, ’n professor, beroep. Maar ’n vader word deur God gegee. Die ware leermeester moet eers ’n vader wees. Kyk maar na die ou kerkgeskiedenis: eers die 'patres’ en dan die 'doctores’ - eers die vaders en dan die geleerdes. So het ek en jy by al ons studie ’n wonderlike geestelike vader.”

Prof. Cachet met sy teologiese studente op Burgersdorp. Vreemd, anders, eiesoortig. In die laat negentigerjare is dit in die Oos-Karoo ’n klein leermag vol entoesiasme en besield met groter ideale as wat hulle kragte en middele kan verwesenlik. En die "generaal” is prof. Cachet met sy hoofkwartier sy studeerkamer.

Spoedig word Japie sekretaris van die "Studentekorps” met sy pakkende leuse "Veritas vincet” - die waarheid sal oorwin. Reeds op 16 Oktober 1896 lewer hy self sy eerste openbare lesing voor die studente oor "De Bijbelvertaling in’t Afrikaansch”. Hy is maar nog negentien jaar oud, maar dit is ’n profeet wat daar praat. Hierdie voordrag volg hy spoedig op met ’n paar dinamiese toesprake oor die digter Bilderdijk en sy betekenis, asook oor die kerkleier Hendrik de Cock in Nederland.

En nou word dit eenvoudig ’n onkeerbare stroom. Hy gee lesings oor die Metodisme, die Inspirasieleer, en hy word die mede-oprigter van ’n studenteblad met die besielende leuse "Fac et spera” — werk en hoop. Op 21-jarige leeftyd is Japie du Toit reeds aan die voorpunt van die joernalistiek oor brandende sake oor die kerk, die Afrikaanse taal en die stryd van die Boererepublieke op die vooraand van ’n dreigende oorlog. Selfs in Londen word daar in die blad Review of Reviews kennis geneem van Japie du Toit se artikel in ’n nedrige studenteblaadjie uit ’n Karoodorp.

In hierdie tyd maak hy ook meer as twintig preke waaruit sy studentemaats sy teologiese wetenskaplikheid en groot Bybelkennis leer ken. Dit is behoorlik of ’n vonk van die geniale ds. S. J. du Toit oorgespring het op sy seun. Ook hy word - net meer getemperd - reeds as jong man die kampvegter, met woord en geskrif, vir die suiwer godsdiens, die bewaring van die moedertaal, die noodsaaklikheid van die regte onderwys en Afrikanernasionalisme. Onder 'n skuilnaam doen hy vertalings en verwerf andertalige gedigte vir die blad Ons Klyntji.

Namate die einde van Japie se studies nader, kom daar egter ’n nuwe spanning wat by tye byna onhoudbaar word. Sy vader bring die spanning. En dit op die gebied van die kerk en die politiek.

Deur sy goedgesindheid teenoor Cecil Rhodes het ds. S. J. du Toit al hoe meer vervreemd geraak van die patriotiese Afrikaners. Daarby het sy verhouding met die N.G. Kerk ook al hoe meer versleg, sodat hy selfs oorgegaan het tot die stigting van aparte gemeentes, soos bv. te Strydenburg en Griekwastad. En noudat Japie byna klaar is as predikant, kom hy in ’n uiters moeilike posisie. In verskeie briewe oefen sy vader druk op hom uit om predikant te word in een van die "Kruisgemeentes” wat gestig is. Maar dit is nie al nie. Ook uit ’n heeltemal ander hoek kom daar ’n geweldige aandrang dat Japie sy verbintenis met die Gereformeerde Kerk moet verbreek om predikant in die Hervormde Kerk in Transvaal te word. Hier was sy oom, ds. C. W. du Toit van Potchefstroom, die een wat verskeie briewe tot hom rig.

Hierdie sterk aandrang van verskillende oorde van sy vader en sy oom om die Gereformeerde Kerk te verlaat om in die "Kruisgemeentes” of in die Hervormde Kerk in Transvaal predikant te word, is vir Japie du Toit alreeds aan die begin van 1898 so ’n pynlike saak dat dit byna familieverhoudinge vertroebel. Hy dra sy stryd en kwellinge egter alleen en selfs sy naaste studentevriende weet niks daarvan nie. AlIeen die briewe vertel dit. Twee dae voor sy 21ste verjaarsdag skryf hy dan ook aan sy oom in Potchefstroom ’n sterk gemotiveerde brief waarin hy sy beginsels stel en die versoek finaal afhandel. "Dat ek op Burgersdorp studeer, het u heeltemal verkeerd verstaan. Die meeste mense dink dat ek hier is om maar predikant te word in enige kerk. Dit is egter vir my ’n beginsel. Ek behoort aan die Gereformeerde Kerk omdat ek nie kans sien om by enige ander kerk lid te word nie.”

Maar nou begin daar ’n ander gedagte by Japie posvat. Sou dit wees om los te kom van die verwagting van sy vader dat hy hom moet help met die bediening van die "Kruisgemeentes” ? Hy kry die plan om na afloop van sy studie in Burgersdorp, oorsee te gaan om daar sy doktorsgraad in Teologie te behaal. Hy het veral die begeerte om na Duitsland te gaan.

Die antwoord van sy vader was egter vir Japie ’n onverwagte terugslag: Op 23 Maart 1898 raai ds. S. J. du Toit sy seun ten sterkste af om so iets te probeer, "te meer omdat daar elke dag in Europa ’n storm is wat dreig om los te breek en omdat die behoefte aan predikante hier in Suid-Afrika so groot is”.

Intussen nader die twee studente, Japie du Toit en Gert Kruger, die einde van hulle predikantstudies. Op 14 Junie 1899 vind daar dan ’n plegtige gebeurtenis in die Gereformeerde Kerk van Burgersdorp plaas. In die notuleboek skryf iemand die volgende:

"Nou word daar ernstig gespreek oor die breeders G. H. J. Kruger en J. D. du Toit, waarna die voorsitter knielend ’n gebed doen. Daarna gaan die vergadering oor tot stemming en word beide die breeders eenparig toegelaat tot die Heilige Evangeliebediening.”

Op 16 Junie 1899 word Jacob Daniël du Toit ’n proponent en word hy beroepbaar gestel as predikant in die Gereformeerde gemeentes. Dieselfde gebeur met sy vriend Gert Kruger.

Woensdagaand, 21 Junie 1899 is daar fees in die huis van die weduwee Postma. Japie en die byna 18-jarige Marie Postma raak verloof. Sy is die jongste kind van ds. Dirk Postma wat die Gereformeerde Kerk in 1859 te Rustenburg gestig het. Burgersdorp het nie alleen aan Japie du Toit ’n vaste koers gegee nie, maar ook ’n lewensmaat.

Die vreugde om nog langer saam met sy verloofde op Burgersdorp te bly, is van korte duur. Hy moet feitlik dadelik vertrek na Rustenburg om daar in ’n uitgestrekte. gemeente te help met kerkwerk. In Augustus vertrek hy weer na Heidelberg, Tvl. Hy sal Marie byna ses maande lank glad nie sien nie. Die oorlog gaan hom vasvang. Sy vader het hom daarteen gewaarsku!

Oorlog – vervolg...