V. E. d'Assonville
Lees reeks by TOTIUS - Profeet van Mooirivier
In hierdie tyd word Amsterdam, van alle plekke in Europa, een van die grootste brandpunte van die Boere se stryd in Suid-Afrika. Hier in Amsterdam is dit "Het Afrikaansch tehuis”, Nieuwe Heerengracht 143, waar die vlae van Transvaal en die Vrystaat waai. Dit word die ware "Pella” (Pella was die plek in Palestina waarheen die Christene voor die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. gevlug het) van ’n stroom ballinge wat van tyd tot tyd daar ’n toevlugsoord vind. De Standaard skryf:
"Daar waren ballingen, oud van dagen, met grijze haren, die in onrust verkeeren over het lot hun geliefden daarginds; daar waren reuzenzonen met hun trouwe, eerlijke gezichten ...”
Ook J. D. du Toit en Ferdinand Postma, die bouer van die Potchefstroomse Universiteit, is onder hierdie "zonen met hun trouwe, eerlijke gezichten”. En as president Kruger op 20 Desember 1900 aan Amsterdam ’n besoek bring, gaan hy hulle self opsoek en dan weerklink daar in die hart van Amsterdam "het krachtige Psalmgezang uit de breede borsten” en die vlae van die Boererepublieke word hoog opgehys!
Groot toesprake word gehou en dit is die aristokratiese prof. F. L. Rutgers wat die harte steel. "Hij stond daar, te midden van die broeders uit den vreemde en toonde hun harteleed mee te kennen en hun zuchten naar hun land en betrekkingen te verstaan . . .” En dan daardie pittige opmerking van Rutgers: die woord ellendig is in sy wortel een met die woord uitlandig. Wie voortvlugtig is, is uitlandig en meteens ellendig.Toe die huweliksfees van Wilhelmina, koningin van die Nederlande, met Hertog Hendrik van Meklenburg op 9 Maart 1901 nog in Amsterdam aan die gang is, gaan sy met haar koets ook na Nieuwe Heerengracht 143! Dit is ook haar mense! En daar staan Japie du Toit saam met die groep Afrikaners reg voor die koningin. Die heer Emous spreek ’n treffende woord namens hulle:
"Uwe Majesteit en Koninklijke Hoogheid, gelieven deze hulde te aanvaarden uit de handen van verdreven en uitgeweken Afrikaners, die in Uw land milde gastvrijheid genieten onder de lieflijke schaduw van den Oranjeboom.”
Dit was ’n innige, hartlike verbondenheid tussen die twee volke van Nederland en Suid-Afrika aan die begin van hierdie eeu! So het Totius dit later verwoord:
Die sprokie is aan my vertel: wanneer die druiwetros weer swel onder die donker wingerdblad, dat dan die fyne wyn ook roer in ver verborge keldervat.
’n Fyn mistieke eenheidsband verbind Oranje, Nederland en Afrika, deur alles heen.
Hoe ver die golwe ons al omspoel,
die diepe hart sal altyd voel - ons is verborge-een.
In ’n bovertrek van Het Afrikaansch Tehuis studeer twee manne om hulle voor te berei vir hulle take op die puinhope van die Afrikaanse bodem - J. D. du Toit en Ferdinand Postma. Op die walle van die grag - so vertel een van hulle — het hulle saans geloop en droom oor ’n eie Christelike onderwys in Suid-Afrika!
Dan die doktorale eksamen in teologie. Japie werk dag en nag saam met Ferrie Postma, want hulle wil graag terug wees in Suid- Afrika sodra die vrede kom. Ook die verlange na Marie is groot. Bitter swaar het dinge vir haar verloop, want haar moeder het baie ernstig siek geword, hulle moes uitwyk uit Pretoria en die moeder het in Kaapstad gesterf. Maar wonderlik is dit dat ds. S. J. du Toit sy seun se verloofde onder sy dak neem in die Paarl.
Die tema vir sy doktorsproefskrif het J. D. du Toit reeds gekies: "Het Methodisme”. Prof. H. H. Kuyper, seun van A. Kuyper, word aangewys as sy promotor.
Hierdie studie oor die Metodisme lewer egter baie probleme op. Vir Nederland is dit ’n nuwe, onbekende onderwerp, en groot verskille met sy promotor duik op. So erg is dit dat hy en Kuyper ’n hele nag lank ’n diskussie voer. Die eintlike punt is dat die professor die element van die mistisisme (oordrywing van die mistieke godsdiens) in die leer van die Metodisme ontken. Maar Du Toit se uiteindelike wetenskaplike uiteensetting uit die werke van H. M. Nes, met sy "Het Nieuwe Testament in de Clementinen”, en Rudolph Söhm, die Duitse geleerde, het die bewysgronde vir sy standpunt gegee. Nog die sterkste steun kry hy by die beroemde gereformeerde dogmatikus Herman Bavinck.
Dit alles slyp en slyp nog eens die jong Du Toit. Aan sy vriend, ds. J. A. van Rooy van Nylstroom, skryf hy: "0 broeder, as ek nie hierheen gekom het nie, dan sou ek baie kwaad in my lewe ontketen het. Hier het my oë oopgegaan. Ek het gesien dat dit nie maar ’n kwessie van oorneem en napraat is nie. So maklik gaan dit nie. En vir Suid-Afrika sal dit heilloos werk as die dinge verkeerd aangepak word.” En wat ’n pragtige riglyn vir predikante en teoloë lees ons verder in die brief:
"Ons grootste hervormings hoef nie hoofsaaklik op die kerkregtelike gebied plaas te vind nie. Daar is ten eerste so baie dinge wat eers uit die modder moet gesleep word. Wat ons nodig het is nie soseer reformasies nie as wel formasies van die kerklike toestande in Suid-Afrika. Ons moet dit ook op eg Afrikaanse wyse opbou! - ’n eie beoefening van die Teologie en wetenskap, ’n eie verklaring van die Heidelbergse Kategismus, eie Kerkreg, ens., in plaas daarvan om alles van Holland net so onveranderd oor te neem. Ons het ons eiesoortige lewe en daarom moet daar in die naaste toekoms ’n eie wetenskaplike en kerklike lewe kom. Presies hoe en wanneer, kan niemand sê nie, maar om met ’n ideaal te lewe, is op sigself alreeds heerlik ...”
Op Donderdag 23 April 1903 loop Japie du Toit se akademiese studie ten einde. Dit was die middag om drie-uur in die gebou van die Maatskappy vir die Werkende Stand in Amsterdam. Uitgedos in hulle swaelstertpakke en keile bestyg hy met sy twee paranimfe (helpers by die promosieplegtigheid) Ferrie Postma en Koos Pretorius die verhoog en hy neem agter die kateder stelling in. En dan volg die verdediging van die doktorsproefskrif 'n uur lank, totdat die "hora est” dramaties aangekondig word - die uur het geslaan. Die prosessie van al die geleerdes verlaat die vertrek om na ’n kort rukkie weer in te kom. Die uitslag is beskeie, soos die gebruik by die V.U. vir die hoogste lof was: "non sine laude” - nie sonder lof nie!
Nou is hy doktor J. D. du Toit, die eerste Suid-Afrikaner wat aan die Vrije Universiteit gepromoveer het!
Twee dae later, 25 April 1903, vertrek dr. Du Toit met die Duitse stoomskip Burgemeister (10000 too) uit die Ymuiden (Amsterdamse hawe) terug na Suid-Afrika. Die lang seereis is baie goed, want dit is ’n "gedwonge” vakansie na die harde studie. Europa verdwyn agter die gesigseinder, en een aand laat sien hy die lig van ’n vuurtoring op die Noord-Afrikaanse weskus. 3 Mei is ’n pragtige dag op die eiland Las Palmas, veral na die ruwe see van die baai van Biskaje.
Dit is ook ’n heerlike voorreg om weer briewe, veral agterstalliges, te skryf. So baie mense om nog eens te bedank. Onder andere skryf hy aan die man oor wie se drumpel hy die eerste keer in Amsterdam op 6 Julie 1900 gestap het: J. A. Wormser, die boekhandelaar en uitgewer. Dit was ook hy wat die proefskrif oor die Metodisme uitgegee het: "Wil toch mijn hartelijke groete geven aan uw vrouw en kinderen en nochmaals mijn hartelijke dank ontvangen voor zoveel vriendelijkheid van Uw beiden genoten gedurende al de jaren in Nederland! ”
En terwyl die Burgemeister reeds diep in die Atlantiese Oseaan in die tropiese gordel vaar, verskyn daar in Hollandsche Kerkblad van 9 Mei 1903 ’n lang artikel onder die opskrif "DR. J. D. DU toit”. Die skrywer is ds. J. C. Sikkel, die "prins” van die predikers in Amsterdam, die man wat met sy preke Sondag na Sondag enorme invloed op J. D. du Toit uitgeoefen het. Die sakboekie was altyd byderhand om kostelike uittreksels uit hierdie preke neer te skryf. Dit is ’n profetiese woord wat op daardie dag in die kerklike pers verskyn: "De Heere sterke, beware en leide Dr. Du Toit en stelle hem ten rijken zegen.
"En in Nederland worde de naam van dezen jeugdige geleerde, van dezen man van beginsel, bewaard. Indien wij voor de krachtige ontwikkeling van het waarachtige beginsel nog een toekomst zullen hebben in Kerk en Wetenschap, in Staatkunde en volksleven, ten spijt van alles wat aandringt op verkoopen aan onverstand, eigenwilligheid, practisch belang en ongeloof, - en indien die ontwikkeling ook het deel zal zijn van de Hollandsche nationaliteit in Zuid-Afrika, - dan zal naar onze verwachting Dr. Du Toit een der mannen zijn in en door wien de banden der geraeenschap werken.”
18 Mei 1903. Presies op dieselfde datum as Totius se vertrek drie jaar tevore, sien hy Tafelberg voor hom staan. Is daar ’n groter welkom as hierdie majestiueuse berg aan die suidpunt van die kontinent? Daar sien hy weer sy vaderland! Die digreëls van die bekende Bilderdijk wat ook na ’n lang tyd weer na sy eie bodem teruggekeer het, kom spontaan op in sy gemoed:
’k Heb hem (die vaderland) met mijn arm omvademd;
’k Heb zijn lucht weer ingeademd;
’k Heb zijn hemel weer gezien,
God geprezen op mijn knien.
En daar op die kaai staan sy reeds bejaarde vader... en Marie!
Vervolg...