Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
Transvaalse Afrikanernasionalisme as dryfkrag tot weerstand (3)
Die besluit van 18 April 1879 van die Volkskomitee het nie op dowe ore geval nie. Op 10 Mei 1879 het dr Biccard aan die Volkskomitee berig dat ’n petisie teen die anneksasie in die Kaap rondgestuur word en dat geen persoon geweier het om dit te teken nie, maar “integendeel groote simpathie met onze Transvaalsche broeders aan den dag werd gelegd.” Hierdie petisie wat deur die inisiatief van J H Hofmeyr opgestel is, is deur nie minder nie as 7 256 Kapenaars onderteken. S J du Toit se Afrikanerbond wat ook in hierdie tyd tot stand gekom het, het die Afrikanersaak verder aangewakker en was sterk anti-Britsgesind, soos ook sy koerant Die Patriot.
Die Kaapse protes het sy hoogtepunt bereik toe ’n deputasie, bestaande uit persone soos L van der Byl, Saul Solomon, J X Merriman, J H Hofmeyr en andere, Frere in November 1879 besoek het. Tydens die samesprekings het die deputasie die klem laat val op die ernstige toestand wat in Transvaal deur die anneksasie geskep is. Merriman het Frere daarop gewys dat “a strong and bitter feeling is growing up against the British Government throughout the Cape. A spark might set the whole South Africa ablaze.”
Ook die Vrystaters het gehoor gegee aan die roepstem van die Volkskomitee. Op 14 Mei 1879 het die Vrystaatse Volksraad, weer eens teen die wil van hulle President, hulle volle simpatie met die Transvalers te kenne gegee. In ’n petisie waarin die Vrystaters verklaar het: “Het Land is nog in den zelfden, indien niet nog slechteren toestand, als het was tijdens de Annexatie door Uwer Majesteits Regeering,” is Brittanje versoek om die anneksasie van Transvaal te herroep. J van Olions, ’n Vrystater, se brief in De Volksstem is ’n treffende verwoording van die gevoel wat onder die Vrystaters begin posvat het: “Ja, er zal een ijzeren juk noodig zijn om de Afrikanen ten onder te houden en te doen buigen, wat de toekomst zal bewijzen, want waar het bloed niet loopt daar kruipt het, en wij zullen niet gedogen dat onze bloedverwanten door Engelands barbaarscheid en wreede onrechtvaardigheid langer verdrukt zullen worden.”
Dit is opvallend hoeveel gedigte in die jare tot die Transvaalse volk gerig is. Die doel was gewoonlik om die Transvalers aan te moedig tot verset. In De Express and Orange Free State Advertiser van 20 November 1879 verskyn “Nog een Adres aan de Transvaal”:
“Kruger! Joubert! Uw lot is beslist; Pretorius! Boeren! het woord is gesproken, Transvaal is het dierbare vaderland, het welk gij mist, en zijn ketenen worden nooit weer verbroken. Zoolang de zon daar boven nog schijnt, en een ster aan den Hemel blijft lichten, luidt het vonnis waar onder Transvaal nu verkwijnt, zult gij voor die ketenen zwichten. Ontwaakt, word bezield toont u moedig en braaf, maakt u op tot den strijd in het licht van de zon, toeft niet langer of uw lot is dat van den slaaf, en de vrijheid- Meld op, waar slawendienst began. De Zoeloe is vrij; hij is dapper in ’t gevecht, maar den Boer wil men straffeloos dwingen; Trekt het zwaard! en verdedigt daarmede uw recht, verdrijft ze die u willen verdringen. Nu! Nu! Transvaal op dood en leven, Joubert, dat men een held u noem. ’K zal bij u staan in’t heerlijk streven naar vrijheid, dood of roem. ”
In ’n omsendbrief wat in Natal gesirkuleer het, is bekend gemaak: “De annexatie van uwe Republiek verklaren wij openlijk naar ons oordeel te zijn eene daad van onregt u aangedaan.”
Hierdie protesbewegings, veral in die Vrystaat en Kaapkolonie, was nie net beperk tot woorde nie. Tydens die volksvergadering van Desember 1880 was daar heelwat persone van die Vrystaat en die Kaapkolonie teenwoordig. Selfs ’n Boer van Beaufort-Wes het sy weg oopgesien om die vergadering by te woon. Meer as 200 Vrystaters is met die geweer in die vuis oor die Vaal. Kruit, ammunisie, slagbeeste, klerasie en geld is aan die Transvalers verskaf. Die Kapenaars se daadwerklike steun aan die Transvalers blyk onder meer uit die “Paarlse Comite voor de Transvaalsche Noodlydenden” wat ’n bedrag van £400 na die noorde gestuur het.
Die omvang en sukses van die nasionale ontwaking onder die Afrikaners kan in ’n groot mate aan die Volkskomitee se werksaamhede toegeskryf word. Hulle gereelde skrywes en versoeke aan hulle medebroeders het die Afrikaner in Suid-Afrika nie net bewus gemaak van die nood wat in Transvaal geheers het nie, maar ook van hulle verwantskap en onderlinge verantwoordelikheid teenoor mekaar. Die deputasie, bestaande uit Kruger en Joubert, was in 1880 deur die Volkskomitee na die Kaap gestuur is om die Transvaalse saak daar te gaan bekend stel en te behartig, het groot sukses behaal en help bou aan ’n eenheidsgevoel onder die Afrikaners van Suid-Afrika wat politieke grense oorskry het.
Die steun en hulp wat die Transvaalse volk van die Vrystaat, die Kaapkolonie en Natal gekry het, het ’n geweldige indruk op die Transvalers gemaak en Afrikanernasionalisme daar gestimuleer. In die eerste plek het dit die Transvalers soveel te meer laat besef dat hulle verset teen die anneksasie regverdig is. Die belangrikste gevolg was egter die bewuswording dat hulle nie alleen staan nie, maar deel is van ’n groot eenheid, die Afrikanervolk van Suid-Afrika.
C N J du Plessis het in 1898 verklaar: “In 1880 waren de Burgers van de Republiek, reeds door al de werkzaamheden van onze voormannen, zoo eendrachtig geworden, dat zij om zoo te zeggen, al parmantig begonnen te worden.” Die term “voormanne” wys op die Boereleiers wat met die uitsondering van enkelinge almal in die Volkskomitee opgeneem is. Die “werksaamhede” waama C N J du Plessis verwys, is inderdaad die werk van die Volkskomitee wat van deurslaggewende belang was in die smeding van ’n nasionale bewussyn onder die Afrikaners.
Die invloed van die volksvergaderings wat in die versettyd onder die leiding van die Volkskomitee gehou is, kan nouliks oordryf word. Dr Jorissen het telkens daama verwys: “De grote bijeenkomsten, die gedurende die tijd van hetgeen wij, het lijdelike verzet noemden, in steeds groter aantal en uit alien kanten, de zonen des lands bijeen brachten, hebben’t volk als’t ware aan zich zelf ontdekt.” En “De invloed dezer grote bijeenkomst op de burgers, op ons alien, vrienden van de oude Republiek, was beslissend. Ik zou geneigd zijn te spreken van ene ontdekking aan ons zelven ...” Shepstone self het die invloed van die volksvergadering bemerk. Op 19 Februarie 1878 stuur hy oor die Naauwpoort-vergadering aan Carnarvon ’n berig “from which your Lordship will see the spirit that has been evoked by that meeting.”
Die bymekaarwees van so ’n groot aantal burgers het die geleentheid gebied om beter ingelig te word en tot groter eengesindheid te kom. Die orde en dissipline wat die Volkskomitee deurgaans tydens hierdie vergaderings gehandhaaf het, het vrug gedra. Die Boereverset en –vergaderings was nie die bymekaarkoms van ’n aantal uitbundige en wettelose rebelle nie. Die verrigtinge het ordelik verloop en sou die fondamente van ’n gedissiplineerde verset vorm.
Vroeër is aangetoon tot welke mate die Boer as gevolg van sy misplaaste selfstandigheid geen gesag erken of aanvaar het nie. Die ysere hand waarmee die Volkskomitee, veral Piet Joubert, sake gehanteer het, het die Boer laat afsien van sy eie ek en hom laat inskakel by ’n georganiseerde eenheid, onderworpe aan die gesag van sy leiers.
Vir die Boere, wat sonder uitsondering geen militêre opleiding gehad het nie, was hierdie vergaderings in ’n groot mate ’n krygskool. In plaas daarvan om ledig te sit terwyl die Volkskomitee vergader, is militêre oefeninge gehou, koppies bestorm en skietkompetisies gehou. Albertus Smit wat by die Wonderfontein-vergadering was, verklaar dat tussen 500 en 600 gewapende perderuiters op 12 Desember 1879 daar ’n “spiegelgevecht” gehou het.
Die Boere se afhanklikheid van die handel wat in Engelse hande was, was ’n gevoelige saak en het stremmend ingewerk op die Boer se onafhanklikheidstrewe. ’n Algemene handelsboikot wat wel aanbeveel is, sou nie ’n oplossing bied nie vanweë die beperkte aantal Afrikaanse sakemanne en winkeliers. Om die Boer ekonomies onafhanklik te maak, het die Volkskomitee met ’n lofwaardige poging voor die dag gekom. De Transvaal het in Augustus 1879 die idee van “Boerevereenigingen” soos in die Kaapkolonie geopper. Vroeg in 1880 het die Volkskomitee oorgegaan tot die stigting van so ’n vereniging. “De Nationale Boeren Handels Vereniging” se doelstelling was om beheer en invloed in die handel te verkry deur die oprigting van Boerewinkels in al die distrikte van Transvaal. Hierdie winkels moes die Boer voorsien in sy daaglikse behoeftes teen die laags moontlike pryse, asook die Boer se produkte op die voordeligste wyse van die hand sit. Potchefstroom sou dien as die hoofsetel, en drie direkteure sou die leiding neem.
Hoewel daar van hierdie ambisieuse plan weens gebrek aan kapitaal nie veel gekom het nie, het dit tog ’n positiewe uitwerking gehad. Die grootste probleem was om die nodige £50 000 deur aandele van £10 elk te verkry, geld was skaars, en die meeste Boere was teen September, toe die maatskappy aan die gang moes kom, in die Bosveld, wat dit onmoontlik gemaak het om die nodige stappe te doen. Die verdere verloop van sake in 1880 het egter tot gevolg gehad dat so ’n maatskappy in 1881 nie meer nodig was nie.
Die invloed van hierdie voorgenome maatskappy mag egter nie uit die oog verloor word nie. Dit het die Boer in sy stryd om onafhanklikheid gesterk. Ekonomies wou die Boer nie langer aan die Engelsman gebind wees nie. Met meer selfvertroue kon die Afrikaner sy stryd teen Engelse oorheersing voortsit, in die wete dat hy finansieel nie sal verloor nie. Hierdie poging was ’n groepspoging en het die klem laat val op georganiseerde samewerking. Die leiding van die Volkskomitee het keer op keer georganiseerde samewerking aangemoedig, in so ’n mate dat dit geleidelik eie aan die Boer geword het.
Die Volkskomitee wat deurgaans die hulp en leiding van God in die stryd afgebid het, het hoe agting vir die Boer met sy diep godsdienstige oortuiging afgedwing. In hierdie geestelike eenwording van die Afrikaner het die godsdiens ’n groot rol gespeel. In hulle oortuiging dat die Transvaalse saak regverdig is, het die oortuiging posgevat dat God met hulle is in die stryd. Die Komitee het met sy aanvaarding van die leiding van God die Boer oortuig dat die Volkskomitee se leiding God se leiding is, en derhalwe die regte leiding is. So het die Volkskomitee op 25 September 1879 al die Christenkerke in Transvaal, asook al die Christene in die Vrystaat, Kaapkolonie en elders, versoek om op die laaste Sondag van Oktober hulle in die gebed te verootmoedig en die Here se leiding en wysheid af te smeek. Die gereelde kerkdienste tydens die volksvergaderings en die Volkskomitee se gereelde versoeke om God in hulle besluite te ken, het die Afrikaner in die tyd van nood tot ’n geestelike eenheid gesmee.
Die belangrike plek wat gesamentlike godsdiensoefeninge in die volksvergaderings ingeneem het, blyk uit die feit dat daar tydens die Kleinfontein-vergadering nie minder as drie predikers teenwoordig was nie en “4 malen werd er kerk gehouden” op Sondag, 30 Maart.
’n Magtige instrument in die hande van die Volkskomitee was De Volksstem met Jan Celliers as redakteur. Hoewel dit duidelik is dat die koerant die anneksasie aanvanklik gesteun het, vind ons teen die begin van 1879 ’n merkwaardige ommeswaai. Celliers verklaar self: “De ervaring door ons echter opgedaan op die bijeenkomst van Wonderfontein (Januarie 1879) overtuigde ons ten volste dat het volk der Transvaal zich nooit onderwerpen zou aan het hun opgedrongen Britsch gezag, en sedert dien tijd zijn wij besliste voorstanders van de vernietiging der verfoeijelijke annexatie.”
Daar is reeds daarop gewys dat De Volksstem niks anders as die amptelike nuusorgaan van die Volkskomitee was nie. Dr Jorissen verklaar: "... voor ’t volk was hij een engel der vertroosting.” Die koerant was al die jare manna “voor de uitgehongerde patienten. Hij boezemde hun moed en vertrouwen in .. .”
Brief na brief van Volkskomiteelede het in die koerant verskyn. Waar daar nie gereelde volksvergaderings gehou kon word nie, het hierdie nuusblad dit nog steeds vir die Volkskomitee moontlik gemaak om die volk op die hoogte te hou van die verloop van sake. De Volksstem self het nie op hom laat wag om die verset aan te help en selfs gemoedere op te stook nie. Op 18 November 1879 vergelyk die koerant byvoorbeeld die Britse optrede met dié van “domme honden.” Die invloed van De Volksstem is nie deur die Britse amptenare misgekyk nie. In November 1880 het Lanyon verklaar: “In a country like this, where there is no public opinion... a journal of this nature cannot fail.. .”
Die vernaamste vereiste vir ’n leier of orgaan wat leiding neem, is om na die behoeftes en belange van sy volgelinge om te sien. Hierin het die Volkskomitee by uitnemendheid geslaag en sodoende agting en vertroue afgedwing. Die wyse waarop die Volkskomitee herhaaldelik in alle haas vergader het om oplossings vir probleme te vind, het ’n geweldige indruk op die volk gemaak. As regsadviseur van die Volkskomitee is dr Jorissen ook telkens ingespan om die Boere wat as gevolg van die versetbeweging voor die hof gedaag is, te gaan verdedig.
Met die volste reg het dr Jorissen later die leierskorps ofte wel die Volkskomitee se aandeel in die vorming van die Transvaalse eenheid soos volg gekenskets: "...zij dragen ... een geest en beginsel over, en maken de duizenden burgers tot een man, met een wil en een arm: gereed om onvoorwaardelijk, zonder bedenken, zonder ommezien te doen wat bevolenwordt.”
Die rol van dr E J P Jorissen in die Transvalers se vryheidstryd mag ook nooit onderskat word nie. As regsgeleerde wat die nasionale versetbewegings in Europa geken het, was hy in Staat om die situasie reg te beoordeel.
Sy wetskennis was by die opstelling van amptelike stukke vir die Volkskomitee van onskatbare waarde. ’n Mens wonder of sake sonder sy begrip van die Boere en sonder sy insig so vlot en so suksesvol sou verloop het.
Van grondwetlike tot gewelddadige verset – vervolg...