V. E. d'Assonville
Lees reeks by TOTIUS - Profeet van Mooirivier
Professor in teologie
Goeie Vrydag, 14 April 1911.
Die groot kerkplein van die Gereformeerde kerk is volgepak met kampeerders. Volgens persberigte was daar nog nooit tevore so baie mense nie. Ook die hele Potchefstroom voel die stemming van ’n naweek met sy grootse geleenthede: afskeid van die bejaarde prof. Jan Lion Cachet en die bevestiging van die nuwe, jeugdige prof. in Teologie, dr. J. D. du Toit. Dat die kerk soveel vertroue in die 34-jarige predikant van Potchefstroom gehad het om die hele teologiese opleiding aan hom toe te vertrou, het soveel byval gevind dat daar van heinde en verre belangstellendes opgedaag het. Selfs uit die buiteland is daar entoesiasme en sy bekwaamhede word hoog geroem – "We hebben ons hier alien zeer verblijd dat Du Toit als je opvolger gekozen is" . . skryf professor Cachet se broer Carel uit Nederland.
Op Saterdag, 15 April, neem ds. Petrus Postma die inhuldigingsplegtigheid waar. In die stampvol kerkgebou - honderde stoele moes reeds die vorige dag bygebring word - spreek hy o.a. die jong professor soos volg aan: "God se weë is wonderlik. ’n Verwoestende oorlog in ons land het gemaak dat ons u uit die land moes wegstuur na Nederland. Hoewel u bereid was tot diens vir u vaderland, was dit tog beter dat u kon toegerus word om die kerk soveel beter te dien.”
En toe volg dr. Du Toit se intreerede as professor in Teologie. Die tema is "Die sestiende-eeuse profesie en die betekenis daarvan vir ons tyd”. Dit is met een woord uniek. Sommige kenners sê dat dit die grootste "intreerede” van ’n teologiese professor was wat nog ooit in Suid-Afrika gelewer is. Dit is Totius op sy beste, wat ’n uitstekende voorbeeld gegee het van sy volgehoue advies aan teologiese studente: "Studeer hard - preek eenvoudig! ” Die hoogstaande wetenskaplike gehalte van hierdie rede met sy uitstekende dokumentasie as bewysgronde, die geniale oorspronklikheid en die uitmuntende kennis van die geskiedenis van die Reformasie met die sterk pleidooie dat die Heilige Skrif altyd beheersend in die teologie moet wees, word hier op sy suiwerste vertolk.
Professor Du Toit eindig sy rede met ’n indringende woord tot sy studente in die trant van die groot gereformeerde teoloog Voetius in die 17de eeu: "Ek vermaan julle om elke dag met God te begin en te eindig. Ondersoek daagliks die Skrif. Hou julle besig in gebed en ander oefeninge van die Godsaligheid en julle moet julle voortdurend met ernstige boetedoening tot God bekeer.” En om dit nog eens in te skerp, herhaal hy dit in die ryke klanke van die oorspronklike Latynse taal. Die skare sit met asemlose stilte. Totius gaan nog een sin spreek:
"Moenie vergeet nie, studente, dat wat die ware teoloog moet versier, is: oratio, meditatio, tentatio.” (Welsprekendheid, besinning, inspanning.)
Na hierdie indrukwekkende plegtigheid gaan die studente haastig noordwaarts deur die vlei na die gebouekompleks waar die bekende Bult van Potchefstroom begin. Daar staan die geboue op ’n ry: die studentekoshuis, die Teologiese skoolgebou, die huis van die professor en op die punt die gebou van die Voorbereidende Skool ( die latere Hoërskool Gimnasium) - alles die werk van ’n klein groep besielde mense wat op die oorlogspuinhope aan die begin van hierdie eeu ’n bolwerk vir die Calvinisme wou bou. In die saal van die Voorbereidende Skool is daar fees. Op plegtige wyse word afskeid geneem van die hoogbejaarde prof. Cachet en terselfdertyd laat hulle die jeugdige dr. Du Toit besonder tuis voel in sy nuwe hoedanigheid - selfs ’n nuwe toga word aan hom oorhandig!
Dat J. D. du Toit vir Jan Lion Cachet opgevolg het, het onberekenbare betekenis vir die toekomstige koers van Potchefstroom. Dit laat ’n mens dink aan Elia se mantel wat op Elisa geval het, en nooit het dr. Du Toit geskroom om te vertel van sy voorganger se enorme invloed op hom nie. En Cachet was ’n man wat gestam het uit die Reveilkringe in Nederland: daar het ons meteens ook die antwoord waarom Du Toit so ’n bewonderaar was van Bilderdijk, Da Costa en Groen van Prinsterer!
En hierby kom nog die buitengewone akademiese vorming onder die grootste gereformeerde teoloë van hulle tyd — dink net aan A. Kuyper, Herman Bavinck en F. L. Rutgers! Die jong professor se vorming en jarelange intense studie was so buitegewoon en sy bekwaamhede so geniaal dat iemand selfs praat van sy "ensiklopediese kennis van die teologie”.
Maandag begin die klasse weer. In die klein gemeenskap van die Bult moet dr. Du Toit saam met vyf ander manne van die "Literariese departement” agter die kateder gaan staan. Vandag nog staan hulle name in die ou notules en kennisgewings met die vakke wat hulle moes doseer: F. Postma vir Latyn, Grieks, Engels en Wysbegeerte; A. P. C. Duvenage vir Wiskunde, Toegepaste Wiskunde en Natuurkunde; J. Kamp vir Nederlands, Duits en Geskiedenis; J. J. A. Coetzee as onderwyser vir die Voorbereidende Skool (Gimnasium). En die vakke van prof. Du Toit? Ongelooflik! Al sou prof. Lion Cachet nog hulp in enkele vakke verleen, is prof. Du Toit se taak ondenkbaar groot en ongeëwenaar. Kyk net na die lys:
Eksegese van die Ou Testament
Eksegese van die Nuwe Testament
Hermeneutiek en Tekskritiek
Kerkgeskiedenis
Ensiklopedie van die Teologie
Homiletiek
Kategetiek
Hebreeuse grammatika en sintaksis
Bybelse Argeologie en Geografie
Algemene en Besondere Kanoniek
Dogmatiek
Etiek
Kerkreg
Liturgie
Pastoraal
So sou prof. Du Toit egter nie lank kon aanhou nie, en almal het begin besef dat hy ’n feitlik bomenslike taak verrig. Daarby was hy ook nog redakteur van Die Kerkblad. En wat ’n stroom van artikels vloei ’n halwe eeu lank hier uit sy pen! Dan is hy ook nog boonop ’n geleerde bo die gemiddelde in Suid-Afrika wat voortdurend nie alleen sy eie kerk nie, maar ook andere van raad bedien. Ds. J. V. Coetzee verklaar hieroor: "Ek kan met veiligheid sê dat daar sedert 1911 geen enkele belangrike pre-advies op die Sinodale tafel gekom het waaraan hy nie in meerdere of mindere mate saamgewerk het nie. Nie alleen deur sy adviese in die Sinodale vergaderings het hy gesonde en duidelike leiding aan die Gereformeerde gemeentes van Suid-Afrika gegee nie, maar ook deur sy adviese in mindere vergaderings en aan die kerkrade. As deeglike kenner van die Gereformeerde Kerkreg het hy feitlik die vraagbaak geword ... Daar is seker nie baie mense wat besef wat sy kerkregtelike adviese ook al vir die ander twee Afrikaanse Kerke in ons land in krisistye beteken het nie.” Dink net aan die hofsaak toe daar ’n poging was om die Rebelle van Hoopstad in die N.G. Kerk in 1914 te "ontdek”. Totius was die man wat adv. Tielman Roos moes bystaan om sy kerk te verdedig.
Aan die begin van 1914 kry prof. Du Toit ’n kollega vir die Teologie in die persoon van dr. S. O. Los. Dit is ’n groot uitkoms, want hy word onthef van die Nuwe Testamentiese vakke. En tog kom daar weer nuwe take: die "Literariese departement” van die Teologiese Skool onder leiding van prof. F. Postma brei uit en die tekort aan dosente word ’n noodsituasie. Dan is dit prof. Du Toit wat inspring en hy doseer jare lank Staatsleer, Etiek, Filosofie, Opvoedkunde en selfs Letterkunde!
Die jong professor van Potchefstroom word egter baie gou in die vloedgolwe van die Afrikaanse volkslewe ingetrek. Die onthulling van die Vrouemonument in Bloemfontein op 16 Desember 1913 het weer die Afrikaanse volksiel so diep ontroer dat ’n besielde nasionalisme onkeerbaar geword het. Op daardie dag vergader daar 20 000 Afrikaners om hulde te bring aan die vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe gesterf het. Vir die laaste keer in die geskiedenis is al die Boeregeneraals nog in ’n hegte eenheid saamgebind. Vir die laaste keer sit pres. Steyn omring deur Botha, Smuts, De Wet, De la Rey, Hertzog en ander. Die volgende jaar, by genl. De la Rey se begrafnis, sou hulle mekaar weer ontmoet - maar dan met wantroue, verbittering en agterdog onder mekaar!
Onder die toesprake wat gelewer word, saam met genls. Botha en De Wet en verteenwoordigers van die Afrikaanse kerke, is ook dié van prof. dr. J. D. du Toit van Potchefstroom! Die volk ken hom reeds. Dit is Totius die digter. Dit is dan juis hy wat sy eerste digbundel in 1908 al aan hierdie monument verbind het. Binne enkele jare het sy stem voortdurend weerklink in Verse van Potgieter’s Trek, Wilgerboombogtes en, pas voor die onthuiling van die Vrouemonument, Ragel. Na aanleiding van die laasgenoemde digbundel sê pres. Steyn: "Met ’n profetiese oog het die digter gesien dat die toekoms van ons Land en ons Volk in die wieg lê. Dit is die wieg wat traagheid en selfsug vernietig, wat die arbeid en die liefde bevorder, en wat ons volk veredel en bewaar.”
Vervolg...