DE WET (3)

Lewenskets van Genl. CR. de Wet
Ben Olivier

Lees reeks by GENERAAL CHRISTIAAN DE WET

Met die uitbreek van die oorlog, verkry die Transvalers spoedig die oorhand binne die grense van hulle land. Die Britse regeringskantore op Potchefstroom en Rustenburg word verower en die troepe in hulle forte buite die dorp word beleër.

Uit Lydenburg ruk ’n kolonne troepe onder aanvoering van kol. Anstruther na Pretoria op om te gaan help om die hoofstad in die hande van die Britte te hou. In ’n bloedige geveg wat minder as ’n halfuur duur, wis kmdt. Frans Joubert met 200 burgers hulle feitlik uit toe hulle by Bronkhorstspruit bots.

Die grootste gevaar dreig egter uit Natal. Hier is aansienlike troepemagte byeen en nog meer is aan die kom van oorsee. Hulle moet gestuit word voordat hulle die Transvaal kan binneval.

Hierdie taak neem kmdt.-genl. Piet Joubert op hom.

 Met 800 burgers, waaronder Christiaan de Wet, ruk hy op na die grens om genl. Colley met sy 1 400 troepe en ses kanonne die hoof te bied.

Dit is duidelik dat Colley die Transvaal deur Laingsnek gaan probeer binneval. Hier sal hy moet gekeer word. Christiaan de Wet is lid van die kommando wat vooruit trek om die beoogde stellings te gaan beset. Dit reën aanhoudend toe die kommando ’n paar kilometer bokant Standerton die Vaalrivier oorsteek en Natal binnegaan.

Kort daarna kom die kommando op ’n verkenningspos van die vyand af. Hulle bestorm dit en die klompie troepe vlug, maar laat twee gesneuweldes agter.

Die kommando stuur gedurig verkenners uit en dit word gou duidelik dat die vermoede reg is dat genl. Colley van plan is om al langs die wapad wat na Laingsnek loop, op te ruk. Toe kmdt.-genl. Joubert met die res van die

Christiaan de Wet word nou aangestel as waamemende kommandant en moet Laingsnek gedurende die nag met 200 man bewaak. Dit reën nog steeds aanhoudend en dit is so koud dat een van die veldkornette byna verkluim. De Wet laat ’n paar manne dig om die veldkomet sit, en red so sy lewe.

Die nag gebeur daar egter niks, maar die volgende dag kom daar roering in die kamp van die vyand. Dit is duidelik dat genl. Colley van plan is om sonder versuim aan te val. Christiaan de Wet is nog maar vyf-en-twintig jaar oud en hy woon slegs vyf maande in die Transvaal, maar sy eienskappe as leier is so sterk dat een van die belangrikste take aan hom toevertrou word: hy en sy burgers moet die Boere se linkerflank verdedig wanneer die vyand aanval.

Op 28 Januarie 1881 loods Colley sy aanval teen die Boerestellings op Laingsnek. Christiaan de Wet het vooruit die stellings van sy burgers feitlik tree vir tree beplan. Op dié wyse sorg hy dat daar geen gevaar is dat hulle mekaar kan raak skiet nie, terwyl hulle terselfdertyd die vyand op die mees doeltreffende wyse onder skoot kan neem.

Die geveg begin toe die Engelse agt kanonne nader bring en die Boerestellings begin bestook. Dit is die eerste keer dat die burgers onder kartetse deurloop. Dit is ’n verskriklike ervaring vir hulle, maar De Wet stap van man tot man en bemoedig hulle. Die wat tog wil padgee, dwing hy terug met sy sambok in sy hand!

Terwyl salvo op salvo uit die agt vuurmonde oor die Boerestellings bars, doen kmdt.-genl. Piet Joubert dieselfde as De Wet. Hy ry heen en weer op sy perd om die Boere aan te moedig om vas te staan en so stel hy sy eie lewe elke oomblik in gevaar. Christiaan de Wet bemerk dit en dwing feitlik vir Joubert om agter ’n klomp rotse vir hom ’n veilige bevelpos in te rig. Hiervandaan kan die opperbevelhebber sien wat op die slagveld gebeur en sy bevele uitstuur.

Die Engelse rig egter hulle hoofaanval teen die stellings van genl. Niklaas Smit. Hulle storm met groot dapperheid, maar die moorddadige vuur van die Boere dryf hulle terug. Toe hulle terugval, val die kolonne wat De Wet se posisies bedreig het, ook terug.

Op die voorpunt van die ruiters wat nou die vlugtende vyand agtervolg, is Christiaan de Wet. Die perde kan egter nie wegkom oor die deurweekte aarde nie en De Wet moet die agtervolging staak.

Na hierdie geveg besef genl. Colley dat hy versterkings nodig het. Sewehonderd troepe is reeds uit Kaapstad aan die kom en nog duisende gaan onder sir Evelyn Wood in Engeland skeep.

Die Boere besef dat hulle nou vinnig moet optree. Hulle probeer genl. Colley se verbindingslinies afsny en sy versterkings keer, maar die troepe ontwyk hulle. By Ingogo kom die twee magte weer teen mekaar te staan.

Hierdie keer kies die Boere beter skuiling teen die vyand se kanonvuur en die bomme vlieg meestal skadeloos oor hulle heen. Verder word skerpskutters ook so geplaas dat hulle die vyandelike kanonne kan bykom en hulle veroorsaak geweldige verliese onder die vyand se artilleriste.

Die hele dag duur die geveg voort en word daar hewig geskiet, maar later steek die weer op. ’n Geweldige donderstorm bars oor die slagveld uit en dwing feitlik die geveg tot stilstand.

Vroeg die volgende oggend word Christiaan de Wet met ’n aantal manskappe uitgestuur om te gaan verken. Daar hang ’n swaar mis oor die aarde en hulle gaan uiters behoedsaam vorentoe. Meteens hoor hy ’n gekreun. Dit is ’n gewonde soldaat. In die donker en storm het die vyand teruggeval en nie die geleentheid gehad om na die dooies en gewondes om te sien nie. De Wet laat weet dadelik aan genl. Smit wat die toestand is en ’n aantal Boere daag op om die gewondes te help.

Later die dag daag die Engelse ook op en neem die taak om die gewondes en dooies te versorg op hulle.

’n Groter geveg lê egter nog voor.

Die troepeversterkings is nou reeds naby en genl. Colley besluit om solank die weg vir ’n grootskaalse oorwinning voor te berei. Hy ken nou al die terrein en weet dat Majubaberg ’n sleutelposisie is. Van die kruin van Majuba af, kan die hele gevegsfront oorheers word. Wanneer sir Evelyn Wood met sy troepe opdaag, moet die stryd al half gewonne wees, is Colley se plan.

Op Saterdagaand, 26 Februarie, pak hy die taak aan om met honderde soldate die plat kruin van Majuba te beset. Deur die nag worstel soldate met hul vragte teen die steil paadjies tussen kranse deur, die berg uit. Met oggendskemering het hulle die kruin beset. Oral op die rand van die kruin stapel hulle nou klipskanse. As die Boere die berg wil bestorm, kan die soldate veilig in die skanse sit en hulle skiet.

Kmdt.-genl. Joubert was bedag op so ’n plan van die vyand, daarom het hy elke nag brandwagte uitgestuur om die berg te bewaak. Op hierdie nag was die brandwag egter ontrou en die klompie manne het net ’n entjie teen die berg uitgeklim.

Toe die dag breek, knal daar meteens skote bo van die berg af en koeëls fluit om die wagte daar teen die helling. Verskrik besef hulle wat gebeur het en gaan haastig terug om te rapporteer. Die skote het egter reeds die burgers in die kamp se aandag getrek. Hulle kyk op en sien hoe die oggendlig blink op die sabels en gewere van die vyand wat bo-op die berg is.

Almal besef meteens die vreeslike realiteit dat die vyand van bo van die berg af feitlik die pad vir hulle troepe na die Transvaal toe met hulle kanonne kan oopskiet ! Kmdt.-genl. Joubert weet daar is net een ding wat gedoen moet word en daarom is sy bevel kort en kragtig: "Julle gaan haal hulle daar af!”

Dit is genoeg vir die dappere genl. Smit.

"Ek vra vrywilligers om saam met my die berg te bestorm,” sê hy. "Die wat nie lafaards is nie, moet my volg!”

Onmiddellik kom ’n hele aantal vrywilligers na vore. Een van die eerstes onder hulle is Christiaan de Wet. Genl. Smit kies tweehonderd man en verduidelik sy taktiek aan hulle. Die mag sal in drie groepe verdeel word. Hy sal self een afdeling lei en veldkornette Johannes Roos en Joachim Ferreira (onderskeidelik) die ander twee. Om die vyand se vuur te verdeel, sal hulle die kruin dus gelyktydig van drie kante af aanval.

Van ver af kan die vyand die klompie Boere sien opruk. Hulle is vol vertroue dat hulle die aanval sal kan afslaan. Die berg is meer as agthonderd meter hoog en die kruin is omring van hoe rotse sodat dit net langs enkele smal paadjies wat met klippe besaai lê, bereik kan word. Hulle kan ook die aantal Boere tel, daar is maar tweehonderd, en is daar dan nie meer as vyfhonderd Britse soldate, almal tot die tande gewapen, hier op die berg nie?

Spoedig bereik die Boere die voet van die berg. Van klip tot klip en van bos tot bos moet hulle die helling uitbeur. As ’n burger hom maar net ’n oomblik vertoon, dan suis die koeëls om hom. Kruip- kruip klouter hulle boontoe. A1 wat die soldate kan sien, is die roering in die gras en bosse, of die lope van die Boere se geweers wanneer hulle vinnig skiet op oormoediges wat dit waag om oor die skanse te loer.

Vyf uur lank klim die Boere teen die helling uit, dan is hulle naby die eerste skanse. Hier is gelukkig meer klippe en bosse waaragter hulle kan skuil. Hulle kan nou die skanse behoorlik onder skoot begin neem. In die hitte van die stryd vergeet die vyand een baie belangrike iets: in die begin van die geveg, toe die Boere nog van ver aangekom het, het hulle hul visiere daarvolgens gestel. Namate die Boere nader gekom het, het hulle nie hul visiere reggestel nie. Nou skiet die vyand al oor hulle heen!

Die burgers begryp gou wat aangaan. Met steeds groter dapperheid kruip hulle nader en hulle vuur word al hoe doeltreffender. Hier en daar en oral begin soldate uit hulle skanse vlug. Die burgers storm oor die kruin en van drie kante af begin hulle moorddadig op die vyand vuur.

Paniekbevange begin die soldate blindelings hardloop. Hulle offisiere probeer hulle keer, dreig seifs met hul rewolwers om hulle te skiet, maar dit is tevergeefs. ’n Aantal vlug selfs tussen die Boere deur die helling af. Vir die vyand is daar geen uitweg nie, hulle gee oor.

Die bergkruin lê besaai met gesneuwelde en gewonde soldate. Altesaam 92 het gesneuwel, 134 lê gewond en 59 word krygsgevange geneem. Slegs een burger het gesneuwel.

By een van die stellings op die kruin lê ’n offisier.

"Daar le Colley,” sê ’n burger vir Christiaan de Wet. Hy stap dadelik nader. Genl. Colley hyg nog enkele kere na sy asem, toe sterf hy. Hy sterf aan die spits van die wat tot die laaste geveg het.

Onder die krygsgevangenes is ’n Skotse offisier, Hector MacDonald. Hy is een van die dapperstes wat tot die laaste bly veg het. Toe hy saam met die ander krygsgevangenes in die kamp van die Boere aankom en kmdt.-genl. Joubert van sy dapperheid verneem, gee hy sy swaard aan hom terug. Byna presies twintig jaar later sou Hector MacDonald en Christiaan de Wet weer teen mekaar te staan kom, dan sou elkeen aan die hoof staan van sy eie mag en dit met mekaar uitspook.

Terwyl die oorlog aan die gang is, poog pres. J. H. Brand van die Vrystaat om vrede te bewerkstellig. Deur sy bemoeiinge kom daar nou wapenstilstand. Sir Evelyn Wood het ondertussen aangekom en Colley opgevolg. Hy voer onderhandelinge met die Transvaalse leiers en ’n voorlopige vrede word gesluit. Dit lei tot verdere onderhandelinge tussen ’n Britse koninklike kommissie en die Transvaalse leiers. Op 3 Augustus 1881 word die Konvensie van Pretoria gesluit en die Transvaal kry sy onafhanklikheid ten dele terug.

Soos die slag van Bloedrivier, bring die slag van Majuba dus ’n keerpunt in die geskiedenis van ons land.

In die tyd tussen die slag van Majuba en die voer van die onderhandelinge, is Christiaan de Wet gou huis toe om te kyk hoe dit met sy vrou en kinders gaan. Hy was nie voorbereid op wat op hom gewag het nie.

Die groot reëns het nie alleen skade aan sy boerdery berokken nie, maar, erger nog, dit het sy huis se mure laat instort. Mev. De Wet en die kinders moes hul toevlug by ’n buurvrou gaan neem. Op pad daarheen, in ’n oop karretjie deur twee osse getrek, het die ongeluk hulle byna getref. By ’n spruit het die rytuig teen die skuinste af begin hardloop, een van die kinders het afgeval en die wiel is bo-oor hom. Gelukkig was sy beserings niks erger nie as "’n vaal streep oor sy maag”!

"In die afwesigheid van my man het ek veel te doen gehad,” sê sy. "Ek moes sorg vir die gesaaide, die koeie melk en skape dokter, maar ek het daar niks van gedink nie.”

Later, toe nog groter eise aan hierdie Afrikanervrou gestel word, sou sy toon watter innerlike krag daar werklik in haar skuil.

Nadat vrede gesluit is, wy Christiaan de Wet hom aan die opbou van sy plaas. Lank Iaat sy medeburgers hom egter nie met rus nie. Hy word met ’n groot meerderheid tot veldkornet gekies. Sy inswering is deel van ’n besondere gebeurtenis. Dit vind op Geloftedag plaas op Paardekraal, wat so ’n besondere plek in die Afrikaner se geskiedenis inneem. By dié geleentheid word ook ’n groot dankdiens gehou om die Transvaal se herwonne vryheid te gedenk.

As veldkornet maak De Wet gou vir homself naam. Hy is wakker en pligsgetrou. Onder meer vorder hy R1 260 aan agterstallige Bantoebelasting in; iets wat in daardie dae ’n besondere prestasie was.

Ná twee jaar moet hy egter sy veldkometskap neerlê, want hy verhuis na ’n plaas in die distrik Lydenburg. Sodra hy hier gevestig is, maak hy planne om weer sy vader te gaan besoek. Toe hy reeds op vertrek staan na die Vrystaat toe, word hy deur die Ly- denburgers genader om hom as Volksraadslid vir hulle kiesafdeling beskikbaar te stel. Hy willig daartoe in, maar verduidelik dat hy nie aan die verkiesing sal kan deelneem nie, omdat dit gehou word wanneer hy op Nuwejaarsfontein in die Vrystaat kuier.

Op Nuwejaarsfontein word Christiaan de Wet en sy gesin hartlik ontvang. Daar is geweldig veel om oor te gesels. Die wêreld het ook heelwat verander. Die kerkplaas, Kareefontein, wat deur sy vader se toedoen tot stand gekom het, is reeds in 1880 tot dorp verklaar en dit is ook na oom Jacobus vernoem. So het die nuwe dorpie die naam Dewetsdorp gekry. Oom Jacobus is ook vereer deur aangestel te word as die eerste resident-vrederegter.

Verder gaan dit goed in die Vrystaat. Daar is vrede met die Basoeto’s, die blanke bevolking het toegeneem tot 60 000, die diamantmyne by Jagersfontein en Koffiefontein lewer ’n mooi opbrengs en op byna elke ander gebied is daar vooruitgang. Die mense begin van die Vrystaat te praat as die "Modelrepubliek”.

Eendag vra oom Jacobus aan sy seun :

"Wil jy nie vir Nuwejaarsfontein koop en hier kom woon nie, Christiaan?”

Christiaan de Wet twyfel vir geen oomblik om die plaas te koop nie. Die transaksie word dadelik beklink.

’n Paar weke lank kuier Christiaan de Wet en sy familie nog op Nuwejaarsfontein, dan vertrek hy weer na die Transvaal om sy plaas in Lydenburg te gaan verkoop en terug te keer na die ou familieplaas in die Vrystaat. In die Transvaal wag daar egter ’n verrassing vir hom. Terwyl hy weg was, is hy met ’n groot meerderheid tot Volksraadslid vir die distrik Lydenburg verkies!

Wat nou gedoen? Hy wil sy troue ondersteuners nie in die steek laat nie, maar verkiesings vind slegs elke twee jaar plaas. As hy nou weggaan, dan laat hy hulle sonder ’n verteenwoordiger! Hy bly dus nog ’n ruk op Lydenburg en woon die eerste sitting van die Volksraad in Pretoria by voordat hy vertrek.

Tot sy verligting vind hy uit dat die wet nie vereis dat ’n Volksraadslid noodwendig in die Transvaal hoef te woon nie. Selfs toe hy later op Nuwejaarsfontein woon, gaan hy gereeld Pretoria toe om die sittings van die Volksraad by te woon.

Hierdie toestand van sake is nie vir De Wet ’n teenstrydigheid nie. Hy het die hele Afrikanervolk lief en waar hy die volk kan dien, daar dien hy.

Eendag, ’n  paar jaar later, ontmoet hy pres. Kruger en die President vra hom:

"Waar woon jy nou?”

"In die Vaalrivier!” antwoord De Wet vinnig.

"Skep leeg!” sê Paul Kruger daarop.

Die jare vorentoe sou bewys hoe onwrikbaar getrou Christiaan De Wet sou bly aan die ideaal dat die Afrikanervolk nie deur grense geskei mag word nie.

Vervolg...