Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
Transvaalse Afrikanernasionalisme as dryfkrag tot weerstand
Die onreg wat die Boere aangedoen is, het ook geblyk uit die valse aantygings met betrekking tot slawerny. Hierdie valse beeld wat van die Boere geskep is, het gemoedere hoog laat loop. Geen enkele slaaf is na die anneksasie gevind nie. Biskop Colenso het al hierdie verdraaide stories heftig weerlê, en dit het die Boer in sy ontevredenheid gesterk.
Twee ooggetuies penskets die tydperk 1877-1880 treffend. Dr E J P Jorissen vertel: “Het was de 12de April 1877 ’n treurige dag in Pretoria, die kleine schoon gelegen hoofdstad der Zuid-Afrikaanse Republiek. Aan ’n worsteling van veertig jaren werd op ruwe wijze ’n einde gemaakt ... Goed bezien, kalm beredeneerd, zonder sentimentele opinies, moest deze daad van geweld beschouwd worden als ’n zegen ... Vier jaren later ... de daad van 1877 was vernietigd ... Tussen dezen beide dagen, 12 April 1877 en 5 Aug. 1881, ligt ’n korte, maar uiterst merkwaardige geschiedenis.”
C N J du Plessis omskryf die tydperk soos volg: “Nooit waren er te vore in die Z A Republiek drie jaren geweest als van af den 12 den April 1877 tot den 16 den December 1880, maar, mijn lezer, ook was er een hemelsbreed onderscheid tusschen den stand van zaken op de zoo even genoemde datums.”
Beide skrywers sinspeel op ’n geestelike verandering wat deur die anneksasie by die Transvaalse Boer teweeggebring is. Hierdie geestelike verandering kan omskryf word as die ontwaking van ’n nasionale gevoel onder die Afrikaners in Transvaal wat soos suurdeeg deurgewerk het na die Afrikaners van die Vrystaat, Kaapkolonie en selfs Natal.
Dit sal nodig wees om kortliks sekere begrippe te verduidelik. Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek omskryf die begrip “nasionalisme” as “’n liefde vir die eie nasie,” terwyl die begrip “volk” mense van dieselfde stam wat in die reël dieselfde taal praat en dieselfde sedes het” beteken.
Daar is tevore daarop gewys dat daar teen 1877 ’n algehele gebrek aan nasionalisme by die Transvalers was. Teen Desember 1880 het ons ’n omgekeerde toestand aangetref. In die tussentydperk is die Transvaalse Afrikanervolksdeel herbore wat die weg gebaan het vir Afrikanrnasionalisme, ’n beweegkrag vir militêre geweld.
Verskeie faktore het meegewerk om die volk tot ’n nasionale eenheid te vorm. Die eerste faktor wat vermeld moet word, is die ontevredenheid jeens die Britse regering in Transvaal asook ongerymdhede waarteen die Boere in verset gekom het. ’n Gevoel van magteloosheid teenoor ’n magtige vyand het posgevat. Van belang is dat hierdie gevoel nie beperk was tot enkelinge nie, maar by die Boerevolk in die geheel aanwesig was.
Brittanje is gesien as die veroweraar en onderdrukker. Die Afrikaners in Transvaal sowel as oor die hele Suid-Afrika het in Brittanje ’n gemeenskaplike vyand begin sien. Die Boere het tot die gevolgtrekking geraak dat slegs gemeenskaplike optrede sukses kan bring, ’n Onderlinge afhanklikheid van mekaar het ontstaan.
Die tyd van isolasie en individualisme was vir die Afrikaner iets van die verlede - georganiseerde en gemeenskaplike optrede is van hom geëis.
Dit bly ’n ope vraag of die Boere nie in die anneksasie sou berus het indien Shepstone sy anneksasiebeloftes onverwyld en doeltreffend uitgevoer het nie. Baie historici is dit eens dat, indien die nuwe Regering sy anneksasiebeloftes uitgevoer en ’n vertoon van innerlike krag aan die dag gelê het wat die ou Regering oortref het, die Boere met die anneksasie genoeë sou geneem het. J P Fitzpatrick beweer: “The real mistakes of the British Government began after the annexation. The failure to fulfil promises .. ,” en J Nixon verklaar: “The Government was at a standstill, and the Boers, not seeing any marked changes for the better, began to grumble”; E A Walker is van mening: “Had Shepstone followed his first inclination and summoned the Volksraad, the annexation would doubtless have been ratified.” J H Hofmeyr sê: “Indien al de beloften van sir Theophilus Shepstone nagekomen waren en het gulden tijdperk, dat hij had voorgehouden, aangebroken was, dan kon het mogelik nog gebeurd zijn, dat zij bereid zouden zijn geweest zich te onderwerpen.”Shepstone se onvervulde beloftes het ’n groot invloed gehad op die ontevredenheid van die Transvalers, maar dit kan nie beskou word as die enigste aanleidende rede vir die verset nie. J A Vorster wys daarop dat daar van Boerekant min, indien enige, aandag aan die Engelse administrasie geskenk is: “Die volksleiers was toegespits op die herverkryging van hulle onafhanklikheid en enige vorm van Engelse bestuur het hulle koud gelaat.”
Op 9 April 1878 berig De Volksstem: “De grondoorzaak van ontevredenheid onder de buitenlieden is zonder twijfel hun niet slagen in het herkrijgen van de onafhankelijkheid des lands.” Die koerant toon egter verder aan dat die teleurstelling onder die Boere nie so groot sou gewees het indien Shepstone sy beloftes nagekom het nie.
Die grondoorsaak en aanleidende rede vir die Boereverset moet gesoek word in die ontneming van hulle onafhanklikheid, terwyl Shepstone se onvervulde beloftes nie net ’n gunstige klimaat vir ontevredenheid geskep het nie, maar die verset aangemoedig en verhaas het. Net soos ’n klein veldbrandjie deur ’n wind voortgedryf kan word tot ’n verwoestende en onkeerbare veldbrand, is die Boereverset deur Shepstone, Wolseley, Frere en Lanyon se optrede aangeblaas.
Wat van belang is, is dat die Britse regering in so ’n mate in die uitvoering van sy taak gefaal het dat ’n gemeenskaplike gevoel van antagonisme jeens die Engelse onder die Boere versterk is. Dit sou meehelp om die Boereverset aan te wakker en lewendig te hou. Op sy beurt sou die Boereverset die smeltkroes wees waarin die Boere se nasionale eenheidsgevoel gelouter sou word: “Namate die krisis voortgeduur het, het die Afrikanervolk al hoe meer van homself en sy nasionale identiteit bewus geword.”
Dit sou die ongewilde Shepstone-bewind wees wat die Boere onder die besef gebring het van wat hulle verloor het. Eers ná die anneksasie sou dit tot die Boere deurdring wat hulle as gevolg van hulle lakse optrede
verloor het - hulle land. Die onpopulêre Burgers-regering, onder wie hulle tog volle demokrasie geniet het, is opgeweeg teen die huidige Shepstone-regering en die vraag het ontstaan: “Was daar nie beter dae onder die Republikeinse stelsel met al sy gebreke nie?”
“I have never before under the Republic seen such a miserable state of things,” het P J Joubert hom teen April 1878 uitgelaat.
By die ontleding van artikels en briewe in koerante wat in dié stadium verskyn het, blyk dit duidelik: “Niet iedere verandering is verbetering.”
Grootskaalse ontevredenheid het gevolg op die ontoereikende wyse waarop Shepstone Transvaal van meet af bestuur het. Teen Augustus 1877 is Shepstone na Utrecht om met Ketswajo te onderhandel. In Maart 1878 was Shepstone nog steeds daar terwyl dringende binnelandse aangeleenthede in Transvaal onaangeroer gebly het. Mev Jorissen het die toestand soos volg opgesom: “Die Gouverneur zit nog steeds in Utrecht by de K******. Hier op Pretoria wordt niets gedoen en dat maakt de lui bitter ontevreden.”
Reeds op 19 Mei 1877 het Shepstone een van sy anneksasiebeloftes verbreek deur die uitvaardiging van ’n proklamasie wat die regterlike gesag hersaamgestel het. ’n Algemene fout wat sowel Shepstone as sy opvolgers gemaak het, was die aanstelling van nuwe amptenare: “Some stupid appointments were made. A Landdrost, who spoke no Dutch, was appointed over a Dutch district.” So is ’n sekere Ayres wat geen woord Hollands kon verstaan nie, as landdrosklerk van Rustenburg aangestel.
Die wyse waarop veldkornette onder die Britse bestuur aangestel is, het wye verset onder die Boere uitgelok. Onder die ou Republikeinse regering was die veldkornet verkies “by grasie van die volksoewereiniteit deur die volksstem” en so verhewe was hierdie verkose amp dat geen persoon aanvaarbaar was wat die pos moes beklee deur ’n benoeming nie. Diegene wat wel op Britse benoeming die pos aanvaar het, is nie deur die Boere aanvaar nie. Met ’n “Bekendmaking in De Transvaal" is alle Engelsgesindes of Engelse amptenare “vooral ook de zoogenaamde Veldcornet JAN van ZIJL, omdat wij hem nooit zullen erkennen als Veldcornet,” deur ’n groot aantal Boere verbied om hulle huise binne te kom.
Met verloop van tyd is al die belangrikste poste deur Engelssprekendes gevul. H Shepstone is aangestel as Sekretaris van Naturellesake; Melmoth Osborn as Staatsekretaris, Rider Haggard as Griffier van die Hooggeregshof en dr Vacy Lyle as Superintendent van Onderwys. Sulke aanstellings het diskriminasie teen die Hollandse taal tot gevolg gehad.
Van die beskerming wat by die anneksasie belowe is, was daar nie sprake nie. Bale sarkasties skryf ’n inwoner: “Waar is dan de protectie ons in de Annexatle-proclamatie beloofd? Waar dan nu die magtige Britsche leeuw, die meen dat magt regt is?” Daar is veral gekla dat daar geen voorsiening gemaak is “voor toezicht over de K****** en wordt er geene bescherming aan onze grenzen verleend...”
Die inherente swakheid van die Britse regering het veral na vore getree in sy onbevoegdheid om die inwoners teen kwaadwillige plundering, veediefstal en die vernieling van eiendom te beskerm. Die toestand het sodanig versleg dat die Volkskomitee op 4 Augustus 1879 moes ingryp. In 'n brief wat op 5 Augustus in De Volksstem verskyn het, maak die Volkskomitee die stelling “dat in de tijden der Republiek ieder kind zelfs vrij en veilig was,” en die Boere word vermaan en versoek om geduldig en kalm te bly.
In hoeverre die Britse bestuur daarin gefaal het om ’n doeltreffende regering in Transvaal tot stand te bring, blyk duidelik uit die feit dat selfs die pro-Britsgesinde inwoners in verset gekom het: “Although English people in this colony regret to appear in opposition to their own Government, they are yet being driven to it against their will, because they see all the interests of the country suffering and affairs being allowed to drift into hopeless confusion, on account, apparently, of the want of an able head to ryle and control them.”
Die ontevredenheid onder die pro-Britse inwoners het sy hoogtepunt bereik toe ’n petisie waarin teen die swak Britse bestuur in Transvaal gekla word, aan Frere gestuur is. “I am thinking of migrating to St Petersburg- could not be worse” verklaar ’n Engelsman teen 1880. Die toestand was so haglik dat The Natal Witness in Maart 1880 die volgende mening daaroor gelug het: “This is the picture which we see before us today in the Transvaal - a country whose last state in spite of all boasts about the elevating and civilising influence of the British Government, is worse than the first.”
Hoeveel te meer moes hierdie toestand nie die Boer aangegryp het en ongelukkig gestem het nie: “O! schand-vlek op een Christen blanke bevolking gegooid, ja, gij zijt te hulpeloos uw land verder te regeeren.” Die skrywer van die brief wys verder daarop dat dit juis “onder het Bestuur in onze zoo verstandige en ondernemende Excellentie” slegter gaan. Die bestuur in die land is “ook niets als bluf, bluf, allemaal bluf .. .”
Die gevoel van antagonisme en verbittering jeens die Britse bestuur is verhewig deur die bewuswording van die feit dat Brittanje Transvaal onder valse voorwendsels geannekseer het. Kort na die anneksasie het F Lion Cachet die volgende aan Shepstone geskryf: “You’ll pardon me for saying that I do not consider the step you have taken to be justified either on the grounds of slavery or political importance, nor yet on that of pre-prevent danger to the surrounding colonies. All this could have been argued and with more force years ago, but then it was said the English Government would not have us as a gift.”
Dit was veral die swart gevaar wat Shepstone as ’n rede vir die anneksasie geopper het, wat vir sy bestuur nadelige gevolge sou inhou: “De politiek van Shepstone is spoediger dan men verwacht had aan de kaak gesteld. Hij annexeert om den K*****brand te blusschen en met een jaar gloeit dit vuur heviger dan ooit.”
Die Sekhukhune-oorlog wat volgens Brittanje die blanke se aansien in Suid-Afrika verlaag het, is deur die Boere anders vertolk: “De geheele veldtocht is nooit iets meer geweest dan een guerrillakrijg, en de duizenden gewapenden K****** met ammunitie enz. zijn en worden nog altoos door een honderdtal goed bewapende vrijwilligers in bedwang gehouden.” Vervolgens het die Boere Sekhukhune tot gunstige vredesvoorwaardes gedwing. Die Shepstone-bewind se onvermoë om rus en vrede te handhaaf, het ’n vraagteken oor die regverdiging vir die anneksasie geplaas: “Natuurlijk weet ge dat onze oude vriend Secocoenie alweder zijn oude streken heeft uitgehaald - het rooven van vee, het ter dood toe verschrikken van menschen enz.” Hierdie berig in De Volksstem was maar slegs een van talle wat in hierdie stadium die lig gesien het.
Selfs nadat Sekhukhune deur Brittanje verslaan is, kon die Boere met reg vra: “Waar die ‘weerloosheid’ van die Republiek as die sewe maande nodig gehad het om Sekoekoeni ten onder te bring, maar die Britte twintig maande?” Daarby het Brittanje 15 000 soldate nodig gehad, terwyl Transvaal slegs 2 000 man nodig gehad het om Sekhukhune om vrede te laat vra. Ook het sir Garnet Wolseley van dinamiet gebruik gemaak terwyl “de Boeren mogten niet eens met ontplofbare kogels schieten.” Sir Garnet Wolseley se poging om die Boere met sy Sekhukhune-veldtog te beïndruk, het die teenoorgestelde uitwerking gehad.
Wat die moontlikheid van ’n Zoeloe-inval in Transvaal betref, dit het die Boere koud gelaat. P J Joubert se verklaring dat hy alle bloedvergieting in Zoeloeland binne 48 uur sal stopsit en ’n vrede binne twee weke daar sal bewerkstellig, laat geen twyfel oor die Boere se dunk van die Zoeloes nie. Ook dr W H Russell, wat ’n ooggetuie van die gebeure was, verklaar ten opsigte van Ketswajo: “Was hij het Transvaalsche binnegerukt dan ben ik er zeker van dat hij totaal verslagen zou zijn geworden.”
Vir die Boere was dit ’n belaglike aantyging dat die Zoeloes ’n gevaar vir Transvaal was. Hoe kon Ketswajo ’n oorlog oorweeg teen hulle, die seuns van die “Dutch Settlers who had overthrown both Mosilikatze and Dingaan.. ?”
In Transvaal self het die beheer oor die swartmense veel te wense gelaat. In ’n brief aan die Staatsekretaris kla ’n sekere Marais byvoorbeeld vir die tweede keer oor die toestroming van swartmense na sy plaas: “My farm Doornfontein being thickly inhabited by K****** who refuse either to work for me or pay me rent.. .” Op 27 Julie 1879 is dit die grond waarop D J Muller van Lydenburg in sy brief verskoning maak vir sy afwesigheid van ’n Volkskomitee-vergadering: “Ik geef den broeders tekenne dat het dit maal voor my onmogelijk is by U Edelen te zijn van weege den K******.”
Die onreg wat die Boere aangedoen is, het ook geblyk uit die valse aantygings met betrekking tot slawerny. Om die steun van die Britse publiek te verkry vir dade wat op ’n verbreking van die Sandrivierse Konvensie neergekom het, is die Boere onder meer daarvan beskuldig dat hulle nog steeds slawehandel beoefen: “Thousands of slaves were held there. The details were so searching and revolting that if they were true, and if every offender were punished, according to the measure of his crimes, the Transvaal would be turned into a penal settlement.” Hierdie valse beeld wat van die Boere geskep is, het gemoedere hoog laat loop. Geen enkele slaaf is na die anneksasie gevind nie. Biskop Colenso het al hierdie verdraaide stories heftig weerlê, en dit het die Boer in sy ontevredenheid gesterk.
Vervolg...