V. E. d'Assonville
Lees reeks by TOTIUS - Profeet van Mooirivier
Huislike smart
Passieblomme
Drie weke lank brand die lig elke nag in die huis langs die Teologiese Skool in Molenstraat. Prof. Du Toit was op 10 Oktober 1920 maar pas terug van die uiters spannende sinode op Colesberg. Die moeilike strydpunt oor die inkorporasie van die P.U.K. (Potchefstroomse Universiteitskollege) by die Universiteit van Suid-Afrika het hom ontsettend afgemat. En nou na die terugkoms: dadelik harde werk en eksamens van studente. Maar dan so gou die pynlike gewaarwording: die eenjarige klein Francois is siek, sommer baie siek en die koors bly hoog. Miskien is dit griep, maar na ’n paar dae word dr. Boyd self baie onrustig. ’n Intensiewe ondersoek volg en die diagnose is skrikwekkend: Meningitis - breinvliesontsteking!
Dit word meëdoenlose, spanningvolle dae. Gelukkig is mevrou Du Toit so kalm en sterk; en sy versorg haar kind met soveel toewyding dat almal eintlik meer moed kry. En dan is Wilhelmina, die oudste suster, so ’n onskatbare hulp. Sy is nog maar dertien jaar oud en waak soos ’n klein moedertjie en behartig selfs ’n deel van die huishouding. Fanus en Dirk is, soos tipiese seuns, verslae en dra in stilte hulle kommer. Bettie van amper tien jaar is ook ’n ware klein staatmaker om te stuur en te help. Die sesjarige Japie kan alles nog nie mooi verwerk nie, maar voel kort-kort opnuut die nood van hulle huis. En hulle vader? As ’n mens hom ooit buite sien, dan is dit net om baie haastig gou ’n noodsaaklike plig langsaan by sy klasse te vervul en dan maar weer terug ... In die nagte is daar geen slaap vir hom nie:
Laat my nie slaap terwyl hy ly; want as ek slaap, sal ek vergeet; en o, as uit die dromedom, vir wie dan wegslaap uit die tyd, die weerontwaking skielik kom van more stand en werklikheid! . . .
So gaan die dae en nagte langsaam verby. Alleen van blote oormoegheid sal hy sommer op sy stoel ’n rukkie insluimer en dan maar weer skielik met ’n ruk wakker skrik en haastig oor sy kind gaan neerbuig.
Op Vrydag, 5 November, het dit gelyk of die einde kom. Skielik het prof. Du Toit sy vrou en Wilhelmina geroep. Die asempie het feitlik tot op die grens gekom. En tog, toe kom daar weer ’n opflikkering. Saterdag het hulle hom selfs so ’n bietjie op die stoep met sy bedjie gedra. Die dokter het selfs hoopvol geklink. Maar toe kom Sondag en die koors kan nie meer gekeer word nie. Toe die son agter die rooi wolke in die weste weggesak het, het klein Francois ook sy laaste sterwende snikkies gegee. Totius se belewing daarvan, sou ons eers later, meer as tien jaar later, sien in sy "Vier laaste snikkies" en "Jy het my amper saamgetrek".
Dinsdag het ds. W. J. de Klerk die begrafnis gehou. Potchefstroom en veral die Bult het saam met die Du Toit-gesin getreur. Hulle is oorval met blyke van belangstelling. By die graf staan die digter nog lank en peins; beheers, berustend, maar gebroke . . . totdat ’n vriend hom aan die arm weglei. Weldra word die smartlike gewaarwordings gerangskik en "Passieblomme” ontluik:
En o, die trekking van die graf waarin jou kissie weggegly het: ek het gewankel in my gang toe hul my stil daar weggelei het.
Ja, jy’t my amper saamgetrek toe ek die laaste greep gewaag het; toe jy die diepte in moes sink, alles voor my vaal vervaag het.
Met die aandskemering die volgende dag (Woensdag, 10 November 1920) vervul Totius ’n plig as vader van sy huis: vir Die Kerkblad waarvan hy redakteur is, skryf hy die doodberig van sy eie kind: "Heengegaan, na smartlike krankheid van 3 weke, om as verbondskindjie die ewige rus te geniet, ons kleine FRANCOIS. Een jaar en sewe dae was hy by ons. Al die broeders en susters word hartlik bedank vir die hulpvaardigheid en blyke van belangstelling. Dit was vir ons ’n verkwikking te midde van soveel droefenis ".
En mevrou Marie du Toit? Wat ’n treffende voorbeeld van geloofskrag, al roep hy haar toe: "My vrou, jy ’t meer verloor as ek...”:
Groot is die man wanneer hy pal staan as die stryders om hom val; maar groter is die vrou wat staan as stukke van haar eie vlees word deur die doodswaard weggeslaan.
Op die vierde Sondag ná die sterfdag skryf sy aan haar niggies, die twee susters Nan en Clara van Rooy: "Ek verlang tog baie om hom nog een keer in my arms te druk en die ou koppie teen my wang te voel . . . Ek kan myself taamlik goed hou, maar met die doop van Corrie se kindjie, was dit vir my te veel.” (Hier word verwys na Bertus van Rooy, seun van prof. D. J. van Rooy, wat die dag na Francois se sterfdag gebore is).
Krugerskraal was daardie Desembermaand 1920 ’n groot uitkoms. Hierdie plasie, sowat 24 kilometer ten ooste van Potchefstroom, het Totius in daardie selfde jaar aangekoop as ’n soort van "vakansieplekkie”. Daarheen het die Du Toit-gesin nádie pynlike smart uitgewyk. Op 10 Desember stuur oom Maartin Schoeman ’n ossewa om hulle met al die benodigdhede te vervoer na Dewetsdrift aan die Vrystaatse kant van die Vaalrivier om daar ’n paar dae te kampeer totdat prof. Du Toit op 16 Desember daar by die "Dingaansfees” moet optree. Daarna weer terug na Krugerskraal, die wonderlike plek waar die digter hom telkens uit die gewoel kon terugtrek en wat jare later, in die woorde van prof. Van Gelderen van Nederland, Totius se "Wartburg” sou word (na analogie van die plek waar Maarten Luther die Bybel in Duits vertaal het.)
Op Oujaarsdag help die twee seuns, Fanus en Dirk, hulle vader om ’n waterpyp van die dammetjie bokant die huis na die kombuis aan te lê. Ou Daniël, die Bantoebediende, het ’n paar dae tevore aan die sloot begin grawe.
Die aandgodsdiens is hierdie keer besonder innig en teer. Totius se gebed gaan langs die paaie van die afgeiope jaar. In besonder meld hy van die swaar beproewing so kort gelede in hulle huis - die eerste graf wat vir een van hulle intieme kring oopgegaan het . . . maar God is goed en maak geen fout nie! En toe kom die Psalmsang. In die eensame nagstilte weerklink die stemme - ook Wilhelmina s’n. Die dreuning van die onweer wat netnou nog so ver in die weste gehoor is, het egter vinnig baie naby gekom en kort na die huisgodsdiens word die omtrek telkens helder verlig deur die weerlig, en donderslae skeur die lug. Wilhelmina en Bettie dek die tafel haastig af en mev. Du Toit is besig om Japie in een van die voorste kamers te help sodat hy in die bed kan kom. Totius stap na buite en kyk na die weer. ’n Onverklaarbare weemoed pak hom beet en hy gaan sit weer met sy hand teen sy voorkop by die tafel. Wilhelmina is besig om ’n kombers voor die venster in die dogters se kamer te hang om die skerp lig van die weerlig te verdof . . . En toe gebeur dit! Daardie vreeslike straal wat haar tref! Later vertel Totius dit self soos volg:
"Pas het ek weer by die eetkamertafel gaan sit of ek word opgeskrik deur ’n geweldige knal wat met ’n kort, stewige ruk die hele huis tot in sy fondamente laat beef het. Haastig opgespring, sien ek eerste dat die straal in die slaapkamer regs van die gang ingeslaan het, waar my vrou en twee kinders was. Die kers was doodgeslaan en die spieël het met gedruis afgeval. Ek kon nie presies sien wat daar gebeur het nie. Dadelik sien ek in die slaapkamer links van die gang dat Wilhelmina op die grond lê. Sy en haar sustertjie was daar besig om te ontklee. Ek het toe dadelik haar opgeneem, op haar bed neergelê en probeer om die asemhaling weer op te wek. Tevergeefs ...”
Wat ’n nag! Magtelose konstemasie. Ou Daniël wat in die kombuis geëet het, is half bewusteloos die eetkamer ingeslinger. Fanus se hand het seergekry. Bettie huil. Die moeder roep angstig na haar man . . . Dirk het dadelik die bywoner Leopold Schutte geroep en Ben Coetzee, seun van die buurman, is per fiets in gietende reën na die dorp om die dokter te roep. Intussen die vergeefse worsteling om Wilhelmina se lewe te herwin. Terwyl dit reën, word sy na die stoep gedra. Mev. Du Toit lig met die lantern . . . Dit is duidelik dat sy dood is . . . Die wond aan die linker-armholte word gesien . . . Ook "fyn takkies van weerlig op die maag en bors” . . . En die "wonde in die regtervoet waar die straal uit is” . . . "O die pyn-gedagte: My kind is dood! " Toe roep Totius sy hele huisgesin bymekaar. Op die stoep kniel almal om die doodsbed van Wilhelmina en hy doen ’n hartroerende gebed ...
Ongeveer twee-uur in die nag het dr. Trichardt opgedaag om te konstateer dat sy op slag gedood is. En met al die ondersoeke verby, begin die dag in die ooste breek - die eerste dag van die nuwe jaar 1921!
Leopold Schutte het oom Maartin Schoeman by sy plaas aan die Vaalrivier geroep en hy was spoedig daar om te help, ’n Kis is uitgestuur en toe het oom Maartin vir Wilhelmina met sy perdekar ingeneem. Heel opmerklik dat die een perd met die naam Hermit wat gewoonlik oorlewendig was en soms probleme kon gee, op daardie dag wonderlik mak was. Fanus en Dirk is ook saam met Oom Maartin en die res van die familie het met ’n ander perdekar gevolg.
Intussen kampeer dierbare vriende van die Du Toits op Nuwejaarsdag op ’n eiland in die Vaalrivier naby Parys, nl. prof. Joon van Rooy en sy vrou saam met ds. A. S. E. Yssel en sy vrou. Ook Erich Mayer die skilder is daar. En toe kom die skokkende berig van Wilhelmina se dood. O, en Wilhelmina, of Sussie, soos almal haar geken het, was so na aan die harte van die Van Rooys - in Julie 1920 was sy nog ’n strooimeisie by hulle huwelik! En met hierdie berig word daar maar weer dadelik opgepak. Mevrou Lettie van Rooy (dogter van prof. Jan Lion Cachet) worstel aanhoudend met die vraag oor hoe dr. Du Toit ooit na die seuntjie se dood hierdie slag sal kan verduur! Erich Mayer gee die rustige antwoord: "As daar ooit een is wat dit sal kan dra, dan is dit hy. Mense besef nie watter geweldige, onwrikbare geloof hy het nie! ”
En so is die huis in Molenstraat die tweede keer binne twee maande in rou gedompel. Wat ’n smart! Dierbare vriende het nie woorde om hulle meegevoel te betuig nie. Dit is Nuwejaarsdag. Hier is dit droefheid en stil . . . maar in die verte klink die vreugdeklappers van hulle wat onwetend is!
Die volgende oggend (Sondag) redelik vroeg, word Wilhelmina langs haar broertjie in die graf gelê. Vir ds. W. J. de Klerk, die predikant, is dit weer eens ’n moeilike taak, maar die besondere, berustende beheersdheid van die familie is ’n inspirasie.
Op Maandag 3 Januarie kom oom Maartin Schoeman se wa met al die Du Toits se vakansiebenodigdhede van Krugerskraal dorp toe. Dit talm en Totius ry naderhand met sy fiets uit op die pad tot oor die Mooirivier om vas te stel wanneer hulle kom. En daar op die pad, daar sien hy die wa . . .
Toe kom die wa met al die goed, die somertog se slommersleep, die osse moeg, en middagloom die drywer langsaan met die sweep.
Ek kom hul teë, en daadlik flits die skietgedagte in my: 'Miskien '
Hul kom van daar . . . Laat my maar vra: 'Het julle haar nie dalk gesien?'
Dit was my laaste aardse hoop. En ag, hoe hopeloos gering!
Want - in haar grafkuil lê sy al. Ek het haar self daarheen gebring.
En so het Passieblomme ontstaan. Met die voortdurende smart het die gedigte gegroei en in die lessenaar se laai waar hulle weggesteek is, het hulle in die loop van meer as tien jaar meer geword. Op aandrang van ’n goeie vriend, prof. Gerrit Dekker, is hulle in 1933 gepubliseer. Ook ’n ander vriend, die skilder Pierneef, het gehelp. Die oorspronklike Inleiding waarin die gebeurtenisse met die dood van die twee kinders meer breedvoerig beskryf word, is egter nooit gedruk nie: op die laaste het die digter dit weer ingekort - skugterheid het weer oorheers.
Maar wie sal die wins van Totius se huislike smart ooit kan bereken? Dit was God se skool - om van die digter ook Psalmberymer te maak, sodat hy self iets van die bange dae en donker nagte van Dawid kon deurleef. God het hom geskool sodat die Psalms wat Sondae in die kerk gesing word, so na as moontlik aan die egte, die sublieme suiwerheid kan kom!
Dit was egter ’n lewenslange smart. Reeds in Augustus 1910 het Totius sy ouer broer David plotseling vetloor, vier maande daarna sy suster Bettie, en ook weer vier maande daarna, Mei 1911, sy vader. In Wilgerboombogies wat in 1912 verskyn, sien ons hoe diep dit hom geraak het.
Jare later het die dood hulle familie weer getref toe sy kleindogter, agtien maande oud, op 16 Maart 1940 sterf. Daardie liewe klein Annemarie, Bettie se dogter, het tog weer so ’n wonderlike plek gevul. Hoe dikwels het sy op sy skoot gesit en het hy haar selfs toegelaat om strepe met ’n potlood in sy boeke te trek! Ag, en toe moet dit ook met haar gebeur! Weer is al die wonde rou ... Totius vertel daarvan in die bundel Skemering (1948):
Twintig lange, lange, jare
het ek altyd weer wou weet,
in die raaisel onervare.
En nou tref ons na die jare
weer die allerwrangste leed.
Maar die smart kom nie alleen uit in die gepubliseerde gedigte wat ons ken nie. Daar is ook die ander wat maar in die laai bly lê het, of die een waarmee hy sy dogter se brief beantwoord het : "Verlange na die dode ...”
Bettie, jy meld van jou verlange.
Ek ken dit, kind, die weemoedsgange,
die beevaart van ’n ligte voet
wat na ’n liewe voorwerp spoed.
Maar laat jou hartelike verlange
nie folter deur ’n alte wrange,
’n wrede weerhaak in die vlees.
Laat dit ’n soet verlange wees,
Soos die van pelgrims in hul sange
wat smart versoet in hul verlange
met die refrein: Daar is ’n stad!
En bly is ons daarheen op pad.