DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (2)

Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog

TRANSVAAL VERLOOR SY ONAFHANKLIKHEID (2)

Die rede vir die Boere se apatiese optrede om nie die wapens op te neem nie toe die Engelse Transvaal kom annekseer het, kan in twee rigtings gesoek word.

Die eerste moontlikheid is dat die meerderheid wel ten gunste van Britse oorname was, soos Shepstone aangevoer het. Dit is nodig om kortliks die teendeel aan te toon. Reeds op 17 Desember 1876 het T F Burgers aan adv HAL Hamelberg geskryf dat, indien die Britse vlag in Transvaal gehys word, meer as die helfte van die bevolking die land sal verlaat. Na die anneksasie was dit duidelik dat baie Boere nie onder die Britse vlag sal bly nie en wil uitwyk. ’n Artikel in The Natal Witness berig soos volg:

 

“They will all trek to the country beyond the Zambezi.” Rondom Februarie 1877 het die Volksraad ’n geskrif in die verskillende distrikte rondgestuur met die versoek dat die burgers hulle stemme vir of teen federasie moes uitbring. Die uitslag van die vorige geskrifte wat op 13 Februarie tydens ’n spesiale sitting van die Volksraad bekend gemaak is, was dat lord Carnarvon se federasie-wetsontwerp met 2 326 teen 362 handtekeninge verwerp is. Op 3 Februarie het De Volksstem berig dat die meerderheid van die Boere in die Pretoriase distrik totaal teen konfederasie onder die Britse vlag is.

Van daadwerklike verset is daar ook bewyse. Ongeveer 300 man te perd onder leiding van F Wolmarans het op 6 Februarie by die regeringskantore in Pretoria aangekom en wou weet wat Shepstone in Transvaal soek. Eers nadat Burgers hulle die versekering gegee het dat Shepstone ’n goedgesinde kommissaris is wat op ’n vriendskaplike wyse kom onderhandel het, is die Boere huis toe. Tydens ’n sitting van die Volksraad op 16 Februarie het 'n lid hom soos volg uitgelaat: “... onze onafhankelijkheid prijsgeven zou lafhartig zijn.” Hy is daarin deur die Raad ondersteun.

Tydens ’n openbare byeenkoms op die plaas Weltevreden, in die distrik Wakkerstroom op 7 Maart 1877, het die aanwesiges hulle ten sterkste teen konfederasie uitgespreek.

In ’n brief aan Henry Bulwer, die luitenant-goewerneur van Natal, maak Shepstone op 12 April 1877 self ’n belangrike bekentenis. Hy meld:

“... the majority of the audience were Englishmen so the cheers were natural,” maar die paar Boere wat ook teenwoordig was, “of course could scarcely be expected to be joyful.” Dit blyk uit die brief dat Shepstone se aanhangers van die Engelssprekende bevolking afkomstig was, terwyl die anneksasie by die Boere wat ongeveer 85 persent van die 45 000 blanke inwoners van Transvaal uitgemaak het, nie welkom was nie. Biskop Colenso se siening in hierdie verband is van belang: “However the foreign element in the Transvaal may have welcomed the annexation, the Boers as a body held aloof.”

Dit is duidelik dat die meeste van die Boere teen anneksasie gekant was en aangesien dit immers nie as motivering vir hulle passiewe houding kan dien nie, word op die waarskynlike moontlikheid vir hulle optrede gewys.

Die toestand in Transvaal was van so ’n aard dat dit selfmoord sou gewees het om hulle toevlug tot geweld te neem. Die Boerevolk was teen 1877 polities verdeeld, onvoorbereid en nie in staat om die wapen teen Brittanje op te neem nie. Dit is belangrik om hierdie toestand na te gaan om die latere rol van die Volkskomitee beter te kan verstaan.

Ten spyte van ’n subjektiewe werk slaag Louis Creswicke tog daarin om die Boere se karakter korrek uit te beeld: “It is a complex character, with multitudinous lights and shades, so subtle and yet so marked, that they are difficult to define accurately.” Die Transvaalse Boer van die negentiende eeu was ’n komplekse karakter. As gevolg van ’n gebrek aan kommunikasie, onvoldoende posverbinding, die yl verspreiding van die bevolking oor ’n wye oppervlakte en die swerwersbestaan was die Transvalers van die negentiende eeu geestelik geïsoleer. So yl versprei het hulle gewoon, dat daar van onderlinge hulpverlening weinig sprake was. Dit het daartoe aanleiding gegee dat die Boer by uitstek ’n veelsydige mens was. Stuart toon dit duidelik aan: “Bijna zonder uitzondering zijn zij te gelijk, behalve uitmuntende scherpschutters te paard, schrijnwerkers, messelaars, steenbakkers, timmerlieden, rietdekkers, smeden, wagenmakers, leerlooijers en schoenmakers; en de vrouwen kleedermaaksters. ”

Hierdie veelsydigheid het negatief op die samelewing ingewerk. Dit het meegebring dat elkeen op sy eie voortgegaan het, sonder veel blyke daarvan dat hulle op mekaar aangewese was. Dit het aanleiding gegee tot ’n oordrewe individualisme en ’n misplaaste selfstandigheidsgevoel wat nie sonder gevaar of nadeel was nie: “Koppigheid, die onmag of onwil om ’n fout te erken of die gesag van ander te aanvaar, was maar enkele gevolge daarvan.”

Hierdie misplaaste selfstandigheidsgevoel was so groot dat daar weinig sprake was van eendrag en nog minder van ’n samehorigheidsgevoel, dus ook nie van nasionalisme nie. Dit alles het die volk onderling verdeel.

Jorissen beeld die toestand treffend uit: “En ’t volk zelf? Gebrek aan eendracht; zodat men er bijna toe komt om te vragen of er wel ’n volk bestond? En werkelik ben ik geneigd die vraag ontkennend te beantwoorden.” Hy voer verder aan: “Het overdreven ver gedreven individualisme, dat iederen burger byna in zijn eigen oogen tot den staat maakt, verhindert ernstige verbinding van patriotten die een net van samewerken over de geheele republiek vlecht. ”

Gebrek aan die erkenning van gesag was ’n algemene verskynsel. Verskeie voorbeelde kan aangehaal word om bogenoemde te staaf. Nadat ’n Potchefstroomse kantienhouer in stryd met die dorpsregulasies ’n paar geweerskote in die dorp gelos het en hy deur die veldkornet ondervra is, het hy ewe brutaal geantwoord: “Het is mijn kruit en het zijn mijne geweeren en mijne grond zoo raakt het niemand.” Van ’n behoefte en toewyding aan dit wat mooi in ’n volk moet wees, was daar weinig sprake.

Die boere se afsydigheid teenoor regeringsaangeleenthede blyk duidelik uit die belastingkwessie. Die noodsaaklikheid van belasting kon die Boere nie insien nie aangesien: “Wij zijn van zelf Beschermers van onze land en Bewaaksters tegen alle invallen van vijanden.” So dominant was die gebrek aan samehorigheid dat De Zuid-Afrikaan gewapende verset ten sterkste afgeraai het.

Die gebrek aan ’n nasionale en patriotiese gevoel was nie die enigste faktor wat verantwoordelik was vir die Boere se lakse optrede tydens die anneksasie nie. Ná die dood van Trekkerleiers soos Andries Pretorius en Hendrik Potgieter het daar ’n politieke lugleegte ontstaan wat niemand onmiddellik kon vul nie. Pres. Burgers was ’n ongewilde keuse wat geensins die vertroue van die volk gehad het nie; M W Pretorius was geen leier nie, en sy aansien was slegs te danke aan sy vader se gewildheid. Hoewel Kruger alreeds teen 1877 as ’n prominente leier begin optree het, is dit duidelik dat hy met die anneksasie nog nie in die posisie was om die Transvaalse Afrikaners as ’n eenheid na die slagveld te lei nie.

Die kwessie van leierskap is verder vertroebel deur die verdeeldheid wat daar in die Volksraad geheers het: “Hoe echter de meerderheid der bevolking ook tegen de annexatie was en nog is zoo was onze vroegere regering en de Volksraad helaas, niet eendragtig genoeg", verklaar die redakteur van De Transvaal in Augustus 1877.

Burgers het nie net daarin misluk om eengesindheid te bewerkstellig nie, maar ook tot die tweespalt bygedra. Artikel 26 van sy onderwyswet het net soos in die geval van sy spoorwegpolitiek hewige verset ontketen.

Sy mislukte Sekhukhune-veldtog het verder bygedra tot sy ongewildheid, terwyl veral Kruger met sy konserwatiewe uitkyk teen die bors gestuit is deur Burgers se “liberalisme,” en daarin is Kruger deur die lidmate van die Nederduits Gereformeerde en Gereformeerde Kerk gesteun. Burgers se optrede het hom uiters ongewild gemaak, wat ’n groot invloed op die Transvalers se gesindheid jeens landsake gehad het. F Reginald Statham sien die saak soos volg: “The Dutch population of the country meantime were not idle. The annexation had come as a surprise ... It was more than probable that their interest in political matters was diminished by the unpopularity of President Burgers, who was an object of suspicion .. .”

Al hierdie probleme het die Transvalers onverskillig gemaak teenoor landsaangeleenthede, in so ’n mate dat Jorissen tot die volgende pensketsing beweeg is: “It Schijnt, dat zowel volken als personen soms door ’n duizeling overvallen worden, die hen besefloos en weerloos maakt, ’n zwakke prooi voor de verkrachter. In ’n dergelike staat blijkt de Transvaal in 1877 verkeer te hebben.”

Tydens sy besoek aan Transvaal kort voor die anneksasie het John Nixon geoordeel: “Political morality is at a low ebb in the Transvaal”.

Hierdie onverskillige houding van die Boere kan ook aan ’n gebrek aan kommunikasie toegeskryf word. Meer as 83 persent van die blanke bevolking het hulle op die platteland bevind. Aangesien hierdie mense ver van mekaar af gewoon het en slegs twee of drie maal per jaar na die Nagmaal gegaan het, was hulle oningelig oor die ware toedrag van sake.

Die stigting van ’n nuusblad met ’n groot omset en met die regte leesstof kon ’n oplossing vir die probleme gehelp bied het. In 1873 het Burgers daartoe oorgegaan, maar teen 1877 het hy nog nie die vrugte van die stap gepluk nie. Eerstens was die omset van De Volksstem te klein, en tweedens was daar die faktor waarop Jorissen wys: “Er is geen pers die de Regering steunt en alzoo op het volkt werkt, en al ware die er ook, zou het niet baten omdat het volk niet leest.”

P E Aston voer ook aan: “The determination of the Boers for independence was not a change of front. Those who clamoured for independence were those who had lived far away from the towns, and had not at first comprehended that annexation had taken place .. .”

Dit is belangrik om daarop te let dat die Zuid-Afrikaansche Republiek met sy hoogstens 8 000 weerbare man onmoontlik die wapens teen Groot-Brittanje kon opneem. Jorissen som die situasie op: “It Heeft niet aan spot ontbroken over een bevolking, die, zonder stryd, voor ’n overmacht van 25 gewapende soldaten, want dit was’t militair eskorte van sir Theoph. Shepstone, is besweken. Maar op ’t getal komt’t niet aan; die 25 man vertegenwoordigden de militaire macht van Engeland .. ,”

Die Transvalers het besef dat hulle nie die wapen teen Groot-Brittanje kan opneem nie, aangesien “de boeren den strijd niet ten einde toe zullen kunnen volhouden tegen de overmagt, welke de Britsche Regering uit Engeland zou kunnen aanvoeren; omdat zij spoedig gebrek aan ammunitie zouden krijgen; omdat zij geen grof geschut bezitten; .. .”

Reeds op 26 Maart 1877 het berigte oor Britse troepebewegings Pretoria bereik en was dit vir die Boereleiers duidelik dat om Shepstone met sy 25 polisiemanne uit die land te verdryf, oorlog teen Groot-Brittanje sou beteken.

Die toestand in Transvaal was van so ’n aard dat Burgers so ’n stap nie eens kon oorweeg nie. De Volksstem het ook die Boere afgeraai om die wapen op te neem:

“Wij mogen er goed in eenige veldslagen afkomen, doch eindelijk zullen we onvermijdelijk veroverd en overgenomen worden als een overwonnen volk,... min ook alle gronden van protest.”

Dit bring ons by die laaste motivering vir die oënskynlike aanvaarding van die anneksasie. Die Boere het hulle berus by die Uitvoerende Raadsbesluit van 11 April 1877. Hulle was oortuig dat indien die ware feite betreffende Transvaal en die begeerde vryheid van sy inwoners die Britse regering bekend gemaak sou word, Brittanje self die anneksasie sou afsien. Die Boere het voldoen aan Burgers se versoek om hulle stil te gedra sodat geen woord of daad die sending van die Deputasie na Europa en Amerika vrugteloos sou kon maak nie.

Aangesien die Deputasie se verslag vroeg in Januarie 1878 regstreeks aanleiding sou gee tot die totstandkoming van die Volkskomitee, is dit nodig om die Deputasie se werksaamhede kortliks na te gaan. Van meet af het sake vir die Eerste Deputasie skeef geloop. Die Boere het geen daadwerklike finansiële hulp verskaf nie, en in talle distrikte is niks gekollekteer nie. Nog voordat hulle in Engeland was, het Jorissen die kans op sukses betwyfel: “Weet dit, dat onze reis naar Europa hoogst onzeker is, en dat er misschien niets van komt, de Engelsch gezinde party werk er met alle magt tegen .. .’

Na Europa: vervolg...