DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (8)

Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog

'N VERSETBEWEGING TEEN BRITSE GESAG (2)

Die Zoeloevraagstuk

’n Belangrike faset wat tydens die ontmoeting na vore getree het, was die Zoeloe-vraagstuk. Aangesien daar later breedvoerig aandag hieraan gegee word, is dit voldoende om hier slegs kortliks daarvan melding te maak.

Die Brits-Zoeloeverhouding was teen Desember 1878 van sodanige aard dat oorlog tussen die twee onvermydelik was. Die posisie wat die Boere van Transvaal in so ’n stryd sou inneem, sou vir die Britse regering van groot belang wees. Op versoek van Frere het Kruger ingewillig om met ’n Boere-kommando van 500 man orde en rus onder die Zoeloes te bewerkstellig. As beloning daarvoor het Kruger egter die onafhanklikheid van sy land geeis. Frere kon nie daaraan gehoor gee nie en het Kruger se aanbod van die hand gewys. As voorstander van die behoud van die Christendom was Kruger bereid om Brittanje in stryd met raad by te staan, maar niks verder nie.

 

Op 10 Januarie 187V sou die Deputasie tydens 'n vergadering van die Volkskomitee verslag doen van sy werksaamhede. Hierdie vergadering is op die plaas Wonderfontein van Jan Prinsloo in die distrik Potchefstroom gehou.

Twee redes kan aangevoer word vir die keuse van die spesifieke plaas. Eerstens is die plaas sentraal geleë tussen Pretoria, Potchefstroom en Rustenburg. Hierdie drie distrikte het die grootste blanke bevolking gehuisves, naamlik ’n totaal van 17 746 waarvan nagenoeg 15 000 deel van die Boerevolk uitgemaak het. ’n Tweede rede waarom die keuse die keer en later weer op Wonderfontein as vergaderplek geval het, blyk uit die

“Bekendmaking” van die vergadering self: “Genoemde plaats is een gezonde paardenplaats, en zal om die reden de vergadering aldaar worden gehouden.”

Waar perdesiekte op daardie stadium ’n wesentlike probleem was, was dit nodig om voorsiening te maak dat dit nie die Boere daarvan sou weerhou om die verrigtinge by te woon nie.

Uit die “Bekendmaking” wat in De Volksstem verskyn om kennis te gee van die vergadering, kan nog ’n belangrike gevolgtrekking gemaak word. Vir die eerste keer word daar nie meer verwys na ’n vergadering van die Pretoriase en Potchefstroomse kommissies nie, maar na: “De Vergadering van het Comite ... ” Ons vind dus hier ’n duidelike bewys dat, hoewel daar geen amptelike samesmelting van genoemde twee kommissies was nie, daar ’n spontane eenwording was. Die vergadering op Wonderfontein, ook bekend as Rietvlei, hoewel dit slegs ’n Volkskomitee-vergadering was, is volgens De Volksstem se korrespondent deur nagenoeg 1 500 persone bygewoon. Al die distrikte was goed verteenwoordig met die uitsondering van Soutpansberg. Dit is ’n aanduiding dat die anneksasie reg deur Transvaal prioriteit begin geniet het.

Die ontvangs van Kruger en Joubert op 10 Januarie op Wonderfontein was skouspelagtig. Heel voor in die optog was sestien perderuiters, gevolg deur 34 rytuie met 544 ruiters wat die agterhoede gedek het. Met die aankoms op die terrein is salvo’s ter verwelkoming afgevuur. Hierna het genoemde here ’n wa bestyg en verslag gedoen van hulle sending. Verskeie burgers het hulle misnoeë uitgespreek oor Brittanje se weiering om hul onafhanklikheid terug te gee. Die uitlatings is gekenmerk deur ’n algemene tevredenheid met die Deputasie se werksaamhede. Aangesien die verslag wat op 10 Januarie gelewer is, aan die publiek gerig is, was dit nie die amptelike verslag aan die Volkskomitee nie. Die verslag sou eers op Saterdag, 11 Januarie, gedoen word. Treffend is M W Pretorius se opmerking oor die verslag van 10 Januarie: “De heer M W Pretorius drukte als individu, niet als lid van het Comite, zijne volkomene tevredenheid uit over het werk der Deputatie.” Die gesag van die Volkskomitee is daardeur onomwonde erken en gevestig.

Die Wonderfontein-vergadering het in twee fases plaasgevind wat duidelik onderskei kan word. Die eerste fase is gekenmerk deur groot opgewondenheid onder die Boere. Sprekers soos N J Smit, A Potgieter en ander wat hulle uitgespreek het ten gunste van onmiddellike en kragdadige optrede, is luid toegejuis en het die gemoedere hoog laat loop. Die ligpunt van hierdie fase is bereik met die voorstel dat die vergadering moet voortgaan om krygsoffisiere te kies.

Die tweede fase is gekenmerk deur Volkskomitee-vergaderings waartydens deeglik besin is oor ’n verdere program van aksie. Dit sou aan twee belangrike vereistes moes voldoen. Eerstens moes dit 'n duidelike weg aandui vir die herkryging van die Transvaalse onafhanklikheid en tweedens moes dit die Boere tevrede stel.

Op 11 Januarie, het die Volkskomitee sy eerste vergadering gehou. Om hulle geledere te versterk, is die volgende persone tot die komitee verkies: C Coetzee van Lydenburg; D Erasmus, N Smit, 'n Pretorius van Middelburg en A Reinecke van Potchefstroom. Die deputusie se verslag is hierna voorgelees. Ook die Volkskomitee het sy tevredenheid met die Deputasie se werksaamhede uitgespreek. Op voorstel van C Joubert het die Volkskomitee besluit dat hulle met die steun van die volk voort sal gaan om te protesteer.

'n Tweede voorstel deur C Joubert, gesekondeer deur H J Schoeman, het rigting aan die Volkskomitee se werksaamhede gegee. ’n Kommissie moes deur die Volkskomitee verkies word om 'n verslag op te stel oor die mening van die volk. Tot die kommissie

is onder andere verkies S J P Kruger, P J Joubert, C Bodenstein, C Joubert, H J Schoeman, M W Vorster en H Ueckermann. Aan die hand van die ingekome verslae moes hulle ’n voorstel by die Volkskomitee indien oor die vorm wat die voortgesette protes moet aanneem.

'n Brief van Frere aan Kruger en Joubert wat tydens die Saterdagsitting sou spreek en ook aan die publiek voorgehou is, het die hoop laat opvlam dat die moontlikheid van ’n vreedsame oplossing nog in sig was. Hoewel hy dit baie duidelik in sy brief aantoon dat die Transvaalse onafhanklikheid nie herstel kan word nie, het die brief tog die indruk geskep dat die anneksasie nie ’n uitgemaakte en permanente saak is nie. In die brief meld hy dat die Transvaalse volk verseker kan wees van die simpatie van die Britse regering sowel as die inwoners van Groot-Brittanje “and their sincere desire to see justice done to the Transvaal.’’  Vir die Boere was dit ’n uitgemaakte saak dat, indien geregtigheid sou geskied - en dit is deur Frere beloof - Transvaal sy onafhanklikheid sou terugkry.

Geen wonder dat die kommissie wat aan die hand van die ingekome verslae verdere maatreëls vir die herkryging van hulle onafhanklikheid moes bepaal, ’n beleid van gematigde optrede voorgestel het nie. Die mening van die volk wat deur middel van die verslae tot uiting gekom het, het dit duidelik gemaak dat hulle hul nie aan die Britse regering sal onderwerp nie.

Aan die Volkskomitee is opgedra om ’n deputasie na Frere, wat nog steeds in Natal was, te stuur om hom in kennis te stel van die volksgevoel, waarna die deputasie aan die Volkskomitee en volk, verslag moes doen. Die volk se keuse het op P J Joubert geval om hulle saak aan Frere bekend te gaan maak.

Die res van die Volkskomitee-vergadering is deur organisatoriese werksaamhede in beslag geneem. Met die oog op Joubert se besoek aan Frere en laasgenoemde se belofte om Transvaal te besoek, is aan die voorsitter van die Volkskomitee opdrag gegee om die volk deur middel van die nuusblaaie op hoogte te hou van verdere verwikkelinge. W E Bok is versoek om as besoldigde sekretaris van die Volkskomitee aan te bly.

’n Kommissie bestaande uit C J Joubert en H Ueckermann is ten slotte aangestel om ’n finansiele verslag van die Tweede Deputasie se uitgawes op te stel. Die kommissie het bevind dat daar ’n bedrag van £495 14s. 6d., oor is. Hierdie bedrag is tot die beskikking van die Volkskomitee gestel en is deur kollekte aangevul tot oor die £550.43.  P J Joubert is as kassier van die Volkskomitee aangestel met die doel om ’n wakende oog oor die Komitee se finansies te hou. Nadat die volk versoek is om in groot getal teenwoordig te wees met Frere se besoek aan Transvaal, het die menigte huiswaarts gekeer.

Hierdie eerste amptelike volksvergadering wat deur die Volkskomitee

geïnisieer is, het alle verwagtinge te bowe gegaan. Ten spyte van hewige reën en perdesiekte wat hoogty gevier het, was die opkoms oorweldigend. By hierdie vergadering het ’n nuwe geestesgesteldheid onder die Boere na vore getree. Die ontevredenheid met en verset teen die anneksasie het ’n verreikende uitwerking gehad. In Brittanje is ’n vyand gesien.

Hierdie vyand was die eerste werklike gemeenskaplike vyand waaronder die individualistiese Boere gebuk moes gaan. Individualisme is prysgegee om gemeenskaplik die vyand te kan beveg. In die byeengekome gemeenskap of massa het die Boer sy mag en krag begin raaksien. Die groepsverbondenheid het die Boer gestroop van sy oordrewe egoïstiese individualisme en selfstandigheidsgevoel. Hulle gemeenskaplike doel, naamlik verset teen die verlies van hulle onafhanklikheid, het prioriteit nommer een geword. Die individu het hom begin vereenselwig met enige uitlating wat gestrook het met die gemeenskaplike doel, en dit het van hom ’n gemeenskapsmens gemaak, ’n voorvereiste vir nasionalisme.

Aangesien daar in volgende aflewerings volledige aandag aan hierdie saak gegee sal word, hoef hier nie verder daarop ingegaan te word nie.

Bewus van die onreg wat hom aangedoen is, het die Boer aangedring op geregtigheid. Tydens die eerste fase van die Wonderfontein-vergadering het die Boer hom op sy roer beroep. Wapengeweld sou Brittanje van die anneksasie laat afsien. ’n Algemene houding om oor te gaan tot die uiterste stap, vind ons in bykans elke toespraak. A Potgieter het daarop gewys dat die Boere onmiddellik hul vryheid moet terugkry voordat Brittanje ’n belasting van £5 op elke geweer hef. Treffend was N Smit se oproep tot die volk: “De heer Nics Smit smeekte in Gods naam om niet langer het handelen uit te stellen ... Laat ons in Gods naam dadelijk handelen en het gestolehe terugnemen”. Met die aanvang van die vergadering het 65 burgers van die wyk Luipaardsvallei M W Pretorius aan die hand van ’n verslag tot Kommandant-Generaal verkies. Dit, tesame met die oproep om krygsoffisiere te verkies, is ’n bewys dat die Boere gewapende verset beoog het.

Vervolg...