Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
Transvaalse Afrikanernasionalisme as dryfkrag tot weerstand (2)
In ’n brief aan Kruger en Joubert op 6 Augustus 1878 het Hicks Beach aangevoer dat dit veral die ou Republiek se finansiële swakheid was wat Brittanje genoodsaak het om tot die daad van anneksasie oor te gaan.
Die bewyse dat daar nie ’n noemenswaardige finansiële verbetering onder die Britse gesag was nie, is oorweldigend. In twee briewe werp mev Jorissen meer lig op die saak. Op 20 November 1877 skryf sy aan haar kinders in Nederland: “Maar het leven is hier verschrikkelijk moeilijk. En men zegt, er is weer geen geld,” en op 17 Desember 1877: “Geld is er bijna niet op Pretoria ... Alle artikelen beginnen hier duurder te worden, alles wordt verdubbeld.” Shepstone self het erken dat daar ’n groot gebrek aan geld is. ’n Artikel in The Natal Witness dui ook daarop: “Business generally is very dull here again. Storekeepers are doing very little, and money continuous a very scarce commodity.”
Hierdie bewuswording onder die Boere dat die anneksasie ’n onregverdige handeling teen hulle was, het hulle tot ’n verbitterde maar militante eenheid saamgesnoer.
Hoekom, vra ’n ontevrede Boer in De Volksstem, het ’n ander land nog nie aan die Engelse regering in Transvaal gesê nie: “Gij zijt onmachtig om uzelf te verdedigen: gij brengt mijn belangen in gevaar: uw Staat is vervallen: ik annexeer u?”
Uitlatings van Boergesinde politieke leiers in Engeland, soos Courtney en Dilke, het die Boere in hulle standpunt gesterk en oortuig dat hulle die “reg” aan hulle kant het en dat geregtigheid sal seevier.
By gebrek aan regverdiging het die anneksasie vir die Boer ’n geval van “onwettige diefstal” geword: “If you take a bunch of banannas it is theft, and you are brought before the magistrate, but if you take a whole country with all it contains, it is annexation” - aldus die standpunt van The Natal Witness. Die vergelyking met Israel wat tydens die Groot Trek baie gewild was, het weer onder die Transvalers na vore gekom: “Ik kan niet anders zeggen het gaat ons precies zoo als met de kinderen Israels in Egypteland. Al het zwaar drukt op ons, voor ons is geen regfc. Farao moet eerst de plagen ondergaan voor en aleer wij verlost worden.”
Hierdie gees van gemeenskaplike verontwaardiging wat deur die anneksasie teweeggebring is, het die Boere in verset laat kom teen alles wat “Engels” is. Verhoudinge tussen Boer en pro-Brit het by die dag versleg.
De Zuid-Afrikaan het dit ’n week na die anneksasie voorsien en beweer dat die anneksasie "Afrikaander en Engelschman voor nog een geslacht van elkander gaat verwijderen.. .”
Dit was veral die Britse troepe in Transvaal en Engelse koerante soos o.a. The Friend of the Free State wat meegehelp het om verhoudinge te vertroebel. Die genoemde koerant se opskrifte soos: “Veel geschreeuw en weinig Wol”, “Magere varkens skreeuwen het hardst”; “Koppigheid” en aanmerkings soos: “Even als ondeugende kinderen zijn de ontevredenen in de Transvaal koppig en zullen zij ... gekastijd worden,” het waarskynlik die Boer se hekel aan die Engelsman versterk.
Kontak tussen Boer en soldaat het meer as een maal aanleiding tot konflik gegee. “Het eigenmagtige en verbitteringwekkende gedrag der militairen, hetwelk nu meermalen voorkomt, zal nog eens tot de meest droevige gevolgen leiden”, verklaar De Volksstem ná so ’n insident in 1880.
Die Britsgesinde inwoners self het ’n aandeel gehad in die vorming van hierdie troebele verhouding: “The English inhabitants had come to look upon the Boers with increased contempt ...” en die Boere se optrede is deur hulle bestempel as “gas.” Die beëindiging van die Kleinfontein-vergadering op 18 April 1879 was water op die meul van die Engelsgesindes.
Die Boere is gespot en daar is aangevoer dat hulle te bang was om te veg.
Tiperend van die gevoel onder die Boere was die volgende reaksie op genoemde stelling: “Laten zij in Godsnaam voorzichtig zijn, want als zij ons tergen dan zullen zij het ondervinden.”
Mev Jorissen het die Boer-Brit-verhouding soos volg uitgebeeld: “De boeren zijn allerverschrikkelijkst verbitterd en er zal bepaald gevochten worden ...” Hierdie anti-Engelse gevoel het uiting gevind in ’n veldtog waarin alle ware Afrikaners versoek is om nie by Britse handelaars te koop nie, terwyl baie Boere eerder hulle koring laat bederf het as om dit aan Engelse handelaars te verkoop. In die loop van 1879 en 1880 is alle “Engelschen, Engelschengezinden en alle amptenaren die (ofschoon van Afrikaanschen oorsprong) onder dit Engelsch Gouvernement hebben dienst genomen” verbied om in ’n groot aantal Boerewonings te kom. As rede is geopper: “... want wij worden door de zoodanigen gedurig, van de Annexatie af, getart en getergd op de alleronhoudbaarste wijze.”
Teen die einde van 1879 is prof Murray van Stellenbosch, wat op ’n besoek aan Pretoria was, gevra om ’n diens te hou met die oog op ’n algemene biddag vir onafhanklikheid. Toe die diens nie na die wense van die Boere verloop het nie, het hulle doodeenvoudig die “congregasie” verlaat.
Op 28 Oktober 1879 het De Volksstem die volgende oor die toestand in Transvaal kwytgeraak: De Transvaal gaat een donkere toekomst tegen. God weet wat er het einde van zal zijn ... De verbittering is grenzeloos, en te erger, naarmate men zich meer beleedigd en bedrogen gevoelt.”
Die verset onder die Boere is deur persone soos Shepstone, Lanyon en Frere toegeskryf aan ’n aantal opstokers of agitators; die ware stukrag agter die beweging het hulle misgekyk. De Express and Orange Free State Advertiser wat hom deurgaans aktief bemoei het met die Transvaalse aangeleenthede en die Boere simpatiek gesind was, was die eerste om die ontwakende nasionalisme onder die Boere raak te sien as die dryfkrag agter die Boereverset: “Can it be that Transvaal boers, like Greeks of old, prefer Spartan simplicity to Persian gold? Can it be that they are conscious of that patriotic feeling which is the moving power for a people’s greatness?”
Waarin die ou Burgersregering nie kon slaag nie, naamlik om die Boerevolk as ’n eenheid en georganiseerde gemeenskap te laat funksioneer; dit het die Shepstone-bewind reggekry. Die gevoel van verbittering, die besef van die onreg wat hulle aangedoen is en die vernederings wat hulle moes deurmaak, het die Transvaalse Boerevolk tot 'n hegte eenheid saamgesmee. Die genoemde faktore het egter nie alleen die deurslaggewende rol gespeel nie. Die simpatieke houding van die Vrystaters en die Kapenaars en veral die leiding in hierdie groeiproses, kan nie uit die oog verloor word nie.
Die res van hierdie hoofstuk word gewy aan die twee faktore, en dit was die Volkskomitee wat in beide opsigte die inisiatief geneem het.
Jan Hendrik Hofmeyr het die volgende stelling gemaak wat heeltemal korrek is: “De Anneksatie van de Transvaal heeft haar goede zijde gehad. Zij heeft het Zuid Afrikaanse Volk geleerd, dat bloed dikker is dan water. Zij heeft de anders te zeer aan het materiele slijk verkleefde Afrikaners vervuld met een nationale gloed van sympathie voor de breeder over de Vaal.. .”
Die anneksasie van Transvaal het ook reaksie onder die inwoners van die Vrystaat, Kaapkolonie en Natal uitgelok, wat die versetbeweging in die Noorde versterk het. Reeds op 3 Mei 1877 het ’n aantal Kapenaars hulle op Malmesbury teen die anneksasie uitgespreek. ’n Voorstel van dr Biccard wat algemeen aanvaar is, het soos volg gelui: “Deze vergadering betreurt de wederregtelijke en willekeurige wijze, waarop de Transvaalsche Republiek door H M’s Commissaris, Sir T Shepstone, tot Britsch gebied verklaard is geworden.”
In die voorstel is verder daarop gewys dat die stap “een geest van verbittering tusschen de Afrikaansche en Engelsche elementen in het leven zullen roepen .. .”76 Soortgelye vergaderings is ook in Mei op Koeberg en in Paarl gehou terwyl die Kaapstadse Kamer van Koophandel ook die anneksasie afgekeur het. Hierdie vergaderings is opgevolg deur die opstel van ’n petisie waarin die Britse regering versoek is om die Eerste Deputasie se saak ernstig te oorweeg.
Die houding wat baie Kapenaars teen die anneksasie ingeneem het, word treffend uitgebeeld in ’n brief: “O Dierbaar Engeland! gij die veel gedaan hebt, om de slaven vrij te maken, waarom moeten de Transvalers, die hunne vrijheid zoo duur gekocht hebben, met hun goed en bloed, waarom moeten zij nu weer dienstbaar worden? Waarom?"
Hoewel ons nie aanvanklik dieselfde georganiseerde verset onder die Vrystaters aantref nie, is dit tog duidelik dat die anneksasie ’n geweldige indruk op hulle gemaak het. In Mei 1877 het die Vrystaatse Volksraad, ten spyte van sterk teenkanting van president Brand, hulle simpatie met die Transvalers getoon. Per mosie is die hoop uitgespreek, dat “de zending der deputatie door het volk en die regeering der Zuid-Afrikaansche Republiek met goed succes mogen worden bekroond.” Pres Brand wou inmenging in die Transvaals-Britse dispuut voorkom ten einde die Vrystaatse belange te beskerm, maar kon nie sy Volksraad oortuig teen hul simpatie met hulle broers ten noorde van die Vaalrivier nie, wat die verset daar aangemoedig het.
Selfs vanuit Natal het daar stemme opgegaan teen die onregverdige handeling van Shepstone. Op 28 Mei 1877 is ’n vergadering op Phisantekraal in die Durbanse distrik gehou. Tydens die vergadering het ene Johnson, ’n Engelssprekende, hom uitgespreek teen “de onrechtvaardigheid der Transvaal aangedaan.” Veral die Natalse koerant The Natal Witness onder die leiding van sy redakteur, Alfred Aylward, het daarin geslaag om ’n mate van weerstand teen die anneksasie te bewerkstellig. Bewus van hierdie gees onder hulle landgenote in genoemde gebiede, het die Volkskomitee op 18 April 1879 besluit om hulle te versoek “om ons zoo kraehtig mogelijk te ondersteunen.” ’n Kommissie van die Volkskomitee bestaande uit M W Pretorius, H J Schoeman, C Erasmus, S J P Kruger en M W Vorster met W E Bok as sekretaris is aangesê om die nodige omsendskrywes vir di doel op te stel.
Die omsendskrvwes is ’n aanduiding van die leiding wat deur die Volkskomitee gegee is. Die skrywe aan die Kaapkolonie bevat onder meer die pleitrede: “Medeburgers en Vrienden ... Wij smeeken u om uwe hulp, komt uwe mede-broeders en uwe stamverwanten te hulp.” Die skrywe aan die Vrystaters is seifs inniger van toon. “Medeburgers en Mede breeders ... Breeders, onze zaak is uwe zaak, onze belang uwe belang ...
Verheft nu uwe stem, eenparig en mannelijk, om de wereld te toonen dat gij uwe lijdende en verdrukte breeders aan de andere zijde van de Vaalrivier wilt ondersteunen.” Die skrywe aan die Natallers getuig van nugterheid en versiendheid aan die kant van die Volkskomitee: “Gentlemen and Friends ... We are aware that the majority of you claim to be colonists of English extraction ... But this fact makes no difference in our eyes. South Africa is a new soil, upon which arises a new people, that abhors any enmity between the children of the same soil, whose interests are all the same, and who adore the same God ... Brethren, we implore you to give us your support.”
Vervolg...