Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
DIE STEM VAN DIE VOLK (1)
Vanaf die vroegste jare van die Zuid-Afrikaansche Republiek was dit politieke praktyk dat die volk die hoogste gesag voer. Treffend word die gesag van die volk in 1868 in ’n memorie van die Wakkerstroomse inwoners gelykgestel aan “de koningstem des lands.”
Tydens die bestaan van die Volkskomitee is hierdie beginsel steeds gehuldig. Paul Kruger het eerbied en ontsag vir die stem van die volk gehad. Hy het hom dikwels daaroor uitgelaat: “Het volk heeft de Koningstem en een vrye stem is Gods stem.” Sy onwrikbare vertroue in die volkstem blyk uit die volgende: “Al valt de onderneming in duigen, al valt de staat, zelfs al volgt daaruit het grootste nadeel, wij moeten luisteren naar het volk.” Dit herinner aan sy woorde van Desember 1880 toe hy op Paardekraal gesê het: “Ik sta hier voor uw aangezicht, geroepen door het volk: In de Stem van het Volk heb ik gehoord de stem van God, de Koning der Volken, en ek gehoorzaam.”
Tydens die Britse fase (1877-1881) van die Transvaalse geskiedenis het die volk hom ten sterkste uitgespreek teen die regering. Die volkstem, wat ook omskryf kan word as die “volkswil,” is gevorm deur die meerderheid stemgeregtigde burgers van die land en het “een Comite aangestel om voor hunne onafhankelijkheid te werke...” Wat die volk gewil het, moes die Volkskomitee spreek. Die Volkskomitee self het verklaar:
“What the Committee states is the voice, not of delegates or representatives, but of the very great majority of the people.”
Die Volkskomitee het gehoop op Frere se belofte van “geregtigheid” met betrekking tot die Transvaalse saak en het om dié rede met groot verwagtinge die vergadering op Kleinfontein gaan bywoon. Op 18 Maart 1879 het die volksvergadering ’n aanvang geneem, en dit sou duur tot 18 April 18797 - die langste volksvergadering in die geskiedenis van die Zuid-Afrikaansche Republiek.
Die versetbeweging het van krag tot krag gegroei. Waar die Wonderfontein-vergadering deur 1 500 mense bygewoon is, het die getal tydens die Kleinfontein-vergadering tot 4 000 aangegroei. Frere het nie veel waarde geheg aan die groot aantal burgers wat teenwoordig was nie. Die groot opkoms moes volgens hom toegeskryf word aan dreigemente en intimidasie. Aan Hicks Beach het hy op 9 April 1879 geskryf: “Along the whole road, since I entered the Transvaal, I have met with unquestionable evidence of the terrorism exercised by the malcontents to induce their moderate and loyal neighbours to join the meeting simply to swell its numbers.” Hy maak voorts gewag van “threats that the good man of the house, if he failed to attend the meeting, should be made into ‘biltong.’”
Dat daar wel sulke gevalle kon gewees het, is moontlik, maar dit is duidelik dat Frere oordryf het. Uit verslae oor die vergadering blyk dit dat diegene wat die Britse regering goedgesind was, nie welkom was nie. Vir die Boer was dit ’n edele en ’n heilige stryd waartoe geen lafaard of spioen toegelaat sou word nie. So sterk het die Boere oor die saak gevoel “dat de heeren M W Pretorius en S J P Kruger en verschillende ander invloedrijke leden van het Comite verscheidene malen het publiek mededeelden, dat wanneer de onafhankelijkheid zou worden teruggegeven, het toch in het geheel niet kwalijk moest genomen worden aan die menschen, die ter goeder trouw de Annexatie hadden goed gevonden .. .”u Ook het die voorsitter van die Volkskomitee dit nodig geag om die Boere te maan en daarop te wys dat “een ieder publiek was uitgenodigd en niemand had het regt iemand weg te orderen” en “Het Comite zou niet gedoogen dat er weer aan iemand, wie het ook zij, gelast word het kamp te verlaten.”
By die aanvang van die vergadering het M W Pretorius die menigte toegespreek en daarop gewys dat die Volkskomitee geen wanorde en ongerymdhede tydens die verrigtinge sou duld nie. Aangesien die Volkskomitee die meeste van die tyd besig sou wees met die vergaderings en dus nie voortdurend ’n wakende oog oor die burgers sou kon hou nie, moes hulle hiermee gehelp word. Aan die volk is opgedra om persone te verkies wat moes help met die handhawing van die orde in die kamp. Piet Joubert het aangetoon dat die volk byeengekom het om oor gewigtige sake uitsluitsel te vind. Indien alles nie ordelik verloop nie, “en indien het publiek niet gehoorzamen wilde, kon men niet voortgaan.” Die verkoop van drank in die kamp is ten strengste verbied, want hulle “waren hier gekomen om de heiligste belangen van het volk te bevorderen, maar daar waar de drank was, regeerde de duivel. ” Uit die verslag van die byeenkoms is dit duidelik dat Piet Joubert die volkskomitee se sterk arm was in die handhawing van orde.
Die gesag en leiding van die Volkskomitee word deeglik deur die korrespondent van De Volksstem uitgebeeld: “En nu, heer Editeur, een staaltje van de werkelijk verbazende orde die in dit kamp (van, zoo ik vernomen heb, 4 000 man) heerscht.” In sy relaas toon hy aan hoe die Boere hulle onder meer hou by die bepaling dat “niemand na tien uur’s avonds zich zonder verlof van zijn tent of wagen zou mogen verwijderen.”
’n Gebrek aan weiding en water vir die vee het tydens hierdie vergadering, wat bykans ’n volle maand geduur het, na vore getree.
Volgens De Volksstem was daar oor die 400 ossewaens en dieselfde aantal perdekarre. Indien ons Frere se bewering dat elke ossewa deur nie minder nie as 12 osse getrek word as juis aanvaar, volg dit dat daar minstens 4 800 beeste was wat van weiding en water voorsien moes word.
Die perdekarre is hoofsaaklik deur twee karperde getrek, terwyl elke Boer ook sy eie ryperd gehad het. Dit bring die getal perde ook op 4 800.
Om in die behoeftes van die bykans 10 000 stuks vee te voorsien, het die Volkskomitee die vergadering gereeld na ander plase verskuif. Op Vrydag, 21 Maart, was daar alreeds klagtes oor die geskiktheid van die standplaas, en op Dinsdag, 25 Maart, het die Volkskomitee besluit om die kamp na ’n ander plaas te verskuif. De Volksstem berig op Saterdag, 29 Maart: “Het water werd zoo slecht dat de Voorzitter, de heer M W Pretorius, het geraden oordeelde ... heden morgen acht uur op te breken, en eene betere plaats op te zoeken.” Frere se siening daarvan was: “The Boers have lately, with the avowed purpose of providing more pasture for their cattle, moved their camp closer to Pretoria, giving thereby some colour to the reports that they intend trying to blockade the town, and cut off supplies.”
Dit was nie die Volkskomitee se bedoeling om onrus te stook nie. Die oogmerk was slegs geskikte weiveld en voldoende water en om so naby moontlik aan die roete tussen Heidelberg en Pretoria te hou. Dit is gedoen met die oog op die besoek van Frere, wat die roete moes gebruik.
Die wyse waarop die Volkskomitee die groot getal Boere georganiseer het, blyk duidelik uit die Boerekamp self. Die 400 ossewaens is in twee rye getrek wat mekaar gekruis het, sodat dit die vorm van ’n tipiese dorpie van die tyd aangeneem het. Vervolgens is die Boerekamp ook van ’n naam voorsien, naamlik “Het Kamp” wat later verander is tot “Het Laager.”
Wat die werksaamhede van die Volkskomitee betref, vind ons dat daar veral een aspek was waaroor daar uitsluitsel gesoek is. Dit het gehandel oor die bevoegdheid van die Volkskomitee. Aan die een kant is gevoel dat “de bekwaamste menschen waren gekozen als leden van het comite, en het volk had vertrouwen in hen, daar zij het vertegenwoordigen. Daarom verwachtte het volk raad van het comite ... Laat hen daarvoor een plan uitdenken en dan kon het volk daarover spreken en daaromtrent beslissen.” Daarteenoor staan die standpunt: “Er was een comite, ja, maar in het buitenland werd dat comite geblameerd als opruijers van het volk. Laat dus het volk de verantwoordelijkheid op zich nemen en zeggen: doet dit, of doet dat.” Paul Kruger het in hierdie stadium met die wysheid van Salomo na vore getree. Volgens hom het die volk alreeds aan die Volkskomitee ’n taak opgedra. In sy taak om die onafhanklikheid te herwin “beveelt het Comite vreedzame middelen aan.” Indien dit nie slaag nie, sal die Volkskomitee dit aan die volk bekend maak en sal hy ander middele voorstel, soos byvoorbeeld die opneem van die wapen. Om te verhoed dat die Volkskomitee in so ’n geval in stryd met die volksgevoel handel, sal dit wel nodig wees om die volk te raadpleeg.
Vir die Volkskomitee was dit ook duidelik dat hulle die raad en insig van ’n regsgeleerde nodig sou hê om hulle te help in die uitvoering van hul opdrag. Op Vrydag, 4 April, het die Volkskomitee besluit om dr E J P Jorissen te versoek “om dadelijk te komen, en der Commissie te dienen van advies.” Jorissen, wat hom na die Eerste Deputasie aan die versetbeweging onttrek het, het intussen van mening verander. Die Volkskomitee het C J Joubert afgevaardig om die versoek oor te dra. Jorissen het gehoor gegee aan die oproep en het hom sonder versuim na die Boerekamp gehaas waar hy op 5 April diens aanvaar het. Volgens ’n Volkskomiteebesluit van 7 April sou Jorissen vir sy diens vergoed word. H Schoeman van Pretoria sou toesien dat dit geskied. Hy het P J Joubert vervang as penningmeester van die Volkskomitee. Vir Schoeman wat naby Pretoria gebly het, was dit makliker om by ’n bank uit te kom as vir Joubert van Wakkerstroom. Dit was dan ook die rede hoekom die Volkskomitee op 18 April hierdie wysiging aangebring het.
Die werksaamhede van die Volkskomitee-vergaderings, wat die onderhoude van die Volkskomitee met Lanyon en met Frere voorafgegaan het, was beperk tot korrespondensie. Verskeie skrywes en adresse is tot Lanyon en veral tot Frere gerig. Dit was Frere se gesloer wat die Boereleiers laat begin twyfel het of hy nog gaan kom. Nadat dit duidelik was dat Frere in elk geval nie gou sou kom nie, het die Volkskomitee hom tot sir Owen Lanyon gewend.
Sir Owen Lanyon wat administrateur van Griekwaland-Wes was, (1875-1879) is op 4 Maart 1879 in die plek van sir Theophilus Shepstone as administrateur van Transvaal ingesweer. Die meeste tydgenote was dit eens dat dit ’n swak keuse was. Charles Norris-Newman toon in 1882 aan dat dit ’n fout was “to appoint a military man, an entire stranger both to the country and the people .. .”
Lady Bellairs wys ook daarop dat Lanyon ’n swak keuse was omdat hy geen begrip vir die Boere gehad het nie en slegs sy amptelike werksaamhede uitgevoer het. Verder was hy ’n soldaat verbonde aan die Wes-Indiese regiment. Dit het hoofsaaklik uit swart soldate bestaan en waar Lanyon self donker van vel was, het die idee ontstaan dat hy “swart bloed” in hom het. Die militaris Lanyon “slowly but surely... revealed little despotic tendencies, which made him daily more unpopular even amongst the loyally inclined inhabitants.”
Op 20 Maart het die Volkskomitee ’n skrywe aan Lanyon gerig. Daarin is die wens uitgespreek om hom persoonlik te ontmoet. Lanyon was egter nie bereid om die Boerekamp te besoek nie en het ingestem om slegs ’n afvaardiging van die Boere te ontmoet. Die ontmoeting sou op Lanyon se voorstel op Maandag, 24 Maart, naby ’n sekere mev Strydom se huis plaasvind.
Dit het die goedkeuring van die Volkskomitee weggedra. Op Saterdag, 22 Maart, is besluit dat M W Pretorius, M J Viljoen, S J P Kruger en 15 verkose lede die afvaardiging na Lanyon sal uitmaak. Die 15 verkose lede was: N Smit, P J Joubert, A Pretorius, C J Joubert,F Wolmarans, C Otto, P Spies, C Coetzee, J Mare, S T Prinsloo, M W Vorster,W Robinson, J Joubert, J Grobler en J Viljoen.
Aangesien laasgenoemde vier lede nog nie in die Volkskomitee gedien het nie, is hulle eers daartoe verkies.
Met die oog op die ontmoeting het Lanyon ’n tent laat opslaan op die plaas van mev Strydom wat ongeveer 14 myl buite Pretoria geleë was.
Nadat M W Pretorius die Volkskomiteelede een vir een aan Lanyon voorgestel het, het die verrigtinge om 12h00 begin. M W Pretorius was dadelik aan die woord: “Deze Deputatie is gekomen om namens het Volk hare Onafhankelijkheid te verkrijgen, en zij vertrouwt dat zij hierover zal gehoord worden, en dat haar zal gegeven worden wat haar naar regt toekomt.” Lanyon, soos al sy voorgangers, het hierdie versoek geweier deur te sê dat hy nie by magte is om daaraan gehoor te gee nie. Om gemoedere te kalmeer, het hy verskeie beloftes gemaak. ’n Spoorwegdiens, ’n telegraafdiens, beter paaie en selfs ’n eie vlag waarin die ou Transvaalse vlag en die Union Jack saam sou verskyn, het die Boereleiers koud gelaat.
Ná drie ure is die samespreking plotseling beëindig. De Volksstem se korrespondent het nie veel oor die beëindiging van die onderhoud berig nie. Uit sy kort beriggie daaroor skemer dit tog deur dat verhoudinge tussen die twee partye teen die einde erg vertroebel was: “De afgevaardigden... weigerden om iets tot afscheid te drinken.” P J Joubert se verslag oor die gebeure laat geen twyfel daaroor nie: “Maar toen hy ons woude vertellen dat ... wij zou moeten bukken onder haar majesteit, toen barsten algar tegelyker tyd uit en wat hy ook al welde doen om het tot bedaren te krygen en ons eerst met hem zyne geopende bottels sjampaine te doen drenken, neen, opsaal ..."
Die verslag van die onderhoud is die volgende dag aan die volk voorgelê. Oortuig dat enige verdere bemoeienis met Lanyon niks aan die saak sou verander nie, is daar opnuut besluit om op sir Bartle Frere te wag.
Aanvanklik sou Frere die Boerekamp op 18 Maart 1879 besoek. Die Zoeloe-oorlog in Natal en wat daaruit voortgespruit het, het dit vir Frere onmoontlik gemaak om hom by die datum te hou. Of Frere sy koms doelbewus uitgestel het om sodoende die Boere uit moedeloosheid huiswaarts te laat keer, was 'n sterk moontlikheid. Dit was oestyd in Transvaal, en baie Boere se verpligtinge het hulle genoodsaak om die Boerekamp te verlaat.
Indien dit wel Frere se bedoeling was, het hy slegs gedeeltelik daarin geslaag. Tussen 1 600 en 2 200 Boere het hulle weg oopgesien om langer as drie weke op Frere se koms te wag.
Op Woensdag, 9 April, het Frere die Volkskomitee per brief in kennis gestel dat hy die volgende dag die Boerekamp sou bereik. Die Volkskomitee het alreeds op Dinsdag, 8 April, besluit om ’n verkose afvaardiging te stuur om Frere te gaan ontmoet. Hierdie afvaardiging sou Frere op Dinsdag 10 April by Fergusson’s Hotel, ongeveer drie myl van die Boerekamp af, gaan ontvang. Saam met die twee voorsitters van die Volkskomitee en S J P Kruger is die volgende Iede tot die afvaardiging verkies.: P J Joubert, J Joubert, C J Joubert, C Bodenstein, W Robinson, M W Vorster, F Wolmarans, J Mare, C Otto, B Klopper, N Smit, J Grobler, B Liebenberg, J Viljoen, H Ueckermann, H Schoeman, D Pretorius, L de Jager en J Jacobs.
Die onderhandeling tussen Frere en die Volkskomitee: vervolg...