DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (21)

Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog 

Die sege by Bronkhorstspruit

J E H Grobler

Die oorsprong van die eerste veldslag van die Eerste Vryheidsoorlog, die geveg by Bronkhorstspruit, kan tot meer as ’n maand voordat dit plaasgevind het, teruggevoer word. In ’n vorige afdeling is gemeld dat die Boere se beplanning van ’n volksvergadering by Paardekraal die Britse koloniale owerheid in Transvaal laat besluit het om soveel troepe as moontlik in Pretoria saam te trek. Om uitvoering aan die besluit te gee, is opdrag na Lydenburg gestuur dat die hoofkwartier en twee kompanies van die 94th Regiment, wat onder bevel van lt-kol Philip R Anstruther gestaan het, sonder verwyl na Pretoria moes marsjeer. Die opdrag is op 27 November in Lydenburg ontvang. Anstruther het dadelik voorbereidings begin tref om dit te kon uitvoer. ’n Tekort aan waens het daardie voorbereidings belemmer, met die gevolg dat die Britte eers op 5 Desember die pad na Pretoria aangedurf het.

 

Anstruther was ingevolge Britse Leërregulasies veronderstel om nie meer as 12 waens in sy konvooi te hê nie. By sy vertrek was daar 30 bagasiewaens, twee muilwaens, ’n waterkar en ’n ambulanswa. Dit het die Britte gedoem tot stadige vordering. Onder uiters gunstige omstandighede sou so ’n groot konvooi nie vinnig kon beweeg nie. In Desember 1880 was die toestand allesbehalwe gunstig. Die paaie was nat en die riviere vol. ’n Span van 16 osse met ’n wa agteraan het ’n nat pad in ’n modderbad verander. Dertig sulke spanne met swaargelaaide waens wat elk meer as twee metrieke ton geweeg het, het ’n enkele pad ’n moeras gemaak. Die onnodige lang konvooi het Anstruther se opmars vertraag - met minder waens sou hy aansienlik vinniger kon beweeg het. Middelburg, die halfpadmerk tussen Lydenburg en Pretoria, is eers op 14 Desember bereik.

Dit beteken dat hulle gemiddeld skaars 15 kilometer per dag gevorder het.

Die Britse mag op pad na Pretoria het bestaan uit nege offisiere en 252 onderoffisiere en manskappe. Verder was daar drie vrouens en die twee kinders van een van die vrouens, sowel as omtrent 60 swart drywers en touleiers om die waens te beheer. Die onderoffisiere en manskappe het al die berede infanteriste waaroor Anstruther in Lydenburg beskik het, sowel as die soldate wat onder detensie was, ingesluit. Hulle het oor altesame nege perde beskik.

In Middelburg is aan Anstruther gesê dat die Olifantsrivier besig was om af te kom, en dat hy dit nie dadelik sou kon oorsteek nie. Hy het toe maar besluit om ’n dag daar te vertoef. Sommige Engelssprekende Middelburgers het hom gewaarsku dat die Boere hom langs die pad sou aanval maar hy het die waarskuwings as bangmaak stories afgemaak. Op 16 Desember is die opmars hervat, maar die Britte kon slegs tot by die Olifantsrivier vorder, aangesien dit inderdaad besig was om af te kom.

Nog twee dae het verlore gegaan. Terwyl die Britte gewag het dat die rivier sak, is ’n skrywe van Bellairs by Anstruther afgelewer waarin laasgenoemde gewaarsku is om teen verrassingsaanvalle langs die pad te waak.

Bellairs het aanbeveel dat touleiers en ander swartmense vooruitgestuur moes word om te verken of die Boere nie die Britte iewers voorlê nie.

Anstruther het in sy antwoord aan Bellairs beloof om die opdragte stiptelik uit te voer en om so vinnig moontlik sy opmars voort te sit.

Vanaf die Olifantsrivier weswaarts is vinnig gevorder. Die aand van 19 Desember is deurgebring by ’n sekere Honey se opstal, tien kilometer oos van Bronkhorstspruit. Die volgende oggend is gevorder tot by die opstal van Watkins, wat die Britse owerheid se veldkornet in daardie gebied was.

Op daardie stadium het die Britse soldate steeds geen kennis gedra van die onrustige toestand in Transvaal nie, en het Anstruther geensins vermoed dat hy nog dieselfde dag deur die Boere gekonfronteer sou word nie. Hy het ook nie moeite gedoen om in die heuwelagtige maar boomlose omgewing waar verkenning nie moeilik sou wees nie, te probeer vasstel of daar Boere in die nabyheid was nie. Alhoewel hy oor slegs vier berede infanteriste beskik het en die verkenning menslik gesproke nie heeltemal effektief kon wees nie, is hy dit verkwalik dat hy nooit die swart wadrywers vir verkenning benut het nie.

Die Britte het om ongeveer 12h00 vanaf Watkins se plaas vertrek. Die marsorde was soos volg: twee berede verkenners het sowat 300 meter voor die voorpunt van die kolonne gery. Anstruther self was op daardie voorpunt, berede en in die geselskap van ’n paar van sy offisiere. Sowat 20 meter agter hulle was die orkes van 30, gevolg deur ’n kompanie van tussen 70 en 80 man. Daarna het gevolg die kwartierwag van 13, die provoosbegeleiding en gevangenes, altesame 23 man, die waens met twee soldate aan elke kant van meeste van hulle, en heel agter, met 70 meter tussen hulle en die agterste wa, was die agterhoede van ongeveer 20 man.

Die kolonne het oor byna twee kilometer gestrek. Die orkeslede was ongewapen. Dit was ’n warm dag en die son het ongenadiglik op die soldate gebak. Talle soldate het hulle rooi baadjies oopgeknoop en hulle gewere op die waens gegooi. Elke man het net 30 rondtes ammunisie gedra in plaas van die voorgeskrewe 70 rondtes per man, en dit was ook nie seker of al die ammunisiekiste oopgeskroef was nie. Dit is duidelik dat daar by Anstruther ’n diepgewortelde geloof bestaan het dat die Boere niks in die mou gevoer het nie. Daardie mistasting het die Boere in staat gestel om die Britte by Bronkhorstspruit te verras.

Oor die Boere wat Anstruther by Bronkhorstspruit gekonfronteer het, is nie veel bekend nie. Hulle bevelvoerder was Frans Joubert, die kommandant van Pretoria, ’n oom van kmdt-genl Piet Joubert. Sy opdrag was om die Britse troepe wat vanaf Lydenburg na Pretoria opgeruk het, te stuit. Hy het op 18 Desember uit Heidelberg vertrek om sy opdrag te gaan uitvoer. Hy is met ’n aantal Boere noordwaarts na Pretoria, waar S P U Trichardlt met nog burgers by hom aansluit het. Hulle het toe in die rigting van Middelburg vertrek. Op pad daarheen het Nicolaas Smit en D J B Erasmus met nog ’n aantal  Boere by hulle aangesluit.

Die hele Boeremag het die aand van 19 Desember in Bothasnek, ongeveer halfpad tussen Pretoria en Bronkhorstspruit, geslaap. Vroeg die volgende oggend is Erasmus daar deur die burgers as tydelike kommandant gekies. Die offisiere het verskil oor hoe hulle te werk moes gaan om die Britse mag te stuit.

Frans Joubert wou dat hulle die Britte by Bothasnek voorlê; Trichardt wou dat hulle die Britte by die Honderivier voorlê en Smit wou dat hulle ooswaarts moes beweeg tot waar hulle die Britte sou kry, en dat hulle hul dan daar aanval. Sy voorstel is aanvaar.

Deur die loop van die oggend van 20 Desember het die Boerekommando al met die transportpad langs in die rigting van Middelburg voortbeweeg. Die burgers van Middelburg self was ook opgekommandeer om die Britte te keer. Kmdt Piet Joubert, die tydelike kommandant van Middelburg, het met sy burgers parallel met Anstruther se kolonne weswaarts beweeg, maar is nooit deur die Britte opgemerk nie. Dit wil voorkom asof daardie burgers in die loop van die oggend by Frans Joubert se kommando aangesluit het.

Naby die Honderivier aangekom, het die Boere by die opstal van Salmon Prinsloo, die Volkskomiteelid, afgesaal totdat hulle verkenners berig het dat die Britte naby was. Hulle het toe te perd in ’n vallei suid van ’n lae heuwel en suid van die transportpad opgery. In die vallei is halt geroep. Die burgers is beveel om in een lang linie uit te sprei.

Dit was die slagorde waarin Joubert beplan het om die Britte, indien nodig, aan te val.

Presies hoe groot die kommando was waaroor Frans Joubert by Bronkhorstspruit beskik het, kan nie met sekerheid gesê word nie. Paul Kruger het in sy Gedenkskrifte die getal 150 genoem, terwyl die geskiedskrywers van die tyd, Weilbach en Du Plessis, dit 160 maak. Een van die lede van die kommando, P C Joubert, het hom jare later herinner dat daar 300 Boere was, ’n getal wat ook deur Cachet en Van Dam genoem word.17

Vermaarde historici soos Theal en Preller sê onderskeidelik 200 tot 300 en 230 burgers. Britse deelnemers aan die geveg se opgawes wissel tussen 300 wat, volgens ’n verklaring deur kondukteur Egerton ’n dag na die geveg gemaak, die voorhoede aangeval het, en 2 000.

Destydse Britse skrywers het ook oor die grootte van die Boeremag verskil. Nixon het geskryf 500 man, terwyl Bellairs dit 1 000 gemaak het. Die moderne Amerikaanse skrywer, Joseph Lehmann, sê daar was aanvanklik 150 Boere. Skrywer hiervan kon geen onomstootlike bewys vir enige van die genoemde getalle opspoor nie. Die groot getalle deur Britse deelnemers aan die geveg genoem, moet as buitensporig beskou word. Hulle oordrywing kan toegeskryf word aan ’n natuurlike drang by die mens om, wanneer hy in ’n onderneming gefaal het, die faktore wat teen hom getel het te oorskat. Die getal 300 genoem deur Cachet, wat destyds moeite gedoen het om korrekte statistieke oor die oorlog in die hande te kry, is waarskynlik veel nader aan korrek.

Toe die Boereverkenners berig het dat die lang Britse konvooi reg noord van die uitgespreide burgers in die transportpad was, het Frans Joubert sy kommando beveel om in gelid vorentoe te beweeg. Tot op daardie stadium het die Britte nog absoluut niks vermoed nie. Die pad het hulle deur ’n breë laagte na die Honderivier begin afvoer. Die terrein was yl begroei met klein doringboompies - volgens Anstruther ’n geskikte plek vir ’n kavallerie-aanval. Die orkes het ’n gewilde deuntjie gespeel en die soldate het saam gesing.

Niemand het vermoed dat daar ’n Boeremag naby was nie. Toe die Boere in ’n lang linie uit die vallei suid van die transportpad te voorskyn gekom het, het die Britte hulle die eerste keer bemerk. Wie hulle eerste gesien het, is nie seker nie, maar die hele kolonne het spontaan gehalt.

Die voorste soldate het dadelik ’n front begin vorm.

Kmdt Frans Joubert het intussen sy tolk en rapportryer, Paul de Beer, met ’n brief na Anstruther gestuur. Dit was geadresseer “To the Commander-in-Chief of her Majesty’s troops, on the road between Lydenburg and Pretoria,” was ongedateerd en was onderteken deur die Driemanskap. Die inhoud het daarop neergekom dat die Britte moes halt waar hulle was totdat die Boere seker was of hulle in oorlog met die Britse owerheid gewikkel was of nie. Joubert het aan De Beer opdrag gegee om Anstruther vyf minute toe te laat om of ja of nee te antwoord.

De Beer self het nie geweet wat in die brief staan nie.

De Beer het te perd met ’n wit vlag in die rigting van die Britte gery en volgens sy eie weergawe ongeveer 100 meter van die pad af gehalt. Die Britse bevelvoerder en kondukteur Egerton het hom tegemoet gestap. Die brief is aan Anstruther oorhandig, hy het dit gelees, en driftig geantwoord: “Ek gaan na Pretoria, maak soos julle wil.” Hy het omgedraai en weggestap, maar volgens De Beer na ’n paar tree teruggedraai en hom versoek om sy antwoord so oor te dra. Anstruther se weergawe van daardie onderhoud het gelui dat hy aan De Beer gesê het dat hy nie aan die versoek in die brief vervat, kon voldoen nie omdat sy opdrag was om so spoedig moontlik na Pretoria te gaan, maar dat hy geen vyandelike doelstellings gehad het nie. De Beer het glo geantwoord dat hy die boodskap so aan Joubert sou oordra. Anstruther het hom voorts versoek om Joubert se antwoord dan weer te bring, waarop De Beer instemmend geknik het.

Of De Beer inderdaad onderneem het om vir Anstruther ’n antwoord op sy antwoord aan Joubert te bring, is onmoontlik om te bepaal. Egerton, wat by die onderhoud teenwoordig was, het die dag na die geveg in ’n verklaring niks daarvan gemeld nie. Indien Anstruther werklik weer ’n antwoord verwag het, kan aangeneem word dat hy bloot tyd wou wen, want uit die brief wat De Beer aan hom oorhandig het, kon daar geen onduidelikheid oor die Boere se voornemens bestaan het nie. Anstruther moes besef het dat hy sou moes veg as hy sy reis na Pretoria wou voortsit. Sy antwoord aan De Beer dat hy na Pretoria sou voortgaan, het ’n konfrontasie reeds onvermydelik gemaak. Dit is moontlik dat Anstruther gedink het dat ’n gedetermineerde antwoord van sy kant die Boere sou laat afsien van hulle voornemens om sy voortgang te belemmer. As dit die geval was, het hy hom misgis, want die Boere was van plan om te veg as dit nodig sou blyk. Daar was vanaf die einde van die onderhoud niks wat ’n geveg meer sou kon verhoed nie.

Anstruther se antwoord op die Boere se ultimatum is skynbaar nie voor die begin van die geveg aan Frans Joubert oorgedra nie. S P E Trichardt het hom herinner dat De Beer na Joubert gesoek het; dog Nicolaas Smit het die kommando beveel om te storm.

J M Engelbrecht, ’n ander Boeredeelnemer, het enkele dae na die geveg in dieselfde trant verklaar dat De Beer by hom verby gery het op soek na Joubert, toe die “adjudant” ’n wenk gegee het waarop die Boere op ’n galop noordwaarts gery het.

Sowat 200 meter van die transportpad af het hulle van hul perde afgespring en begin skiet.

Uit Anstruther se handelinge direk na die onderhoud, blyk dit dat hy besef het dat ’n geveg met die Boere heel waarskynlik kon uitbreek. Volgens sy eie verklaring het hy gesien dat die Boere vorentoe beweeg het en het hy so vinnig hy kon na die Britse kolonne teruggehardloop. Hy het die voorste kompanie beveel om uit te sprei. Voor hulle dit kon doen, het die eerste skote egter geval. Daardie verklaring word deur al die Britse getuies bevestig. Die soldate moes met vyfpas-spasies tussen elke twee al in die pad af in die rigting van Pretoria probeer uitsprei. Hulle is in seksies onder sersante en korporaals verdeel en die waarskynlike afstand waarop visiere gestel moes word, is verstrek. Die gevangenes (wat lede van die regiment was) is losgelaat en bewapen. Opdrag is gegee dat ekstra ammunisie uitgedeel moes  word. Sommige ammunisiekiste se deksels wasmet skroewe vasgedraai. Dit is met byle oopgekap. Terwyl dit gedoen is, het die geveg begin. Die orkeslede was toe net besig om hulle wapens en ammunisie wat op die voorste wa was, te kry. Die meeste van hulle kon nie daarin slaag nie en was dwarsdeur die geveg sonder wapens.

Die Boere het die eerste skote van die geveg by Bronkhorstspruit gevuur. Hulle was in verspreide orde suid van die transportpad, teenoor die hele Britse kolonne en skaars 130 meter daarvan af, ontplooi. Dit is seker dat hulle vuur aanvanklik op die Britse offisiere gerig was, want die meeste van laasgenoemdes is vroeg in die geveg getref.

Sommige Boere het van agter die enkele bossies wat daar was uit geskiet, maar die ander was in die oopte, waar party gestaan, party op een knie geleun en ander gelê en skiet het. Die Britte het dadelik in die wapad platgeval en teruggeskiet. Die Franse maarskalk MacMahon se verklaring dat soldate nie in die hitte van die stryd mik voor hulle skiet nie, was hier beslis waar, want in vergelyking met die van die Boere, was die Britte se vuur erg onakkuraat. Hulle was verras en verwar terwyl hulle besig was om ’n beweging uit te voer en in die eerste plek was almal nie eers gewapen nie. Die groot oop transportpad het nie juis dekking gebied nie. Die afstand tussen hulle en die Boere was buitendien so kort dat die Boere, onder wie talle ervare skuts was, feitlik nie anders kon as om die baie sigbare teikens wat die Britte met hul rooi baadjies en spierwit helmhoede gebied het, raak te skiet nie.

Die aanvanklike Boere-aanval was op die Britse front en regterflank gemik, maar kmdt Erasmus het mettertyd ’n omvleuelingsbeweging uitgevoer, die waens van agter aangeval en die wadrywers en swartmense wat daar geskuil het, geskiet en verjaag. So het die geveg ’n slagting geword.

In die harwar wat gevolg het is enkele Britte volgens Lehmann deur hulle eie kamerade doodgeskiet - iets wat onder die omstandighede seker nie onmoontlik was nie.

Oor die lot van die Britse agterhoede is daar meningsverskil in verslae van die dag oor die geveg. Kondukteur Egerton het beweer dat osdrywers aan hom vertel het dat die hele agterhoede aan die begin van die geveg gevange geneem is toe honderde Boere op hulle afgejaag het. Dit is onwaarskynlik, want in die eerste plek was daar nie honderde Boere wat op die agterhoede kon afjaag nie en tweedens het dokter Ward, wat ná die geveg al die Britse gewondes verpleeg het, berig dat die hele agterhoede behalwe twee man deur die Boere geskiet is. Daar was dus beslis ’n skietery by die Britse agterhoede en ook daar het sake vir die Britte verkeerd geloop.

Anstruther het sy bes gedoen om die posisie vir die Britte te red. Hy het  aanvanklik op sy perd agter die Britse geledere op en af gery en sy manskappe aangemoedig, maar het spoedig menigvuldige wonde aan sy bene opgedoen. Die soldate by die waens het so vinnig hulle kon, teruggevuur en selfs die gewondes het, na die eerste skok verby was, in talle gevalle weer begin skiet, maar nadat die Boere hulle omvleuelingsbeweging voltooi het, was die posisie ook daar nie meer vir die Britte veilig nie.

Dit alles het Anstruther laat besef dat hy geen kans meer gehad het om die oorwinning te behaal nie. Hy het geweet dat al sy offisiere en omtrent twee-derdes van sy manskappe of dood of gewond was. Hy wou nie graag oorgee nie, maar het begin dink dat sy mag teen ’n groot getalsoorwig te staan gekom het en dat hulle dus geen kans op uiteindelike sukses gehad het nie. Om ten minste die lewens van sy oorblywende soldate te red, het hy die staakvuur laat blaas en die wit vlag laat hys. As verdere teken van oorgawe is die soldate beveel om hul wit helmhoede in die lug op te gooi en hulle sakdoeke te waai. Die skietery het eers heeltemal opgehou toe ’n man met ’n wit vlag op ’n wa geklim het. Die Boere het toe nadergekom en die Britte beveel om hulle wapens neer te lê, wat hulle gedoen het.

Dit was minder as 15 minute nadat die eerste skote geskiet is. Onmiddellik na die wit vlag gehys is, het Joubert na vore gekom, Anstruther se hand geskud en gesê dat hy spyt was om hom gewond te sien.

Volgens De Beer, wat skynbaar as tolk opgetree het, het Anstruther aan hom gesê: “Sê aan jou kommandant-generaal dat alles wat hy teen my gedoen het, eerlik was.” Daardie mededeling was onwaarskynlik, bloot omrede daar op daardie stadium nog geen twispunt oor die eerlikheid al dan nie van die Boere-optrede bestaan het nie, en daar dus geen motief vir so ’n stelling was nie. Luit Hume het heftig ontken dat sy aanvoerder ooit so iets gese het.

Anstruther het aan Joubert die hulp van die Britse dokter aangebied. Joubert het die aanbod van die hand gewys en terselfdertyd aan die dokter toestemming gegee om soveel mediese voorrade as wat hy vir die behandeling van die Britse gewondes nodig gehad het, uit die waens te gaan haal. Die Boere het direk na die geveg ’n kring om die Britte gevorm om te keer dat iemand sou ontsnap.

Sommige burgers het tussen die Britte beweeg. Hulle het verdwaas gelyk oor die slagting. Enkeles het gesê hulle wou nie so ’n slagting aangerig het nie, maar wou bloot die Britte daarvan weerhou om Pretoria te bereik. Die afskuwelikheid van die lyke en die kermende sterwendes, die dooie en verbryselde osse en perde en die plasse bloed in die pad het so ’n verskriklike indruk gelaat dat kmdt-genl Piet Joubert, nadat hy eerstehandse verslae oor die gebeure ontvang het, dit met reg “een aller afgrysselijk gevegt” genoem het.

In ’n ongeëwenaarde uiting van menslikheid teenoor ’n vyand pas na afloop van ’n veldslag het die Boere alle moontlike hulp aan die Britte gegee. Mediese voorrade is vir die dokter van ’n wa afgelaai en tente is vir die gewondes opgeslaan. Dit het ’n goeie indruk op die Britte gemaak.

Die Britse verliese by Bronkhorstspruit was, relatief tot die tydsduur van die geveg, ongelooflik groot. Tydens die geveg self is een offisier dood en al agt die ander gewond. Van hulle het twee nog dieselfde dag en twee ander, onder wie Anstruther, binne die volgende drie weke aan hul wonde gesterf. Die ongevalle onder die manskappe was: 56 tydens die geveg doodgeskiet en 92 gewond. Van hulle is minstens sewe binne die volgende drie weke aan hulle wonde oorlede. Colley het op 5 Januarie 1881 berig dat 86 Britte by Bronkhorstspruit doodgeskiet is en dat nog 26 as gevolg van wonde oorlede is. Daarteenoor is aan Boerekant een burger tydens die geveg doodgeskiet, een ernstig gewond en vier ander lig gewond.

Onder die redes wat deur destydse getuies aangegee is ter verduideliking van die groot verskil in ongevalle tussen die Boere en die Britte, was dat die Boere die afstand vanaf die pad na die plekke van waar hulle gevuur het, met klippe afgemerk het sodat hulle presies kon weet hoe om hulle visiere te stel. In ’n destydse koerant is dit ook beweer en enkele skrywers het daarna aanvaar dat die Boere in ’n hinderlaag vir die Britte lê en wag het. Daar steek geen waarheid in daardie bewerings nie. Soos reeds gemeld, het die Boere kort voor die Britte in die omgewing van die slagveld aangekom. Die doel van diegene wat daardie bewering versprei het, was om die Boere in ’n slegte lig te stel en om te probeer bewys dat wat by Bronkhorstspruit gebeur het, eerder ’n koelbloedige menseslagting as 'n billike geveg was.

Joubert het ná die geveg die Britte gelas om al hulle wapens en toebehore aan die Boere af te staan en dit saam met al die waens na die Boerekamp op Salmon Prinsloo se plaas te neem. Ook al die perde wat die veg oorleef het, is weggevoer. Al wat by die Britte agtergebly het, was tente, die grootste deel van die inhoud van die hospitaalwa, die waterkar en twee osse om dit te trek. Daar bestaan ook getuienis dat die Boere die gesneuwelde Britte se stewels, baadjies en patroonsakkies buitgemaak het , asook die offisiere se swaarde. Dit het Anstruther se swaard ingesluit.

Teen laatmiddag het die grootste deel van die kommando na Heidelberg terug vertrek. Een offisier en 47 ander Britte is as krygsgevangenes saamgeneem. Heidelberg is op 23 Desember bereik.

Wat die posisie van die Britte ná die geveg betref, het Anstruther voor Joubert se vertrek van hom toestemming gekry om ’n dokter uit Pretoria te laat roep om met die verpleging van die gewondes te help. Twee Britte kon gaan. Kondukteur Egerton en sers Bradley is gestuur. Hulle het die vaandels van die 94e Regiment met hulle saamgeneem, ’n stap wat deur Cachet en Trichardt aan diefstal gelykgestel is aangesien Anstruther se oorgawe onvoorwaardelik was en Joubert die vaandels wel opgeëis het.

Egerton en Bradley het fluks aangestap en het voor dagbreek die volgende oggend met die Britte in die hoofstad kontak gemaak. Hulle is dadelik na Bellairs geneem en opdrag is gegee dat niemand wat daarvan gehoor het moes oorvertel wat die vorige dag by Bronkhorstspruit gebeur het nie, aangesien dit paniek in Pretoria kon veroorsaak. Die vaandels is in veilige bewaring geplaas en reëlings vir mediese hulp vir die gewondes by Bronkhorstspruit is onverwyld getref. ’n Veldhospitaal is uitgestuur en het op 22 Desember die oorblywende Britte by die slagveld in ’n treurige toestand aangetref. Die hospitaalkamp het tot ná die vyandelikheid in Maart 1881 beëindig is, bly bestaan.

Die Britse krygsgevangenes wat vanaf Bronkhorstspruit na Heidelberg weggevoer is (daar was altesame drie groepe), is van die tydelike hoofstad af deur ’n drif oor die Vaalrivier gestuur en terselfdertyd vrygelaat. Die een offisier onder daardie krygsgevangenes, kapt Elliot, is saam met ’n ander Britse krygsgevange offisier, kapt Lambart, vrygelaat. Terwyl hulle in die nag die Vaalrivier met ’n perdekar oorgesteek het, is daar op hulle geskiet en Elliot is noodlottig getref. Verskillende skrywers het later beweer dat Elliot deur Boere wat as begeleiding vir die twee offisiere moes optree, vermoor is. In ’n hofsaak ná die oorlog is die aangeklaagdes egter vrygespreek. Wat die ware omstandighede ook al was, het die gebeure rondom die dood van Elliot nie ’n deurslaggewende rol in die voer van die Eerste Vryheidsoorlog gehad nie en lê die belang van die gebeurtenis slegs in die feit dat dit heelwat opspraak verwek het.

Wat die geveg by Bronkhorstspruit self betref, is daar ’n belangrike vraag: waarom is die Britte so verpletterend verslaan? Anstruther moet die grootste deel van die blaam dra. Eerstens is hy gekritiseer oor die lang konvooi waens wat sy regiment vergesel het. As die Britte Lydenburg met slegs ligte voorrade verlaat het, sou hulle voor die Boere hulle kon aangeval het, in Pretoria gewees het.

Tweedens het Anstruther geensins verwag om deur die Boere aangeval te word nie aangesien hy hulle vermoëns totaal onderskat het; hy was ’n slagoffer van die groot mistasting van die Britse owerheid in Transvaal, naamlik hul minagting van die Boere en hul oortuiging dat die Boere te lafhartig was om te veg.

’n Derde rede vir die nederlaag is die swak vertoning van die soldate tydens die geveg. Hulle het heftig geskiet maar hulle vuur was oneffektief. Dit was deels omdat hulle nie die afstand kon skat nie. Ná die geveg is vertel dat sommige van die Britse gewere se visiere op 400 en 500 meter gestel was, en dit terwyl die Boere teen die einde slegs ongeveer 100 meter van die Britte af was. Die gevolg was dat die soldate al oor die Boere geskiet het, want die destydse gewere se koeëls het selfs oor die eerste 400 meter letterlik met ’n boog getrek.

’n Belangrike rede vir die Britse nederlaag was die doeltreffende optrede van die Boere. Hulle het eerstens daarin geslaag om tot binne ’n paar honderd meter van die Britte te beweeg voor hulle die eerste keer opgemerk is. Dit het meegebring dat hulle die deurslaggewende verrassing kon bewerkstellig. Die beskikbare skuilplekke soos klippe en bossies is so goed benut dat daar nie maklike teikens vir die Britte gelaat is nie. Hulle was dapper genoeg om tot 100 meter van die vyand te beweeg en dit het dit baie makliker gemaak om hul teikens raak te skiet.

Kmdt-genl Piet Joubert het oor die uitslag van die geveg gesê: “Onze goede God zegende onze mannen en gaf onz de overwinneng.” Die Britte wou nie aanvaar dat die Opperwese aan hul vyand se kant was nie - die Boere-oorwinning is konsekwent toegeskryf aan ’n oorweldigende getalsoorwig en aan verraderlike optrede.

In boeke uit die penne van skrywers wat nooit die terrein besoek het nie, is die verkeerde indruk geskep dat die Boere op bosryke kliprantjies weerskante van ’n kaal kloof waardeur die pad loop, op die weerlose Britte gelê en skiet het. In die Britse pers is die Boere-aanval beskryf as ’n “koelbloedige moord op Britse troepe ... ’n daad van barbare.” Die aantygings is skynbaar gemaak omdat die ware gegewens oor die geveg vir die Britse eer te verdoemend was om te aanvaar. Daar is nie dadelik besef dat Bronkhorstspruit bewys het dat agterlaaiergewere inm goeie skuts se hande in ’n verrassingsaanval ’n skokwapen kon wees nie.

Die belangrikste gevolg van die geveg by Bronkhorstspruit was die algemene gevoel in Heidelberg, Pretoria, Pietermaritzburg en Londen dat die stryd aangeknoop was en end-uit gevoer moes word. Die moontlike voorkoming van ’n volskaalse oorlog is finaal onmoontlik gemaak.

Die vernietiging van Anstruther se mag was om verskillende redes van groot waarde vir die Boeresaak. Materieël het die Boere baat gevind by die groot hoeveelheid gewere en ammunisie. Dit is deur hulle as die belangrikste deel van die buit beskou. Die tente, kamptoerusting en die waens het ook goed te pas gekom. Geestelik is die Boere deur die uitslag van die geveg met die moed besiel wat ’n Majuba moontlik gemaak het.

Hulle het bewys dat hulle hulself teen die Britte kon handhaaf. Draadsitters wat tuis gebly het, is daardeur oorgehaal om hul gewig by die vegtende burgers in te werp. Dwarsdeur Suidelike Afrika was mense van Hollandse afkoms verheug oor die Boeresukses. Selfs pres Brand, wat van plan was om die Oranje-Vrystaat streng neutraal te hou, kon nie verhinder dat groot groepe vrywilligers hul bure gaan help het nie.

Aan Britse kant was een van die gevolge van die geveg dat daar ’n wraakgevoel teen die Boere ontstaan het wat moeilik deur die Britse aanvoerders beteuel kon word. Voorts het dit natuurlik beteken dat die Britte die inisiatief verloor het en dat die Britse mag in Pretoria nie in so ’n mate versterk is dat dit beleëring deur die Boere kon voorkom nie. Daarom moes Colley so spoedig moontlik met 'n gewapende mag uit Natal na Transvaal probeer beweeg om die Britse garnisoene in Transvaal te kom bystaan.

Met die geveg by Bronkhorstspruit is die eerste ware veldslag van die Eerste Vryheidsoorlog gelewer. Op Heidelberg het kmdt-genl Piet Joubert volgens oorlewering die burgers soos volg toegespreek: “Moenie oor julle eie dade trots wees en daarop roem nie. Julle het julle dapper gedra, maar God het die oorwinning gegee.” En kmdt Frans Joubert, wat na die geveg bekend staan het as “Frans Held,” het bygevoeg: “Ons was dankbaar oor die oorwinning, maar ons het die hand op die mond gelê en erken dat dit Gods Hand was wat ons so wonderlik beskerm en die vyand in ons hand gegee het.”

Beleëring van die Brits garnisoene – vervolg...