DE WET (SLOT)

Lewenskets van Genl. CR. de Wet
Ben Olivier

Lees reeks by GENERAAL CHRISTIAAN DE WET

Van Waterbury af word die Generaal met 'n perdekarretjie na die polisiestasie op Marokwen vervoer. ’n Swart konstabel hou die leisels. Beleef soos altyd, bedank De Wet die konstabel toe hulle hul bestemming bereik en gee hom ’n handvol tabak.

"Mooi gery, my jong,” sê hy opreg.

Op Marokwen staan motorkarre gereed om die gevangenes na Vryburg te vervoer. Hier drom die mense saam om die legendariese held van die Afrikaners te sien. Almal beskou hom egter nie in hierdie lig nie. Daar is baie wat hom as verraaier bestempel en hom wil uitjou en tart. Met die grootste beleefdheid en voorkomendheid word hy egter deur Jordaan en sy troepe behandel en teen beledigende of vernederende optrede van die massas beskerm. Hulle kan ook nie anders nie. Na liggaam is hy hulle gevangene, maar sy onoorwinbare gees is so vry soos altyd. Selfs nou dwing hy elkeen se agting af.

 

Die trein stoom nou voort na Johannesburg. Oral waar dit stilhou, sien De Wet tekens dat die Rebellie in duie gestort het: burgers wat die wapens neergelê het, ander wat gevange geneem is, wapens wat deur die troepe gebuit is. Hy verneem ook dat feitlik al die kommando’s in die Vrystaat en die Transvaal die stryd gestaak het. Genl. Kemp is feitiik die enigste uitsondering. Met byna bo-menslike dryfkrag en wil veg hy en sy burgers hulle pad oop na Suidwes om aan te sluit by Maritz.

Uiteindelik stoom die trein Johannesburg se stasie binne. Met sy hoof omhoog en sy nog forse liggaam fier en regop, stap hy, omring van offisiere van die Verdedigingsmag, na die motor wat hom na die Fort moet vervoer.

In die Fort word hy alleen opgesluit. Dag en nag is hy alleen in sy sel. Hy peins oor alles wat die vorige maande gebeur het. "Toe die Regering besluit het om oorlog te verklaar en Suidwes binne te val, kon ek nagte aaneen nie slaap nie,” vertel hy. "Ek het gedink aan die vloek van God wat op die volk gaan rus as hy hom skuldig maak aan landrowing. Nadat ek eers begin optree het, het ek vrede gehad. Ek het geen knaende gewete gehad nie. Al het ek nie daarin geslaag om die goddelose inval op die gebied van ’n volk wat ons geen kwaad gedoen het, te keer nie, dan het ek dit tog probeer.”

Elke aand hou hy godsdiens en dan sing hy sy aandgesang. Die wag kan die sang nie verdra nie en verbied dit.

"Moet ek jou gehoorsaam of God?” vra die Generaal en verontagsaam die bevel.

Eers na sewe maande word De Wet na Bloemfontein gebring om op aanklag van hoogverraad voor ’n spesiale hof, bestaande uit regters Lange, Hutton en Searle, te verskyn. Met groot bekwaamheid word die Generaal deur sy advokaat, dr. Krause, verdedig. Hy wys daarop dat die Regering sekere valse voorstellings gemaak het, dat hulle geen notisie geneem het van die besluite wat op die verskillende vergaderings geneem is nie en in die algemeen ’n groot gebrek aan staatsmanswysheid geopenbaar het.

Die aanklaers hou egter vol dat die Generaal die wette van die land oortree het, en volgens die letter van die wet word hy dan ook skuldig bevind. Hy word veroordeel tot ses jaar gevangenisstraf en 'n boete van R4 000.

Fier kyk De Wet sy regters aan toe die vonnis gevel word. "Is that all?” sê hy op Engels. Op Engels? Ja, want daarmee gee De Wet te kenne dat dit die uitspraak is van ’n hof wat vreemd staan teenoor sy Afrikanersiel.

Is that all? Ja, is dit al? Is dit die prys wat julle plaas op die vryheidsideaal wat leef in my Afrikanersiel?

Met vaste tred verlaat hy die hof. As veroordeelde word hy nou na die gevangenis vervoer. Hy moet op die vloer slaap. Sy beddegoed bestaan uit drie komberse. Daar is selfs sprake dat sy baard en hare afgeskeer en dat hy in ’n bandietepak geklee sal word.

Onmiddellik tree vriende vir hom op. Oud pres. Steyn stuur self ’n telegram aan die Minister van Justisie: "Ik smeek U, laat die smaad toch niet aan onze Generaal gedaan worden.”

Onze Generaal! Meer as ooit vantevore leef De Wet in die hart van sy volk. Die oud-President se versoek word toegestaan en die koerant Het Volksblad open ’n 25-sent-fonds om die bedrag vir die Generaal se boete in te samel. Binne drie maande beloop die insameling meer as R8 000 sodat 00k die boetes van ander rebelle-leiers betaal kan word,

Dit alles is maar ’n gedeeltelike openbaring van die gevoel en liefde van sy volk teenoor De Wet. Reeds op 25 Junie 1915 doen die ou volksmoeder, die vyf-en-tagtigjarige weduwee van genl. Piet Joubert, en mev. F. Eloff, dogter van pres. Kruger, 'n beroep op die vroue van Suid-Afrika om in belang van genl. De Wet en sy mede-gevangenes op te tree. Die oproep vind weerklank in die harte van honderdduisende oor die hele land. Op 4 Augustus kom ’n skaar van vrouens in Pretoria byeen om in ’n optog na die Uniegebou te gaan.

’n Petisie is opgestel en twaalf vrouens, waaronder mevv. Joubert, Eloff en J. D. Kestell, gaan dit aan die Goewerneur-Generaal aflewer. Terwyl hulle per motor vooruit ry, vorm die ander vrouens ’n stoet wat te voet agterna kom en die uitslag van die onderhoud voor die Uniegebou afwag.

Die motors vertrek en die stoet kom in beweging. Die vrouens uit die Vrystaat loop voor met mev. De Wet aan die voorpunt. Hulle dra rosette van wit en oranje. Na hulle volg diegene uit Kaapland met rosette van wit en blou; vervolgens die Natallers met wit en rooi rosette en laaste die Transvaalse vroue met rosette van wit en groen.

Stadig stap die stoet in rye van agt voorwaarts langs die kronkelende weg die heuwel op. Geen geluid word gehoor nie, behalwe die val van duisende voete, ’n geluid van vaste wil wat opklink uit die opmars asof dit sê: Al sou ons moet kruip, sal ons nog hier opgaan ter wille van ons held, genl. De Wet.

Die voorpunt van die stoet het reeds die Uniegebou bereik, voordat die agterpunt die voet van Meintjieskop begin bestyg. Uiteindelik is almal bo en in stilte wag die skare nou om die uitslag te verneem van die Deputasie se onderhoud met die Goewerneur-Generaal, burggraaf Buxton. Na 'n baie lang wag kom die twaalf volksmoeders te voorskyn. Hulle het teleurstellende nuus.

Sy Eksellensie kan nie dadelik ’n antwoord gee nie. Die versoekskrif moet eers aan die Ministers voorgelê word.

Die optrede van die vrouens werp tog uiteindelik vrugte af. Na elf maande word genl. De Wet vrygelaat en gaan hy terug na Allanvale na sy vrou en kinders. Daar is egter voorwaardes aan sy vrylating verbonde: Hy mag nie vergaderings bywoon of toespreek nie, en hy mag nie die distrik sonder verlof van die landdros verlaat nie.

Bitter is dit vir hom om te aanskou hoe sy boerdery verval het. Op vyftig na het hy al sy beeste verloor en hy het maar net ’n klein troppie skape oor. So behoeftig is hulle, dat hulle nie bediendes kan aanhou nie. In die gevangenis het hy byna heeltemal grys geword en sy stoere liggaam het veel van sy krag ingeboet. Sy groot troos en vreugde is dat hy nog sy wonderlike, getroue eggenote aan sy sy het. In elke krisis het sy hom met onwrikbare lojaliteit en bemoediging bygestaan.

"Vrou,” se hy grappenderwys, "ek dink dat ek jou nie langer met 'jy’ en 'jou’ sal mag aanspreek nie; ek sal voortaan 'U’ teenoor jou moet gebruik, want jy verdien dit!”

Omdat sy gesondheid verswak het en om die komende winter in die koue bergwêreld van die Noordoos-Vrystaat te vermy, verhuis De Wet na die plaas Putjiesfontein in die distrik Reddersburg.

In dieselfde jaar verloor hy een van sy grootste vriende, ’n man wat hy self soms sy geestelike vader genoem het: oud-president Marthinus Theunis Steyn. Die afsterwe van hierdie groot Afrikaner op 28 November 1916, terwyl hy besig was om die kongres van die Oranje-Vrouevereniging toe te spreek, gaan soos ’n skok deur die land.

Dit is vanselfsprekend dat hierdie volksheld aan die voet van die Vrouemonument begrawe sal word. Weer, soos met die inwyding, is die koppies en die terrein om die Monument met ’n groot, krioelende mensemassa bedek. Selfs in sy dood verenig hierdie magtige persoonlikheid alle partye, laat hy die ganse land se volkshart klop.

Vanselfsprekend ook is dit dat genl. De Wet hier by die Monument die woord sal voer. Aangrypend is sy verskyning onder die hoë suil. ’n Hoorbare trilling gaan deur die skare voordat hulle weer in diepe eerbied swyg en wag op die gryse krygsman se woorde:

"Laat ons treur, ja, want dit pas ons om te treur wanneer so ’n eggenoot, so ’n vader en so 'n staatsman van ons weggeneem word; maar sy voorbeeld en sy werke kan nie vergaan nie . . . Laat ons dus werk terwyl dit dag is.” Hierdie woorde vorm die kern van De Wet se rede.

"Laat ons werk terwyl dit dag is!” is dan ook De Wet se leuse.

Sover as wat sy kragte hom toelaat, bly hy, selfs in sy eenvoudige plaashuis, ’n bron van inspirasie en leiding, want voortdurend ontvang hy besoekers wat sy mening kom inwin, wat hom oor sake van landsbelang kom raadpleeg.

Sy gesondheid baar nou baie sorg en in 1918 verhuis hy na Klipfontein in die distrik Dewetsdorp. Dit is vlakby die plaas Nuwejaarsfontein waar hy as kind opgegroei het. Hier is hy nader aan 'n geneesheer wat oor sy gesondheid kan waak, maar hy word tog baie ernstig siek met die griepepidemie van 1918. Hy doen ook dubbele longontsteking op. Dit is eers teen Maart 1919 dat hy weer enigermate sy kragte herwin.

Dit is asof sy volk weet dat sy einde naby is en besef hoe bitter dit sal wees om van hom afskeid te neem. Hy word ’n senatorskap en ’n setel in die Vrystaatse Provinsiale Raad aangebied, maar moet dit vanweë sy swak gesondheid van die hand wys. Nou, in sy laaste dae, gryp hy opnuut ook die verbeelding van kunstenaars aan. Jan F. E. Celliers skryf sy onvergeetlike gedig GENERAAL DE WET:

Stil, broers, daar gaan ’n man verby,
hy groet, en dis verlaas.
Daar’s nog maar een soos hy;
bekyk hom goed.
Al is die oog verswak, hy kyk nog fier omhoog
in jou soos in sy God se oog.
Al stap hy lofomgeknak en afdraans af,
al klop die hart al flou:
soos altyd is nog nou
elk stap en hartslag trou
tot in sy graf.

Na sy plaas toe kom ook die beeldhouer Moses Kottler om ’n beeld te maak. Die Generaal is liggaamlik gebroke, maar jare later nog vertel die kunstenaar watter indruk "die leeuagtige gestalte en die heldere metaalstem” van die ou volksheld op hom gemaak het.

Hy wil self ook alle voorbereidsels tref en wys aan sy eggenote die piek op die plaas waar hy begrawe wil lê.

"Nee, Christiaan, jy sal nie hier begrawe word nie,” sê sy. "Jou plek is naas die President. Dit is die begeerte van die volk.”

"Nou ja,” is sy antwoord, "vir my volk het ek geleef, vir my volk sterf ek, en as hulle my na my dood wil hê, dan kan hulle my ook kry.”

Aan sy vriend, Harm Oost, die redakteur van Ons Vaderland, stuur hy ’n boodskap wat vir die hele volk bedoel is: "Ek voel my einde kom. Soos die Here wil. As ek die dag op my sterfbed lê en my verstand het, sou ek sê: Doen geregtigheid, maar bly Afrikaners. As ek tog maar my volk bymekaar kon bring - my Afrikanervolk! En almal wat in die siel by ons is, al is dit ’n Engelsman. Dan sal ons die hand om sy nek sit, nes hy ’n gebore Afrikaner sou wees.”

Almal weet dat sy toestand vinnig agteruitgaan. Manne soos Hertzog, Brebner, Deneys Reitz en andere kom hom besoek. Hulle weet dat hulle hom waarskynlik nooit weer lewend sal sien nie, daarom bring hulle vir oulaas hulde. "Daar is geen verdere kans vir my nie,” sê hy vir Reitz, "behalwe die genade van God.”

Op Dinsdag 31 Januarie neem hy afskeid van sy vrou.

"Moenie oor my bekommerd wees nie,” sê sy.

"Ek is nie bekommerd nie,” antwoord hy, "maar dit verander nie die feit dat daar ’n leë plek sal wees as ek weg is nie.”

"Dit is so, maar die Here sal voorsien!” sê sy berustend.

Hierdie woorde is die laaste wat hulle na ’n huwelikslewe van agt-en-veertig jaar met mekaar wissel, want kort daarna raak hy in 'n beswyming.

Om agt minute oor twee, op Vrydag, 3 Februarie 1922, blaas genl. Christiaan de Wet sy laaste asem uit.

In Pretoria beveel die Eerste Minister, genl. J. C. Smuts, dat genl. De Wet ’n staatsbegrafnis sal hê.  Aan mev. De Wet telegrafeer hy: "In Generaal De Wet verloor Suid-Afrika een van haar groot seuns. ’n Prins en ’n groot man het vandag geval.” In opdrag van die Regering wapper ook al die vlae halfstok op die regeringskantore dwarsoor die land.

Van die plaas af word die Generaal se stoflike oorskot na die Gedenksaal van die N.G. Kerk op Bloemfontein geneem waar dit byna ’n week lank op ’n praalbed in staatsie lê. Tienduisende van sy volksgenote kom hier hul hulde betuig.

Ondertussen kom van elke uithoek van die land en selfs vanuit die buiteland ’n stroom van roubetuigings aan: Holland, België, Duitsland, Engeland en Amerika voeg hulle hulde by dié van Christiaan de Wet se eie volk.

Op Woensdag, 8 Februarie 1922, word die stoflike oorskot van die groot volksheld ter ruste gelê. Die diens word gehou in die geskiedkundige Tweetoringkerk. Die geelhoutkis staan op sy draagbaar voor die preekstoel wat in swart en pers gedrapeer is. By die preekstoel sit mev. De Wet en die kinders, mev. (pres.) Steyn en twee broers van wyle die President, asook die Generaal se broers, Piet en Danie de Wet.

Die diens word gelei deur ds. Kestell, die groot Godsman wat deur al die jare van stryd altyd so getrou aan sy sy gestaan het.

"Laat ons bly wees dat hy geleef het; hy sal vir ons ’n besieling wees,” sluit hy sy rede af.

Onder die speel van die dodemars verlaat die treurendes die kerk. Nou, in die dood, is alle verskille vergete. Die slippedraers is die Generaal se ou krygsmakkers, genls. Smuts, Hertzog, Kritzinger, Wessel Wessels, Serfontein en oud-pres. Reitz. Onder die draers is twee van die lede van sy staf uit die Vryheidsoorlog: Wynand Spies en Barry Richter.

Buite voor die kerk vorm die stoet. Vooraan ry daar die berede polisie, gevolg deur tweehonderd burgers van die Bloemfonteinse kommando en die militêre orkes. Agter die orkes kom die lykwa getrek deur ses perde, elk bery deur ’n lid van die Vrystaatse polisie. Dan volg die familie, die verteenwoordiger van die Goewerneur-Generaal, die Ministers, die vier Administrateurs, die Konsulêre verteenwoordigers van verskillende lande en verteenwoordigers van verenigings dwarsoor die land. Kleurlinge en Swartes wat hul eie stoet gevorm het, sluit ook aan.

Sover as wat die lang stoet deur die strate beweeg, is die sypaadjies gepak van die mensemassas. Die Union Jack wat nou oor die eertydse Republiek wapper, hang halfstok aan die geboue, maar aan die vlagpaal op Fichardt se winkel waai die ou Vrystaatse Vierkleur as teken van ’n ideaal wat nie kan sterf nie.

Deur die stil strate, die bult uit na die Monument, beweeg die swyende skare. Die eerste kanonskoot van ’n treursaluut dawer oor die rante en die vlakte daar anderkant, dowwe, droewige slae wat verkondig dat ’n held en ’n krygsman gesterf het.

Die stoet bereik die Monument waar meer as tienduisend mense saamdrom. Hier tree as sprekers op die Eerste Minister, genl. Smuts, oud-pres. Reitz, hoofregter De Villiers, genl. Hertzog en ds. P. van Heerden, Moderator van die N.G. Kerk. Die kern van al die toesprake wat gelewer word, word moontlik die beste weergegee in twee sinnetjies uit die rede van ds. Van Heerden:

"Hy staan daar vandag voor ons op die bladsye van ons geskiedenis as ’n magtige persoonlikheid. Die man was groter nog dan sy dade.”

Dan sien die skare hoe ses meisies in wit geklee die ou Vrystaatse vlag oor die kis sprei en hoe dit stadig wegsink in die graf. Nou tree die tweehonderd burgers na vore, lig hul gewere en vuur ’n laaste saluut. Roerloos luister die skare hoe die gedreun van die salvo wegsterf in die middaglug. Uit die orkes styg ’n weemoedige melodie op as ’n soldaat die laaste taptoe blaas.

Dit is reeds laat en die skaduwees strek ver oor die vlaktes, maar die menigtes draal nog, so asof hulle nie finaal afskeid kan neem nie. ’n Onbekende aanskou dit alles en hy sê: "Om sy graf hier op Bloemfontein sal vir ewig die geur van die vryheid bly hang.”

SLOT