DE WET (9)

Lewenskets van Genl. CR. de Wet
Ben Olivier

Lees reeks by GENERAAL CHRISTIAAN DE WET

Lord Roberts besef nou dat as hy die Republikeine tot vrede wil dwing, hy eers vir Christiaan de Wet moet onderkry. Hy werp dus nie minder nie as 25 000 troepe met bykans 100 kanonne in die stryd om De Wet in die noordoostelike hoek van die Vrystaat vas te druk en sy kommando’s te vernietig.

Hierdie bedreiging is egter niks teen die bedreiging wat van binne kom nie. Daar is van die Vrystaatse bevelvoerders wat genl. De Wet se posisie as hoofkommandant in twyfel trek! Hulle beweer dat hy nie behoorlik verkies is nie, maar slegs deur die President aangestel is. Dit is nie nodig vir De Wet om hom hieraan te steur nie, want volgens die regte wat die President besit, is sy benoeming heeltemal geldig. Hy wil egter die vrywillige ondersteuning en lojaliteit van die burgers hê, dus belê hy ’n vergadering wat deur homself en 29 ander senior offisiere bygewoon word. Hyself, sy broer Piet de Wet en Martinus Prinsloo word benoem. Toe die uitslag bekend word, is daar ’n groot gejuig. Nie minder nie as 27 van die manne het vir De Wet gestem.

Hierdie verkiesing is egter maar die voorspel tot ’n tragedie waarin Prinsloo en Piet de Wet uiteindelik hoofrolle sal speel, al kan niemand dit nou voorsien nie.

Met 5 000 burgers probeer De Wet nou om Bethlehem te verdedig, maar die oormag is te groot. Uit dosyne vuurmonde bestook die vyand die Boerestellings. Duisende kartetse en liddietbomme reën op die Boerestellings neer en hulle is so groot dat 25 perde deur een enlcele bom doodgeskiet word. Tog skiet die Boere die vyand die hele dag deur terug totdat dit donker word en hulle veilig kan padgee.

Oor die verskillende bergpasse langs trek genl. De Wet sy kommando’s agter die Rooiberge terug. Hier kan hulle egter vasgekeer word as die vyand al die passe beset. Hy hou krygsraad en verduidelik hoe die hele mag in kommando’s opgedeel word, en waarlangs elkeen moet trek om aan die vyand te ontkom. Hy self sal saam met die President en lede van die Vrystaatse Regering, sowel as 2 600 burgers en ’n aantal vlugtelinge met waens, op 15 Julie vertrek. Die ander kommando’s moet ook dieselfde dag of so gou moontlik daarna elk sy eie koers inslaan.

In die ysige winterweer en oor die hoë bergpas, lei De Wet sy kommando veilig tussen die vyand deur. Hierin word hy veral gehelp deur die beroemde verkenners Danie Theron en Gideon Scheepers.

Op 20 Julie is hulle op die plaas van C. Wessels. Terwyl die Generaal peinsend voor die huis staan, kom sy broer, Piet de Wet, na hom toe.

"Christiaan,” sê hy, "sien jy nog kans om die stryd voort te sit?”

"Is jy gek?” roep die Generaal woedend uit.

Piet de Wet draai om, gaan klim op sy perd en slaan sy eie koers in. Nie lank daarna nie sou hy die vyand help om teen sy eie broer en sy eie volk te veg.

Dieselfde dag moet hulle weer verder. Die geweldige oormag van die vyand is kort agter en suid van genl. De Wet. Hulle is so naby dat die kommando hulle telkens op ’n afstand van tien tot twaalf kilometer kan gewaar. Daar bly nou net een van twee dinge oor om te doen: of die burgers moet hulle waens agterlaat, sodat die kommando ongehinderd tussen die vyand kan deurbreek, of die hele kommando, met waens en al, moet oor die Vaalrivier gaan om sodoende die vyand te probeer afskud. Die burgers weier om hulle waens prys te gee, dus moet De Wet met die logge klomp voertuie en al die Transvaal in!

Hier, langs die Vaalrivier, moet De Wet nog ’n bittere kelk ledig.
Op 2 Augustus kom die sekretaris van genl. Prinsloo by hom aan met ’n briefie: Prinsloo met al sy magte agter die Rooiberge het oorgegee! En wat meer is, die briefie is onderteken deur Prinsloo in sy hoedanigheid as hoofkommandant!  Dit is byna so ’n groot ramp as die oorgawe van genl. Cronje by Paardeberg. Die oorsaak was dat die generaals en kommandante, Prinsloo by uitstek, nie De Wet se bevele gehoorsaam het nie. Skaars was genl. De Wet oppad met sy kommando, of die ander het begin twis oor wie dan nou die belangrikste sou wees! So het hulle twee dae laat verbygaan terwyl Prinsloo hom as "hoofkommandant” laat verkies het. Teen daardie tyd het die vyand hulle al omsingel!

Gelukkig kry De Wet later dieselfde dag berig dat genls. Fourie, Hasebroek en Froneman met 2 000 burgers wel hulle bevele uitgevoer en ontsnap het.

Die volgende dag trek die Generaal deur die Vaalrivier. Die Engelse agtervolg hom met ’n groot oormag, en elke dag moet hy veg om die voorpunt van hierdie mag terug te skiet sodat die stadige walaer kans kan kry om weg te kom! Hy maak dit verder byna onmoontlik vir sy agtervolgers om by te hou, want nou brand hy algaande die lang wintergras agter hom af.

Steeds moet hy volle vermoëns en kragte aan vlug wy, net omdat ’n klomp burgers weier om hulle waens agter te laat. Uiteindelik is hulle deur Wes-Transvaal en kan hy die klomp wat met waens trek die veiligheid van die Bosveld binnestuur.

Hier in die Transvaal verlaat pres. Steyn en die lede van die Regering hom ook tydelik, want hulle wil op Machadodorp samesprekings met die Transvaalse regering hou. Uiteindelik bestaan die kommando weer net uit perderuiters en sien De Wet kans om terug te gaan Vrystaat toe om die stryd daar opnuut aan te knoop. Nou is die vyand se magte egter van alle kante om hom saamgedring en hy word teen die Magaliesberge vasgedruk. Elke pas, elke deurkomplek word deur die vyand beset, dus moet hy ’n piek soek waar hy oor die berge kan trek.

Hulle kom by 'n Swartman se hut. De Wet ry daarheen.

"Kan ’n mens hier oor die berg?” vra hy die Swartman.

"Nee, Baas, jy kan nie!”

"Loop daar bobbejane oor?”

"Ja, hulle loop daar, maar mense - aikona!”

Hy gaan terug na sy burgers. "Ruk op,” sê hy. "Waar ’n bobbejaan kan oor, daar moet ons dit ook kan doen!”

’n Korporaal, ene Matthysen, kyk na die gebergte wat hier sewehonderd meter hoog is en sug: "0, Rode See!”

"Die kinders van Israel het geloof gehad en deurgegaan,” antwoord die Generaal. "Kom, glo maar. Dis nie die eerste Rode See waarmee ons te doen kry nie en dit sal ook nie die laaste wees nie.” Matthysen sê niks, maar die Generaal lees sy gedagtes: ”Nog u, nog iemand anders hier by ons is Moses!”

Die tog gaan deur 'n lap bosse en in ’n kloof op, sodat hulle
buite gesig van die vyand bly. Uiteindelik moet hulle die kloof verlaat en hier, teen die steil, kaal helling van die berg, is hulle in volle gesig van die vyand!

So steil is dit dat die burgers onmoontlik nie op hulle perde kan bly sit nie. Dit is alleen met die uiterste inspanning dat sowel man as perd regop kan bly. Dikwels val ’n burger en gly agteruit onder sy perd in. Selfs die diere struikel en val.

Naby die kruin is dit die ergste. Hier is ’n granietplaat, steil en so glad soos ys. Elke burger moet letterlik daarteen uitkruip en sy perd agter hom aansleep.

 En saam met die verskriklike inspanning is daar die groeiende angs onder die manskappe. Hulle is oop en bloot vir die vyand se kanonvuur. Slegs enkele goedgemikte kartetse kan hulle vernietig, want skuiling is daar nie.

De Wet merk dit en besef dat as paniek die manne pak, dan is alles verlore.

”Julle hoef niks bang te wees nie,” sê hy. "Die vyand kan ons alleen beskiet as hulle ’n Howitzer het en die kolonnes wat ons agtervolg, het nie Howitzers nie!”

Dit stel die burgers gerus, want die Generaal sal mos weet, en buitendien skiet die vyand nie, dus moet hy gelyk hê.

Wat op hierdie oomblik in die Generaal se binneste omgaan,

weet niemand behalwe hyself nie. Hy het sy burgers se vrees alles op hom geneem.

Uiteindelik bereik hulle die kruin. Almal is uitgeput.”Ek het die ruwe rotswande van Majuba bestyg, teen die steil sye van Nicholsonsnek het ek uitgekruip, maar nooit was ek so moeg soos nou nie,” vertel De Wet.

’n Pragtige uitsig strek nou na die suide voor die kommando uit.
Hulle daal die berg af. Nêrens is ’n teken van die vyand nie.

Gedurende die nag van 21 Augustus bereik hulle die Vaalrivier en die volgende oggend begroet die koppies en rante van die Vrystaat hulle aan die oorkant soos ou bekendes.

Verheug soos almal is om terug te wees, lê daar egter moeilike tye voor. Die uitgedunde geledere van die kommando’s moet aangevul word deur burgers wat die wapen neergelê het. Voorts moet die terreine waarin die afsonderlike kommando’s moet optree opnuut ingedeel word, en boweal moet almal oorreed word om in kleiner groepies wat snel kan beweeg, tot die bittere einde te veg. Maklik gaan dit nie, want ten spyte van alles wat gebeur het, is daar nog baie burgers wat aan hulle waens vasklou.

Met groot deursettingsvermoë voer De Wet sy planne deur.
Meer as 3 000 burgers sluit weer aan en die meerderheid sien uiteindelik van hulle waens af. Die gees is egter nog nie heeltemal reg nie. Eenkeer in die Noord-Vrystaat, toe hy gereed maak om die vyand die volgende dag aan te val, loop sy plan op niks uit nie, omdat ’n groot aantal eenvoudig gedurende die nag die posisies verlaat het. Twee keer oorval die vyand sy kommando as gevolg van uiters swak verkenningswerk. Hierdeur verloor hy vyftig aan dooies en gewondes, honderd krygsgevangenes en sewe kanonne.

In hierdie uiters moeilike dae het hy ook baie rede om bekommerd te wees oor die lot van sy vrou en die jonger kinders. Sy plaas is deur die vyand verwoes en mev. De Wet en die kinders moet na ’n ander plaas gaan waar daar vir hulle ’n huisie aangebied is. Ook hier is sy gemolesteer. Troepe het daar opgedaag en al haar vee weggevoer en ook die kos wat in die huis was, vemietig. By die huis het een van die waens gestaan wat die Generaal buitgemaak het.

Hulle vra haar toe waar die twee kanonne is wat hy by dieselfde geleentheid gebuit het.

”Ek het geen kanonne nie,” was haar antwoord. "As ek kanonne gehad het, sou julle nie my waens en vee afgeneem het nie!”

Kort daama moes sy vlug en na ’n derde plaas padgee om veiligheid te probeer vind. Keer op keer het die vyand opgedaag en al die vee weggeneem. Ook op hierdie plaas het die vyand opgedaag, die plaashuis afgebrand en al die graan en vee weggevoer. Daardie nag is die Generaal en sy vrou se jongste kindjie oorlede. Die begrafnis was al verby toe Christiaan de Wet van die dood van sy kindjie verneem. Hy het sy oudste seun en genl. Froneman met hom saamgeneem en mev. De Wet gaan besoek. Dieselfde nag het hy haar oor die Vaalrivier geneem na ’n plek in die distrik van Klerksdorp. Hulle twee sou mekaar agtien maande lank nie weer sien nie.

Die vyand was binne agt dae weer op mev. De Wet se spoor. Sy is saam met ’n aantal ander vrouens en kinders op ’n wa na die naaste stasie vervoer. Van daar is hulle na Potchefstroom. Behoorlike treinvervoer was daar nie en die vrouens en kinders is in ’n perdetrok gelaai. ’n Soldaat het gesien dat hulle daar sit sonder kos en sy rantsoen van brood en konfyt stilweg vir hulle oor die kant van die trok na binne laat glip. Dit is onder die kinders uitgedeel.

Hiervandaan is die vrouens na Johannesburg geneem. Hier het die behandeling algaande verbeter. Na die verloop van ’n aantal maande is mev. De Wet en haar kinders na die konsentrasiekamp in Pietermaritzburg geneem. Hier sou sy bly tot na die einde van die oorlog.

Nadat hy afskeid geneem het van mev. De Wet, begin die Generaal om sy plan wat hy ’n jaar vantevore ontwerp het, uit te voer. Hy wil nog steeds die Kaapkolonie binneval en die vyand se kommunikasielyne afsny, terwyl hy terselfdertyd opstand in die Kolonie met behulp van die Afrikaners wat daar woon, bewerkstellig.

Met 1500 man begin hy die suidwaartse trek. Toe hy in die omgewing van Thaba Nchu kom, vemeem hy dat Dewetsdorp deur maj. Massey met 500 soldate beset is. Hy ruk dadelik daarheen op en val die dorp van drie kante af aan. Die aanval tref die vyand onverwags, want De Wet het die vorige dag sy kommando by die dorp verby laat trek om die Engelse onder die waan te bringdat hy die stelling as onneembaar beskou en ’n geveg wil vermy. Verder het hy ook sowat 600 man van sy kommando afgestaan wat enige hulp wat vir die vyand aan die kom is, of moet keer, of moet weglok deur die vyand hulle te laat agtervolg met die valse hoop dat hulle gevang kan word!

Met baie groot dapperheid val die burgers die vyand se skanse aan. Vk. Wessels van Harrismith kruip selfs tot teen ’n vyandelike skans en praat met die Tommies, sodat hulle oorgee. ’n Ander skans word weer so dapper deur kmdt. De Vos bestorm, dat hy en sy burgers oor die verskansing tot tussen die vyand spring en hulle tot oorgawe dwing.

Teen hierdie verbete aanval is die vyand nie bestand nie. Hulle steek hul voorrade aan die brand en hys die wit vlag. Genl. De Wet neem hier 408 krygsgevangenes en maak twee kanonne met 300 kanonkoeëls, asook etlike waens en ’n groot hoeveelheid geweerpatrone buit.

Die oorwinning word ook net betyds behaal, want die Generaal ontvang berig dat groot versterkings uit Reddersburg op pad is om maj. Massey te ontset. Hulle is te laat om die majoor te help, maar net betyds vir De Wet om hulle in te wag.

Die geveg begin die volgende dag, maar die vyand bly op ’n afstand en wag op nog meer versterkings. Dit gee De Wet die kans waarop hy wag. Hy laat 'n klompie burgers in die stellings om die vyand onder die indruk te hou dat hy nog met sy hele mag daar lê en in die nag glip hy met sy kommando deur die gaping wat die oprukkende troepe vir horn laat. Toe hulle hom die volgende dag wil aanval, is hy kilometers ver suid agter hul rug op pad om die Kaapkolonie binne te val!

Lord Kitchener besef nou meteens dat as genl. De Wet se inval
slaag, dit die hele verloop van die oorlog kan verander. Hy onttrek
tienduisende troepe aan die gevegsfronte in die Vrystaat en die
Transvaal en haas self na Norvalspont om die leiding op hom te
neem om De Wet te stuit.

Volgens afspraak ontmoet De Wet genl. Hertzog by Bethulie,
maar hier op hulle regterkant en voor hulle is nou Kitchener se
sterk magte, dus besluit hy om links te swaai en hoër op deur die
Oranje te gaan. Ondertussen begin dit te reën en alles raak deurweek. Die aarde is so nat dat die enigste Krupp so dikwels vasval dat dit agtergelaat moet word. Hulle trek egter al langs die rivier op en gaan deur die Caledon. Teen die aand kom hulle by Odendaalstroom aan waar die Oranje gewoonlik stil en vlak is. Hier sou hulle die volgende oggend deur, kort voor die neus van genl. Charles Knox en sy ruiters wat ook reeds oor die Caledon is en kort op hulle hakke sit.

Toe die dag breek, staar die burgers verbysterd na die rivier. In
die nag het dit afgekom. Die andersins so stil, breë stroom is nou
’n bruin, kokende watermassa. Van deurkom is daar geen sprake
nie. Aan die oorkant maak ook nou ’n Engelse mag sy verskyning.

Daar bly net een keuse oor: terug oor die Caledon! Die kommando kom in beweging en ’n patrollie gaan vooruit om te gaan kyk of daar vyand is by Kommissiedrif. Hulle kom terug met ’n dubbele slegte tyding. Nie alleen is die brug deur die vyand beset nie, maar die rivier is ondeurwaadbaar na al die reën. Nou is De Wet vasgekeer tussen twee riviere en kort op sy hakke is ’n Engelse oormag gewapen met kanonne.

Genadeloos stoot De Wet sy manskappe aan. Die perde is al
uitgeput en baie gee heeltemal in. Talle burgers loop al te voet en
kan alleen met die uiterste inspanning by die kommando hou. Dit
lyk byna onmoontlik dat hulle sal ontkom aan hulle agtervolgers,
maar op 8 Desember kom ’n patrollie aangery. Die Caledon het
vinnig gesak en daar is ’n drif waar die kommando kan deur. Terwyl die rivier in vloed was, het die vyand dit onbewaak gelaat.

Sodra die kommando deur is, vat De Wet noordwaarts koers.
Hy wil weer eens net die vyand op ’n dwaalspoor bring en van
hom afskud, voordat hy ’n tweede poging aanwend om die Kaapkolonie binne te val. Agter hom en weerskante van hom sak egter sterk Engelse magte op sy uitgeputte kommando toe en voor hom is ’n string forte reg oor sy pad. Daar is net een gaping waardeur hy kan kom en dit is Sprinkaansnek. Dit word egter bewaak deur forte — twee aan die een kant en drie aan die ander kant met ’n gaping van minder as twee kilometer tussen hulle. Om dit vir die vyand moeilik te maak om hul vuur akkuraat op die kommando te rig, beplan genl. De Wet sy bewegings so dat hulle in die nag deur die blokhuislyn sal gaan. Hy laat opsetlik groot kampvure aansteek en plaas ’n groepie burgers in die stellings sodat die vyand onder die indruk verkeer dat die hele kommando nog daar is. In die donker begin die uitgeputte kommando optrek na Sprinkaansnek. Genl. De Wet self bly agter om die aftog te dek.

So stadig beweeg die klomp voetgangers en die uitgeputte perde egter, dat die dag reeds breek toe hulle binne sig van die nek en sy twee groepe forte kom. Die vyand begin dadelik vuur en die voorhoede van die burgers swaai weg. Dit kan tot ’n ramp lei, want hulle gaan in die arms van die vyandelike kolonnes vlug!

Kmdt. Fourie en pres. Steyn sien die gevaar en keer die burgers. Self op die voorpunt, pyl hulle op die Nek af. Die geskiet uit die forte is verskriklik. ’n Burger ry al langs die President en Steyn beduie vir hom om sy perd volle teuels te gee en te jaag. Hy skud sy kop. "President, die koeël wat u tref, sal eers deur my moet gaan!”

Die voorpunt bereik die gaping en jaag deur. So vinnig as wat hulle kan, volg die ander. Spoedig daag De Wet ook op. Hy laat ’n klompie burgers op ’n rantjie in ’n kraal stelling inneem om die forte te beskiet. So hewig is hulle vuur, dat die geskiet van die vyand aanmerklik afneem. Dit duur twee uur voordat die hele kommando deur is, maar daar is byna geen verliese nie - net een burger gewond! "Dit is alleen toe te skryf aan die beskikking en onweerstaanbare beskerming van die Almagtige God, wat sy hand genadiglik oor ons gehou het,” sê die Generaal.

Hierna besef die vyand ook meer as ooit dat De Wet die siel van die vryheidstryd in die Vrystaat en onder Afrikaners oor die hele land is. In elke land van die wêreld, selfs in Engeland, word hy geroem. So lank De Wet en Steyn vry is en wil veg, sal die stryd voortduur. De Wet moet gevang word, tot elke prys. Hulle het reeds 30 000 troepe vir hierdie doel afgesonder, maar tref maatreëls om die getal te verdubbel.

In Engeland is daar egter baie mense wat glo dat dit ’n onregverdige oorlog is wat teen die Boere gevoer word. Manne soos Lloyd George en Campbell-Bannerman val die regering in die Parlement en op politieke vergaderings aan, en baie koerantskrywers kies kant vir die Boere. Vir al hierdie mense is genl. De Wet ’n held. Hulle juig hom toe, al is dit ten koste van hulle eie generaals en hulle troepe. Toe lord Kitchener en sy generaals juis nou weer nie daarin slaag om De Wet te vang nie, maak ’n Boerevriend, J. McKeowen, ’n hekeldiggie wat wyd en syd in Groot-Brittanje groot pret verskaf.


Sunday
I am taking measures once for all to clear my reputation —
I swear to give De Wet a fall that means annihilation!

Monday
A brilliant action by Brabant, the enemy has fled, their loss was something dreadful; ours: one single black scout dead —

Tuesday
De Wet is short of foodstuff, his ammunition is quite done,
his horses are all dying and he’s only got one gun.

Wednesday
The cordon draws in round De Wet, he now has little room,
he only can escape one way: by road to Potchefstroom.

Thursday
De Wet is now caged like a rat, he’s fairly in a box,
around him grouped are Clements, Clary, Methuen, French and
Knox.

Friday
An unfortunate event occurred — I report it with regret —
a convoy with five hundred men was captured by De Wet!

Saturday
A Zulu runner says he saw De Wet’s men trekking West
with ammunition for two years, and foodstuff of the best!

Saturday (later)
A loyal farmer told our scouts De Wet is trekking East,
each man besides the horse he rode, was leading a spare beast.

Vervolg...