DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (11)

Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog

DIE STEM VAN DIE VOLK (2)

Onderhandeling met Frere

Die onderhandeling tussen Frere en die Volkskomitee kan onder drie hoofde ingedeel word: Eerstens Frere se besoek aan die Boerekamp; dit is opgevolg deur die samesprekings van 12 April op Erasmus se plaas en ten slotte die samesprekings in Pretoria op 16, 17 en 23 April.

Vir die Volkskomitee was dit van die uiterste belang dat Frere die Boerekamp moes besoek. Frere moes homself vergewis dat die oorgrote meerderheid van die Transvaalse bevolking teen die anneksasie gekant was. Frere se besoek aan die Boerekamp moes ’n geweldige indruk op hom gemaak het. Ongeveer 2 000 ongewapende Boere het in twee lang rye op sy koms gewag. De Volksstem berig soos volg: “Het was waarlijk indrukwekkend, die stilte die er heerschte toen zij kwamen aanrijden. Men kan zeggen een doodsche stilte.” Frere self skryf aan sir Hicks Beach: “The great body of the Boers received us in silence and without any mark of recognition.”

 

Aangesien Frere die volgende dag, 11 April (Goeie Vrydag), in Pretoria wou wees, is die verrigtinge kort geknip. Nadat Frere aan die lede van die Volkskomitee voorgestel is en daar konsensus bereik is oor die ontmoeting van 12 April, het hy na Pretoria vertrek.

Frere wou hê dat die onderhandelinge in Pretoria moes geskied. Die Volkskomitee het egter geweier: “They started objections on the ground of prevalent horse sickness.” Of dit ’n geldige verskoning was, word bevraagteken, want op 16, 17 en 23 April het lede van die Volkskomitee Frere in Pretoria gaan spreek. Daar is egter twee meer aanvaarbare moontlikhede: Eerstens wou hulle Frere in omstandighede wat hulle gepas het, aandurf en nie in die Britse raadsale nie, maar dit kan ook wees dat die Volkskomitee nie na Frere se pype wou dans nie, en daardeur wou aantoon dat hulle in ’n sterk posisie staan.

Die plaas van Erasmus as vergaderplek, ongeveer 6 myl buite Pretoria, kan gesien word as ’n kompromis. Beide Frere en die 22 afgevaardigde Volkskomiteelede sou moes opoffer en na die vergaderplek reis. Die Boere-afvaardiging was dieselfde as dié wat Frere op 10 April gaan ontmoet het, behalwe dat Jorissen vanweë sy regskennis aan hulle geledere toegevoeg is.

Die onderhandeling van 12 April 1879 het presies twee jaar ná die anneksasie plaasgevind, en die Volkskomitee se versoek om die herstel van die Transvaalse onafhanklikheid by hierdie vergadering was reeds sy negende amptelike versoek in dié verband. Frere se weiering om gehoor te gee aan die versoek, het die Volkskomitee se negende poging ook tot mislukking gedoem.

Vir die Volkskomitee was die uitslag teleurstellend, en hulle het verklaar dat “they must report to ‘the people’, and be guided by their decision as to what was to be done. ” Nadat dit duidelik was dat hulle onafhanklikheid nie deur middel van Frere gekry kon word nie, het die Volkskomitee hom versoek om ’n verslag van die Boere aan Haar Majesteit te stuur.

Ook is Frere versoek om ’n begeleidende brief te skryf waarin hy die verslag steun. Frere was bereid om gehoor te gee betreffende die verslag, maar het geweier om die verlangde brief te skryf. Op versoek van Kruger en P J Joubert het Frere wel ingestem om ’n verslag op te stel van die ware gebeure en versoeke wat tot hom gerig is.

Op 15 April het die Volkskomitee dit aan S J P Kruger, J Joubert en C Bodenstein opgedra om ’n verslag op te stel. Met die hulp van dr Jorissen het hulle daarin geslaag om ’n puik stuk werk te lewer. Die volgende riglyne is neergelê: die meerderheid van die bevolking was teen anneksasie; die burgers het uit eie wil na die vergadering gekom en meer as drie weke op Frere se koms gewag; die volk het verwag dat die anneksasie herroep moet word; die volk sal met niks minder tevrede wees as met die herstel van die onafhanklikheid volgens die bepalings van die Sandrivierse konvensie nie; sodra die Transvaalse onafhanklikheid herstel is, sal daar gepoog word om tot die voordeel van Suid-Afrika in noue verbinding met die Britse kolonies te bly.

Die onderhandelings van 16 en 17 April het in hoofsaak gegaan oor die verslag en Frere se begeleidende brief of verslag. As basis vir die verslag het Frere dieselfde riglyne gebruik as dié in die verslag. Die verslag wat Frere opgestel het, is as ’n brief onder datum 17 April 1879 aan Hicks Beach gestuur. Die wyse waarop Frere die feite weergegee het, het die Volkskomitee se goedkeuring weggedra.

Tydens die onderhoud van 23 April was M W Pretorius, S J P Kruger, M W Vorster en H J Schoeman teenwoordig. Aangesien die Boerekamp alreeds uiteengegaan het, het M W Pretorius by H J Schoeman tuis gegaan, van waar die Volkskomitee sy korrespondensie afgehandel het.

Tydens hierdie laaste ontmoeting het die Volkskomiteelede weer eens gepoog om Frere die meriete van hulle saak te laat insien. Kruger het ’n beroep op hom gedoen dat geregtigheid moet geskied: “I wish to ask your Excellency not to entertain any other thought than this, that the people first want justice done.” Kruger het werklik geglo dat die verslag die nodige resultate sou oplewer: “I saw in England that they love justice, and therefore I have a stronger hope than my colleagues on the Committee.”

Hoewel die verslag ’n duidelike en ondubbelsinnige eis vir die teruggawe van hulle onafhanklikheid was, is die krag van die dokument grootliks verminder deur die oordrewe eerbiedige wyse waarop die versoekskrif bewoord is. Wat die Volkskomitee beskou het as ’n vreedsame metode, het Frere as onderdanigheid teenoor Haar Majesteit gesien.

Vir die volk was hierdie verwikkelinge teleurstellend, maar hulle het tog die leiding van die Volkskomitee in die saak aanvaar. Nadat die Volkskomitee op 18 April verslag gedoen het van sy onderhoud met Frere, het die volk ’n skriftelike verklaring uitgereik. Hierdie verklaring wat deur T F Dreyer en J H Fouche onderteken is, het die Volkskomitee op die volgende gewys: “Het volk heeft den uitslag van de handelingen van het Comite gehoord, en hoewel ontevreden over het uitstel, zal voor het oogenblik daarmede berusten, vertrouwende dat ... de waarheid over de Annexatie eindelijk zal erkend worden, en Haar Majesteit regt zal doen aan de Burgers der Zuid-Afrikaansche Republiek” en “Het volk wacht alzoo op het antwoord op de Memorie aan de Koningin, en blijft by haar protest volharden. ”

’n Duidelike bewys van die volk se aanvaarding van die gesag en leiding van die Volkskomitee blyk uit die volgende sake wat aan die lig gekom het. Aan die volk is opgedra om per memorie uitsluitsel te gee oor die weg wat die Volkskomitee, ná die mislukte onderhandeling van 12 April met Frere, moes inslaan. Op Maandag, 14 April, is verslag gelewer van die 29 ingestuurde memories. Dit het aan die lig gebring dat 154 burgers ten gunste van lydelike verset was, teenoor die 219 wat hulle uitgespreek het vir wapengeweld. Insiggewend is dat 1 137 burgers te kenne gegee het dat die Volkskomitee se leiding en oordeel in die saak afgewag word.

Nadat Paul Kruger in opdrag van die Volkskomitee die volk op 18 April bedank het vir hulle getroue opkoms, het die skare huiswaarts gekeer.

Hoewel die volksbyeenkoms oënskynlik van weinig waarde was, het die samesyn van so ’n groot aantal burgers met dieselfde gemeenskaplike doelwit gehelp om die volk tot ’n eenheid te smee. Die rol wat hierdie volksvergadering in die vorming van Afrikaner-nasionalisme gespeel het, kan nouliks oordryf word.

Tydens hierdie vergadering het die Volkskomitee hom vir die eerste keer tot sy vriende en “broeders” in die Oranje-Vrystaat en Kaapkolonie gewend “om ons zoo krachtig mogelijk te ondersteunen . . ,” Die vryheidstryd was nie meer net tot Transvaal beperk nie. Geleidelik het vele Afrikaners in Suid-Afrika hulself begin vind. Hulle het tot die besef gekom dat hulle nie enkelinge was nie, maar deel van ’n groot groep mense met dieselfde verwantskap en belange. Hierdie besef sou hulle saamsnoer tot ’n geestelike eenheid. In Hoofstuk VII sal hierdie aangeleentheid verder toegelig word.

Tydens Frere se verblyf in Pretoria het hy ernstig aandag begin gee aan Shepstone se onvervulde anneksasie-beloftes. Die hele Boere-agitasie, met die uitsondering van enkelinge, was volgens Frere te wyte aan die swak Shepstone-bewind. Frere was oortuig dat die instelling van ’n goeie regering niks anders sou wees nie as “an unmistakable declaration by the English Government as to its fixed intention whether it will or will not withdraw from the Transvaal.”

Die outokratiese administrasie sedert 1877 was volgens Frere die grootste oorsaak van die ontevredenheid. Die Boere was heeltemal uitgesluit van die uitvoerende gesag. Dit het meegebring dat die plattelandse bevolking “who rarely read English newspapers, could neither know what the Government was doing, nor feelthat they had any influence in its acts.”

Hierdie leemte kon uit die weg geruim word deur die instelling van ’n Uitvoerende Raad waarin drie verteenwoordigers van die bevolking sitting sou hê. Die drie verteenwoordigers van die bevolking moes deur die Administrateur benoem word uit die grondbesitters en sakelui. Aangeleenthede soos die instelling van ’n Wetgewende Raad, waarvan die lede ook deur die Administrateur benoem sou word, die samestelling van die Hooggeregshof en ’n geskikte polisiemag, het ook in Frere se konsepmaatreëls aandag gekry.

Tydens ’n private onderhoud tussen Frere en hoofregter J Kotze van Transvaal het laasgenoemde Frere op die onaanvaarbaarheid van die maatreëls gewys. Hy het twee redes daarvoor aangevoer. Eerstens was dit in stryd met die volksgebruik, naamlik om hulle eie verteenwoordigers te verkies. Tweedens was dit in stryd met die anneksasieproklamasie waarin die volk beloof is dat hulle hul eie Wetgewende Raad kan verkies. Die gevolg van die onderhoud was dat die maatreëls nie onmiddellik in die praktyk toegepas is nie. Meer as twee jaar het verstryk sonder dat Brittanje sy beloftes nagekom het.

Of die invoering van ’n geskikte grondwet in hierdie stadium enigsins ’n kalmerende invloed op die versetbeweging van die Boere sou gehad het, word sterk betwyfel. Indien so ’n grondwet reeds in 1877 ingestel is, kon dit sy invloed laat geld het. April 1879 was te laat vir so ’n stap. Die Boere het hulle in daardie stadium reeds onherroeplik vereenselwig met ’n “heilige” ideaal: die onafhanklikheid van hulle “dierbare” vaderland. Die

Volkskomitee se verdere optrede is ’n duidelike bewys daarvan.

Frere se miskenning van die onafhanklikheidstrewe het duidelik na vore gekom tydens sy terugreis na Kaapstad. By drie geleenthede op Potchefstroom, in Kimberley en ook in Kaapstad het hy verklaar dat “those who feared this country would be given back need not be uneasy, because it would never happen.”

Hierdie uitlatings van Frere het onmiddellik reaksie van die volk en Volkskomitee uitgelok. Onder die Boere het Frere se aansien verder gedaal. Hulle was nog meer verbitter: “Als een bewijs van de hooge achting waarin Sir Bartle bij de Boeren staat, kan ik u nog verhalen dat er plan bestaat om de Hennopsrivier in het vervolg de Vern ... krivier te noemen en de heer Jeppe daarvan kennis te geven alvorens hij eene nieuwe uitgaaf levert van zijn kaart van de Transvaal,” aldus ’n korrespondent in De Volksstem.

Op Donderdag en Vrydag, 10 en 11 Julie het die Volkskomitee op M W Vorster se plaas, Zwartkop, vergader. Hoewel slegs 17 Volkskomiteelede teenwoordig was, was al die toonaangewende lede wel daar, te wete S J P Kruger, P J Joubert, M W Pretorius, M J Viljoen, J. Mare, M W Vorster en F Wolmarans. In ’n brief van Lanyon is bekend gemaak dat ’n aanklag van M W Pretorius tydens die onderhoud met Frere weerlê is. M W Pretorius het beweer dat Shepstone die Transvalers kort voor die anneksasie met die Zoeloes gedreig het. Die Volkskomitee se kommentaar hierop was dat hulle verbaas is dat Lanyon aandag aan die saak gegee het.

Aangesien die ondersoek so eensydig was, het hulle gevoel dat dit van geen waarde sal wees om hulle langer daarmee te bemoei nie.

Aan Frere het die Volkskomitee ’n brief geskryf. Daarin het hulle aangetoon dat “Die halve tegemoetkoming van onze wenschen heeft het kamp der duizenden burgers doen uiteengaan, voorlopig vertrouwende dat, ook ten gevolge van uwe depèche, het recht eindelijk zou zegevieren.” Volgens die Volkskomitee was die saak in die hande van Haar Majesteit, en hoe kon Frere die beslissing vooruitloop? Treffend is hulle vraag aan Frere: “Hebben wij dan een spel gespeeld te Pretoria?”

Die Volkskomitee het op ’n waardige wyse gepoog om sy rol as die “stem” van die volk te vervul. Die Britse outoriteite wou nie na die “stem” luister nie. Dit was optredes soos dié van Frere wat die Volkskomitee en die Transvaalse volk se vertroue in lydelike verset geskok het. Die dubbelsinnige optrede van die Britse gesagspersone sou algaande die idee laat posvat dat lydelike verset ydele verset is.

Lydelike of ydellike verset? Vervolg...