Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
Die Konvensies van Pretoria (1881) en Londen (1884): van susereine tot soewereine onafhanklikheid
J E H Grobler
Die vernaamste taak van die Koninklike Kommissie van 1881 in Transvaal was die opstel van ’n konvensie om die staatsregtelike verhouding tussen Brittanje en die herstelde Boererepubliek te reël.
Die finale Konvensie, wat op 3 Augustus deur die kommissielede onderteken is, het as die Konvensie van Pretoria bekendgestaan. Die Driemanskap het op die ondertekeningsdag ’n aanhangsel tot die Konvensie onderteken waarvolgens hulle onderneem het om die land tydelik ingevolge die bepalings daarvan te bestuur totdat ’n te verkose Volksraad die Konvensie binne drie maande sou bekragtig!
Die Konvensie van Pretoria het in talle opsigte verskil van die vorige ooreenkoms tussen Brittanje en die Oorvaalse Boere, naamlik die Konvensie van Sandrivier (1852).
Waar die Transvalers ingevolge Sandrivier as ten volle onafhanklik erken is, sou hulle vanaf 1881 slegs selfregering, onderworpe aan die Britse susereiniteit geniet. Met daardie vae term is, in die woorde van sir Evelyn Wood, bedoel dat Transvaal volkome selfbestuur oor binnelandse sake sou hê, maar geen ooreenkoms met ’n buitelandse moondheid kon aangaan sonder die toestemming van die suserein nie. Die Vryheidsoorlog het dus voorlopig nie vir die Boere volle onafhanklikheid herwin nie.
In die eerste artikel is bepaal dat die Oorvaalse Boererepubliek voortaan as die Transvaalstaat bekend sou staan en is grense vir daardie staat bepaal. In die Sandrivierkonvensie is bloot voorsiening gemaak vir die Boere noord van die Vaalrivier, sonder die bepaling van spesifieke grense.
Die grense van Transvaalstaat het naastenby die gebied ingesluit waaroor die ou Zuid-Afrikaansche Republiek gesag uitgeoefen het. Probleme in verband met die ligging van die grens in die weste en suidweste sou egter spoedig opduik.
Die tweede artikel het belangrike bepalings, waarvan daar geen sprake in die Sandrivierkonvensie was nie, bevat. Die Britse Koningin kon ’n Resident in Transvaal aanstel. Ingevolge artikels 3, 17 en 18 is die magte en pligte wat die Resident kon en moes nakom duidelik uiteengesit. Sekere van die magte sou gebruik kon word om in die binnelandse sake van Transvaal in te meng, want hy moes onder meer die Hoë Kommissaris inlig oor die werking van die Konvensie met betrekking tot die swartmense binne die landsgrense.
Brittanje kon voorts, ingevolge artikel 2, in geval van ’n oorlog of dreigende oorlog, troepe oor die Transvaalse grondgebied stuur. Transvaal se buitelandse betrekkinge moes deur Britse diplomatieke en konsulêre amptenare hanteer word. Ingevolge artikel 3 sou alle bestaande wette van krag bly totdat hulle deur die Volksraad gewysig of herroep sou word. Artikel 4 het bepaal dat die Transvaalstaat op 8 Augustus aan die bestuur van die Driemanskap oorgedra sou word. Hulle moes dan ’n Volksraad laat kies, wat ingevolge artikel 32 binne 3 maande die Konvensie moes bekragtig, en eers dan sou die laaste Britse troepe ingevolge artikel 33 die gebied verlaat.
Artikels 5,6,7,8 en 9 het gehandel oor skikkings as gevolg van die oorlog. Begenadiging het nie gegeld ten opsigte van die vonnisse van oorlogsmisdadigers nie; kompensasie moes betaal word aan persone wat direkte verliese as gevolg van die oorlog gely het en ’n subkommissie moes aangestel word om die kompensasie-eise te oorweeg. Die nuwe Transvaalstaat is ingevolge artikel 10 en 11 verantwoordelik gemaak vir die staatskuld van die ou Zuid-Afrikaansche Republiek, asook vir die Britse administrasie van Transvaal se uitgawes bo inkomste in die anneksasieperiode. ’n Totale skuld van R851 789 is dus die nuwe staat opgelê, en dit moes binne 25 jaar afbetaal word.
Om persone wat gedurende die oorlog die Britse owerheid gesteun het, te beskerm, is bepaal (artikel 12) dat eiendomsreg eerbiedig sou word.
Swartmense kon ook grond besit (artikel 13). Hulle grond sou vir hulle in trust gehou word deur ’n Lokasiekommissie vir swartmense wat ingevolge die Konvensie gestig moes word (artikel 21). Wat die beweging van swartmense in die land betref, kon dit deur bestaande of nuwe Paswette beheer word (artikel 14).
Die Konvensie van Pretoria het enkele bepalings bevat wat daarop gemik was om die vryheid van die indiwidu te beskerm. Artikel 15 was byvoorbeeld ’n bevestiging van artikel 4 van die Sandrivierkonvensie, waarvolgens slawerny verbied is. Algehele godsdiensvryheid sou in die nuwe staat geld (artikel 16). Almal sou gelyke toegang tot die howe hê (artikel 27). Britse onderdane wat by die Resident geregistreer is, sou vrygestel word van militêre diensplig (artikel 28). Vryheid om deur Transvaal te reis, om eiendom te besit, om handel te dryf en in diens te tree sou vir almal geld, onderworpe aan die wette van Transvaal. Geen buitengewone belastings sou op buitelanders gehef word nie (artikel 26).
Laastens was daar enkele artikels oor spesifieke sake waartoe die Transvalers moes instem. Artikel 23 het voorsiening gemaak vir die onmiddellike vrylating van Sekhukhune, artikel 24 vir die erkenning van die onafhanklikheid van Swaziland, en artikel 29 vir die ooreenkoms oor die wederwydse uitlewering van misdadigers. Die ander artikels het bloot gehandel oor administratiewe reëlings.
Die Konvensie van Pretoria was nie ’n ooreenkoms tussen twee onafhanklike state nie, maar ’n dokument wat deur die verteenwoordigers van Brittanje opgestel en aan die Transvalers voorgelê is vir ondertekening.
Daar was bepalings wat na die letter en na die gees verskil het van die Vredevoorwaardes waarvolgens die Eerste Vryheidsoorlog op 23 Maart 1881 beëindig is. Die Driemanskap kon wys op enkele teenstrydighede in die bepalings van die Konvensie, onder meer wat die magte van die Resident betref. Kruger, Joubert en Pretorius het egter besluit om dit te onderteken. Die Britse militêre posisie, wat relatief tot dié van die Boere in Augustus 1881 aansienlik beter was as ses maande tevore, het die gedwonge ondertekening noodsaaklik gemaak. As hulle sou weier om te teken, sou die Konvensie en die vredesvoorwaardes verval, en moes hulle uit ’n posisie van swakheid die oorlog hervat. Die Uitvoerende Raad en ’n Boerekommissie het ná lang diskussies besluit dat, aangesien Transvaal binnelands vry en onafhanklik sou wees, en “het bloed Onzer dappere burgers is niet te vergeefs gevloeid,” die Driemanskap moes teken ten einde verdere vyandelikhede te voorkom. Die vertroue is egter terselfdertyd uitgespreek dat Brittanje die noodsaaklikheid sou insien om die Konvensie in sekere opsigte te verander.
Op 8 Augustus is die bestuur tydens ’n byeenkoms in Pretoria formeel aan die Driemanskap oorhandig. Daar is verwag dat duisende burgers die plegtigheid sou bywoon, maar slegs ’n paar honderd het opgedaag. Kruger self was weens ’n ongesteldheid afwesig. Die Vierkleur is gehys en Bok het as Staatsekretaris ’n proklamasie afgelees waarin ’n beroep op die Transvalers gedoen is om “door Eendracht Macht te maken.” Die burgers is bedank vir hul ywer om die land weer vry te kry, en beskerming is aan alle inwoners belowe. Die proklamasie was geen triomfskrif nie, en het getuig van die Boere se onvervulde ideale. Susereine onafhanklikheid was vir hulle nie genoeg nie.
Probleme onder die Konvensie van Pretoria
Twee dae ná die herstel van Transvaal se onafhanklikheid, op 10 Augustus 1881, het die Volksraad vir ’n buitengewone sitting in Pretoria byeengekom. Daar is op dieselfde dag besluit dat ’n verkiesing voor 15 September gehou moes word vir ’n nuwe Volksraad wat die Konvensie van Pretoria moes bekragtig of verwerp. Die verkiesing is gehou en die nuwe Volksraad het op 21 September in Pretoria vergader. Onder die nuwe lede was sekere prominente figure uit die pas afgelope vryheidstryd, onder andere Nicolaas Smit, Piet Cronjé en H P N Pretorius. Die nuwe Volksraad het ’n sterker anti-Britse standpunt ingeneem as wat dit met sy voorganger die geval was.
Vise-pres Paul Kruger het in sy openingsrede voor die Raad namens die driemanskap opgemerk: “Wij kunnen ons niet vleijen met de hoop dat de Konventie in hare verschillende bepalingen U zal bevredigen - zij heeft let ons ook niet gedaan ...”9 Daar was inderdaad feitlik nie ’n enkele bepaling waarmee die Raad heeltemal tevrede was nie. Veral die artikels wat met die Resident se magte in verband gestaan het, het die lede gegrief. In plaas van die Konvensie te bekragtig, het die Raad op 3 Oktober die Driemanskap gelas om ’n telegram aan die Britse Regering te stuur, waarin verklaar is dat die Konvensie so ver afwyk van die vredesvoorwaardes van 23 Maart dat dit deels onaanvaarbaar was. Dit het veral die magte van die Resident gegeld.
Gladstone het geantwoord dat hy geen veranderinge in die Konvensie kon oorweeg voordat dit bekragtig is en die toets van die praktyk deurstaan het nie. Die Volksraadslede was uit die aard van die saak teleurgesteld oor die Britse antwoord, maar het ’n laaste poging aangewend om tog ’n verandering te bewerkstellig. Hulle het naamlik gevra dat die skuldelas verminder moes word en geredeneer dat dit nie ’n onderwerp was waarvan die praktiese werking eers getoets moes word nie. Die Britte het egter steeds nie toegestem nie en al het heelparty Volksraadslede hulle beswaard gevoel om “de bitter kelk te drinken om deze Conventie te bekrachtigen,” is dit op 25 Oktober 1881 aanvaar.
Een van die eerste praktiese probleme waarmee die uitvoerders van die Konvensie van Pretoria gekonfronteer is, was die vasstelling en betaling van kompensasie vir skade wat individue as gevolg van die oorlog gely het.
Ingevolge artikel 7 van die Konvensie is die Resident, George Hudson, en die twee Transvaalse regters, J G Kotze en J P de Wet, as subkommissie aangestel om alle eise te ondersoek. Hulle is met ’n groot aantal vals eise gekonfronteer en kon slegs met moeite die bedrae wat regtens in elke geval uitbetaal moes word, bepaal. Eise ten bedrae van £1 346 590 is oorweeg en van daardie bedrag is slegs £150 049 as kompensasie uitbetaal.
Transvaal is in terme van die Konvensie van Pretoria ’n swaar skuldelas opgelê. Dit was onrealisties van die Koninklike Kommissie om te verwag dat die Boereleiers skulde wat hulle nie self gemaak het nie, sou kon betaal. In die staatskas was daar weinig kapitaal. Die oorlog het ’n skaarste aan klinkende munt tot gevolg gehad. Die handel het ’n groot skok gekry. Die Regering het probeer om die landsfinansies op ’n gesonde voet te plaas. Direkte belasting, soos op grond, kon nie verhoog word sonder om die boere te benadeel nie. Daarom is besluit op verhoogde indirekte belasting. Dit het die volgende behels: ’n verhoging in die lisensiegeld van banke, finansiële maatskappye en winkeliers en hoër invoerregte en spesiale belasting op ingevoerde produkte soos juweliersware en ingelegde voedsel. Daardie maatreëls het uitstekend aan hul doel beantwoord, maar dit het die lewensduurte in die Republiek aansienlik verhoog.
Ander maatreëls wat getref is, was die toekenning van monopolies en konsessies, ’n stap wat in die volgende dekade kritiek uitgelok het. Die groot korttermyn-voordeel van die eerste konsessies was dat hulle vir onmiddellike kapitaal in die staatskas verantwoordelik was. Die staatskuld was egter veels te groot om af te betaal, ’n feit wat mettertyd tot Britse regeringskringe deurgedring het. Die gevolg was dat sir Hercules Robinson in 1883 by Downingstraat aanbeveel het dat die skuld afgeskryf moes word.
Ingevolge artikel 23 van die Konvensie van Pretoria moes die Pedi-operhoof, Sekhukhune, onmiddellik vrygelaat word sodat hy weer sy stam kon gaan regeer. Die Driemanskap het geen beswaar teen daardie bepallng gehad nie en het Sekhukhune spoedig op vrye voet gestel. Intussen het Mampuru oor die Pedi geheers. Dié het Sekhukhune se moontlike herstel as opperhoof bestry en hom sowat ’n jaar na sy vrylating vermoor.
Die Transvaalse Regering het onmiddellik stappe gedoen om Mampuru vir sy gewelddaad te straf, maar dié het skuiling gevind by Nyabela, opperhoof van die Mapoggers. ’n Kommando is uitgestuur. Die burgers het met ywer en dapperheid te werk gegaan en na ’n lang stryd in Julie 1883 beide hoofmanne, wat baie weerstand gebied het, gevange geneem. Die veldtog het die dood van onder andere twee burgeroffisiere, kmdt Senekal en veldkornet Stephanus Roos, een van die helde van Majuba, tot gevolg gehad. Die ontstaan van hierdie sogenaamde Mapogger-oorlog kan direk teruggevoer word na artikel 23 van die Pretoria-Konvensie, wat vir die vrylating van Sekhukhune voorsiening gemaak het.
Die grootste praktiese probleem in verband met die toepassing van die Konvensie van Pretoria was, soos tydens die sittings van die Koninklike Kommissie al deur die Driemanskap voorsien is, die ligging van die Transvaalse wesgrens. Die Kommissie en die Boereleiers het nooit eenstemmigheid bereik oor hoe die weswaartse verskuiwing van daardie grens die wesgrensstamme sou raak nie. Uit Londen het lord Kimberley opdrag gegee dat Mankuroane en Montshiwa, twee kapteins wat tydens die Vryheidsoorlog die Britte wou te hulp kom, se onafhanklikheid gewaarborg moes word. Die Driemanskap het daarop gewys dat so ’n reëling tot botsings onder die wesgrensstamme sou lei. Reeds voor die teruggawe van Transvaal aan die Boere het die Barolong, Montshiwa, ’n ander Barolongkaptein, Matlaba, wat tydens die oorlog die Boere gesteun het, aangeval.
’n Derde Barolong-kaptein, Moshwete, het Matlaba se saak op hom geneem, maar gewag vir die finale besluite van die Koninklike Kommissie voor hy sou optree. Moshwete wou graag binne die grense van Transvaal bly, en sy ontevredenheid toe hy verneem het dat hy ingevolge die Konvensie van Pretoria daarbuite sou val, is tevergeefs aan die Koninklike Kommissie verduidelik. Hulle het, in hul ywer om Kimberley se bovermelde opdrag uit te voer, ’n min of meer arbitrêre grenslyn getrek. Daardie reëing het spoedig tot probleme gelei.
In die suidweste van Transvaal was David Massouw, kaptein van die Taaibosch-Korana-Hottentotte, ook ontevrede oor die grens soos in die Konvensie van Pretoria bepaal, aangesien dit sy gebied in twee verdeel het. Boonop was hy met Kimberley se beskermling, Mankuroane, kaptein van die Tlhaping, in ’n stryd om grondgebied gewikkel. Ná die bekragtiging en inwerkingtreding van die Konvensie in Oktober 1881 het Moshwete homself as onafhanklik beskou, en dus geregtig om sy vyand Montshiwa aan te val. Hy het blanke vrywilligers probeer werf om hom by te staan, soos sy teenstander ook gedoen het. Blankes is ook deur Massouw in diens geneem om hom teen Mankuroane te help.
Die Driemanskap het ’n proklamasie uitgevaardig ingevolge waarvan die burgers verbied is om by die stamtwiste betrokke te raak. Dit is geïgnoreer. In beide gevalle het Transvaalse vrywilligers daartoe meegehelp dat die pro-Britse kapteins verslaan is en in beide gevalle het die vrywilligers grond in ruil vir hul dienste ontvang. Daardie grond het in 1883 onderskeidelik die republieke Stellaland en Land Goosen geword.
Aangesien die Transvaalse regering ingevolge die Konvensie van Pretoria nie in ontwikkelinge anderkant sy grense mog inmeng nie, was die Boereleiers magteloos om die twiste op die wesgrens te besleg. Toe die Britse Resident in Pretoria oor die burgers se onwettige inmenging oorkant die wesgrens beswaar gemaak het, het kommandant-generaal Piet Joubert met reg gekla dat: “Zijn Ed de Resident schijnt niet te kunnen verstaan dat de onmogelijke grenslijn, zooals in de Conventie neergelegd, de oorzaak van al deze treurigheden is, en dit ook lang zal blijven, en het schijnt mij toe, dat het een zeer onredelijke eisch is, om de Regeering en het Volk van de Zuid-Afrikaansche Republiek verantwoordelijk te houden voor deze twisten, zoolang de grenslijn bestaat. Doch laat men een meer rechtvaardige en practische grens neerleggen, en dan ben ik zeker dat er een einde aan deze twisten zal komen, en dat deze Staat beter machtig zal zijn om zijne grenzen te beschermen.”
Een van die eerste sake waaroor daar wrywing tussen die herstelde Republiek en Brittanje ontstaan het, was die eerste deel van artikel 1 van die Konvensie wat lui: “The said territory, to be hereinafter called the Transvaal State...” Die Britse bedoeling was dat die Zuid-Afrikaansche Republiek se naam Transvaalstaat moes word. Die Driemanskap het egter dadelik na die teruggawe van die land weer die naam Zuid-Afrikaansche Republiek amptelik begin gebruik. ’n Britse klagte daaroor is beantwoord met die verklaring dat die Boere bloot ooreengekom het dat daar in die Konvensie van die Transvaal State gepraat kon word. Van Britse kant is laasgenoemde naam vir die herstelde Republiek deurgaans gebruik.
Die Britse Koningin se posisie as suserein oor Transvaal het by enkele geleenthede tot wrywing gelei. Die beste voorbeeld was die Paardekraalfeesvieringe in Desember 1881 om die verloop van die Vryheidsoorlog te gedenk. By daardie geleentheid is daar aan die heildronk op die gesondheid van koningin Victoria as suserein slegs ’n vierde plek op die rangorde van heildronke toegestaan. Lord Kimberley het aanstoot geneem. Die Resident, wat op Paardekraal teenwoordig was, is beveel om in die vervolg openbare verrigtinge te vermy as daar nie die nodige eer aan die Koningin betoon sou word nie.
Probleme is ook ondervind wat betref die betrekkinge tussen Transvaal en Europese state. Die herstelde Regering het kort na die inwerkingtreding van die Konvensie daarop aanspraak gemaak dat hy, hoewel buitelandse sake onder Britse beheer geplaas is, ten minste die reg gehad het om ’n exequatur aan die konsul van ’n vreemde moondheid binne die Transvaal uit te reik. Die Britse regering het daardie aanspraak verwerp.
'n Verdere wrywingspunt was Kimberley se eis dat verdrae wat die Zuid-Afrikaansche Republiek voor die anneksasie met vreemde moondhede gesluit het, so gewysig moes word dat hulle by die bepalings van die Konvensie van Pretoria sou aanpas. Die Transvaalse regering het geweier.
Kimberley het daarop die verdrag wat Transvaal in 1875 met Portugal gesluit het oor die bou van ’n spoorweg na Lourenco Marques, eensydig gewysig.
Terwyl die Volksraad in 1883 in sitting was, het die Superintendent van Onderwys, S J du Toit, en genl Nicolaas Smit met hoofregter J G Kotze gesels oor die wenslikheid daarvan om die bepalings van die Konvensie van Pretoria gewysig te kry terwyl die Gladstone-regering nog in Brittanje aan bewind was. Hulle het besluit om pres Kruger oor hulle beraadslagings in te lig, waarop dié te kenne gegee het dat ook hy steeds ten gunste van die wysiging van sommige artikels van die Konvensie was. Verdere informele samesprekings, waaraan Kruger en die gemelde here saam met ander Volksraadslede deelgeneem het, het gevolg. Uiteindelik is besluit dat die nuwe Minister van Kolonies, lord Derby, gevra moes word of hy ’n Transvaalse deputasie oor die wysiging van die Konvensie sou ontvang. In geval van ’n instemmende antwoord moes Kruger, Du Toit en Smit as die sogenaamde Derde Deputasie - die ander twee dateer uit die tydperk van lydelike verset voor die Vryheidsoorlog - vir Derby gaan spreek.
Dr E J P Jorissen, die Staatsprokureur, wat aan die begin van 1883 ses maande verlof gevra het om sy geboorteland Holland te besoek, het half-amptelik opdrag gekry om ook Londen aan te doen. Daar moes hy lord Derby se gesindheid oor die moontlike wysiging van die Konvensie gaan toets. Jorissen het daarin geslaag om Derby te laat toestem tot die besoek van ’n Transvaalse deputasie aan hom oor die Konvensie. Die nuus is aan die begin van Julie 1883 in Pretoria ontvang. Die Transvalers het intussen ook deur middel van die waarnemende Kaapse Goewerneur met Derby kontak gemaak, en daar is ooreengekom dat die Deputasie na die einde van Oktober direk met die Minister kon onderhandel.
Die Konvensie van Londen
Die Derde Deputasie het Pretoria op 18 Augustus 1883 verlaat en na ’n paar dae in Kaapstad in Oktober na Londen vertrek, waar hulle in daardie maand aangekom het. Die Kaapse Goewerneur, sir Hercules Robinson, was op daardie stadium in Londen en so ook T C Scanlen, die Kaapse premier. Die twee here is deur Derby gebruik om hom van inligting en raad te bedien.
’n Ander besoeker aan Londen op daardie stadium was die invloedryke wesgrenssendeling, eerw John Mackenzie, wat bekend was vir sy afkeer van die Boere en sy ondersteuning van die swart stamme. Hy het sy bes gedoen om die Derde Deputasie by Derby en by die Britse volk in ’n slegte lig te stel. Die ooreenkomste tussen sy uitsprake en die argumente wat Derby teenoor die Transvalers gelug het, dui op ’n beduidende invloed van sy kant af op die onderhandelinge.
Derby het spoedig ’n onderhoud aan die Derde Deputasie toegestaan.
Hulle het hom op 7 November ontmoet en verduidelik dat hulle van mening was dat ’n nuwe konvensie, om die Konvensie van Pretoria te vervang, opgestel moes word. Derby het gevra dat die Deputasielede hul griewe op skrif aan hom moes voorlê. Daarmee was die onderhoud verby.
’n Belangrike aspek van daardie eerste ontmoeting was dat ds S J du Toit, die stigter van die Afrikanerbond, se teenwoordigheid as deputasielid by die Britte ’n duidelike besef oor die verband tussen die Transvaalse Boere en die Kaapse Afrikaners tuisgebring het.
Die Derde Deputasie het hulle griewe in die vorm van ’n klagbrief, waarin die Konvensie van Pretoria as onprakties verwerp is, aan Derby gestuur. Ingevolge daarvan moes die Sandrivierkonvensie as basis vir ’n nuwe ooreenkoms dien. Die Britse kabinet het die klagbrief bestudeer.
Daar is besluit om aan Derby vrye teuels in sy verdere onderhandelinge met die Deputasie te gee. Hy kon ’n nuwe konvensie sluit, maar moes die Sandrivierkonvensie as dood beskou. ’n Verhouding met Transvaal soos dié tussen Brittanje en die Oranje-Vrystaat is in die vooruitsig gestel. Die enigste verskil was dat die kabinet ’n vetoreg wou hê op Transvaal se ooreenkomste met ander state.
Na ontvangs van die kabinetsopdrag het Derby aan die Deputasie gevra wat die aard van die nuwe ooreenkoms was waarmee hulle die Konvensie van Pretoria wou vervang. Hulle antwoord was ’n ontwerp-konvensie waarin eerstens volle onafhanklikheid en tweedens ’n nuwe wesgrens, wat in die praktyk die republiekies Stellaland en Goosen by Transvaal sou insluit, geëis word. Voorts is daar in die ontwerpkonvensie onder meer voorsiening gemaak vir die beginsel van arbitrasie ter beslegting van geskille. Die arbitrasie moes behartig word deur ’n kommissie van skeidsregters, wat deur albei kante benoem sou word. As die skeidsregters nie ooreen kon stem nie, sou die saak na die president van die Verenigde State van Amerika of ’n ander staatshoof vir uitspraak verwys word.
Derby het die beginsel van arbitrasie onmiddellik verwerp. Daarmee het die Britte, soos Leyds dit gestel het, in Suid-Afrika diktering bo arbitrering verkies. Voorts het die Minister van Kolonies ’n skrywe van Robinson ontvang waarin onder meer voorgestel word dat ’n nuwe Transvaalse wesgrens Massouw en Moshette binne die Republiek moes laat val; dat die Transvaalse skuld verminder moes word; dat die naam Zuid-Afrikaansche Republiek erken moes word; en dat Brittanje slegs ’n vetoreg op Transvaal se buitelandse beleid moes behou. Derby was so beïndruk met daardie voorstelle dat hy dit feitlik woordeliks as antwoord op die Deputasie se Ontwerpkonvensie gestuur het. Daarby is gevoeg dat die ontwerp-konvensie onaanvaarbaar was, en dat in enige ooreenkoms die pro-Britse swart hoofmanne buite die Transvaalse wesgrens moes bly.
Die Deputasie het onmiddellik geantwoord dat hulle tot die wesgrenseis sou toegee, maar hulle op ’n duidelike kaart wou sien hoe die Britte die wesgrens wou hê. ’n Gekibbel oor grondregte het ’n dooie punt in die onderhandelinge tot gevolg gehad. Briewe is oor en weer gestuur in pogings om die dooie punt op te los. Op 18 Desember en weer op 9 Januarie 1884 het Derby, ten einde tot ’n ooreenkoms te geraak, ’n soort ultimatum aan die Deputasie voorgelê: As hulle nie tot die voorgestelde grens sou toestem nie, sou die Britte nie verder praat oor veranderinge in die Konvensie van Pretoria nie. Robinson se invloed op Derby se ultimatum was onmiskenbaar. Daarmee het die Deputasie die inisiatief in die onderhandelinge verloor en van toe af moes hulle noodgedwonge instem tot Derby se voorstelle.
Alhoewel Kruger op 8 Februarie tydens ’n ontmoeting tussen die Deputasie en Derby moes toegee aan laasgenoemde se wesgrenseise, was alles nie vir die Boere verlore nie. Hulle was wel nie heeltemal tevrede met ’n ontwerp-ooreenkoms wat op 15 Februarie vir oorweging aan hulle voorgehou is nie, maar daar was heelwat voordele vir Transvaal in daardie ontwerp vervat. Daar is voorsiening gemaak vir ’n nuwe konvensie om die Konvensie van Pretoria te vervang. Ingevolge die nuwe konvensie sou Transvaal weer amptelik die Zuid-Afrikaansche Republiek heet. Die inleiding en die slot van die nuwe konvensie is deur Derby self opgestel. Daar kom geen vermelding van susereiniteit in voor nie. Die Minister van Kolonies het skriftelik verduidelik dat die Transvalers vry sou wees om hulle land sonder tussenkoms te regeer, om sy diplomatieke verkeer te reël en sy buitelandse politiek te rig alleenlik onderworpe aan artikel 4 van die nuwe konvensie, wat behels het dat geen verdrag met ’n vreemde moondheid sonder die Britse Koningin se toestemming van krag sou wees nie. Transvaal was binnelands weer absoluut onafhanklik - ’n feit wat die latere Minister van Kolonies, Joseph Chamberlain, vlak voor die Tweede Vryheidsoorlog tevergeefs probeer wegwens het.
Ander belangrike bepalings van die ontwerp-konvensie was dat die Zuid-Afrikaansche Republiek se skuld aan Brittanje tot £250 000 verminder is; dat die Britse Resident vervang sou word deur ’n konsul; dat slawerny verbied is; dat godsdiensvryheid sou geld; dat die Transvalers die onafhanklikheid van Swaziland moes erken; misdadigers sou oor en weer uitgelewer word en die Transvalers sou drosters uit die Britse leër uitlewer, en dat die Transvalers beloftes wat aan die swartmense in Transvaal gemaak is, moes uitvoer.
Bogenoemde ontwerp-ooreenkoms is op 27 Februarie 1884, presies drie jaar ná die slag van Majuba, as die Konvensie van Londen onderteken.
Dit het uiterlik in belangrike opsigte van die Konvensie van Pretoria verskil. Eerstens is dit deur verteenwoordigers van Brittanje aan die een kant en die lede van die Derde Deputasie aan die ander kant onderteken. Die Konvensie van Pretoria is net deur verteenwoordigers van die Britse regeing, naamlik deur die Koninklike Kommissie, onderteken. Tweedens is amptelike tekste van die Konvensie in sowel Engels as Hollands opgestel en onderteken, terwyl die Konvensie van Pretoria slegs 'n Engelse teks gehad het. Die Konvensie van Londen het dus meer na ’n ooreenkoms tussen twee onafhanklike state gelyk as wat dit met die Konvensie van Pretoria die geval was.
Toe die Deputasielede na hul terugkeer in Transvaal op 28 Julie 1884 aan die Volksraad verslag gedoen het, kon hulle met reg meld dat hul sending in sommige opsigte geslaag het, hoewel die wesgrens probleem nie opgelos is nie. Die Volksraad het nie gehuiwer om die Konvensie op 8 Augustus 1884 te bekragtig nie.
Die doel van die Eerste Vryheidsoorlog, die herstel van die Republiekeinse onafhanklikheid, was bereik, hoewel die Konvensie van Londen afbreuk gedoen het aan hul status as soewerein onafhanklike staat soos onder die SandrivierKonvensie.
Steun vir die herstel van Transvaalse onafhanklikheid in die Kaapkolonie – vervolg...