Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
Britse terugslag by Laingsnek (2)
J E H Grobler
Finale Britse voorbereidings
Op Vrydag, 28 Januarie, is die Britse soldate om 03h30 wakker gemaak.
Die tente in die kamp by Mount Prospect is afgeslaan en die ossewaens gelaai. Hieruit wil dit voorkom asof genl Colley onmiddellik ná die geveg na Transvaal wou trek. Ontbyt is genuttig en om 06h10 het die Natal Field Force teen die Boereposisies begin opruk. Dit was ’n helder, oop dag en geen poging is aangewend om die voorbereidings vir die aanval op die Nek te verberg nie.
Colley het die Boereposisies met ’n krygsmag bestaande uit altesame 56 offisiere en 1 158 man genader. Daardie mag het ses kanonne, drie vuurpylbuise en ’n berede eskadron van 119 man ingesluit. ’n Mag van 260 man met twee Gatlinggewere is in die kamp gelaat om dit teen moontlike aanvalle te beskerm. Die aanvalskolonne het, nadat hulle 800 meter ver padlangs opgeruk het, ooswaarts geswenk en op in ’n klofie in die rigting van die Boere beweeg.
Nadat ’n spruitjie oorgesteek is waarin een van die kanonne vasgeval het, is die slagordes opgestel. Die pas oor Laingsnek het die middelpunt van ’n agt kilometer breë halfsirkel van berge gekruis. Aan die westekant van die halfsirkel het die berg Majuba met sy steil wande en diep, beboste klowe uitgetroon. Oos het die berge in ’n skeurvallei waardeur die Buffelsrivier gekronkel het, geëindig. In die halfsirkel tussen die berge was daar ’n heuwelagtige vlakte. Vanaf die bopunt van die Laingsnekpas self was dit weswaarts opdraand na die kruin van Majuba. Ooswaarts het die terrein 400 meter ver steil opgegaan tot op ’n tafelkop wat ongeveer ’n kilometer lank was en aan die oostekant deur die Buffelsrivier afgesny is. Daardie tafelkop was in Colley se oë die sleutel tot die hele posisie. Hy het besluit om sy aanval op die oostekant daarvan toe te spits, want daarvandaan het ’n uitloper tot op die vlakte onder die berge afgeloop. Die Britse soldate moes teen die uitloper opbeweeg. ’n Belangrike terreinsfaktor wat in ag geneem moes word, was ’n geïsoleerde koepelvormige koppie ongeveer 1 300 meter suidoos van die tafelkop. Daardie koppie wat deur Boere beset was en deur ’n lae nekkie aan die tafelkop verbind is, het ’n uitsig oor die hele halfsirkel gebied. Colley het gevoel dat hy te min soldate gehad het om dit te beset. Hy het op ’n front-aanval teen die Boere op die tafelkop besluit, deur infanterie wat deur die artillerie van agter en deur die berede troepe op hul regterflank gedek sou word. Indien dit nodig sou blyk te wees, sou die berede eskadron die Boere wat op die koepelvormige koppie was, aanval.
Finale Boerevoorbereidings
Colley se bewegings was nie onbekend aan die Boere nie. Op Dinsdag, 25 Januarie, was hulle al bewus daarvan dat hy Newcastle die vorige dag verlaat het en sy bewegings is van toe af fyn dopgehou. Sommige Boere is daardie middag al na die Nek gestuur, waar hulle die aand by die permanente patrollie aangesluit het. Hulle het van daar af met verkykers die Britte dopgehou en gesien hoe dié op 26 Januarie by Mount Prospect kamp opgeslaan het. Joubert was oortuig dat die Britte hom die volgende oggend sou aanval. Die Boere was vroeg die oggend van 27 Januarie op Laingsnek gereed vir ’n Britse aanval, maar swaar reën het dit verhinder.
Elke kommandant en veldkornet het dwarsdeur daardie nat Donderdag met hul manskappe in hul vooraf aangeduide posisies gebly, en so ook gedurende die nag wat gevolg het. In die loop van die nag is ’n afdeling burgers teen die Nek af na ’n posisie in ’n diep kloof wes van die pad, naby die opstalle van O’Neill en Henry Laing, die Skot na wie die Nek genoem is.
Vroeg die volgende oggend is gesien dat daar iets vreemds in die Britse kamp aan die gang was. Spoedig het die Boere besef dat die aanvallers op pad was. Omdat die hele platorand in die omgewing van die Nek baie steil was, het die Boere nie gedink dat die Britte anders as met die wapad langs sou aanval nie. Toe Joubert sy offisiere aangesê het om hul verdedigingsposisies in te neem, het die twee sterkste afdelings dus reg bo-op die Nek self, wes van die pad, posisie ingeneem. Drie kleiner afdelings is links van die pad op afstande van sowat 800 meter uit mekaar gestasioneer. Daarvan het een afdeling onder kmdt Engelbrecht die koepelvormige koppie heel op die Boere se linkerflank, ’n tweede afdeling onder kmdt Greyling die tafelkop, en ’n derde afdeling onder kmdt Basson die nek tussen die tafelkop en die koepelvormige koppie beset. Die totale lengte van die Boerefront op die heuwelhalfmaan bo die Britte was ongeveer drie kilometer.
Oor die aantal Boere wat vir die verdediging van daardie front ingespan is, bestaan daar onenigheid. Piet Joubert het twee dae ná die geveg geskryf dat daar op 28 Januarie altesame sowat 600 Boere bo Laingsnek was. Die meeste betroubare kommentators stem ooreen dat daar veel minder Boere as Britte was. Hoe dit ook al sy, die uittog van die Britse kolonne was vir die verdedigers ’n indrukwekkende gesig en laasgenoemde het hulleself met angstige harte gereed gemaak om die “magtige Britte, wat met grofgeskut veg,” in die naderende veldslag te ontmoet.
Die begin van die Britse aanval
Die Britse slagordes is op ’n heuweltjie in die groot heuwelhalfmaan, direk teenoor en ongeveer drie kilometer vanaf die tafelkop opgestel. Die veldstukke is in die middel geplaas, die 60th Regiment, vlootbrigade en Natal Mounted Police links, en die 58th Regiment en die berede eskadron regs. Die geveg by Laingsnek het om 09h30 begin toe die Britse kanonne op verskillende dele van die platorand voor hulle begin vuur het. Aangesien dit nie heeltemal duidelik was waar die Boere stelling ingeneem het nie, is die kanonne gerig na posisies waar die artilleriste gereken het die verdedigers kon wees. Met hierdie vuur is daar volgehou totdat die kanonniers die afstande na verskillende dele van die platorand presies bepaal het.
Terwyl bomme oral ontplof het, het dit vanaf die Britse posisie gelyk asof die Boere besig was om terug te trek.
Die artillerie-bombardement was vir die Boere geen aangename ervaring nie. Daar is later geskryf dat terwyl die kanonvuur aangehou het, “waren de meeste burgers in ’t geheel niet op hun gemak.” Hulle was gewoond aan skermutselinge met swart stamme met “het eigenaardige gesis van geweer kogels ... maar het donderend gekraak van barstende granaten was hun vreemd.” Die Boere het egter nie, soos beweer is, op groot skaal te perd teruggeval nie. Dit beteken nie dat hulle nie groot ontsag vir die bomme gehad het nie, want hulle het dit ook nie gewaag om van agter die klippe waar hulle weggekruip het, vorentoe te beweeg nie.
Onmiddellik nadat die kanonne begin skiet het, het Colley ‘n kompame van die 60th Rifles en die vlootbrigade met hul vuurpyle na ’n posisie langs die wapad ongeveer ’n kilometer van die Nek self gestuur. Enkele Boere was op daardie stadium op die Nek bo die Britte sigbaar. Die voet- en vlootsoldate het op pad na hul aangewese posisie deur die tuin van ’n plaashuis en deur ’n mielieland beweeg, en dit het goeie dekking aan hulle gebied. Die voetsoldate was besig om in verspreide orde regs van die wapad teen die Nek op te beweeg, toe hulle teruggeroep is om regs van die vlootsoldate agter ’n lae klipmuur skuiling te neem. Die vuurpylbuise is opgestel en vuurpyle is met gereelde tussenposes van daar af oor die Nek afgeskiet. Die Boere het geen kennis van vuurpyle gehad nie en hulle erg verwonder oor die “projectielen van een paar voet lang.”
Een van die burgers se reaksie toe ’n vuurpyl naby hom verbygetrek het, was glo om ’n ouer Boer toe te roep: “Oom, wat zijn die Engelschen eene onbarmhartige natie! Kyk zij schieten ons met jukken!”
Na die eerste skrik verby was, het ’n klompie Boere oos van die wapad teen die Nek af beweeg en vanuit ’n beeskraal op O’Neill se plaas en uit ’n beboste klofie op die vlootsoldate begin skiet. Aangesien die Britte agter die gemelde klipmuur kon skuil, het hulle nie swaar verliese gely nie.
Goedgerigte kanonskote het daardie Boere boonop spoedig weer verdryf.
Die berede eskadron se aanval
Pas ná die 60th Rifles en die vlootbrigade die Boere die geveg aangesê het, het die Britse hoofaanval begin. Kol Deane, bevelvoerder van die Natal Field Force, het, hoewel Colley op die slagveld was, die leiding in die aanval geneem. Vyf kompanies van die 58th Regiment onder maj Hingeston het vorentoe beweeg om die tafelkop aan te val. Die berede eskadron onder maj Brownlow was vir die dekking op die regterflank verantwoordelik. Die aanval moes deur middel van ’n bajonetstormloop uitgevoer word. Dit het om ongeveer 10h00 begin. Daar is geen poging aangewend om die taktiek vir die Boere te verberg nie, ook nie om die rangtekens van die offisiere onopvallend te maak nie, hoewel die Boere telkens bewys het dat hulle hul daarop toelê om hul offisiere-teenstanders so gou moontlik te skiet, om die res sodoende leierloos te laat. Die offisiere was boonop meestal berede, wat hulle nog makliker uitkenbaar gemaak het.
Terwyl die berede soldate die spruit onder die berge oorgesteek en teen die hang van die koepelvormige heuwel op die Britse regterflank langs begin opry het, is die artilleriebombardement gestaak. Dit was vir die Boere ’n groot verligting. Hulle het dadelik van agter die horisonlyn, waar hulle vir die bomme geskuil het, vorentoe beweeg.
Brownlow het meer regs gehou as wat Colley gereken het hy sou. Die gevolg was dat die berede eskadron spoedig minder as 300 meter vanaf kmdt Gert Engelbrecht en sy 50 burgers bo-op die koepelvormige koppie was. Die Britte was aanloklike teikens en die Boere het begin skiet. Brownlow se reaksie was om, hoewel hy teenoor ’n steil deel van die koppie was, onmiddellik die hele berede eskadron teen die Boere te draai en met mannemoed na bo te storm.
’n Stormloop deur berede soldate was ’n beproefde Britse aanvalsresep.
Twee faktore het die Laingsnek-stormloop se lot egter verseël voor dit begin is: eerstens is dit uitgevoer vóór die voetsoldate die uitloper na die tafelkop kon bereik, wat beteken het dat die Boere hulle volle aandag aan die berede eskadron kon gee; en tweedens het ’n basiese vereiste vir ’n suksesvolle stormloop ontbreek, naamlik ’n konkreet sigbare vyand. Die Boere was vir die Britse ruiters onsigbaar, want hulle het deeglik gebruik gemaak van die skuilplek wat deur talle groot klippe en enkele bome gebied is.
Die stormloop is dapper uitgevoer, maar was katastrofies vir die Britte.
Maj Brownlow het gesneuwel en een van sy luitenante se perde is onder hom doodgeskiet. Troep-sers-maj Lunny het op die kruin van die heuwel, nadat hy ’n Boer met sy rewolwer doodgeskiet het, ’n doodskoot gekry.
Die Britte het bly voortstorm en eers toe hulle sowat 30 meter van die Boere af was, begin skiet. Brownlow het sy bes gedoen om so gou moontlik so veel moontlik Britte bo-op die heuwel te kry.
Die ruiters moes egter terugval om weer ’n aanvalsgeledere te vorm.
Die terrein was boonop nie geskik vir ’n kavallerie-aanval nie. Die steilte het veroorsaak dat die perde uit-asem was voor hulle halfpad teen die rant op was, en heeltemal uitgeput teen die tyd dat hulle bo gekom het.
Toe sommige Boere onder kmdt Basson, wat in die nekkie wes van Engelbrecht se burgers gestasioneer was, laasgenoemde na sowat ’n kwartier te hulp gesnel het, is die geveg finaal teen die Britte beklink.
Die Britse ruitery wat uitgeput was deur die stormloop en leierloos weens die effektiewe en uiters akkurate Boerevuur, kon spoedig nie verder veg nie. Gevolglik is daar teen die heuwel af teruggeval. Die Boere het onmiddellik vorentoe beweeg en op die terugtrekkende berede eskadron geskiet. Brownlow, wat te voet was, het wonderbaarlik ontkom, maar vier Britte is by die koepelvormige koppie doodgeskiet en 13 gewond. Die Boereverlies: daar was een dood en drie gewond.
Nieteenstaande hul relatief lae verliese, het die berede eskadron geen noemenswaardige rol in die res van die geveg by Laingsnek gespeel nie. Die koepelvormige koppie het weer ’n skyf vir die Britse artillerie geword, maar ’n aanval is nie weer daarop geloods nie. Die gevolg was dat die Boere hulle volle aandag aan die aanval deur die Britse voetsoldate kon skenk.
Die aanval op die tafelkop
Colley sou graag op daardie stadium die geveg wou staak, want die voetsoldate was nog nie eens daarby betrek nie. Hulle het egter reeds teen die steil, grasbedekte uitloper na die tafelkop begin uitklim en ’n terugtrekbevel kon hulle maklik verwar. Die 58th Regiment se aanval het dus voortgegaan en die Boere op die koepelvormige koppie het, nadat hulle die kavallerie-aanval afgeslaan het, op die agterste troepe van daardie regiment se regterflank begin vuur. Die Boere op die tafelkop en in die nekkie tussen die tafelkop en die koepelvormige koppie het kort daarna ook op die Britte begin skiet. Die het op daardie stadium baie vinnig met die steilte van die heuwel in ag genome, vooruitbeweeg, want kol Deane was haastig om tot die geveg toe te tree. Die steilte van die uitloper en die lang, natterige gras wat aan hulle bene vasgesit en hulle sodoende vertraag het, het hulle aanvalstempo spoedig laat afneem. Hulle het al moeër geword hoe nader hulle aan die heuweltop gekom het. Talle soldate op die regterflank is boonop platgeskiet terwyl die res na die Boere gedraai het. Die Boere op die tafelkop het ook talle Britte platgeskiet terwyl die teen die uitloper opgeklim het.
Carter skep in sy beskrywing van die geveg die indruk dat die Boere op daardie stadium uit “beskermde loopgrawe” op die Britte geskiet het. Die Boere het volgens hom glad nie vorentoe beweeg nie. Nixon gaan sover om te beweer dat die Boere ’n fort op die Nek gehad het en dat dit aangeval is. Volgens Boerebronne was daar op daardie stadium geen loopgrawe nie, en het die burgers, toe die kanonne opgehou skiet het en die Britte skaars ’n honderd meter van bo was, vinnig vorentoe beweeg.
Wat seker is, was dat daar op daardie stadium onderkant die Boere ’n uitgeputte en deurmekaar massa Britse troepe was, want Deane het nagelaat om hulle geledere te versprei. Hulle was so inmekaargestrengel dat die Boerevuur ’n vernietigende uitwerking gehad het, aangesien feitlik geen skoot kon mis nie. Die Britte het die Boerevuur probeer beantwoord, maar was so moeg dat hulle nie hul gewere kon stilhou nie, en dit was duidelik dat hulle met hul skietery in die nadelige posisie waarin hulle was, geen indruk op die Boere gemaak het nie.
Kol Deane het na ’n paar minute ten einde raad besluit om ’n bajonetstormloop te laat uitvoer. Sy manne was geensins in ’n toestand om dit te doen nie - sommige was naar van uitputting - maar hy het nogtans die bevel vir so ’n stormloop gegee.
Voor dit kon begin, is hy self en drie van sy offisiere doodgeskiet. Maj Hingeston het daarop ’n bajonetstormloop beveel en al die oorblywende offisiere het vorentoe beweeg om die soldate aan te moedig. Die Boere is ’n entjie teruggedryf, maar het gou weer vasgeskop. Hingeston en die meeste offisiere is buitendien spoedig gewond of het hulle perde verloor.
Die Britte se blootgestelde posisie aan Boerevuur het al hoe meer versleg.
Die Boere het geen vrees vir die Britte gehad nie. Colley het ná die geveg erken dat sy vyand met groot dapperheid en wilskrag geveg het.
Sommige soldate se patrone het opgeraak, iets wat hul geringe kans op oorwinning verder beperk het. Dit was nie omrede hulle so baie geskiet het dat hul patrone opgeraak het nie - dit is tydens die opmars en die bestyging van die tafelkop verloor. En dié wat geskiet het, het buitendien nie juis korrel gevat nie. Die agterste Britte het strykdeur onder ’n kruisvuur vanaf die koepelvormige koppie deurgeloop en demoraliserende verliese gely. Bowendien het daar op ’n kritieke stadium vir die Boere versterkings opgedaag wat deur Joubert daarheen gestuur is. Dit, saam met die ander genoemde faktore, is die geveg in die Boere se guns beklink.
Dit was eindelik duidelik dat die Britte die geveg verloor het toe groepies gewonde soldate teen die heuwel begin afbeweeg het. Die bevel om terug te val is om ongeveer 10h30 gegee. Nieteenstaande die feit dat die meeste van die offisiere en onder-offisiere gedood of gewond was, het die terugtog op ordelike wyse verloop.
Die Boere het die terugtrekkende Britte aanvanklik gevolg, maar Britse kanonvuur het hulle gestuit. As dit nie daarvoor was nie, sou die Britse verlies waarskynlik veel groter gewees het. Die kanonvuur het ’n nadeel vir die Britte gehad: die gewonde Britte wat nie saam teruggeval het nie, het ook daaronder deurgeloop.
Die laaste fase van die geveg
Die 58th Regiment het bedaard teruggeval, onder die berg hergroepeer, en in goeie orde na die kamp teruggemarsjeer. Terwyl die terugtog aan die gang was, het daardie regiment se vaandels byna in die Boere se hande geval, aangesien beide offisiere wat die vaandels gedra het, buite aksie gestel is. Dit was die laaste geveg ooit waarin ’n Britse regiment sy vaandel saamgedra het.
Toe dit vir Colley duidelik was dat sy hoofaanval misluk het, het hy bevel gegee dat die troepe wat op sy linkerflank vooruitgestoot was, terugtrek. Van daar af is daar op daardie stadium met vuurpyle op die Boere wat agter die 58th Regiment teen die tafelkop afbeweeg het, geskiet en dit het meegehelp om die Boere se opvolgaksie in die wiele te ry.
Ander Boere het egter terselfdertyd vanuit ’n beboste klofie op die vlootsoldate se linkerflank begin skiet. Was dit nie vir die lae klipmuur waaragter hulle kon skuil nie, sou die Britte waarskynlik swaar verliese daar gely het, maar onder die omstandighede is slegs twee vlootsoldate doodgeskiet en een gewond.
Die Britse onttrekking uit die vooruitgeskowe posisies is sonder verdere lewensverlies afgehandel. Die Boere wou daar met ’n opvolgaksie vorendag kom, maar ’n enkele goedgeplaaste bom het ’n einde aan daardie planne gemaak. Joubert self het bevestig dat die “zoo veel vernielende grofgeschut” dit vir die Boere onmoontlik gemaak het om ’n teenaanval uit te voer. Die kanonne was vir die meeste van die Boere-ongevalle verantwoordelik.
Op daardie laat stadium van die geveg het die Natal Mounted Police wat in verkenningsposisies versprei was, ook onder skoot gekom. Hulle is dadelik beveel om terug te trek en hul swaarde uit te trek ter voorbereiding op ’n stormloop. Dit is egter nie uitgevoer nie. ’n Wilde artillerie-bombardement sonder veel sigbare sukses is volgehou tot tyd en wyl al die Britse troepe terug by die kanonposisie was. Die laaste skoot is om ongeveer 12hl5 gevuur. Colley het sy soldate by die kanonne gehou in die heimlike hoop dat die Boere hulle sou aanval.
Joubert het so ’n aanval nie eers oorweeg nie, alhoewel hy graag die kanonne in die hande wou kry. Dit sou na sy mening te veel Boerelewens kos, daar die terrein van so ’n aard was dat ’n aanval op die kanonne die Boere geheel en al aan Britse vuur sou blootstel. Toe dit vir Colley duidelik was dat die Boere hom nie sou aanval nie, het hy begin planne beraam om draagbare uit te stuur om die gewondes te gaan haal.
Wapenstilstand
Colley het ’n wit vlag na die Boerekamp gestuur met ’n brief waarin gevra is of dokters na die Britse gewondes gestuur kon word en manskappe om die dooies te begrawe. Joubert het geantwoord dat hy sodra die geveg verby was, geen beswaar sou hê as die Britte hul dooies en gewondes sou verwyder nie. Daarmee het hy bedoel dat sodra die Britte na hul kamp teruggetrek het, hul gewondes behandel kon word. Colley was dus om omstreeks 16h00 die middag verplig om al sy magte na sy kamp terug te trek. Daarna is soldate uitgestuur om die gewondes en die lyke van die gestorwe Britse offisiere na Mount Prospect te neem en die dooie manskappe op die slagveld te begrawe.
In ’n telegram wat onmiddellik ná die geveg na Brittanje gestuur is en waarin die Britse nederlaag aangekondig is, is onder meer met leuens beweer dat die Boere die Britse gewondes doodgeskiet het. Die gevolg was koerantplakkate in die Britse strate waarop “Boer Atrocities” in groot letters verkondig is. Colley het egter in sy eerste telegram ná die geveg aan die Britse Minister van Oorlog, Hugh Childers, spesiaal melding gemaak van die beleefdheid van die Boere, wat geriewe verskaf het vir die behandeling en verwydering van die Britse gewondes. Childers het in die Britse Laerhuis dié en ander telegramme waarin melding gemaak is van die Boere se menslike behandeling van die Britse gewondes voorgelees, maar die kwaadwillige leuens was reeds versprei.
Die Boere het ná die geveg by Laingsnek goedere soos gewere, aramunisie, stewels, kamaste en sabels van die Britse dooies afgeneem. Dit is as wettige oorlogsbuit beskou. Volgens Piet Joubert het die Boere “natuurelyk ... de geweeren en ammunietie de ons zoo hoog nodig es opgenoomen.” Hy was spyt dat hy nie 200 meer burgers gehad het om in die geveg te stoot nie, want, het hy gereken, dan sou hy dalk genoeg vegsmanne gehad het om die Britse kanonne ook af te neem. Tog was hy verbaas oor die uitslag van die geveg, en het hy God die eer daarvoor gegee: “Wy vonden daarin niet onze dapperheid of beleid, neen; maar de zelfs door ons tegenparty erkende hand van een Albestierenden God.”
In terme van ongevalle alleen het die Boere ’n groot oorwinning oor die Britte behaal. Eersgenoemde se totale verliese was 14 burgers gesneuwel of kort na die geveg aan wonde oorlede; twee burgers ná onsuksesvolle behandeling aan wonde oorlede; en 27 burgers gewond.
Sewe van Colley se offisiere het gesneuwel en twee is gewond, terwyl 76 onderoffisiere en manskappe gesneuwel het en 110 gewond is. Twee Britte is krygsgevange geneem.
Tog was daar enkele Britte en Britsgesindes wat nie wou erken het dat Colley ’n nederlaag gely het nie. Hulle redenasie was dat die Britte net nie daarin kon slaag om die Boere te verdryf nie. Dit was onder andere die siening van The Times in Londen: “The engagement was not a defeat. We simply failed to take the position.” Streng gesproke was Laingsnek niks meer as ’n terugslag vir die Britte nie, want die Boere het Colley nie tot oorgawe gedwing of op die vlug gejaag nie. Maar die “undisciplined bands of yeomen,” soos die London Illustrated News die Boere genoem het, het hul man teen die Natal Field Force gestaan. Wat was die hoofredes daarvoor?
Redes vir die Britse terugslag
Colley se probleme het by sy kanonne begin. Die terrein was nie geskik vir die gebruik van artillerie nie, want dit het aan die Boere goeie skuiling gebied. Die gevolg was dat die kanonvuur uiters oneffektief was.
Die tweede hoofrede wat Colley vir die Britse terugslag noem, was die mislukking van die berede eskadron se aanval. Dit het meegebring dat die Britse regterflank in Boerehande gebly het en dat die Boere deurentyd ’n kruisvuur op die infanterie kon volhou. Daardie kruisvuur het, soos aangedui is, ’n groot en moontlik bepalende rol in die mislukking van die infanterie-aanval gespeel. Daar is egter ook aangedui dat die lot van die berede eskadron se stormloop verseël is voor dit ’n aanvang geneem het.
Dit was destyds ’n belangrike beginsel in krygstaktiek om nie kavallerie in bergagtige gebiede waar hulle blote teikens van deeglike skutters sou word, aan te wend nie. Die Boere was deeglike skutters, en het, soos verwag kon word, bevoordeel deur die steilte van die koepelvormige koppie, die berede eskadron met gemak gestuit. Dit het ’n bepalende uitwerking op die res van die geveg gehad.
’n Derde hoofrede vir die Britse terugslag was die dapper optrede van die Boere, iets wat die Britte allermins verwag het. Colley kon nie anders as om melding te maak van die hewige Boerevuur wat die Britse aanvalle afgeweer het nie. Hy het toegegee dat die Boere geen lafaards was nie - dat hulle hulself sonder huiwering aan die artillerievuur blootgestel het en moedig teen die rante af die Britte tegemoetgeloop het. Uit daardie verklarings blyk dit dat Colley die Boere onderskat het.
Gladstone, die destydse Britse premier, noem ’n vierde rede: Colley het, aangesien hy die Boere se gevegsvermoëns onderskat het, met ’n te klein mag aangeval. Hy skryf selfs al het Colley die geveg gewen, was die Natal Field Force so klein dat dit nie veilig sou kon voortbeweeg nie. Versterkings was op pad en daarmee sou Colley maklik gewen het.
’n Vyfde rede vir die nederlaag - een wat nie aan Colley toegedig kan word nie - was dat kol Deane die 58th Regiment te lank in marskolonne gehou het, en eers onder hewige vuur probeer ontplooi het. Sake sou beslis beter ontwikkel het as hulle ontplooi was voor hulle onder skoot gekom het en dus nog in staat was om bevele te hoor. Die ontplooiing onder moordende vuur het tot verwarring onder die soldate gelei.
’n Sesde rede vir die terugslag was die gebruik van stafoffisiere om die aanval op die tafelkop uit te voer. Colley moes eerder die regimentsoffisiere van die 58th Regiment gebruik het, want dit was net daardie regiment wat aan die aanval op die tafelkop deelgeneem het.
Bellairs, die destydse Britse militêre bevelvoerder in Pretoria, sinspeel direk op ’n sewende rede, naamlik die feit dat die aanvalsmag ná dagbreek eers uitbeweeg het. Colley het geen poging aangewend om sy bewegings vir die Boere te verberg deur byvoorbeeld voor dit lig geword het uit te beweeg nie. Daar is dus geen poging aangewend om die takties belangrike verrassingselement by die aanval te betrek nie. Sy versuim in daardie verband is onverskoonbaar, want die gebruikmaking van die verrassingselement was sedert die begin van oorlogvoering ’n beproefde aanvalstaktiek. Dit is te betwyfel of Colley enigsins ’n aanvalstaktiek uitgewerk het. Sy verbeeldingloosheid of sy arrogansie was ’n groot rede vir sy nederlaag.
Colley self was van mening hy het die regte taktiek gevolg. Hy het aan sy kollega Wolseley geskryf dat hy, as hy dieselfde posisie weer met dieselfde aantal soldate moes aanval, dieselfde taktiek sou gebruik. Vir die beskuldiging dat hy te veel selfvertroue gehad het, het hy ’n emosionele verweer gehad: soldate kan in twee groepe verdeel word - die wat al die hindernisse in die weg van ’n beplande operasie sien en dan sê hoekom dit dus nie uitgevoer kan word nie, en die wat ’n weg om die hindernisse sien en ’n beplande operasie uitvoer. Hy het verkies om onder die tweede groep gereken te word.
Gevolge van die geveg
Vir Colley was die belangrikste gevolg van die geveg dat sy beoogde opmars na Transvaal met die doel om die beleërde garnisoene te gaan ontset, vertraag is. Hy was genoodsaak om in sy kamp by Mount Prospect te vertoef tot tyd en wyl hy genoeg versterkings ontvang het om weer tot aanval te kon oorgaan. Hy was spyt oor die invloed wat sy nederlaag op die garnisoene in Transvaal sou hê en oor die verlies van goeie soldate en persoonlike vriende, onder wie kol Deane. Kol Deane se dood het meegebring dat Colley die bevel oor die Natal Field Force op hom persoonlik geneem het. Voorts het die terugslag, volgens Colley, nie die Britse troepe moedeloos gestem nie - hulle het opgewek en vol vertroue gebly en het lus gevoel om die Boere weer aan te pak.
Dit is voor-die-hand-liggend dat die Britse nederlaag die Boere baie moed gegee het vir die stryd wat sou voorlê. Colley wou daardie moontlikheid in ’n brief aan Kimberley, Minister van Kolonies, betwyfel. Die meeste Boere, het hy berig, was oorlogsmoeg, swak toegerus en gretig om na hul plase terug te keer. Aan Childers, Minister van Oorlog, het hy egter terselfdertyd geskryf dat hy geen twyfel daaroor gehad het dat sy terugslag by Laingsnek die Boeresaak versterk het nie. Hy het daarvolgens die sametrekking van nog meer burgers bo die nek verwag.
Colley se tweede vermoede, naamlik dat sy terugslag die Boeresaak oneindig versterk het, was heeltemal korrek. Die suksesvolle verdediging was vir die Boere inderdaad van onskatbare waarde.
In die eerste plek het dit die byna kinderlike vrees wat feitlik al die burgers vir kanonne gehad het, uit die weg geruim.
Tweedens het die Boere die noodsaaklikheid van skanse, waaraan hulle tot op daardie stadium niks gedoen het nie, deeglik besef. Bevele om die verdediging deur middel van skanse en loopgrawe te versterk, is onmiddellik uitgevaardig.
Derdens het die Boere besef dat daar van die kant van die Britse mag waaroor Colley ná Laingsnek by Mount Prospect beskik het, geen verdere offensiewe optrede te vrese was nie. Hulle moes dus probeer om te verhinder dat versterkings Mount Prospect bereik. In die volgende aflewering word geskets hoe die Boere se pogings om die Britse versterkings te stuit, tot die geveg by Schuinshoogte gelei het.
Vierdens is Haggard se bewering dat die sielkundige gevolg van die Boere-oorwinning vir hulle geweldig groot was, ongetwyfeld waar. Talle burgers wat nog gewonder het hoe Joubert teen die Britte sou vaar, was nou gerusgestel. Die oorwinning het hulle selfvertroue gegee en het ’n gees van samewerking laat ontstaan. Norris-Newman voeg daarby dat Laingsnek die Boere se krag en durf bewys het, en hul voorneme om tot die bitter einde te veg. Dit het al die kwaadwillige leuens wat in Suid-Afrika en in Europa versprei is dat die Boere lafaards was met geen gesamentlike doelwit nie, as vals bewys. Dit het ook bygedra tot die instroming van vrywilligers uit die Oranje-Vrystaat om hul bloedbroers van die Noorde te gaan help.
Die nuus oor die uitslag van die geveg by Laingsnek het Kimberley, die Britse Minister van Kolonies, oortuig dat net een van twee alternatiewe daarna gevolg kon word: die oorlog moes so gou moontlik tot ’n suksesvolle einde gevoer word of dit moes vreedsaam beëindig word voor die Hollandssprekende elemente in die res van Suid-Afrika te ontevrede word, of voor nog ’n Zoeloe-opstand kon uitbreek.
By die Britse kabinetsvergadering op 29 Januarie is die alternatiewe bespreek en aan Kimberley is toestemming verleen om na ’n vreedsame oplossing te soek.
Toe vir die eerste keer is daar van Britse kant enigsins ernstig geprobeer om vredespogings wat toe al van stapel gestuur is, te laat slaag. Voor dit werklik aan die gang kon kom, het nog twee gevegte plaasgevind.
Die geveg by Schuinshoogte – vervolg...