Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
Van grondwetlike tot gewelddadige verset
Die Transvalers se reaksie op die uitslag van die onderhandelings met die Gladstone-ministerie is deur die Britse amptenare bestempel as kalme berusting en aanvaarding. The Natal Witness berig in April 1880: “Boer feeling (is) said to be toning down,” en in Julie “I think the anti-annexation has died a natural death.” In Augustus het Lanyon die Britse Ministerie vir Kolonies verseker dat die inwoners tevrede en rustig is. Die Boere se bereidwilligheid om belasting te betaal het hom tot die standpunt oorgehaal. Ook sir George Colley wat Wolseley in 1880 vervang het, het teen September berig: “... the country is becoming rather tired of this agitation; and many who at first held aloof from us are now becoming friendly."
Dit wil voorkom asof die amptenare in Transvaal teen hulle eie beterwete in of moontlik uit verkeerde beoordeling verklaar het dat die toestand aldaar vreedsaam was. Van vrywillige belastingbetaling was daar geen sprake nie.
De Volksstem het deurgaans hierdie aangeleentheid uitgelig. Tweedens is daar gedurende 1880 gereeld Boere-vergaderings gehou: “Secret meetings were held during 1880 in almost every country village and district by the Dutch burgers ...” Vanweë die redelike sterk pro-Engelse element in Transvaal moes Lanyon sonder twyfel van sulke vergaderings gehoor het. Die Britse regering is openlik uitgetart. P L Bezuidenhout het Pretoria op 15 Mei met ongeveer 100 perderuiters binnegery om J J Scheepers en C J Dirker wat uit die gevangenis vrygelaat is, te gaan ontmoet. Die twee persone was in die tronk omdat hulle ammunisie gebuit het. Soos helde is die twee ontvang, en toesprake is daar in die straat ter ere van hulle gemaak, ’n duidelike daad van verset. Die werklike toestand in die land blyk egter uit die Boere se daadwerklike voorbereiding vir oorlog. Gereelde byeenkomste is gehou, waartydens die Boere militêre opleiding soos dril- en skietoefeninge ondergaan het. Colley se siening daarvan spreek boekdele: “As to the meetings of the Boers for drill and rifle practice, it was merely carrying out the law providing for periodical wapenschouws...”
Indien daar wel onder die Boere ’n mate van bereidwilligheid was om belasting te betaal, wat daar voorheen nie was nie, moet dit gesien word teen die agtergrond van hulle aanvaarding van die Volkskomitee se leiding. Sedert die aanvang van die versetbeweging het die algemene aanvaarding van die Volkskomitee se leiersposisie daagliks toegeneem. By monde van S J P Kruger het die komitee in Julie 1880 die Boere versoek om rustig en kalm te bly en geen dade van geweld te pleeg nie.
In September het die Volkskomitee sy program van aksie uiteengesit: die Boere moes hulle in die geheim begin voorberei vir oorlog en op 8 Januarie 1881 moes die “volkstem” oor die toekoms beslis. Vir die Boere was 8 Januarie die dag waarop hulle onafhanklikheid herstel sou word, en enige daadwerklike verset voor die datum sou onnodig wees.
Onwillig of onkundig om die werklike kritieke toestand in Transvaal in te sien, het Lanyon en Wolseley die belastingkwessie voorgehou en die versetbeweging as iets van die verlede afgemaak. Vervolgens het Wolseley met ’n groot aantal Britse troepe Transvaal verlaat, terwyl Lanyon dit veilig geag het om alle onbetaalde belasting meer drasties in te vorder.
“Merkwaardige ironie van het lot! Juist deze belastingkwestie bracht de bal aan het rollen,” is die slotsom waartoe dr E J P Jorissen gekom het.
In bykans elke distrik in Transvaal was baie belastingpligtiges agterstallig met betaling. Die houding van hierdie Boere blyk duidelik uit ’n “Kennisgewing” wat in De Volksstem verskyn het. Vanuit die Wakkerstroomse
distrik het 113 Burgers te kenne gegee dat hulle alleenlik belasting aan “het Wettig Gouvernement der Zuid-Afrikaansche Republiek” verskuldig is; aangesien die Britse regering in Transvaal onwettig is, sal daar geen belasting aan die regering betaal word nie. Op 7 Oktober het ’n honderdtal Potchefstroomse Boere onder leiding van P A Cronje Potchefstroom binnegery en aan landdros Goetz ’n skrywe oorhandig. Daarin het hulle hul bereid verklaar om te eniger tyd belasting aan die wettige regering te betaal. Aangesien hulle nie die huidige regering erken nie, sou hulle slegs onder protes belasting betaal. As voorwaarde het hulle egter op kwitansies aangedring waarin duidelik vermeld moes word dat die belasting onder protes betaal is en dat die geld bewaar en later aan die wettige regering oorhandig moes word.
Nadat landdros Goetz geweier het om enige belasting op die voorwaarde te ontvang, is die burgers huis toe. Goetz het ’n volledige verslag oor die gebeure aan Pretoria gestuur, waarop hy opdrag gekry het om voort te gaan met die invordering van die belasting.
Pieter Bezuidenhout, ’n direkte nasaat van die Bezuidenhouts van die Slagtersnekrebellie, was van die eerste persone wat gedagvaar is. Bezuidenhout, wat alreeds in 1880 ’n week lank in ’n tronk aangehou is toe hy geweier het om ’n boete van £5 te betaal omdat hy ammunisie sonder ’n permit gekoop het, het dit gerade geag om die verskuldigde bedrag van £14 te betaal. Goetz was bereid om die bedrag te aanvaar, maar Bezuidenhout moes ook die onkoste wat £15 5s. beloop het, dra. Bezuidenhout het geweier om die belaglike bedrag van £29 5s. te betaal, waarop die geregsbode op sy wa beslag gelê het om dit op 11 November 1880 tydens ’n openbare veiling te Potchefstroom te verkoop.
Die uurglas van die Volkskomitee se beleid van lydelike verset het leeggeloop. Sake het vinnig en doelgerig op daadwerklike verset afgestuur.
Op Donderdag, 11 November om 11:00 het die balju, Moquette, Bezuidenhout se wa bestyg om met die veiling daarvan te begin. Met ’n kommando van 100 man het P A Cronje op die toneel verskyn, Moquette van die wa af verwyder en onder begeleiding van ongeveer 40 perderuiters die wa na Bezuidenhout teruggeneem.
Om 11:30 dieselfde dag het landdros Goetz die daad van openlike weerstand aan Pretoria gerapporteer. Vir Lanyon was die voorval “only a repetition of what has occurred at Middelburg and other places where there was no force available,” maar hy het tog gevoel dat dit tyd geword het “that more serious notice should be taken of such acts” en het lasbriewe laat uitreik vir die inhegtenisname van Cronjé, Basson en Coetzee.
Donker oorlogswolke het oor Transvaal saamgepak. Vir De Volksstem was oorlog onvermydelik: “De geest van openlijk verzet openbaart zich hoe langer hoe meer, ... en elke droppel Afrikaansch bloed dat hier valt, zal honderdvoudig gewroken worden...” Hierdie voorspelling kan grotesk klink, maar is tog deur die heel nabye toekoms as juis bewys. Ook De Zuid Afrikaan het vanuit die Kaapkolonie sy stem laat hoor en voorspel “dat er zal worden gevochten.”
Dit is opvallend dat die administrasie in Pretoria nie die ware toedrag van sake ingesien het nie. Die rede daarvoor moet eerstens gesoek word in die verdraaide beeld wat van die Boere onder die Engelssprekendes posgevat het. Tydens die bewind van Shepstone is daar begin om ’n stigma van lafhartigheid aan die Boere te koppel. Verskeie skrywes van Shepstone kan aangehaal word: “I should not care much however for the Boers because, if the worst came, they would only fire a few shots and run away,” en “the Boers are ignorant, credulous, excitable people, they are therefore easily led to good or mischief .. .”
Shepstone se neerhalende opmerkings oor Volkskomiteelede soos Kruger en Joubert het verder meegehelp om die stigma aan die Boere te heg: “They are worthless, as most of the Boers are, either as friend or foe ...” Hierdie indruk wat deur Shepstone van die Boere geskep is, is veral deur Wolseley versterk.
Lanyon self het die Boere met groot veragting bejeën soos blyk uit die volgende aanhalings uit sy briewe aan sy vader. Op 4 April 1879 skryf hy:
“I don’t much care about what they say. They are a lot of semi-civilized windbags ...’ Op 22 November 1880 oordeel hy: “I don’t believe that these cowardly Boers have it in them to fight...’
Die tweede rede waarom Lanyon geen gewapende botsing verwag het nie, blyk uit sy brief aan Kimberley op 19 November 1880: “The Boers have, in former days, refused to obey their own laws under their own Government, and they are simply now trying to carry on the same course of action under Her Majesty’s rule.” Lanyon het verder daarop gewys dat die Boere dit nie teen koningin Victoria se regering het nie, maar wel teen enige instelling wat hul individualiteit aan bande wil lê.
Ten slotte het Lanyon hom deur inligting van pro-Engelse inwoners laat lei. Op 26 November 1880 het S Mekiff aan Lanyon berig “that the whole thing will end as usual in smoke.”
Met hierdie eensydige inligting as agtergrond berig Lanyon op 14 November aan Kimberley dat hy baie streng teen die Boere gaan optree "to show these misguided people that the law cannot be defied. I do not anticipate that any serious trouble will arise out of the affair,” en op 5 Desember: “I stil do not think there is much cause for anxiety ..,” Om uitvoering te gee aan sy dreigement van strenger optrede, het Lanyon op 6 Desember ’n proklamasie uitgevaardig waarvolgens alle openbare vergaderings verbied is.
Aan die Boerefront het sake ’n ander wending geneem as wat Lanyon verwag het. Direk na die episode van 11 November het Cronje vir Bezuidenhout en ’n ander Boer na Boekenhoutfontein gestuur om Kruger te gaan haal. Kruger, wat die erns van die saak begryp het, het hom na Potchefstroom gehaas. Op die plaas Elandskuil, ongeveer twee uur te perd van Potchefstroom, het Kruger tussen 700 en 800 hoogs ontstoke Boere aangetref. In die uur van nood het Kruger hom weer eens as die sterk man en toonaangewende leier van die Volkskomitee bewys.
Vanweë die snelle verwikkeling van sake kon daar teen 26 November geen sprake van ’n voltallige Volkskomitee wees nie. ’n Beperkte aantal Volkskomiteelede, aangevul deur ’n aantal voormanne, het onder die voorsitterskap van S J P Kruger op genoemde plaas vergader. W E Bok wat ook nog nie teenwoordig was nie, is deur GMJ van Dam as waarnemende sekretaris vervang. Kruger se ywer om ’n vreedsame oplossing vir die land se probleme te vind, blyk duidelik uit sy openingsrede “dat hy gekomen was om over den toestand van zaken te raadplegen en te zien of er nog kans is om bloedvergieten te voorkomen.” Nadat P A Cronje verslag gedoen het van die gebeure, het die vergadering besluit om die Volkskomitee-vergadering van 8 Januarie 1881 te vervroeg na 8 Desember 1880.
Op Maandag, 29 November, het die vergadering hom in beginsel uitgespreek teen die gedagte dat die aangeleentheid ’n saak is waarby slegs Cronjé betrek moet word, aangesien dit “als eene algemeene landzaak” beskou moet word. Om dié rede is besluit dat ’n kommissie benoem sal word om met die Koloniale Sekretaris van Transvaal, George Hudson, op dieselfde dag te Kaalfontein te onderhandel.
Te Kaalfontein het M W Pretorius, L Klopper, C Bodenstein, F Dreyer, P Venter, A Oosthuizen, M Prinsloo en F Wolmarans die Boere se geledere versterk. Met die toevoeging van genoemde lede is daar weer ’n kort Volkskomitee-vergadering gehou om ’n kommissie te verkies wat met Hudson moes onderhandel. Met die uitsondering van P A Venter wat vanweë sy betrokkenheid ipso facto tot lid van die kommissie verkies is, was al die ander persone Volkskomiteelede, naamlik S J P Kruger, P A Venter, C Bodenstein, J H Fouche, H R Lemmer en M Prinsloo.
Die samesprekings het op niks uitgeloop nie. Die Boereleiers het deurgaans daarop gewys dat Brittanje die oorsaak van die onrus is. Die belastingkwessie is verkeerd gehanteer, terwyl die Britse soldate wat inderhaas na Potchefstroom gestuur is, die gemoedere net verder laat opvlam het.
Hudson, wat ’n vreedsame skikking wou bereik het, is onverrigter sake terug Pretoria toe.
Nadat die kommissie aan die res van die Volkskomitee verslag gedoen het, is daar besluit om voort te gaan met die beplande vergadering van 8 Desember. Aan Kruger is opdrag gegee om die administrasie in Pretoria daarvan kennis te gee. In ’n skrywe op dieselfde dag aan Hudson vind ons vir die eerste keer ’n dreigende Kruger.
Kortliks maak Kruger melding van die beoogde vergadering en wys daarop dat die regering geensins moet probeer om die vergadering te voorkom nie: “Indien het echter zoo komt, dat er bewegingen van uwenkant ontstaan, zoo wil ik U wel doen verstaan, dat ik dan niet voor die gevolgen kan verantwoordelijk zijn. ”
Die optrede van die Volkskomitee in die tydperk wat die volksvergadering te Paardekraal voorafgegaan het, spreek van goeie organisasie. Op 27 November het M W Pretorius vir Joubert van die gebeure te Potchefstroom verwittig. Op sy beurt moes Joubert alle Volkskomiteelede in die distrikte Wakkerstroom, Utrecht en Lydenburg oor die gebeure inlig en van die vervroegde volksvergadering kennis gee. Pretorius het die erns van die saak uitgelig en ten slotte Joubert daarop gewys: “Werk met haast, de tyd is kort, alles dreigt op bloed.” Hoewel daar ’n gebrek aan verdere inligting is, kan daar aanvaar word dat soortgelyke skrywes aan ander vooraanstaande Volkskomiteelede in die ander distrikte gestuur is. Die opkoms te Paardekraal is bewys daarvan. Joubert het onmiddellik reageer op Pretorius se versoek en op 2 Desember 1880 ’n omsendbrief aan alle belangstellendes gerig om reelings vir ’n gesamentlike optrek na Paardekraal te tref. Die burgers van Standerton en Middelburg moes hulle op 6 Desember by Boesmanskop aanmeld, terwyl die van Utrecht en Wakkerstroom op dieselfde dag op die plaas van Hans Retief moes rapporteer.
Daar moes vinnig gehandel word en geen gesloer kon geduld word nie.
Die Volkskomitee self het hulle deeglik voorberei vir die byeenkoms en het in die dae voor die groot saamtrek byna daagliks in die huis van Jorissen in Pretoria vergader.
Die tydperk van lydelike verset en vreedsame onderhandeling was verby. Uit die gees wat onder die Transvaalse Afrikaners geheers het, was dit duidelik dat hulle gereed was vir gewelddadige verset teen die Britse oorheersing wat arbitrêr op hulle afgedwing was. By Paardekraal sou die Volk daaroor moes besluit.
Paardekraal – vervolg...