TOTIUS – PROFEET VAN DIE MOOIRIVIER (12)

V. E. d'Assonville

Lees reeks by TOTIUS - Profeet van Mooirivier

Dit is tien maande ná die onthulling van die Vrouemonument in Bloemfontein op 16 Desember 1913 waar daar 20 000 Afrikaners vergader het om hulde te bring aan die vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe gesterf het. Dit was die laaste keer in die geskiedenis waar al die Boeregeneraals nog in ’n hegte eenheid saamgebind, in geselskap verkeer het met pres. Steyn omring deur Botha, Smuts, De Wet, De la Rey, Hertzog en ander.

Nou, Saterdag 19 September 1914, stroom meer as 10 000 mense na Lichtenburg in Wes-Transvaal, want die volgende dag is die begrafnis van genl. Koos de la Rey. Nie alleen die hele land nie, maar selfs die buiteland is geskok deur die tragedie dat ’n koeël die beroemde generaal in Johannesburg getref het. Die lug is swaar van spanning. Volksemosie het by ’n breekpunt gekom, en met bitterheid word Botha en Smuts aangegluur. Ook Totius is daar - en ook al die studente - want ’n dringende boodskap na Potchefstroom het versoek dat die jong professor deel moet hê aan die leiding by die begrafnis. Saterdagnag soek hy en genl. Beyers ’n eensame plek op en laasgenoemde vertel die volle verhaal van die droewige gebeurtenisse.

Sondagmore is die markplein van Lichtenburg van hoek tot kant gevul. En in die sentrum staan daardie bloedbevlekte motor waarin De la Rey gesterf het - die groot Daimler. Hierdie motor met die koeëlgat is die preekstoel. Op die voorste sitplek staan prof. Du Toit as een van die manne wat die leiding neem. Op die agterste sitplek sit genls. De Wet en Beyers.

Maar Maandag staan die professor in Teologie weer voor sy klasse. Die werk moet voortgaan onder die donker skaduwees van die Eerste Wêreldoorlog met sy deining van broederstryd en rebellie, met al die bitterheid wat weer sulke diep wonde in die Afrikaner- volksbestaan slaan. Totius se digtersiel treur. Laat in die namiddag stap hy peinsend Iangs Molenstraat en dan weer verder af na die Mooirivier. En toe hy terugkom skryf hy weer ’n paar verse neer.

Trekkersweë begin vorm kry. Nie alleen op die preekstoel of in die teologiese klaskamer is hy die profeet vir sy mense nie, maar ook hier moet die werk voltooi word:

Die digter het sy taak volbring.

Die sanger het sy lied gesing ...

In 1915 is die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns se eerste Hertzogprys aan Totius vir Trekkersweë toegeken.

Totius se taak as professor van die Teologiese Skool het hom egter ook spoedig in ’n ander, bitter moeilike stryd laat beland - die stryd om die voortbestaan van hierdie inrigting vir hoër onderwys met sy uitgesproke Christelike wetenskap. Die skroewe van die liberale tydsgees, die onsimpatieke universiteitsinrigtings wat beheer oor die eksamens gehad het en die miskenning deur die owerheid, is stadig maar seker aangedraai, en teen 1916 lyk dit of die "Doppers van Potchefstroom” doodgewurg sal word. Die eerste blatante, vermetele daad was toe ’n student, L. J. du Plessis, aan die begin van 1915 ’n beurs waarop hy geregtig was, geweier is. Dit is gewoonlik toegeken aan die student wat die "intermediar”- eksamen met die hoogste lof afê. Maar toe student Du Plessis die onderskeiding behaal, word dit summier geweier. Twee jaar later sou hierdie handelwyse, ondanks die besware van die Teologiese Skool, weer eens deur die offisiële eksamenowerhede herhaal word. Op 22 Oktober 1917 verklaar die kuratore vir die Teologiese Skool: "Student L. J. du Plessis het in sy B.A. so goed gedoen dat hy weer ’n beurs van die Universiteit verwerf het, maar met dieselfde onregverdige bepaling as vroeër, dat hy, om die beurs te gebruik, na ’n Kollege moet gaan wat deur die Regering erken word. Ons Skool kan wel ’n beurs verwerf maar nie geniet nie. Die reg struikel op die straat!

Die tekens was baie duidelik dat die Teologiese Skool met sy "Literariese departement” en die Gimnasium-hoërskool vir hulle voortbestaan in ’n moeilike krisis sou kom. Vir die gedagte van ’n Christelike nasionale onderwys en met name 'n Christelike wetenskap is daar van owerheidsweë geen plek gegun nie, en onder die breë massa van die volk het die idee van "neutrale” onderwys alreeds duidelik sy beslag gekry.

Maar teen so ’n beginselloosheid het J. D. du Toit vierkantig met sy hele wese in opstand gekom. En met die Wet nr. 12 van 1916 deur die hoë owerheid met betrekking tot die Universiteit van Suid- Afrika, was die vet in die vuur: "Niemand mag op enigerlei wyse aangaande sy godsdienstige gesindheid getoets word as voorwaarde om gegradueerde van die Universiteit, of professor, lektor, dosent of student van die Universiteit te word of te bly nie... ens.” Totius se standpunt teen so ’n liberate beginsel, wat meteens ’n gewetensdwang op ander uitoefen, is deur sy hele lewe konsekwent en duidelik. Op ’n keer formuleer hy dit soos volg: "Ons bly pal staan by ons standpunt: ’n Christelike nasie is verplig om sy Christelike (spesiaal reformatoriese) dogmas oral, ook op die universiteit, kloekmoedig te bely, anders is hy die woord 'Christelik’ nie werd nie. Laat ander sogenaamde neutrale skole stig as hulle dit begeer. Ons mag dit nie doen nie. Ons Christennaam mag nie met ons daad bots nie.” En dan sluit hy hom ook aan by ’n woord van die gereformeerde teoloog Voetius wat gesê het: "Wat in die gehoorsaal verkondig word, kom netnou op die mark van die lewe.” Aan hierdie uitspraak voeg prof. Du Toit ook nog die woorde toe: "Kom netnou in die heiligdom van die kerk! ”

Die stryd ter wille van Christelike Hoër Onderwys in Suid-Afrika was aan die gang en dit kon nie meer by praatjies bly nie. Saam met F. Postma was J. D. du Toit en hulle mense direk in botsing met die regering. Dit sou ’n stryd van jare wees wat sou woed rondom die sogenaamde "gewetensklousule” en die voortbestaan van staatsgesubsidieerde Christelike Hoër Onderwys op Potchefstroom.

Twee sinodes van die Gereformeerde Kerk, in 1916 te Reddersburg en in 1920 te Colesberg, moes dringend handel oor die inkorporasie van die "Literariese departement” van die Teologiese Skool by die Universiteit van Suid-Afrika. So het die Potchefstroomse Universiteitskollege (P.U.K.) ontstaan. Maar die stryd teen die "gewetensklousule” het voortgeduur met proff. J. D. du Toit en F. Postma in die brandpunt. In 1916 stuur die kerk Totius en ds. W. Postma vir ’n week na die Kaap om onderhandelings met minister F. S. Malan oor ’n moontlike subsidie te voer. Prof. Du Toit pleit en by tye smeek hy. En die minister word gewen: die regering staan R8 000 toe!

En toe gaan daar weer ’n deputasie saam met prof. Postma en ander manne van Potchefstroom om dae lank kontak met al die parlementslede te maak. Totius se besoek aan oud-president F. W. Reitz, toe ’n senator, lewer ’n hoogs interessante gesprek:

"Professor, dit is nie nodig om my van julle saak in Potchefstroom te oortuig nie - ek steun julle alreeds heelhartig. Maar daar is iets anders waarvoor ek u hulp dringend nodig het: ons land moet ’n eie vlag kry . . . ek sê u, ons moet dit kry al is dit ’n voorskoot! En julle jonger manne moet aan die werk spring! " Daardie aand word Totius genooi om by die Reitz-gesin te eet. Deneys, die een seun, is ook daar, en breedvoerig moet die begrafnis van generaal De la Rey met die voorafgaande gebeurtenisse vertel word - juis ook alles wat genl. Beyers daardie nag voor die begrafnis aan Totius vertel het.

Predikant en teologiese professor - dit was eintlik J. D. du Toit se lewensroeping ... 8 jaar lank predikant en 38 jaar lank professor, totdat hy in 1949 uit die diens sou tree, maar steeds nog in 1950 aan die Teologiese Skool waarneem.  Dit was sy daaglikse werk en sy Iewensbrood. Die vrugte daarvan is honderde wetenskaplike diktate in al die vakke van die Teologie, tientalle teologiese publikasies, honderde artikels vir kerk en volk en daarby al die baie lesings en toesprake oor die hele land by samekomste.

Professor Du Toit het sy lewe lank ook ’n prediker gebly. EtIike boekdele van sy preke is op skrif, behalwe al die honderde wat nie gepubliseer is nie. Om te preek - vir J. D. du Toit was dit nooit iets anders as om die Heilige Skrif te verklaar nie - was altyd een van sy grootste liefdes. Wat dit behels, beskryf hy meesterlik aan sy studente op 2 Desember 1916 in sy rede oor "Die Preekmetode”. O.a. sê hy: "Ons hou vas aan die beginsel wat in die bloeitydperk van ons Gereformeerde Kerke neergelê is: in die huis van God die Woord van God. Die gemeente van God moet met niks anders as met die kennis van die wil van God gevoed word nie, en hierdie beginsel kom eers tot sy reg as alle eiewillige godsdiens uitgeban en die Skrif self weer die inhoud van alle prediking is.”

En wat Totius in die klaskamer agter die kateder week na week aan sy studente geleer het, het hy Sondag na Sondag op die preekstoel gedemonstreer. Dan is die professor weer een met die gemeente. "Dan voel ’n mens dat hier ’n man aan die woord is wat leef in die Heilige Skrif en vir wie die Skrif lewe. In sy prediking is hy diepsinnig, maar daar is nooit ’n vertoon van geleerdheid nie. Op ongekunstelde manier word die rykdom van die Skrif vir die gemeente geopen, en die Skrifgedeelte wat hy in ’n preek behandel, word onder sy hande soos ’n diamant wat in die lig gedraai word sodat die fasette die digbundels uitskitter. . . "(Ds. J. V. Coetzee, wat Totius 40 jaar lank hoor preek het).

Dit het egter nie by die een lewensroeping - predikant en teologiese professor gebly nie . . . Die lewensroeping wat altyd oorheersend was as ’n lewenstaak, het uitgebreek buitekant die studeerkamer en buitekant die klaskamer en buitekant die mure van die kerkgebou! Dit het gestalte gekry in die digter, die Bybelvertaler, die Psalmberymer, die Volksman . . . dit was alles met een woord: DIENS.

Hy sê op ’n keer aan sy studente: "WIe groot wil wees in die studiewêreld, moet almal se dienaar wees. Hy moet eers ’n leviet wees en daarna 'n priester en moet steeds met ’n buiging van liggaam en siel voor die altaar van die wetenskap nader.”

Huislike smart: vervolg...