V. E. d'Assonville
Lees reeks by TOTIUS - Profeet van Mooirivier
Predikant van Potchefstroom
Van die Paarl tot by Nylstroom ver in die Transvaal duur die reis, per trein ’n hele paar dae. Daarheen is dr. J D du Toit en sy verloofde, mej. Marie Postma einde Mei 1903 op pad na die pastorie van ds. J A. van Rooy wat met ’n ouer suster van Marie getroud is. Die aanstaande predikant-swaer het reeds toe Japie nog in Nederland was, gevra dat hy na sy terugkoms maar so spoedig moontlik na Nylstroom moet kom. In Transvaal is daar ’n ernstige tekort aan predikante, en die verwagting is dan ook dat Japie baie gou ’ n beroep sal kry. Kom maar eers na ons in Nylstroom!
Die tog na die noorde is egter met opgewonde, gemengde gevoelens. Oor die wydtes van die Karoo wat hy reeds so lief gekry het. En die Vrystaat! Maar nou is dit ’n bleek-vaal aarde. En die eerste ryp het reeds geval.
Velde vol vaalheid
met blekende gras –
die menslike vlees
verdorrend so ras...
Selfs uit die treinvenster kan die spore van die wrede oorlog nog gesien word. En J. D. du Toit word bang vir die puinhope wat hy nog verder sal sien.
Self is hy ook oormoeg en hy voel al hoe meer uitgeput - die gevolge van die byna bo-menslike harde studiewerk in Nederland. Die komende maande sal sy reeds swak gestel steeds duidelike tekens van hierdie uitgeputheid toon.
In Pretoria kom hulle weer by ds. Petrus Postma, daardie wonderlike broer en vriend in donker dae. Hier kan Du Toit ’n duideliker beeld van toestande na die oorlog kry, ook die moontlikhede en vooruitsigte om deur ’n Gereformeerde gemeente beroep te word.
Op Nylstroom is die ontvangs van die jong geleerde doktor, terug uit Europa, allerhartliks! Marie se familie is seifs opgewonde, en ds. Koos van Rooy laat geen steen onaangeroerd om sy toekomstige swaer te help nie.
Maar snags kan dr. Du Toit nie slaap nie. Die oorlog-ellende tref hom nou soos ’n vertraagde skok. Die Gereformeerde Kerk in Nylstroom se pastorie was vir ’n lang tyd ’n hospitaal en in die kamer waarin hy moet slaap, het baie kinders gesterf. In die vensterbank lê selfs nog ’n pragtige haarlokkie van een van hierdie kinders wat maar in teerheid nog daar gelaat is! O, die kinders, die bloeisels van ons volk ...
En nes die bloesems het hul ook, met ogies wonderreine, hier in die wêreld rondgekyk – die baie liewe kleine.
Helaas, dat hul te gou die wêeld ingekyk het, en onverwagte rypnag oor hul ogies neergestryk het.
Op Sondag, 31 Mei 1903, preek dr. J. D. du Toit weer vir die eerste keer in Suid-Affika. Dit is in die Gereformeerde - kerk Waterberg op Nylstroom. Maar dit is vir hom ’n moeilike taak. Nooit het hy besef dat hy liggaamlik so uitgeput is nie. Uit vrees dat hy sal ineenstort, hou hy selfs onder die gebed aan die kansel vas.
Die volgende Sondag is hy in Pietersburg se wêreld en die week daarop vertrek hy weer na Pretoria om vir die tweede keer gereelde dienste aldaar waar te neem. Hierdie keer kon die Turkstras en Bergmans en Van Rijses en die goeie vriende wat hom drie jaar vantevore as’t ware na Nederahd gedwing het, die wonderlike vreugde smag om doktor J. D. du Toit voor hulle op die kansel te sien. Hulle moeite is ryklik beloon!
Maar proponent dr. Du Toit kry na maande geen beroep nie! Hy is onder verdenking in kerklike kringe - dit is nie hardop gesê nie, maar daar is gefluister: "Hy is mos die seun van S. J. du Toit. En julle weet wie is dominee S. J. du Toit? Hy het mos teen Kruger gedraai en ’n Rhodesman geword . . . ons moet baie versigtig wees wie ons beroep . . . en hoekom het hy nie enduit onder ons mense gebly nie, maar buiteland toe gevlug...?”
Aaklig word die innerlike pyn. Hy is fyngevoelig genoeg om die passiewe weerstand aan te voel. Hy praat selfs met ds. Petrus Postma hieroor en weer gee hy kosbare raad. "Vergeet daarvan, Japie. Steur jou nie aan so iets nie . .. Ons ken jou tog! ”
Die gevoel van miskenning is egter baie swaar. Een na die ander gemeente wat vakant is, beroep, maar die jong dr. J. D. du Toit kom nie eens in aanmerking nie: Reddersburg, Belfast, Heidelberg . . . "Dinge met my vader het eenvoudig teen my getel’ sê hy baie jare later self.
Maar die drie Postma-broers, Marthinus, Dirk en Petrus, staan hom deur dik en dun by.
Op 5 Julie 1903 raak die gemeente van Potchefstroom vakant toe die hoogsbejaarde en toe reeds swak ds. T. L. Maury aftree. Ds. Marthinus Postma van Fordsburg neem dr. Du Toit saam vir die geleentheid en hy preek twee keer voor die gemeente. Die volgende berig verskyn in die pers: "Zaterdag nm. in de Voorbereidingsure tree Dr. Du Toit voor een talrijk gehoor op en boeide aller aandacht door zijn weldoordachte en toch zeer eenvoudig voorgedragen rede oor 2 Kor. 5 : 17, 20.” Hierdie preek was die keerpunt in die algemene houding oor die jong geleerde proponent. Meteens het die miskenning plek gemaak maak vir bewondering. Op die lippe van die honderde kampeerders op die kerkplein was daar nou net een onderwerp wat hulle besig gehou het: die prediking van hierdie jong man! En ook die volgende preek het die Potchefstromers diep in die hart aangegryp: "Ik wil barmhartigheid en niet offerande” (Matt. 9:13). Bekendes onder die gehoor is van die manne wat saam met hom in die slag van Magersfontein was. Gedagtes gaan terug na meer as drie jaar tevore. Daar is die Yssels van Ventersdorp, die Schuttes van Buffeldooms en die Schoemans van Vaalrivier.
En toe kom die beroep! Die aantal stemme vir dr. Du Toit is oorweldigend, al is daar vantevore baie propaganda gemaak vir ’n predikant uit die Vrystaat.
Met die beroep na Potchefstroom. het ook die finale reëlings vir die troudag met Marie Postma op 26 Augustus te Nylstroom gekom. Dit verloop egter met ’n reeks praktiese terugslae: eers ’n pynlike harde val uit die bewegende trein op die platform van Nylstroom se stasie - hy het gedink die trein staan stil. Dan is die pragtige veerwaentjie vir die troue op die laaste nie beskikbaar nie. "Op die laaste minuut moes ons ander planne maak,” vertel Marie Postma later. En so kom dr. Du Toit met sy bruid in ’n doodgewone tweesitplek-perdekar daardie middag by die kerk aan. Maar tog word dit ’n fees, en vir die Postmafamilie is dit byna iets soos ’n reünie.
Die wittebroodsreis is na Burgersdorp, na die ou "mekka” met sy vriende en studentemaats. Onvergeetlik en aangrypend is die jong doktor se preek in die Gereformeerde kerk oor Jakob en Esau met die teks uit Gen. 25:30: "Laat my tog sluk van die rooigoed daar, want ek is moeg . . .” Hy moes ook in Steynsburg preek voor die reis na Potchefstroom. Dr. Du Toit word meer en meer bekend. en as die nuwe jong pastoriepaar op 23 September in Potchefstroom aankom, word dit iets van ’n segetog. Selfs in hulle diepste armoede kom die Wes-Transvalers van heinde en verre om die dominee en sy vrou te ontvang.
Die armoede en vervalle toestand na die oorlog is aangrypend. Die ou pastorie waarin ds. Maury jare gewoon het, is allertreurigs, byna spookagtig. Die houtluike is van voor die oorlog af nog steeds toegespyker. Baie jare lank het van die gemeenteseuns se duiwe in die solder gebroei, en nou kom die duiwemis tussen die nate van die plafonplanke deur; ou spinnerakke hang soos toue. En die Engelse buurvrou wag ook nie lank om die treurige toestand van die ou huis met geur en kleur oor die draad aan die jong pastorievroutjie te beskryf nie:
". . . And those haunted trees!” Dan wys sy met groot gebaar na die groot bome reg voor die huis wat die nag nog soveel donkerder maak dat die uile van die plek hou! Daardie eerste nag reeds word nie ’n oog toegemaak nie - ook vanweë ongewenste naginsekte wat uit die splete van die ou hout en van agter die muurpapier uitkom: Alles die gevolg van uiterste verwaarlosing en ongewenste mense in die oorlogsjare.
Die nuwe predikant het egter aangeland in Potchefstroom. Op 26 September 1903 lewer hy sy intreepreek oor Psalm 122:8 en 9: "Ter wille van my broers en my vriende wil ek spreek: Vrede vir jou! Ter wille van die huis van die Here ons God wil ek die goeie vir jou soek.”
Dr. J. D. du Toit se arbeidsveld as predikant was feitlik die hele Wes-Transvaal, vanaf die Vaalrivier in Parys se wêreld tot by Veertienstrome en noordwaarts tot in Pilansberg! Maar dit is nie al nie: as. konsulent moes hy ook dikwels na die Waterberge en veder na Petersburg en Louis Trichardt se wêreld. Van die more tot die aand was dit eenvoudig net werk, werk, werk! Mense opsoek, kinders onderrig gee in die katkisasies, vervalle toestande deur die oorlog weer probeer opbou, wanpraktyke deur verwaarlosing probeer opruim, armoede bekamp . .. Maar oral moet die werk gedoen word, en byna bomenslike kragte word vereis. Op Pietersburg moes dr. Du Toit op ’n keer 34 kinders doop – 68 ouers staan voor die kansel.
En die vervoer! Hier en daar ’n stukkie treinspoor, verder bokkie-karre, skotskarre of ’n fiets. ’n Diaken maak op ’n keer verskoning: "Meneer Tooi moenie verwonderd opkyk nie, want ons ry nou met spinnekoppe, torre en kakebene.” Dikwels beweeg "meneer Tooi” (so het baie van sy gemeente hom genoem) met ’n fiets, selfs myle die distrik van Potchefstroom in.
Dit is ’n wereld van puinhope. Langs die Skoonspruit van Ventersdorp word hy wreed geskok: die nege huise van die Ysselbroers is almal afgebrande murasies. Nou moet hulle onder ou verroeste sinkplate skuins teen die mure lewe. Oorlogsgeweld, ballingskap en konsentrasiekampe het oral hul tekens en letsels gelaat, en moedeloosheid het dikwels gedreig om die oorhand te kry. Maar dan is dit tog die jong predikant wat Sondag na Sondag en week na week tydens buitedienste met die blye boodskap van die Evangelie kom.
Dit bly egter nie net by preke nie. Die predikant van Potchefstroom word ook die dinamiese stukrag in die kerklike pers, die beweging vir Christelike Nasionale Onderwys en die volkslewe. In die kerklike lewe staan hy dadelik in die brandpunt van die eerste krisisjare van hierdie eeu. Met sy vaardige pen produseer hy tydskrifartikels en brosjures teen ’n ongekende tempo, en uit die rykdom van sy Skrifkennis en enorme kennis oor die kerk en die wêreld en ook die eie bodem, word sy mense voortdurend deur geskrifte opgebou. Veral Die Kerkblad word die orgaan wat die energieke jong dominee en sy kerk se standpunt op baie terreine moet verdedig. Soos iemand gesê het: Die Kerkblad het die slingervel geword waarmee die jong Dawid sy gladde klippe geslinger het teen die Goliatte ...”
En dan die stryd vir die Christelike Onderwys, die bekende C.N.O.-stryd. Dit was,die stryd vir die behoud van die Afrikanersiel na die oorlog. Lord Milner het met sy imperialistiese politiek verbete op die skole toegeslaan, en as daar nog iets van die Afrikanerkind se "eie” moes oorbly, moes daar vir die volk eie skole kom. In hierdie stryd was dr. J. D. du Toit op die voorpunt. In die Potchefstroom-distrik alleen inspekteer hy (dikwels met sy trapfiets) 13 van hierdie C.N.O.-skole. Dan is daar weer die entoesiastiese onderwyskongresse in die Susanna-saal van Pretoria! Dit was die hoogtepunte van ’n volksbeweging: saam met die Boeregeneraals, voor rede: "ChristeIike Onderwys met of sonder veral Beyers, was dit die predikant uit Potchefstroom wat aan die spits gestaan het. In ’n stampvol saal dogma”. Dit is ’n geesdriftige skare en dr. Du Toit lewer sy beroemde preek oor ’n profetiese woord, en geweldig is die reaksie. Oor die onderwys bestaan daar eenvoudig vir dr. Du Toit geen kompromie met ’n "neutrale” beginsel nie, en hy dwing elkeen tot 'n posisiekeuse: "0, hoe bitter sal die ontnugtering wees, ten minste solank ons ons heil verwag van ’n skool wat van sy sentrum losgeruk is, en met geen ander doel nie as om ’n nasie stoflik vooruit te help. Geen utilisme, geen modefilosofie of modeteorie nie maar alleen geregtigheid kan ’n volk verhoog.”
Die volgende dag is die Volkstem, die bekende Pretoriase koerant, in ’n hoofartikel bitsig oor die jong predikant van Potchefstroom wat "’n twisappel werp” wat die "lewenskrag van die volk ondermyn”. Dr. Du Toit se reaksie is vlymskerp: "Ons is reeds lankal moeg van die verdagmakende geroep dat die wat nog op grond van die Woord van God durf pleit vir die beginsels van die vaders, ’n onrusstoker, ja, selfs ’n ondermyner is van die lewenskrag van ons volk.”
Intussen het die Teologiese Skool van Burgersdorp af na Potchefstroom verskuif. En ook in hierdie groot stap was dit weer eens dr. J. D. du Toit wat die voortou geneem het. Op die Sinode van Middelburg in 1904 kom hy nie alleen met die voorstel dat die plek van die Teologiese Skool op Potchefstroom moet wees me, maar ook met die aanbod van oor die R6 000 wat hy in verskillende gemeentes gekollekteer het en die verkryging van ’n aantal erwe in die dorp.
En saam met die Teologiese Skool het ook die bekende prof. Jan Lion Cachet hom op Potchefstroom kom vestig. Ook Ferdinand Postma, die ou studentemaat uit Amsterdam, het gekom om verder sy hele lewe aan hierdie inrigting te wy. Daaruit het die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys later ontstaan.
Die oorwonne nasie moes uit die stof en as van die Tweede Vryheidsoorlog weer opstaan. Die kerk moes ook uit die puin herrys. Daaraan het dr. Du Toit homself met volle krag en talente oorgegee. Preek . . . preek . . . preek! Nie alleen op die kansels van kerkgeboue nie, maar ook in waenhuise en skure en eensame plaaswonings. Nie alleen met die mond voor gehore nie, maar ook in ’n aanhoudende stroom van geskrifte! Nie alleen in die klein kring van ’n kerkraadsvergadering nie, maar ook in ’n groot sinode is Potchefstroom se predikant deurgloei met ywer en geesdrif. "Daar moet stryd wees, dan is daar lewe in die siel,” verklaar hy op ’n keer teenoor’n groep kerkmanne wat moedeloos voel.
Vir J. D. du Toit blv die voortbestaan van die Afrikaanse volk met sy godsdiens, sy taal en kultuur altyd ’n "trek” vorentoe: ”Die Israeliet het sy Jerusalem waarvan hy sê: As ek jou vergeet. (Ps. 137). Die Arabier, hoe ver ook verdwaald in die matelose woestyne van Noord-Afrika, sprei sv kombers voor hom uit na diekant van Mekka en hy buig hom hoopvol neer. Die Engelsman het sy Home, die Duitser sy Heimat, die Fransman la Patrie - klanke wat onuitspreeklike sielsemosies wek. En die Afrikaner? Hy trek; is dit nie met sy voete nie, dan met sy gedagtes. In sy droom sien hy wel heuwels wat wink, en laagtes wat lag, ’n paradys van bossies en grasveld, en daarbo is die sonnehemel ’n droom, maar daar is geen mense nie, en... hy trek.”
Hierdie predikant maak nie alleen preke vir die kansel nie. Maar as hy klaar uit die diep goudmyn van die Heilige Skrif gedelf het en uit die skat van sy enorme teologiese boekery, en hy die preek waarvan elke woord gekontroleer is, netjies neergeskryf het vir die Sondag, dan is hy Maandag nog nie daarmee klaar nie. Dan is daar ook ’n ander laai in sy studeertafel waar ander velle papier ingeskuif word met juwele van gedagtes - Totius se gedigte !
Met die winters wat elke jaar weer kom, sien hy die verganklikheid van die gras wat verdor en vergaan. Hy dink aan Jesaja 15:6," het gras is verdord, het teerdere gras is vergaan, er is geen groente”. Hy sien ook hoe ’n swaar ossewa naby Buffeldooms ’n klein doringboompie plattrap. En werklik . .. na maande sien hy weer dieselfde boompie wat in sy groen blare uitbreek; hy het op- gestaan en hy groei! Onvergeetlik: "Dat gij niet vergeet de dingen die uwe ogen gezien hebben” (Deut. 4:9). So ontstaan die bekende gedigVergewe en vergeet”
En dan kom dit! Die predikant wat leef met die Bybel, maar ook leef met sy mense en leed van sy volk, se digtersiel kry vlerke in die dinge wat hy sien. Die wrede oorlog, die gevolge van die konsentrasiekampe, die dood van kinders, afgebrande plase, eensame bannelinge, ’n stroom van leed gaan stol in verse van die digter Totius wat saam met die ander manne soos Jan Celliers en Louis Leipoldt weer die volk in sy hart met sy eie taal aangryp
Begin September 1908 word die manuskrip van ’n klein boekie gepos na die voormalige president M. T. Steyn op sy plaas Onze Rust in die Vrystaat. Dit is ’n verrassing! Die liggaamlik afgetakelde oud-president leef steeds onder die chroniese smart en leed van sy volk, en hier kom daardie verkwikkende geskrif, ’n digbundel: By Die Monument, Verse van Totius. Die jong geleerde predikant uit Potchefstroom het dit juis vir hom (Steyn) gestuur om ’n voorwoord te skryf. Dit word ’n heerlike voorreg, want dit is ’n onbaatsugtige daad van Totius: geen geld vir homself nie, maar alles ten bate van die oprigting van die Vrouemonument in Bloemfontein! En so word hierdie verse vir president Steyn "so heerlik soos die geluid van die eerste reëndruppels na ’n langdurige droogte”.
Die eerste digbundel word voltooi in dieselfde week toe daar groot vreugde in die pastorie heers: ’n tweede seun, Dirk, genoem na sy grootvader, Dirk Postma, is op 8 September 1908 gebore. Saam met Fanus (gebore op 20 Julie 1905) en Wilhelmina (gebore 4 Februarie 1907) is daar nou drie kinders in die huis.
Reeds vroeg in die volgende jaar verskyn Totius se tweede digbundel, Verse van Potgieter se Trek. Saam met die laai wat vol word van preke, groei ook die stapel gedigte - soms op flentertjies papier en selfs op die agterkant van ’n tjekboek. Op die paaie van sy predikantswerk word hulle gebore - op die vlaktes van Wes Transvaal of in ’n stoel voor die wintervuur. Op ’n keer skryf hy seifs ’n paar versreëls op die Sondaghemp se harde mou-mansjet neer, en mevrou Du Toit moet dit Maandagmore weer haastig uit die wasbalie red! Daardie gediggie moet eers afgeskryf word.
Agt iaar lank is dr. J. D. du Toit predikant van die Gereformeerde Kerk Potchefstroom, Diep lê die spore van hierdie jong dominee op die walle van die Mooirivier, in Kerkstraat en Molenstraat: bv die Gimnasium-Hoërskool. die Teologiese Skool met sy "literariese departement” wat later uitgroei tot ’n Universiteit; van sy preke en huisbesoek en ’n stroom van teologiese en ander geskrifte. En sy stem word oral met geesdrif opgevang - in sinodes en konferensies oor Christelike Onderwys, maar ook oor volksake en politieke gebeurtenisse swyg hy nooit. Selfs in Europa en Amerika word daar in die pers kennis geneem van wat Du Toit sê. Wat hy Sondag vir sy gemeente preek, vind Maandag weer gestalte in ’n persartikel of ’n gedig. In die naoorlogse tyd van "vergewe en vergeet” is Totius se standpunt nie onduidelik nie: "Gaan lees my gedig met dieselfde titel, en julle weet hoe dat ek dit sien.” Die vertrapte doringboompie moet weer opstaan!
Dit was die tyd van die "Konsiliasie”-politiek. Drie van die Boeregeneraals kom telkens saam om landsake te bespreek. Dit was De Wet, De la Rey en Beyers. So ’n groot vertroue het hulle in die jong geleerde predikant van Potchefstroom dat hulle hom telkens in hulle gesprekke betrek. Veral met generaals De la Rey en Beyers het dit tot baie lang gesprekke ontwikkel. Nooit het hy besef dat albei binne enkele jare die slagoffers van ’n bloedige konflik sou word nie.
Die kerkman word ook Volksman.
Vooroordeel het plek gemaak vir vertroue - wonderlike vertroue.
Vervolg...