DE WET (2)

Lewenskets van Genl. CR. de Wet
Ben Olivier

Lees reeks by GENERAAL CHRISTIAAN DE WET

Die Basoeto’s is verslaan. Oral waar hulle oor die grense van die Republiek van die Oranje-Vrystaat oortree het, is hulle statte vernietig en hulle graanlande afgebrand. Hulle grootkaptein, Mosjesj, vra om vrede. Hy het die hulp van die Kaapkolonie se goewerneur, sir Philip Wodehouse, ingeroep om tussenbei te tree. Hy is nie alleen gewillig om sy krygsmanne terug te trek nie, maar ook om ’n stuk grond aan die Republiek af te staan. Dit alles word bekragtig in die Verdrag van Thaba Bosigo.

Die volgende dag, 4 April 1866, kom al die burgers bymekaar. Hulle kom luister na wat hulle President vir hulle wil sê. Hy staan op ’n wa, 'n man in die fleur van sy jare, ’n man wat hierdie republiek en sy volk se vryheid liefhet met sy hele hart. Klein Christiaan de Wet staan en kyk na hom en luister na sy woorde. Die Vrystaat is ’n vrye staat en ’n vrye staat sal en moet dit bly. Die Vrystaters is ’n vrye volk en ’n vrye volk sal en moet hulle bly. Die gebied wat koning Mosjesj afstaan, word die Verowerde Gebied genoem en hier gaan plase toegeken word aan burgers wat sal onderneem om die nuwe grens te beskerm en te bewaak.

Die President haal sy hoed af en lei self die dankdiens, want dit is aan die Almagtige Skepper wat hulle hul dank vir die oorwinning moet bring. Ten slotte laat hy die burgers die slotsang, Psalm 100, sing. Honderde forse stemme styg uit die vlakte tussen die steil berge op:

Juich, aarde; juicht alom den Heer,
Dient God met blijdschap, geeft Hem eer,
Komt, nadert voor Zijn aangezicht,
Zingt Hem een vrolijk lofgedicht.

Klein Christiaan de Wet beleef dit alles. Nou verstaan hy eers werklik wat hy die ouer mense al so dikwels hoor sê het: "Ons is vry en onafhanklik, en vry en onafhanklik wil ons bly!” Hy weet dit en hy glo dat, onder die leiding van pres. Brand, die Vrystaat, klein soos dit is, die beste republiek in die hele wereld gaan word, ’n model vir al die ander lande op die hele aarde.

Saam met sy vader vertrek hy huis toe, maar sy broer, Jan, bly eers agter. Die Verowerde Gebied word verdeel in plase en Jan het besluit om hier vir hom ’n plaas te koop.

Op Nuwejaarsfontein is daar baie werk, sodat Christiaan dag na dag besig bly. ’n Jaar later raak die Basoeto’s weer opstandig, maar die President en sy burgers is nou vuur en vlam en gou-gou sit hulle Mosjesj en sy krygers op hulle plek. So ferm tree die President op, dat die goewerneur van die Kaapkolonie, sir Philip Wodehouse, gehoor gee aan Mosjesj se noodroep en die Basoeto’s onder sy beskerming neem. So word die probleem opgelos, want nou moet sir Philip Wodehouse en sy regering sorg dat die Basoeto’s nie oortree nie.

In vrede kan Christiaan se broer, Jan, nou sy plaas in die Verowerde Gebied begin opbou. Christiaan is nou veertien jaar oud en hy besluit om ’n week of twee by sy broer te gaan kuier. Eendag is hy in die veld toe sy broer aangejaag kom. Hy bring ’n verpletterende tyding: hulle moeder is oorlede.

Vir Christiaan is dit ’n gebeurtenis wat hom baie diep raak. Sy vader se pligte as veldkomet en ouderling het hom dikwels verplig om van die huis weg te gaan en dan was dit altyd Christiaan wat sy moeder die meeste bygestaan het met die boerdery. Elke ding wat op die plaas gebeur het, elke taak wat verrig moes word, het hulle saam aangepak en saam beleef.

Die veertienjarige Christiaan weet wat sy plig is. Hy keer terug na Nuwejaarsfontein en werp hom met hart en siel in die boerdery. Vanweë sy sterk persoonlikheid en sy skranderheid, is hy die leier onder die kinders en almal begin na hom opsien. Elke dag werk hy so hard as wat hy kan en so goed as wat hy kan om die plaas op te bou, want dit is die ideaal waarmee sy moeder hom besiel het.

’n Ware boerseun moet ook op sy eie voete kan staan, daarom begin Christiaan vir hom ’n klompie vee bymekaarmaak: ’n ryperd, ’n klompie skape en ’n koei of wat. Dit is egter nie al nie. ’n Volwaardige jong man moet ook lidmaat van sy kerk wees. Tien dae lank woon hy dus die katkisasieklasse op Bloemfontein by en word daar as lidmaat voorgestel. Dertig jaar later sou hy nog die teks onthou wat by die geleentheid aan hom gegee is: Zalig zijn de dienstknechten, welke de Here, als Hij komt, zal wakende vinden.

Hierdie Bybelteks het ongetwyfeld ’n diep indruk op die jong man se gemoed gemaak. Tot aan sy einde, vyftig jaar later, het sy God en sy volk hom wakend gevind.

Teen hierdie tyd is Christiaan se ouer broers byna almal al getroud. Hy is nou negentien jaar oud en dus van hubare ouderdom. 'n Sewentienjarige plaasnooi, Cornelia Kruger, trek sy aandag en spoedig gaan hy daar opsitkers opsteek. Die lengte van die kers bepaal hoe welkom die jongman is. Wanneer die kers uitgebrand is, moet hy hom uit die voete maak. Sowel oom Izak as tant Cornelia Kruger hou baie van die wakker, intelligente jong man met die sterk persoonlikheid en dit is dus nie afskeepkersies wat oom Izak in die blaker steek as hy en die tante die tweetjies alleen in die voorkamertjie laat en bed toe gaan nie.

Spoedig praat die jong Cornelia dan ook van haar "Chrissie” en die trotse jong paartjie tree op 23 Junie 1873 in die huwelik.

Aan aardse goedere besit die tweetjies min. Christiaan bou self hulle drievertrek-huisie op Nuwejaarsfontein en hulle vee bestaan uit sestig skape, agt koeie en Christiaan se ryperd! En byna onmiddellik tref swaar teenspoed hulle. Ongekende winterreën en ysige koue dun hul veestapeltjie uit sodat hulle sewe van hul kosbare koeie en ’n hele aantal skape verloor. Aan die einde van die jaar ontvang Christiaan maar sowat tien rand vir sy wolskeersel.

Hulle is egter nie twee mense wat sommer ontmoedig word nie. Cornelia wys nou watter staal daar in haar sit. Die winterreëns stel Christiaan in staat om koring en hawer te saai. Hy werk letterlik dag en nag. Toe die somer kom en die graan word ryp, werk sy saam met hom op die land, nie net bedags nie, maar ook tot om middernag in die maanskyn!

Weke lank kom Christiaan met so min as drie uur slaap per nag klaar. Later, gedurende die oorlog, sou dit blyk dat hy nagte na mekaar sy kommando’s kon lei en dan, terwyl hulle bedags rus, kon voortgaan met ander take.

Die oes is goed, maar nou moet die graan na die mark gebring word. Op die diamantvelde van Kimberley en omgewing is daar 30 000 delwers, sakemanne en ander mense. Hulle behoeftes aan plaasprodukte is groot en daarom is die pryse hoog. Christiaan de Wet besluit dus om sy graan daar te gaan verkoop. Hy besit ’n outydse tentwaentjie wat hy by sy vader gekoop het, maar geen trekosse nie.

Hy deurdink die saak en ry na ’n bemiddelde boer toe.

"Sal jy my help? Sal jy my ’n span osse op uitstel verkoop?”

Die man ken Christiaan de Wet as ’n man van deursettingsvermoë en karakter. Hy laat Christiaan vir hom veertien osse uitsoek.

"Ek gee jou nou 'n jaar uitstel om te betaal,” sê hy en eis geen verdere waarborg as Christiaan se woord nie.

Die transportryery word gou ’n winsgewende onderneming. Nog voordat die jaar uit is, betaal hy vir die span osse, koop vir hom ’n bokwa en, omdat die vragte nou swaarder is, nog twee osse. Een van die osse koop hy vir dertien rand. Dit is presies die wins wat hy maak uit die verkoop van ’n klompie pluimvee. Met sy goeie sin vir humor is dit onvermydelik dat hy die os die naam "Hoendergeld” gee!

Sy togte bring hom ook in aanraking met die Uitlanders: Britte, Amerikaners, Australiërs, Duitsers en Italianers. Hy sien die tegniese wonderwerke van stoommasjiene en die telegraaf wat die diamantstad selfs met die buiteland verbind. Hy leer ook die mag ken wat deur geld uitgeoefen word. Dit laat hom diep dink en hy besef dat sy volk en sy land teen nuwe magte staande sal moet bly.

Hy is ook nie tevrede om sy transportryery net tot Kimberley te beperk nie. Hy gaan ook na die spoeldelwerye aan die Vaalrivier en selfs so ver soos Lydenburg. Hy weet dus ook wat in die Vrystaat se sustersrepubliek aangaan.

Hier vorder sake nie so goed soos in die Vrystaat nie. Die Transvaalse skatkis is leeg. Pres. T. F. Burgers se grootse plan om ’n spoorweg na Delagoabaai te laat bou, het skipbreuk gely en die land in verdere geldelike probleme gedompel. Die papiergeld wat uitgereik is om die posisie te probeer verhelp, daal steeds in waarde. Om alles te kroon dreig Sekoekoeni in die noordooste en die Zoeloes in die suidooste om die Transvaal binne te val.

Aan nog groter armoede en dreigende gevare het die Voortrekkers en hulle nasate al vyftig jaar en langer die hoof gebied. Daar is by die Transvalers dus geen sweem van twyfel dat hulle die toestand weer die hoof sal kan bied nie. Die Britse Regering dink egter anders oor die saak. Hierin word hulle gesterk deur die agitasie van ’n aantal Uitlanders, veral Britte, wat hulle op die Lydenburgse delwerye en elders bevind.

Lord Carnarvon, die Britse minister van kolonies, wat graag die hele Suid-Afrika tot een groot federasie wil omskep, besluit dus om op te tree onder voorwendsel dat die toestand in Transvaal ’n bedreiging vir al die verskillende kolonies en gebiede skep.

As die Transvaal eers onder Britse beheer gebring kan word, sal sy planne makliker vlot. Derhalwe gee hy direk opdrag aan Theophilus Shepstone, die Britse kommissaris in Natal, om sy plan uit te voer. Op 22 Januarie 1877 maak Shepstone, vergesel van vier-en-twintig berede konstabels, sy opwagting in Pretoria, haal die Vierkleur voor die regeringsgebou neer en hys daar die Britse vlag. Alles gebeur só onverwags, dat daar geen teëstand is nie.

Toe die nuus van die anneksasie Bloemfontein bereik, kan almal dit net met ’n skok van ongeloof aanhoor. Oom Jakobus de Wet is juis op besoek in die Vrystaatse hoofstad.

Die oomblik toe hy terugkom op Nuwejaarsfontein, gaan oom Jacobus sy seun opsoek. Hy is nie tuis nie, want hy werk aan ’n klipmuur op Kareefontein, ’n plaas wat deur ’n komitee waarvan sy vader voorsitter is, as kerkplaas aangekoop is. Oom Jacobus ry dus daarheen.

Skaars het vader en seun mekaar gegroet of oom Jacobus sê: "Shepstone het die Transvaal geannekseer!”

Met gebalde vuis slaan Christiaan op ’n klip wat hy pas op die muur gelê het. "Transvaal sal moet terugkom!”

Op sy togte na die Transvaal het hy die mense daar leer ken. Hy weet hoe hartstogtelik hulle hul vryheid liefhet. "Die Transvalers sal nooit in die anneksasie van hulle land berus nie en ek ook nie!” In hom brand daar nou die begeerte om te help om Transvaal weer vry te maak.

Met sy boerdery het dit so voorspoedig gegaan dat hy nou sy eie grond kan aanskaf. Met die doel om naby genoeg te wees om te kan deelneem aan die stryd wat in die Transvaal voorlê, trek hy met sy vrou en kinders na die Noord-Vrystaat en koop 'n plasie in die distrik Vredefort. ’n Paar maande later skaf hy vir hom ’n ander plaas, Weltevreden, aan. Op hierdie plaas is die dorp, Koppies, later gestig. Hy is nou in staat om voortdurend in aanraking te bly met alles wat in die Transvaal gebeur.

Onmiddellik ná die anneksasie het die Transvalers vir Paul Kruger, wat toe pas as Vise-President gekies is, saam met dr. E. Jorissen en Eduard Bok na Engeland gestuur om met lord Carnarvon, nou sekretaris van kolonies, te onderhandel oor die herstel van hulle vryheid. Hy wou egter niks toegee nie en toe Paul Kruger terugkom, begin die Transvalers groot volksvergaderings hou om die vrywording van hul land te bespreek. Hierdie vergaderings woon Christiaan de Wet by. In 1878 word Paul Kruger en Piet Joubert weer gestuur om hulle saak te gaan bepleit.

Hulle reis na Kaapstad om daar ’n skip te haal en die Afrikaners in die Kolonie en in die Moederstad juig hulle toe. Hulle hou ook samesprekings met sir Bartle Frere, die Britse Hoë Kommissaris en goewerneur van die Kaapkolonie. Hy verseker hulle dat die Engelse vlag altyd oor die Transvaal sal wapper.

"Oor die land miskien, maar oor die volk nooit!” antwoord Joubert.

In Londen ontmoet hulle die nuwe minister van kolonies, sir Michael Hicks-Beach. Hy is hooghartig en ontvang die Boereleiers koud en formeel. Met ongeduld luister hy na hulle onweerlegbare argumente, dan sê hy dat hy sy antwoord skriftelik aan hulle sal verstrek. Byna ’n maand lank sit hulle in Londen en wag op sy antwoord. Uiteindelik kom dit. Hy verklaar kortaf dat dit onmoontlik is om die anneksasie te herroep.

Ondertussen groei die ontevredenheid en die verset onder die Transvalers aan. Op 10 Januarie 1879 word ’n groot volksvergadering op Wonderfontein in die distrik Potchefstroom gehou. Hier doen Paul Kruger en Piet Joubert verslag oor hulle mislukte sending na Engeland. Byna drieduisend mense woon hierdie vergadering by. Onder hulle is Christiaan de Wet. Saam met al die ander lê hy die plegtige verbond af om eerder te sterf as om die anneksasie van die Transvaal te aanvaar.

In Maart word daar by Kleinfontein naby Pretoria ’n nog groter vergadering gehou. Hier is vyfduisend burgers bymekaar en hulle is gewapen. Sir Bartle Frere is op pad Pretoria toe en hulle wag hom in. ’n Week, twee weke lank laat hy hulle op hom wag, dan daag hy en die nuwe Administrateur van die Transvaal, sir Owen Lanyott, op. Die Boere vorm twee lang rye. Die hoë Britse amptenare in hulle skitterende uniforms moet tussen die twee rye deur ry. Kil en swygend, geweer in die hand, staar die burgers hulle aan.

Sir Bartle is woedend. Hy ontmoet die Boereleiers en waarsku hulle dat hulle in die moeilikheid sal beland as gevolg van hulle optrede. In Pretoria begin sir Owen Lanyon om versterkings op te rig, want hy raak onrustig dat die Boere straks met geweld mag optree.

In Engeland word nou besluit dat Frere miskien nie die beste man is om die saak te hanteer nie. Hy word vervang deur sir Garnet Wolseley wat as nuwe Hoë Kommissaris besoek aan Pretoria bring. Sir Garnet se optrede vererger egter sake. Hy sê: "Die herstel van die Transvaal se onafhanklikheid is net so onmoontlik as wat die Vaalrivier na sy bron kan terugvloei.”

Saam met sy medeburgers beleef Christiaan de Wet elk van hierdie gebeurtenisse. In Augustus 1880 trek hy oor die Vaalrivier en vestig hom op die plaas Rietfontein in die distrik Heidelberg. Het hy dan nie saam met die Transvalers die plegtige belofte afgelê om, as dit nodig mag wees, sy lewe op te offer sodat die vryheid herstel kan word nie? Hy weet dat as daar ’n oorlog kom, dit nie ’n oorlog tussen Transvaal en Groot-Brittanje sal wees nie, maar dat so ’n oorlog sal gaan om die behoud van die ganse Afrikanervolk.

In Desember word sake tot op die spits gedryf. Op Paardekraal kom vyfduisend burgers sowel as al hul leiers byeen. Die Volksraad word herstel en die bestuur van die land word opgedra aan die driemanskap, Paul Kruger, M. W. Pretorius en Piet Joubert. Om die besluit te bekragtig, neem elk van die burgers ’n klip en stapel dit op ’n hoop as teken dat hulle ’n verbond met God maak om hulle in die stryd te help. So verrys die Paardekraalmonument. Die driemanskap vaardig ’n proklamasie uit wat lui:

Wij geven dus aan iedereen te kennen, dat op den igden December 1880 de regering is hersteld.

As voorlopige setel van die regering word Heidelberg gekies. Die proklamasie word na Potchefstroom geneem om daar gedruk en versprei te word. Op 16 Desember word dit vrygestel en op dieselfde dag en op dieselfde dorp val die eerste geweerskoot in die Eerste Vryheidsloorlog.

"Daar het ’n gloed in elke burger gebrand,” sou Christiaan de Wet later vertel. "Niks kon ons geesdrif vir die stryd om ons vryheid verdoof nie!”

Vervolg...