Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
Paardekraal: Eensydige herstel van die onafhanklikheid (2)
J E H Grobler en prof C M Bakkes
Die Boere was sielkundig deeglik voorbereid op die stryd wat gevolg het. Hul vernaamste wapen in die verband was hul geloof dat God aan hulle kant was. Voorts was daar ’n saak waaroor almal saam sterk gevoel het en waarvoor die meeste burgers bereid was om voluit te veg, naamlik die instandhouding van hul herstelde regering.
Teen die sowat 7 000 hoogs gemotiveerde Boerekrygers was daar aan Britse kant teen die einde van 1880 in Transvaal self slegs 1 759 soldate, in vergelyking met 2 911 soldate wat aan die begin van Augustus in daardie kolonie gestasioneer was. Die vermindering is kennelik toegelaat omdat die verantwoordelike Britse instansies geoordeel het dat 1 800 soldate genoeg sou wees om enige gebeurlikheid die hoof te bied. Daardie oordeel is gebore uit ’n oortuiging dat die Boere nie ’n gewapende opstand van stapel sou stuur nie - ’n oortuiging wat oor vier jaar by verskillende Britse amptenare en by die Colonial Office en War Office ingeprent is.
Die afname in troepegetalle en militêre sterkte was nie slegs die gevolg van amptelike onttrekkings nie. Teen die einde van Oktober 1880 is daar in Pretoria ’n vrywilligerskorps van 300 man onder kmdt I Ferreira op die been gebring om die Kaapse regering teen swart onrus in Basoetoeland te gaan bystaan. Hulle is van gewere en twee veldkanonne uit die plaaslike militêre voorraad voorsien.
Daarby het ’n groot getal soldate in die loop van 1880 gedros. In die Transvaal Government Gazette van 14 September 1880 het daar ’n lys van 235 drosters uit die Britse leer in Transvaal verskyn. Omstandighede in Suid-Afrika was gunstig vir voornemende drosters. Dit was ’n uitgestrekte land met genoeg ruimte om skuil te hou. Daar was orals werkvakatures, sodat ’n droster sonder veel moeite ’n nuwe loopbaan kon begin. Waar die Afrikaner die dienende soldate in baie gevalle nie vriendelik behandel het nie, omdat hulle berug was vir dronkenskap, diefstal en aanranding, was hulle die drosters oor die algemeen goedgesind en het aan hulle skuiling gebied. Daar was ook ’n goeie mark vir die gewere en perde wat die drosters meestal met hulle uit die garnisoene saamgeneem en dan verkoop het om geld in die hande te kry.
Omstandighede in die Britse leër in Transvaal was ook bevorderlik vir drostery. Die soldate het telkens in afgesonderde garnisoene waar daar geen noemenswaardige tydverdryf was nie, diens gedoen. Hulle het daar in tente gewoon, wat geensins gerieflik was nie, en daar was nie altyd markte waaruit hulle hul karige rantsoene kon aanvul nie.
Daar was teen die begin van November 1880 in die ses Britse garnisoene in Transvaal, insluitende Pretoria, twee Britse infanteriebataljonne, naamlik die 94th Regiment en die 2nd Battalion 21st Royal Scots Fusiliers.
Voorts was daar een genie-eenheid, die 2nd Field Company, Royal Engineers, wat in Pretoria gestasioneer was; vier kanonne van N Battery, 5th Brigade, Royal Artillery; nog agt ander kanonne en elemente van die Army Service Corps en die Army Hospital Corps. Die hele mag het ’n totaal van skaars 100 berede soldate, wat uit die twee infanteriebataljonne gewerf is, bevat. Die voorval in verband met Bezuidenhout se wa het Lanyon teen die einde van November genoop om Colley te versoek om die 58th Regiment uit Natal na Transvaal te stuur. Colley het geantwoord dat hy weens swart onrus in Pondoland slegs twee kompanies van daardie regiment kon afstaan. Hulle kon dan die twee kompanies van die 94th Regiment wat by Newcastle en Wakkerstroom onderskeidelik gestasioneer was, aflos, sodat dit tot Lanyon se beskikking sou wees. Lanyon was nie tevrede nie en het nog meer troepe uit Transval gevra. Daarop het Colley besluit om vier kompanies van die 58th Regiment na Wakkerstroom te stuur.
Tot in die helfte van November 1880 was daar geen Britse soldate in Potchefstroom gestasioneer nie. Na die insident in verband met Bezuidenhout se wa is daar egter op 14 November ’n taakmag na die eertydse hoofstad gestuur. Dit het bestaan uit ’n kompanie van die Royal Scots Fusiliers (75 man), 25 berede infanteriste van dieselfde regiment en twee veldstukke van die Royal Artillery. Maj C Thornhill van laasgenoemde eenheid was in bevel van die taakmag wat op 18 November in Potchefstroom aangekom het.
Twee dae later het nog ’n kompanie van die Royal Scots Fusiliers, bestaande uit 49 man onder bevel van luit R A Brown, uit Rustenburg by die taakmag aangesluit. Met enkele soldate van die Army Service Corps en die Army Hospital Corps bygetel, was daar met die uitbreek van die oorlog altesame 10 offisiere en 203 onderoffisiere en manskappe in Potchefstroom aanwesig. Hulle bevelvoerder was lt-kol R W C Winsloe van die Royal Scots Fusiliers wat kort tevore uitgestuur is om Thornhill af te los.
’n Fort met grondwalle waarna hierbo verwys is, is ’n entjie wes van die dorp naby die bestaande kruitmagasyn opgerig en kamp is daar opgeslaan. Winsloe kon, buiten sy taakmag, gebruik maak van die dienste van die Administrateur se spesiale kommissaris vir Potchefstroom, maj M J Clarke, kapt Raaf en sy sowat tien konstabels en enkele vrywilligers.
Nadat die taakmag na Potchefstroom gestuur is, was daar in Pretoria slegs twee veldstukke, ’n kompanie genie-soldate en sowat 400 infanteriste, asook vier kanonne wat in forte gebruik kon word.
Die bevelvoerende offisier van al die troepe in Transvaal, kol W Bellairs, wou graag die garnisoen in die hoofstad versterk. Om daardie rede is troepe uit Lydenburg na Pretoria ontbied. Hulle was op pad na die hoofstad toe die oorlog uitgebreek het.
Daar is ook ’n kompanie van die 94th Regiment uit Marabastad ontbied. Daardie eenheid, bestaande uit 64 man onder kapt Campbell, het op 10 Desember in Pretoria aangekom, gevolg deur ’n berede troepemag van dieselfde regiment onder kapt O’Grady en luit Carden, twee dae later.
Ander Britse eenhede wat besig was om van plek te verander toe die oorlog uitgebreek het, was ’n kompanie van die 94th Regiment en ’n kompanie van die 58th Regiment wat op 14 Desember uit Newcastle op pad na Standerton vertrek het en ’n kompanie van die 94th wat op 17 Desember uit Wakkerstroom na Standerton gegaan het.
Daar is op die vooraand van die stryd in Pretoria pogings aangewend om ’n vrywilligerskorps op die been te bring. Tussen 150 en 200 man is gewerf en het in die laaste twee weke voor die oorlog opleiding ondergaan.
Die plaaslike inwoners was egter geensins entoesiasties oor hierdie militêre diens nie.
Terwyl die Boere hul beplande volksvergadering na 8 Desember vervroeg het, is ’n genie-offisier, luit Littledale en die Transvaalse landmeter-generaal, Melville, vroeg in dieselfde maand na die vergaderplek, Paardekraal, gestuur. Hulle moes militêre opmetings van die terrein gaan maak en het vasgestel dat dit ’n moeilike gebied sou wees om aan te val. Voorts is daar direk na die Boere se volksvergadering, voordat dit in Pretoria bekend geword het dat vyandelikhede in Potchefstroom uitgebreek het, deur Bellairs gereël dat ’n taakmag op 18 Desember juis na Potchefstroom uitgestuur moes word, sodat die kanonne, berede troepe en een kompanie infanterie onder dekking na die hoofstad teruggetrek kon word.
Nuus oor die eerste skote is dieselfde aand ontvang en gevolglik is die taakmag nie uitgestuur nie.
Gedurende die laaste twee dae voor die oorlog by Paardekraal werklikheid geword het, het die Britse amptenare in Pretoria drie proklamasies van ’n militere aard gepubliseer. Ingevolge een daarvan moes soldate altyd minstens 70 rondtes ammunisie met hulle saamdra.
Die tweede het ’n verbod daarop geplaas dat gewapende groepe mense binne 1,6 kilometer van enige dorp verkeer, of enige dorp gewapend binnegaan.
Die derde het bevelvoerders van Britse garnisoene beveel om, met inagneming van veiligheidsomstandighede, uitvoering aan die inhoud van die tweede proklamasie te gee. Dit was strydig met die gees van ’n opdrag wat Colley op 4 Desember in Pietermaritzburg uitgereik het waarvolgens die bevelvoerders van garnisoene in Transvaal alles in hulle vermoë moes doen om botsings met die plaaslike bevolking te vermy. Bogenoemde drie proklamasies is die somtotaal van militêre voorbereidings wat die Britte vir die moontlikheid van ’n gewapende opstand van die Boere getref het. Daardie voorbereidings was onvoldoende en het die Britte in Transvaal in so ’n swak militêre posisie geplaas dat hulle van die begin van die oorlog af verdedigend moes optree. Die Boere is in staat gestel om van meet af die inisiatief te neem en hulle het, soos uit die bespreking van die militêre verloop van die oorlog sal blyk, dit nie weer prysgegee nie.
Vervolg...