Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
DIE VOLKSKOMITEE: 'N STAAT BINNE 'N STAAT (1)
Die uitlating van Henning Pretorius: “... ik zal mijn bloed geven vir mijn land” het hewige reaksie uitgelok, en luide stemme het beaam: “Ik ook! ! !”
In die vorige aflewerings is daar gewys op die Boere se onverskillige houding jeens landsake voor en tydens die anneksasie. Vir Kruger en Jorissen moes die volksbyeenkoms van Januarie 1878 ’n openbaring gewees het.
Skaars agt maande tevore het hulle die land met sy inwoners in ’n polities stagnante posisie agtergelaat, onbewus van die groeiende volksgees en die ontwaking van ’n liefde vir dit wat sy eie is, wat in ’n latente vorm teenwoordig was. Dit wil voorkom asof Shepstone die politieke klimaat van die land reg aangevoel het, want nog voordat die Deputasie in Transvaal terug was, skryf hy aan sir Bartle Frere dat hy ’n groot mate van onrus onder die Transvalers verwag by Kruger se terugkoms.
Die juistheid van Shepstone se voorspelling is teen 24 Desember 1877 bewys. Onder geleide van ’n honderd perderuiters het Paul Kruger die middag om 15h00 Rustenburg binnegery.
Die meerderheid burgers was gewapen, en die salvo’s ter ere van Kruger het deur Rustenburg weergalm.
Met groot teleurstelling moes die burgers aanhoor dat die Deputasie in sy sending misluk het, en dat daar vroeg in Januarie amptelik verslag gedoen sou word in Pretoria. Oor die byeenkoms in Pretoria het Jorissen later verklaar: “Voor het eerst openbaarde zich een teken van nationalen zin, en ’n uiting van’t volksgevoelen” en “Er schijnt in die logge massa een latente kracht van vasten wil en vrijheidsliefde te zijn die zich begint te roeren.”
Januarie 1878 het onteenseglik ’n nuwe tydvak in die geskiedenis van die Transvaalse Boere ingelui. Verskeie adresse wat tesame meer as 1 000 handtekeninge bevat het, is die Deputasie aangebied. Uit die adresse het
twee sake duidelik na vore getree: die volk erken nie die Britse gesag nie en beskou hulle nog steeds as “burgers der Zuid-Afrikaansche Republiek,” en hulle hoop dat die verslag van die Deputasie hulle sal welgeval en dat dit bloedvergieting sal voorkom. Die Deputasie het nou nie meer in opdrag van die vroeëre Uitvoerende Raad na Londen gegaan nie, maar in direkte opdrag van die volk. Die volk het na vore getree as ’n verantwoordelike eenheid wat noulettend na sy belange begin omsien, en diegene wat in opdrag van die volk moes handel, is tot verantwoording geroep.
Die term “volk” wat hierbo gebruik is en deurgaans gebruik sal word in hierdie werk, verdien meer aandag. Die begrip “volk” is ouer as die begrip “Afrikaner.” Reeds in die 17e eeu en Patriottetyd vind ons die gebruik van die term “volk”. Tydens die Groot Trek was die term vrylik in gebruik, en in 1838 is dit op hoë vlak gesanksioneer met die instelling van die “Volksraad”. Die woord “volk” is na 1877 sterker aan die Afrikaners gekoppel nadat hulle samehorigheid as ’n groep begin toon het. Die begrip “volk” dui dus in hierdie werk op die Afrikaner-element in Transvaal wat die anneksasie teengestaan het, terwyl die “Volkskomitee” ’n liggaam aandui wat deur hierdie element wat in die lewe geroep is en wat leiding moes gee in hulle versetbeweging.
Meer as 'n duisend burgers het op Saterdagoggend, 5 Januarie 1878 hul opwagting gemaak om te verneem in watter mate die Deputasie aan hulle verwagtinge voldoen het. Op die plaas Zandfontein het ongeveer 600 burgers Kruger tegemoet gery e hom van daar na Pretoria begelei. Op Kerkplein het hy die publiek kortliks meegedeel dat daar ’n misverstand is en dat die Deputasie eers Maandag, 7 Januarie, verslag sal doen. Die feit dat daar die Maandag weer ’n duisend burgers teenwoordig was, is ’n openbaring. Die burgers het nie huiswaarts gekeer nie en ten spyte van opofferings het hulle die Sondag oorgebly om teenwoordig te kon wees.
Die verrigtinge het die oggend om 10h00 begin toe Kruger die byeenkoms op die plein van die Gereformeerde Kerk begin toespreek het. Aangesien daar sulke groot groepe mense teenwoordig was, het Kruger voorgestel dat elke distrik of wyk ’n verteenwoordiger moet kies wat naby hom moes kom staan om later volledig verslag te kan doen aan diegene deur wie hy afgevaardig is. Hierdie voorstel het byval gevind en die volgende persone het as afgevaardigdes van die distrikte of wyke gerapporteer: P Venter, H Pretorius, F Botha, M W Vorster, H Schoeman, M Viljoen, C Joubert, J Fouche, J E Erasmus, H de Beer en J Breedt.
Hoewel die verkiesing van hierdie afvaardiging nie verband hou met die Volkskomitee nie, kan dit beskou word as die voorloper van die kommissie wat later die dag tot stand sou kom. Dit was die eerste teken dat die aanwesiges onder die volk besef het dat hulle georganiseerd te werk moes gaan. Met die verlies van die Volksraad moes die volk in ’n ander vorm by hulle leiers verteenwoordig word, al was dit in daardie stadium in ’n nie-permanente hoedanigheid.
Die verslag wat W E Bok voorgelê het, was vir die Boere teleurstellend.
Die beloftes van Carnarvon in verband met ’n lening van £100 000, gelyke taalregte vir Hollands en Engels, die verbetering van in- en uitvoerregte na die Kaapkolonie en Natal, asook die verbetering van paaie, spoorverbinding en die telegraafwese het hulle koud gelaat. ’n Verduideliking dat die Deputasie se mislukking in hoofsaak te wyte was aan valse verklarings soos dié van ds Jooste, het nog minder gehelp en gemoedere net hoër laat opvlam. M W Vorster kon nie help om sy misnoeë oor die Deputasie se werksaamhede te laat blyk nie. Hy het verklaar dat die Deputasie nie in homself geglo het nie en lafhartig die slagveld verlaat het nog voordat die stryd begin het. Die een spreker na die ander het hom uitgelaat oor die miskenning van hulle onafhanklikheid. Die uitlating van Henning Pretorius: “... ik zal mijn bloed geven vir mijn land” het hewige reaksie uitgelok, en luide stemme het beaam: “Ik ook!”
Kruger het beslis nie verwag dat die gevoel onder die Boere hierdie toon sou aanneem nie. Vir Kruger was dit duidelik dat die volk met niks minder as hulle onafhanklikheid tevrede sou wees nie, en hy het daarop gewys dat Brittanje as gevolg van onkunde oor die juiste gevoel in Transvaal tot die daad van anneksasie oorgegaan het.
M W Vorster het op hierdie stadium ’n voorstel gemaak wat enersyds die skare gekalmeer het en andersyds ’n groot invloed op die Transvaalse volk se vryheidstrewe sou hê, naamlik "... dat het volk eene Commissie zou kiezen om verdere inlichtingen van de deputatie te krijgen.” Dit was duidelik dat die voorstel nie voorsiening gemaak het vir ’n komitee soos die latere Volkskomitee nie, maar voortspruitend daaruit sou die Volkskomitee ontstaan. Tot lede van hierdie kommissie is verkies: P A Venter, C J Erasmus, J E Erasmus, F H Geyser, S T Prinsloo, T P Pretorius, M J Viljoen, J P Mare, C J Joubert, W Prinsloo, M W Vorster, J T Breedt, J de Beer, F A Botha en H J Schoeman.
Nadat die kommissie met die Deputasie onderhandel en die inligting onder die teenwoordiges versprei het, het die verrigtinge weer begin. In hierdie stadium het die klem van die besprekings na die moontlikheid van ’n volkstemming verskuif. Hierdie idee het die algemene goedkeuring van die skare weggedra.
Dit wou voorkom uit die voorstel van MW Vorster of hy slegs ’n kommissie beoog het wat hom moes besig hou met die volkstemming en dat hy geen verdere of diepere betekenis daaraan gegee het wat enigsins verband hou met die Volkskomitee nie. Hierdie voorstel van Vorster was egter mondelings en dit is dus nodig om verdere inligting te kry om die werklike inhoud van die voorstel te bepaal.
Twee artikels in De Volksstem werp meer lig op hierdie aangeleentheid.
Eerstens meld die koerant in sy verslag oor 7 Januarie se verrigtinge dat M W Vorster se voorstel voorsiening gemaak het vir die hou van byeenkomste in die verskillende wyke deur die kommissie en om die gevoelens van die volk aan die Britse regering bekend te maak. Dat Vorster veel meer in die oog gehad het as bloot die volkstemming, blyk uit die notule van die eerste vergadering van die kommissie, gehou op die dag van sy samestelling: “Vergadering van de Commissie benoemd door de tegenwoordige burgers in de Z A Republiek, ... ten einde op te stellen een verzoekschrift naar Lord Carnarvon, om nogmaals te trachten het land weder te krijgen, en wat daar verder toe behoort.” Die laaste gedeelte van die aanhaling toon duidelik dat die kommissie se werksaamhede nie beperk was tot die volkstemming nie. The Natal Witness se verklaring dat daar op 6 Januarie ’n komitee aangewys is “to work for the independence of the people,” laat geen twyfel oor die trefwydte van Vorster se voorstel nie.
Die ywer en doelgerigtheid van die Pretoria-kommissie wat die distrikte Pretoria, Potchefstroom, Heidelberg, Rustenburg en Waterberg verteenwoordig het, is ’n duidelike bewys van die gees wat stadigaan onder die Transvalers begin posvat het. Die kommissie het geen gras onder sy voete laat groei nie en reeds op 7 Januarie begin met die pligte wat deur die volk aan hom opgedra is. Met M J Viljoen as voorsitter en W E Bok as sekretaris, het die vergadering, nadat Kruger ook in hulle midde toegelaat is, deeglik besin oor die werksaamhede van die Deputasie.
Die verslae van die verskeie onderhoude tussen die Deputasie en Carnarvon is nagegaan, en verskeie lede het hul menings daaroor gelug. Dit was vir hulle duidelik dat Carnarvon onder ’n wanindruk verkeer het. Op voorstel van M W Vorster het die kommissie besluit om ’n versoekskrif aan Carnarvon op te stel. J E Erasmus, J P Mare, S T PrinsJoo en C J Joubert het hulle goed van hulle taak gekwyt en die versoekskrif wat hulle opgestel en aan die kommissie voorgelê het, is algemeen aanvaar. Nadat daar besluit is om 200 eksemplare van die versoekskrif te laat druk, is die vergadering tot die volgende dag verdaag.
Die vergadering van 8 Januarie het in hoofsaak gehandel oor die hantering van die versoekskrif. Dit is in die algemeen aanvaar dat komiteelede verantwoordelik sou wees vir die verpreiding, opneem en besorging van die versoekskrif-eksemplare aan Kruger wat hulle op sy beurt aan Carnarvon sou stuur. Bok het hom bereid verklaar om Kruger die daaropvolgende vier maande nog behulpsaam te wees as sekretaris, teen ’n vergoeding van £50. Die vergadering het hierna verdaag.
Vervolg...