Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
Skikking van die Koninklike Kommissie
Dr Maria Hugo
Die idee van ’n kommissie wat tussenbeide moet tree, het sy oorsprong in die Kaapkolonie gehad. Reeds op 9 Desember 1880 het ’n Paarlse deputasie ’n voorstel aan die waarnemende Kaapse Goewerneur, G C Strahan, gedoen dat die Britse regering ’n kommissie moet benoem wat die geskille tussen die strydende partye op ’n onpartydige wyse moet besleg. Op 21 Desember is die versoek in ’n gewysigde vorm herhaal toe twee deputasies wat hoofsaaklik uit Kaapse parlementslede bestaan het, die tussenkoms van ’n spesiale kommissaris voorgestel het om ’n blywende vrede tot stand te bring. Dit was egter eers nadat Kruger op 12 Februarie 1881 in ’n brief aan Colley van die aanstelling van ’n Koninklike Kommissie gewag gemaak het, dat die Britse diplomasie die gedagte aangegryp het om ’n wending in die militêre verloop te bewerkstellig.
Dat Kruger se terminologie ’n ongelukkige keuse was, sou later duidelik blyk. Hoe hy na die mislukte Boeresendings na Engeland nog kon volgehou het dat die Britse regering nie ten volle op die hoogte van die toedrag van sake in Transvaal was nie en dat ’n Koninklike Kommissie by nadere ondersoek hul regte sou herstel, is onbegryplik. As diplomatieke set was dit nie geslaag nie, want sy voorstel het die Britse regering die geleentheid gegee om uit die militêre dilemma waarin hulle op daardie tydstip verkeer het, te kom.
Kruger se latere verduideliking aan Colley dat hy eintlik ’n gesamentlike kommissie van albei partye voor oë gehad het, het die Britte geensins van stryk laat bring nie. Kimberley het gewoonweg die standpunt gehuldig dat die voorstel van ’n Koninklike Kommissie eintlik van die Boere afkomstig was en ’n de facto-erkenning van Haar Majesteit se gesag oor Transvaal ingehou het. Dit was weer pres Brand se tussenkoms wat die Transvalers daartoe beweeg het om by die samestelling van die Koninklike Kommissie te berus, mits die voorwaardes wat met die vredesonderhandelinge aangegaan is, nagekom sou word.
Die kommissie was saamgestel uit sir Hercules Robinson as voorsitter, genl-maj sir Henry Evelyn Wood en sir John Henry de Villiers, met pres Brand in die hoedanigheid as waarnemer van ’n bevriende staat. Van Boerekant is die volgende persone in ’n adviserende hoedanigheid as verteenwoordigers van die Volksraad aangewys: S J P Kruger, M W Pretorius, P J Joubert (lede van die Driemanskap), C J Joubert, E J P Jorissen, J S Joubert (sr) Tielman N de Villiers en G H Buskes.
Die Koninklike Kommissie het met sy werksaamhede op 21 April op Newcastle begin met Wood in die voorsitterstoel, aangesien Hercules Robinson vertraag is en eers op 10 Mei sy plek sou inneem. Die Boere-afgevaardigdes het egter ’n staatsregtelike geskilpunt opgewerp, want ofskoon die Transvalers geredeneer het dat die Volksraad van die Zuid-Afrikaansche Republiek tydens die anneksasieperiode slegs verdaag was en hulle nooit die Britse gesag op enige wyse erken het nie, was die Koninklike Kommissie van oordeel dat die liggaam soos dit na die vredesluiting voortbestaan het, geen gesag gehad het om verteenwoordigers te benoem nie. Uiteindelik is daar weens verskeie administratiewe probleme besluit dat die Boere-afvaardiging as onderhandelaars aanvaar sou word, maar dat die bestaande Volksraad nie staatsregtelik bevoeg was om die konvensie in sy finale vorm te bekragtig nie en dat ’n nuwe Volksraad ná die opheffing van die Britse gesag oor Transvaal verkies sou word.
Een van die eerste sake wat die aandag van die kommissie geniet het, was die verbreking van artikel 3 van die wapenstilstand van 6 Maart deur Piet Cronjé by Potchefstroom toe hy versuim het om kol Winsloe, die bevelvoerder van die Britse garnisoen aldaar, in te lig oor die wapenstilstand en met vyandelikhede voortgegaan het. Piet Joubert het aangebied dat die kapitulasie van die garnisoen gekanselleer word, dat die gekonfiskeerde goedere van die Britse soldate aan hulle terugbesorg word en dat hulle deur ’n militêre eenheid van dieselfde getalsterkte van voor die oorgawe vervang word.
Die vernaamste sake waaroor die kommissie volgens die opdrag van Kimberley van 31 Maart met die Boereverteenwoordigers tot ’n vergelyk moes kom, was die volgende: selfbestuur aan Transvaal onder die susereiniteit van die Britse koningin; die aanstelling van ’n Britse Resident; die afskeiding van Transvaalse grondgebied en voorsorg- en beskermingsmaatreëls ten opsigte van die belanghebbende swartmense.
Onder die term “susereiniteit” is verstaan dat Transvaal ’n onafhanklike staat sou wees, maar dat die buitelandse betrekkinge van die Republiek, die sluit van verdrae en die reëling van diplomatieke betrekkinge met vreemde moondhede deur die Britse Resident en die Britse Hoë Kommissaris sou geskied. Dieselfde bepaling het gegeld ten opsigte van onderhandelinge met die swart stamme buite die grense van die Transvaalse staat.
In beginsel was die Boere nie teen die aanstelling van ’n Britse Resident nie want dit kon moontlike wanvoorstellings in Brittanje van toestande in in Transvaal voorkom of uit die weg ruim. Veral dr Jorissen het verwys na die artikel in die Bloemfonteinse Konvensie van 1854 waar daar voorsiening vir die aanstelling van ’n Britse agent was om vriendskaplike betrekkinge, handel en verkeer te vergemaklik.
Die moeilikste vraagstuk was egter die afbakening van die staatsgrense.
Volgens die Kommissie was die insypeling van die Boere na swart gebiede die vernaamste oorsaak vir die grensmoeilikhede wat in die verlede ontstaan het. In sy opdrag aan die Koninklike Kommissie het lord Kimberley die verdeling van Transvaal in drie gebiede voorgestel: distrikte soos Pretoria, Heidelberg, Middelburg en Potchefstroom waar die swartmense se getal nie so groot was nie en waar die Boere hul gesag reeds voor anneksasie gehandhaaf het; distrikte soos Lydenburg, waar die blankes in getal verreweg deur die swartmense oortref is en die Boere se gesag nie algemeen erken of aanvaar is nie; en distrikte soos Soutpansberg, waar die swart bevolking nie alleen ’n geweldige getalsoorwig gehad het nie, maar selfs daarin geslaag het om die blankes uit die gebied te verdryf.
Die Kommissie het voorgestel dat die oostelike gedeelte van Transvaal afgesny word, sodat die Vaalrivier en ’n lyn noord daarvan naby die 30ste lengtegraad die nuwe grens sou wees. Dit sou egter beteken het dat ’n gedeelte van die distrik Middelburg ook afgesny word en gevolglik is besluit om net die distrikte Wakkerstroom, Utrecht, Lydenburg en Soutpansberg af te sny. Die gedagte om Wakkerstroom en Utrecht onder Britse gesag te plaas, sou die voordeel inhou dat ’n buffergebied tussen die Republiek en Zoeloeland so tot stand sou kom. Dieselfde sou geskied deur dit deel van Lydenburg wat as New Scotland bekend gestaan het en waar ’n aantal Britse onderdane gevestig was, as Britse gebied te beskou wat ’n skeiding tussen Transvaal en Swaziland sou bewerkstellig. Die Boere egter het geensins genoë geneem met die afstaan van hul grondgebied nie; hulle was daarvan oortuig dat so ’n stap onnodig was en moontlik nog groter onrus sou meebring. Na ernstige beraad het die meerderheid van die Kommissie teen die afskeiding van grondgebied besluit. Die magte wat aan die Britse Resident oorgedra sou word, sou egter sodanig wees dat die belange van die swartmense beskerm sou word.
Verder is Swaziland as ’n onafhanklike gebied verklaar en is die Boere versoek om die grens soos dit in 1879 deur Wolseley bepaal is, te erken.
Ná die oosgrenskwessie was die vasstelling van ’n westelike grens vir Transvaal nog ’n moeilike taak vir die Koninklike Kommissie. In die Sandrivierkonvensie is nie definitiewe grense bepaal nie en dit het reeds herhaalde kere geblyk dat die Keatebepalings van 1871 onbevredigend was en deur niemand gerekspekteer is nie. In hul besluit oor die suidwestelike grens van Transvaal het die Kommissie hom veral laat lei deur die verslag wat lt-kol R E Moysey op 18 Desember opgestel het. Na deeglike oorweging is besluit om sy voorgestelde wesgrens te aanvaar, behalwe dat gedeeltes van die plase Grootfontein en Valleyfontein met die helfte van hul waterbronne binne swart gebied sou val. Sodoende sou die Barolong oor genoegsaam water beskik.
Die Kommissie het bepaal dat die Resident slegs toesig oor swart aangeleenthede sou verkry, maar dat hy nie in die regtelike en administratiewe maatreëls van die Republiek sou inmeng nie.
Die besetting van swart grond deur die Transvalers is egter as een van die vernaamste oorsake vir moeilikhede beskou en om dit uit te skakel het die Kommissie besluit om ’n Lokasiekommissie in die lewe te roep wat bepaalde swart reserwes sou afbaken waarbinne geen blanke enige besitreg sou verkry nie. Geen verdere grondtoekennings sou voortaan aan blankes in die distrikte Soutpansberg, Waterberg en Lydenburg toegestaan word nie. Die Lokasiekommissie sou ook optree as trustees vir swartmense wat grondbesit tydens die anneksasieperiode verkry het.
’n Ander kwessie was vermeende voorvalle tydens die oorlog waar daar strydig met die gebruike van beskaafde oorlogvoering opgetree is soos die beweerde moorde op dr Barber en kapt Elliot wat groot opspraak verwek het. Regskundig beskou, miskien die interessantste, was die gevalle van Woite, Van der Linden en Carolus, wat weens verraad deur die Boere gevange geneem en tereggestel is as spioene en verraaiers. Die probleem wat reeds by die erkenning van die Boereverteenwoordigers ontstaan het, het nou weer opgeduik. Indien die vegtende Boere nog steeds as rebelle beskou sou word, sou hul krygshof as onwettig beskou kon word en sou die teregstellings strydig wees met die gebruike van beskaafde oorlogvoering. Daar is egter geredeneer dat die Boere deur die vredesverdrag tot wettige oorlogvoerendes verhef is en dat die persone wat vir die teregstelling verantwoordelik was, deur die algemene amnestie beskerm word.
Laastens moes die Kommissie ’n oplossing vind vir die probleme van skadevergoeding en staatskuld. Hy het aanbeveel dat £250 000 tesame met die beraamde bedrae vir pensioen en eise om skadevergoeding, gekonsolideer word en dat die Britse regering ’n bedrag van £500 000 aan Transvaal sou leen. Op 23 Julie het lord Kimberley die voorstelle goedgekeur op voorwaarde dat die Republikeinse regering ’n rentekoers van 3½ persent sou betaal en £2.10.9 per jaar in ’n delgingsfonds sou stort, sodat die totale skuld oor ’n tydperk van 25 jaar afbetaal sou kon word.
Op 28 Mei is die laaste sitting van die Kommissie by Newcastle gehou, waarna die werksaamhede op 17 Junie in Pretoria hervat is.
Die Konvensies van Pretoria (1881) en Londen (1884): van susereine tot soewereine onafhanklikheid – vervolg...