DE WET (6)

Lewenskets van Genl. CR. de Wet
Ben Olivier

Lees reeks by GENERAAL CHRISTIAAN DE WET

Vroeg die volgende oggend jaag genl. De Wet die groepie manne wat by hom is uit die komberse. Van nou af sal hulle bekend staan as sy "staf” en kan hulle verwag dat hy die hoogste eise aan hulle sal stel. ’n Aantal van hulle sal later bekendheid verwerf. Daar is sy seun Kotie, wat sy sekretaris is, nog 'n seun Izak, Albert Nussey wat later tot die hoogste rang in die Unie se verdedigingsmag sou styg en David Hennop, die hoefsmid van die groepie, 'n uitstekende verkenner en die beste swemmer onder die klomp. Later in die dag sou nog ’n jong burger lid van die Generaal se staf word, ’n jongman wat ’n besondere rol in die Generaal se lewe sou speel.

 

Die son is skaars op toe die Generaal met sy groepie vertrek om die Boerevestings te inspekteer. Die linie strek oor byna 24 kilometer en word deur meer as 6 000 burgers beman. Genl. De Wet vertrek dus van die middel van die linie om eers die een helfte en dan die volgende dag die ander helfte te besoek.

Sedert die groot oorwinning wat op 11 Desember hier oor die Engelse magte behaal is, is die Boere se posisies aansienlik versterk. Genl. De la Rey het toegesien dat die loopgrawe en skanse verbeter is en versperrings van doringdraad is oral aangebring.

Toe hulle by die stellings van die Modderrivier-kommando kom, ontmoet die Generaal baie ou vriende en bekendes. Ook sy twee seuns spoor ’n ou maat op wat dikwels saam met hulle op Nuwejaarsfontein gebaljaar het. Genl. De Wet ken die durf en taaiheid van hierdie jongman en dieselfde dag nog word Barry Richter ’n lid van sy staf.

Die volgende dag word die inspeksie in die ander rigting voortgesit. Ook hier is die verskansings verbeter.

Ten spyte van wat gedoen is en nog gedoen word, is genl. DeWet bitter ontsteld. Hy weet hier is toestande aan die ontwikkel wat rampspoedige gevolge vir die Boere sal hê. Sedert 11 Desember kom daar by die vyand se kamp by die Modderrivier elke week duisende nuwe troepe aan. Die treine laai, volgens betroubare berigte, elke dag minstens dertig ton voorrade af: kanonne, ammunisie, ander toerusting en voedsel. Die ontstellendste van alles is egter die geweldige klomp perde wat aankom.

Tot dusver was die vyand se ruitery maar min en kon hulle feitlik niks vermag nie. Om dié rede moes lord Methuen, die bevelvoerder, al langs die spoorlyn opruk omdat sy infanterie met alles wat hulle nodig het nie anders kon vooruitkom nie. Indien hulle te voet die uitgestrekte vlaktes sou aanpak, sou die Boerekommando’s hulle met blitsaanvalle kon verniel, hulle konvooie bedreig en in hierdie droë land, hulle veral kon uitput deur hulle
toegang tot genoeg water te belet.

Indien die vyand egter nou ’n groot genoeg ruitermag kan opbou, sal hulle maklik hiermee om Magersfontein se stellings kan trek en dit van agter af aanval terwyl die voetsoldate ’n frontaanval loods. Met die oormag waaroor hulle beskik, sal hulle geen moeite hê om genl. Cronje se kommando’s te oorweldig of uitmekaar te jaag nie.

Die toestande op Magersfontein is reeds so, dat genl. De Wet twyfel of Cronje daarin sal kan slaag om sonder groot verliese uit so ’n knyptangbeweging weg te kom. Dit is droog en baie van die Boere se perde is verswak. Verder is talle Boere toegelaat om hulle vrouens met waens na die Boerekamp toe te laat kom. Hy wonder hoeveel Boere gewillig sal wees om pad te gee of te vlug en hulle vrouens en waens agter te laat. As hulle wil padgee, of gedwing word om pad te gee en die waens moet saam, sal die vyand hulle agterhaal en sonder twyfel vermorsel.

Op die derde dag van sy aankoms gaan soek genl. De Wet vir genl. De la Rey, veggeneraal van die Transvaal, op. Hulle dink eenders oor die saak en besluit om genl. Cronje te gaan spreek.
Hulle wil hê hy moet ’n kommando van 1500 man en ’n paar kanonne afstaan. Hierdie kommando moet dan die spoorweg en ander toevoerpaaie van die vyand opbreek. As hulle die toevoer van die vyand se voorrade net ’n week lank kan ontwrig, sal Methuen in baie groot moeilikheid verkeer en sonder twyfel minstens so ver soos die Oranjerivier moet terugval.

En as dit gebeur, sal duisende Afrikaners in Kaapland in opstand kom en hulle by die Republikeinse kommando’s aansluit!
Die hele netwerk van die vyandelike linies van Kaapstad, Port Elizabeth en Oos-Londen af tot aan die grense van die Republiek sal dan in die war gestuur, moontlik selfs vernietig word.

Dit is nog vroeg toe die twee generaals hulle by hul opperbevelhebber aanmeld. Genl. Cronje is verbaas om De Wet te sien. Gedurende die drie nagte sedert sy aankoms, het De Wet altesaam nog nie twaalf uur slaap gehad nie en Cronje het verwag dat hy afgemat sou wees.

"Generaal, drie of vier uur se slaap elke nag is oorgenoeg vir my. Ek voel uitgerus en is kant en klaar vir groot dinge en operasies,” verduidelik De Wet.

"Wat se operasies bedoel jy?”

Logies en rustig sit De Wet en De la Rey hulle planne uiteen.
Af en toe maak Cronje ’n effens ongeduldige tussenwerpsel, maar laat hulle klaar praat.

"Kyk,” sê hy uiteindelik, "ek gaan nie my kragte en manskappe verswak en toelaat dat die Engelse kan deurbreek en Kimberley met koue hande gaan vat nie!”

Daarmee is, wat Cronje betref, die voorstel afgehandel.

De Wet pleit dat net vyfhonderd man, uiteindelik dat selfs net tweehonderd-en-vyftig man aan horn gegee moet word, maar dis alles tevergeefs.

Christiaan de Wet weier egter om by sy bevelhebber se beslissing te berus. Hy stel sy planne en die dreigende gevaar aan pres.Steyn. Die President ondersteun horn heelhartig, maar hy kan nie direk met genl. Cronje praat nie, want Cronje is ’n Transvaalse generaal - alles moet via pres. Kruger geskied en neem tyd in beslag. So sleep die weke verby en die gevoel van frustrasie bou op in genl. De Wet, veral ook noudat genl. De la Rey na Stormberg verplaas is en hy die hele las van verantwoordelikheid alleen op sy eie skouers voel. Uiteindelik word genl. De Wet se strategie tog goedgekeur, maar dit is reeds te laat!

Vroeg in Februarie het die nuwe opperbevelhebber van die Britse magte in Suid-Afrika, lord Roberts, vergesel van die beroemde lord Kitchener van Khartoem op die westelike front aangekom. Hulle beskik oor ’n mag van 30 000 infanterie, 12 000 berede troepe, meer as 100 kanonne en nagenoeg 1 000 waens om die voorrade te vervoer.

Lord Roberts se krygsplan is ook gereed. Hy sal genl. French met ’n mag van 7 000 berede troepe en genoeg kanonne om Cronje se linkerflank stuur en sodoende ’n dubbele slag slaan. Hy sal Cronje afsny van die res van die Vrystaat en terselfdertyd sal hyKimberley ontset. Namate die ruitery die pad oopbreek vorentoe sal sy massas voetsoldate opvolg en konsolideer. So raak het genl. De Wet hierdie vyandelike plan voorspel, dat dit byna lyk asof Roberts dit net so van horn gekry het.

Lord Roberts besluit egter eers om die Boere te probeer mislei. Hy besluit om ’n sterk mag om die Boere se regterflank te stuur. Word hierdie mag gestuit, sal dit geen afbreuk doen aan sy planne nie, want dit sal Cronje eerder sterk in sy mening dat hy, Cronje, die regte taktiek volg. Breek hierdie mag wel deur na Kimberley, dan word sy taak weer soveel makliker.

As leier van hierdie aanvalsmag wys hy genl. Hector MacDonald aan, die dapper Skot wat op Majuba gevange geneem is. Hy en Christiaan de Wet, nou albei generaals, sou dus na negentien jaar weer teen mekaar te staan kom.

Op die negende Februarie kry genl. De Wet berig dat hierdie groot mag in aantog is en die Rietrivier by Koedoesrant wil deurgaan. Vanaf die hoogtes van Magersfontein hou De Wet die oprukkende troepe deur sy verkyker dop. Hy tree in verbinding met genl. Cronje en kry opdrag om die vyand met ’n kommando van 350 man te gaan voorkeer. Hy wys daarop dat dit ’n onmoontlike taak is en vra 500 man en twee kanonne. Dit word horn geweier.

Daardie nag gaan die vyand deur die Rietrivier en slaan hulle kamp op by ’n goedgekose terrein waar ’n aantal koppies hulle in staat stel om dit uitstekend te kan verdedig. Vlakby is ’n hoë rant, Koedoesberg, wat die omliggende terrein beheers. Die een wat in besit van die kop is, is dus in ’n baie sterk posisie. Genl. MacDonald plaas dus ’n groot mag Bergskotte op die plat kruin en laat hulle ’n dubbele stel skanse bou.

Dit is die posisie soos De Wet dit vind toe hy daardie middag met sy 350 burgers daar opdaag. Hy laat die perde in veiligheid bring en te voet nader hulle die vyand se stellings op die berg.
Hewige geweervuur bars op hulle los, maar vasberade begin hulle teen die helling uitklouter. Toe hulle op die kruin kom, is die geweervuur van die vyand so hewig dat hulle nie nader as 700 meter van die skanse kan opruk nie. Hier is nie genoeg los rotse
en miershope waaragter hulle koes-koes kan nader sluip nie.

Dit is ook al sononder en toe die donker toesak, verwyder genl. De Wet stilletjies sy manskappe uit hul posisies, sodat hulle by water kan kom en behoorlik kan rus. Weer versoek hy genl. Cronje om versterking.

Toe dit die volgende oggend lig word, is die Boere al weer in die stellings wat hulle die vorige nag verlaat het. Met groter verbetenheid val hulle hierdie keer aan en vorder tot op 300 meter van die vyand se skanse. Kort daama daag maj. Albrecht en ’n klein aantal manskappe met twee kanonne op. Hulle skiet ’n bres in die muur en die vyand val terug op hul tweede ry skanse. Ongelukkig kan die kanonne hulle hier nie goed bykom nie.

Genl. De Wet beraam toe ’n ander aanvalsplan. Hy stuur kmdt. Froneman met ’n aantal burgers agter die berg om, met die doel om langs ’n sloot af die rivier te probeer bereik en die vyand van die kant en van agter te bestook. Hierdie sloot loop naasteby ewewydig met een wat deur die vyand beset is om hulle linkerflank te beskerm.

Ondertussen het vier van die vyand se kanonne op maj. Albrecht se twee vuurmonde losgetrek, maar hy skiet so hewig terug dat hul die wyk moet neem tot oorkant die rivier. Hierdie knap stuk werk laat nou ook die twee Boerekanonne vry om hul aandag te wy aan die soldate in die sloot wat met alle mag op kmdt. Froneman skiet. Dit stel die kommandant in staat om die posisies te beset soos De Wet dit wou hê. Stadig maar seker begin sake in De Wet se guns swaai, maar toe kom daar meteens ’n ontstellende berig by die Generaal aan.

Ten einde te voorkom dat die vyand om sy linkerkant trek, het die Generaal die oggend tagtig man op ’n rant geplaas om die vyand aan daardie kant te keer. In die namiddag ruk daar egter
nagenoeg ’n duisend miters met twee kanonne as versterking vir MacDonald juis uit hierdie rigting op en die tagtig man ontruim dadelik hulle posisies sonder om weerstand te probeer bied. Hierdie duisend ruiters met hulle kanonne kan nou agter die berg om trek en De Wet en sy manne van agter vaskeer!

Oombliklik besef De Wet die gevaar. Hy kan slegs vyf-en-dertig man uit hul stellings neem, anders gee hy die vyand op die berg die kans om vorentoe te storm en van bo af op Froneman en sy eie terugvallende burgers te skiet!

Toe wys hy van watter staal hy gemaak is! Met sy groepie burgers haas hy hom die berg af. Hulle spring op hulle perde en jaag die duisend vyandelike miters tegemoet om hulle te stuit! ’n Oop vlakte van 800 meter lê voor hulle en al die vyand se kanonne begin salvo op salvo op hulle los. Kartetse bars oor en om hulle, maar niemand word geraak nie. Daar voor is ’n lae rant wat ’n klein bietjie skuiling bied en toe hulle dit bereik, is die Engelse ruiters slegs 400 meter van hulle af.

Die duisend ruiters spring dadelik van hulle perde af en begin De Wet en sy handjievol op die rantjie met hul gewere bestook. Binne ’n ommesientjie fluit duisende leemetfordkoeëls om die klompie Boere, seifs die kanonne sit hand by. Dit lyk onmoontlik dat De Wet die posisie kan hou, tog wyk hy en sy burgers nie ’n tree nie, hulle gee so goed as wat hulle kry. ’n Kwartier lank hou dit so aan en toe sak die son. Die Boere het die voordeel dat hulle die vyand teen die westergloed kan sien, maar hulleself lê in die skaduwee. MacDonald is verplig om sy aanval te staak.

Die Generaal lei al sy burgers terug na hul kampeerplek van die vorige nag. Hier daag nog versterkings op uit die hooflaer, maar dit is onnodig. Toe die son die volgende dag opkom, is die vyand skoonveld!

In hierdie hele geveg waar De Wet meer as ’n dag lank die vyand se oormag aangeval het, tel sy verliese slegs twee burgers gedood en twee gewond. Om teen ’n oormag die slagveld te behou en voortdurend nog aan te val sonder om te eniger tyd jou manskappe aan buitengewone gevaar bloot te stel, is ’n prestasie wat slegs deur die grootste bevelvoerders geëwenaar kan word.

Die volgende dag kom daar weer berig van Britse troepebewegings, maar dié keer aan die Boere se linkerflank. Hierdie keer staan genl. Cronje 450 manskappe, ’n Krupp-kanon en ’n Maxim-Nordenveld, ’n ligte snelvuurkanonnetjie, aan De Wet af om die vyand mee te gaan stuit. Dit is nou 13 Februarie, maar hierdie troepebeweging het reeds begin op dieselfde dag waarop De Wet met MacDonald slaags geraak het. Wat meer is, dit is nie net ’n troepebeweging nie, dit is die opmars van Roberts se hele leër van meer as 40 000 man.

By Blauwbank naby Jacobsdal kom De Wet die voorhoede van die vyand teë. Dit is genl. French met meer as 6 000 ruiters en 42 kanonne. Hy besef meteens dat Roberts besig is om genl. Cronje se laer af te sny, Kimberley te ontset en die Vrystaat te oorstroom.Teen hierdie oormag kan hy nie staande bly nie. Hy stuur Gideon Scheepers om genl. Cronje van die gevaar in te lig en staan 100 man aan kmdt. Lubbe af om voortdurend die vyandelike bewegings dop te hou. Met die res van sy klein kommando en die twee kanonne gee hy pad voor die vyand en begin agter hulle in beweeg om te kyk watter skade hy kan aanrig.

Sy kans kom spoedig. Die verskriklike hitte en die haas waarmeedie vyand opruk, put hulle uit. Binne twee dae verloor French 500 perde. Osse en muile wat die waens moet trek, raak kapot, selfs voetsoldate slaan van uitputting neer. Telkens wanneer French ’n drif of sterkpunt bereik, moet hy wag op die infanterie om dit te kom beset. Uiteindelik bereik die infanterie se voorhoede die Modderrivier en French storm voort om Kimberley te gaan ontset.

Genl. Cronje besef nou vir die eerste keer die werklike omvang van die gevaar. Gelukkig vir horn is daar nou ’n gaping tussen die voorhoede van die groot Engelse magte en French se kavallerie.
Met sy lompe walaer, die vrouens en kinders wat in die kamp is, en selfs burgers wat nou moet voetslaan omdat hulle perde weens die gebrek aan weiding daarmee heen is, glip hy by die vyand verby, al langs die Modderrivier op.

Ondertussen wag De Wet sy kans af. Die voorraadlinie van die vyand rek al hoe langer. Hy val die konvooi aan waar dit by Blauwbank kampeer. Die vierhonderd Tommies is nouliks opgewasse teen sy aanval, maar dan kry hulle ’n afdeling kavallerie en vier kanonne as versterking en slaag daarin om die Boere van hulle af weg te hou totdat dit aand word. Tog is die vyand in ’n swak posisie, want De Wet het reeds al hulle trekvee, naamlik meer as 1 600 osse, afgeneem.

Toe genl. De Wet die volgende dag die geveg wil hervat, vind hy dat al die troepe, op ’n twintigtal na, gedurende die nag gevlug het!  Hy het ’n buit gemaak van meer as 200 swaarbelaaide waens.

Vir die vyand is dit ’n ramp. Dae lank sal hulle nou op halfrantsoene moet leef en veg. Lord Roberts weet hy stel sy opmars in gevaar, maar besluit om deur te druk. "I think the men will do it for me!” sê hy. As gevolg van hierdie knou wat De Wet die vyand toedien en van Roberts se besluit, sterf baie honderde soldate as gevolg van hul verswakte toestand binne ’n paar weke aan ingewandskoors en ander siektes.

Om nou die waens ingespan en weg te kry, is ’n yslike taak. Elke os is gewoond daaraan om net op ’n sekere plek in sy span te trek en hier moet 1 600 osse nou ingespan word! Tog, ’n Boer maak ’n plan. Spanne van sestien osse elk word uit die trop gekeer en na die beste oordeel van die burgers, wat almal darem ’n bees deur en deur ken, ingespan. Om hierdie kosbare buit veilig te vervoer, moet genl. De Wet 200 man en sy kanon afstaan. Met die 100 man by horn, wil hy egter die vyand steeds soveel skade aandoen soos hy kan. Sy verkenners het reeds gerapporteer dat sowat elf kilometer verder sestig soldate by ’n plaasopstal skuiling gesoek het.

Die Generaal trek dadelik daarheen op en stuur ’n briefie aan hulle offisier waarin hy hulle onmiddellike oorgawe eis. Ondertussen laat hy gou sy burgers ’n ankerpaal uit ’n heining losmaak. By hulle het hulle ’n waterkar wat saam met die konvooi buitgemaak is. Die paal word nou op die waterkar vasgebind sodat dit soos ’n kanon daar uitsien. Hy laat ’n klompie burgers rondom die"kanon” staan.

Saam met die rapportryer daag ’n Engelse onderoffisier op. Hy bring vir genl. De Wet die boodskap dat hulle goed verskans en goed bewapen is. Hulle weier om oor te gee.

Ongehinderd laat die Generaal hom klaar praat, toe sê hy: "Ek gee jou slegs die kortste moontlike tyd om terug te gaan en aan jou offisier te sê dat hy hom onmiddellik moet oorgee. As dit nie gebeur nie, bombardeer ek julle!”

"Waar is u kanon?” vra die offisiertjie.

Sonder om ’n gesigspier te trek, wys die Generaal na sy "kanon” waar dit ’n entjie agter die burgers staan.

Die soldaat ruk om en jaag dat die bolle stof onder sy perd se hoewe uitvlieg, terug na die Engelse toe. Daar tuimel hy skaars van sy perd af, of die wit vlag word gehys!

Die volgende dag ontvang De Wet ontstellende nuus. Kmdt. Lubbe bring berig dat genl. Cronje al vegtende terugval. Hy besluit om dadelik soveel hulp te gaan verleen as wat hy kan. Dieselfde dag ontvang hy ook berig van pres. Steyn dat asst.veggenl. Botha met 150 man by hom sal aansluit. Om hom verder te versterk, laat haal genl. De Wet ook die Krupp wat hy saam met die gebuite konvooi gestuur het, omdat die konvooi nou veilig is.

Met driehonderd man, ’n Krupp en ’n Maxim-Nordenfeld trek De Wet nou haastig vir genl. Cronje tot hulp. Hulle ry deur die nag en saal met sonop net ’n rukkie af om te rus. Dan hoor hulle die gedreun van ’n ontsaglike bombardement in die rigting van Paardeberg. Hulle gun hulself en hulle perde net ’n baie kort ruskans en snel dan voorwaarts, terwyl hulle gedurig die verskriklike gebulder van die kanonne hoor.

In die namiddag, ongeveer half vier, bereik genl. De Wet en sy kommando’tjie ’n punt omtrent tien km ten ooste van Paardeberg.
Van die hoogte af kan hulle afkyk op die Modderrivier. ’n Verskriklike skouspel speel hom daar voor hulle oë af.

Hulle kyk af op ’n aanhoudende bombardement uit honderd kanonne wat genl. Cronje se laer in rook en vlamme hul, daar waar dit vasgekeer lê in die kom van die rivier!

Vervolg...