DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (7)

Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog

'N VERSETBEWEGING TEEN BRITSE GESAG (1)

Om te beantwoord aan die doel van die Volkskomitee, naamlik om die Transvaalse onafhanklikheid langs ’n vreedsame weg te verkry, was die afvaardiging van ’n tweede deputasie na Londen die ideale oplossing.

Waar daar beweer kan word dat die Eerste Deputasie die Britse leeu in 1877 onvoorbereid gaan aandurf het, was die teendeel waar van die Tweede Deputasie.

Die Tweede Deputasie was honderd persent seker van die steun van die oorgrote meerderheid van die bevolking in Transvaal. Shepstone se brief aan Londen in Mei 1878 toon duidelik dat ook hy beïndruk was deur die omvang van die Boere-agitasie. Hy verklaar dat die Boere steeds voortgaan met hulle stappe “to gain back the country to their rule” en daarvan praat “as a settled plan fully and finally determined upon.”

Ook Jorissen was getref deur die wending in die Boereverset: “Er schijnt in die logge massa een latente kracht van vasten wil en vrijheidsliefde te zijn die zich begint te roeren. Verleden jaar werd met de grootste moeite het sommetje van £1 080 bijeengebracht (vir die Eerste Deputasie) en nu is binnen de vier weken £3 000 te samen gekomen” (vir die Tweede Deputasie).

 

Wat die moontlikheid van sukses vir die Tweede Deputasie soveel groter gemaak het, was vier dokumentêre bewyse wat hulle na Londen sou saamneem: ’n Volksraadsbesluit van 22 Februarie 1877 waarin die handhawing van die land se onafhanklikheid bevestig is; die Uitvoerende Raadsbesluit gedateer 11 April 1877 waarin geprotesteer is teen Shepstone se voorgenome anneksasie; die protes van Burgers gedateer 11 April 1877; en ’n memorie van protes onderteken deur 6 591 stemgeregtigde burgers uit ’n moontlike 8 000.

Ten spyte van genoemde bewyse om die Tweede Deputasie se hande te sterk in die herkryging van hul onafhanklikheid, het daar van die begin af twyfel bestaan oor enige sukses. Reeds op 29 April 1878 skryf mev Jorissen aan haar seun dat sy twyfel of daar iets uitgerig sal word. Wat van belang is, is haar mening oor die gevolge van ’n onsuksesvolle deputasie:

“Of het wat helpen zal, ik geloof het niet, maar als het niet gelukt, dan gaan de Boeren vechten ...” Waar die Eerste Deputasie dus onseker was oor die werklike steun van die Transvalers, kon Kruger en Joubert weet dat hulle namens die hele volk sou handel.

Op die dag van hulle vertrek, 14 Mei 1878, het Kruger en Joubert ’n besoek aan Shepstone gebring. Tydens die onderhoud het die Deputasie ’n brief aan Shepstone oorhandig waarin hulle die doel van hulle sending na Europa uiteensit. As werktuie van die Volkskomitee sou hulle poog om hul doel langs 'n konstitunele weg te bereik, en juis daarom het hulle Shepstone in die saak geken. Kruger se vroeëre optrede is ook 'n sprekende voorbeeld daarvan. Tydens 'n privaat-onderhoud sowel as deur middel van ’n skrywe, het Kruger Shepstone versoek om te help met die herstel van die Transvaalse onafhanklikheid. Shepstone se reaksie hierop kan saamgevat word in die laaste sin van sy brief aan Kruger en Joubert op 18 Mei 1878: “No two men in the Transvaal have done more to make the general ruin you deprecate possible than you have, and upon no shoulders will the responsibility of averting it press so heavily as upon yours.”

Voordat die Deputasie die tog per boot na Londen aangepak het, het hulle op 3 Junie in Kaapstad ’n onderhoud met sir Bartle Frere gehad.

Frere, die Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika, het hom uitgespreek teen die Deputasie en daarop gewys dat die herstel van die Transvaalse onafhanklikheid buite die kwessie was. Joubert - wat op die hoogte was van Brittanje se ideaal om Suid-Afrika te verenig - het daarop gewys dat enige vooruitsig op federasie juis deur die anneksasie vertroebel is.

Bewus daarvan dat hulle geen hulp van die Britse gesagspersone in Suid-Afrika sou ontvang nie, het die Deputasie op 29 Junie in Londen aangekom. In Brittanje is lord Carnarvon intussen deur sir Michael Hicks Beach as Minister van Kolonies vervang. Heeltemal onbekend met die Transvaalse aangeleentheid, sou hy hom laat lei deur subjektiewe inligting van persone soos Shepstone en Frere. Hy sou volhard op die weg van Carnarvon, en verskeie mededelings uit Suid-Afrika het hom in sy onverbiddelike houding gesterk. Shepstone se brief wat nog aan lord Carnarvon gerig was, sou vir Hicks Beach genoeg motivering inhou om die Tweede Deputasie as van minder belang te beskou: “You will, I am sure, be surprised to hear that another Boer deputation is going to London. Paul Kruger... is not, in my opinion, an honest man and has not shown that he did not deserve the consideration with which you treated him, he has been the cause of the late excitement ...”

Ook Frere het die Minister van Kolonies meegedeel dat iedereen in Suid-Afrika ten gunste van Britse bewind in Transvaal is en dat, hoewel die protes daarteen lewendig is, die protesteerders ver in die minderheid is.

Kruger en Joubert was bewus van hulle bykans onmoontlike taak. Valse berigte oor die Transvaalse toestand het die Britse regering onsimpatiek gestem. Vroeg in Julie 1878 skryf Joubert aan die voorsitter van die Volkskomitee: “Maar ik heb nu de Blaauwboeken aangekocht, en als gij alles leest wat daarin van ons geschreven staat dan zouden u de haren te berge rijzen en zoudt gij met mij uitroepen: Is dit mogelijk! ... waarom heeft Engeland dan toch niet al lang de Republiek ten onder gebracht, vernietigd en ingenomen? Ja dan zult gij nu uitroepen: neen geene Republiek weder!” In die brief toon Joubert verder aan dat die Deputasie alleenlik in sy doel sal slaag indien hulle die valsheid, leuentaal en laster aan bande kan lê en die Britse regering van die ware feite kan oortuig.

Bykans twee weke nadat die Deputasie in Londen aangekom het, het Hicks Beach hulle eers te woord gestaan.

Joubert, se bange voorgevoel is bewaarheid. Nadat die Deputasie deur Donald Currie aan Hicks Beach voorgestel is, het W E Bok ’n lang motivering wat vooraf opgestel is, voorgelees. Protes is aangeteken teen die anneksasie van Transvaal, en daar is gewys op Shepstone wat sy opdrag oorskry het en gehandel het sonder om hom te vergewis of die meerderheid van die inwoners anneksasie verwelkom het. Die vier genoemde dokumente is hierna aan hom voorgehou as bewys dat die oorgrote meerderheid die anneksasie verwerp. Vervolgens het die Deputasie daarop gewys dat die verslae wat Shepstone voorgehou het om die tevredenheid van die bevolking aan te toon, misleidend was en nie die ware gevoel in Transvaal weerspieël het nie.

Uit hierdie weldeurdagte verweer blyk dit duidelik dat die probleme met betrekking tot die ou Republiek se finansies en swartmense heeltemal oordryf is. Dat die prestige van Transvaal sedert 1869 wel gedaal het, erken die Deputasie. Hulle wys egter daarop dat dit daaraan te wyte is dat die diamantvelde die ou Republiek ontneem is - “Misschien de meest tot skande strekkende gebeurtenis in de Britsche koloniale geschiedenis” - en aan die verkoop van vuurwapens en ammunisie “aan de naturellen ...onder overtreding van die Conventie van Zandrivier.”

Ten slotte het die Deputasie hom beroep op die “regtvaardigheid en rechtschapenheid van die Engelsche natie” en is Hicks Beach versoek om die Britse gesag aan Transvaal te onttrek.

Hicks Beach, wat die lang betoog met groot ongeduld en weinig belangstelling aangehoor het, was nie bereid om persoonlik verder te onderhandel nie. Hy was egter bereid om op die saak in te gaan en skriftelik te antwoord - ’n antwoord waarvoor die Deputasie net minder as ’n maand sou wag.

Op 6 Augustus 1878 het Hicks Beach in ’n skrywe sy antwoord aan die Deputasie verstrek: Die anneksasie van Transvaal is onherroeplik. Hy stel dit duidelik dat hy nie dieselfde waarde as die Deputasie aan die versoekskrifte kan heg nie: "... I can only add that I am unable to regard the memorial as representing the true and deliberate opinions .. .” Vir hom is die gunstige ontvangs van Shepstone in Pretoria en van die Britse garnisoene in Transvaal ’n voldoende bewys dat Britse gesag verwelkom is.

Hicks Beach se ongemotiveerde antwoord wat ’n mengsel van onwaarheid en bluf was, moes ’n ontmoedigende indruk op Kruger en Joubert gelaat het. Nadat hulle ook Hicks Beach se toespraak in die Britse Parlement aangehoor het, was dit duidelik dat dit nutteloos sou wees om langer te vertoef. Op 23 Augustus het hulle Hicks Beach se brief breedvoerig

beantwoord. Hulle het daarop gewys dat die vreedsame gedrag van die Transvalers slegs toegeskryf kan word aan pres. Burgers se proklamasie

Wat die Boere versoek het om rustig te bly en hulle vreedsaam te gedra. Die blote vermelding daarvan deur Kruger en Joubert kan beskou word as 'n bedekte dreigement. Die toenemende spanning in Transvaal kan verander omdat hulle nie daarvoor verantwoordellk gehou kan word nie.

Tydens die Deputasie se verblyf in Europa het hulle ook Nederland, Frankryk en Duitsland besoek. Hoewel die Nederlandse regering die Deputasie simpatiek gesind was, kon hulle geen daadwerklike hulp verskaf nie. Die besoeke aan Frankryk en Duitsland is kortgeknip toe dit duidelik geword het dat ook dié regerings nie bereid was om hulle direk met die saak te bemoei nie.

Sonder sukses was die Deputasie egter nie. Die besoek van Kruger en Joubert aan Engeland was water op die meul van die liberate leiers wat teen imperialisme gekant was, soos onder andere Courtney. In ’n toenemende mate sou die Transvaalse vraagstuk voorbladnuus in Engeland word.

Op 24 Oktober het die Tweede Deputasie die terugtog na Suid-Afrika

aanvaar en teen die einde van November in Durban voet aan wal gesit.

Hulle het hulle opdrag uitgevoer, maar sonder sukses. Die mislukking van hierdie sending het ’n nuwe era in die geskiedenis van die Volkskomitee ingelui. Dit het al hoe duideliker geword dat ’n oplossing nie langs ’n vreedsame weg verkry sou word nie. Tog was die tyd nog nie ryp vir aktiewe verset nie. Waar al hoe meer Boere na die mislukking van die Tweede Deputasie begin aandring het op gewapende verset, sou die Volkskomitee voor ’n al groter wordende taak gestel word. Die Volkskomitee sou die gemoedere moes kalmeer, maar terselfdertyd die volk as ’n gedissiplineerde eenheid voorberei op ’n stryd wat gaandeweg al hoe onvermydeliker begin word het.

Met die Deputasie se aankoms in Natal het hulle hul weer eens tot sir Bartle Frere gewend. Tydens ’n ontmoeting op 28 November 1878 te Pietermaritzburg, waarheen Frere hom gehaas het vanwee die Zoeloe-

probleem, het Frere die Deputasie vir die tweede keer daarop gewys dat daar nie sprake kan wees van ’n onafhanklike Transvaal nie. Frere het sy bes gedoen om Kruger en Joubert tevrede te stel met beloftes soos volkome onafhanklikheid betreffende binnelandse aangeleenthede as ’n provinsie van ’n gefedereerde Suid-Afrika onder die Britse vlag. Kruger en Joubert het bly volstaan met algehele onafhanklikheid, en die samesprekings het op niks uitgeloop nie.

Die Zoeloevraagstuk – vervolg...