DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (33 - SLOT)

Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog 

Steun vir die  herstel van Transvaalse onafhanklikheid in die Kaapkolonie (2)

D H Heydenrych

Op ’n goed bygewoonde vergadering aan die begin  van Januarie 1881 op Franschhoek is die botsing betreur en is dit toegeskryf aan ’n reaksie op griewe waaraan geen gehoor gegee is nie. Die vergadering was ook van mening dat die onmin deur onderhandeling, deur middel van ’n Koninklike Kommissie of andersins, opgeklaar behoort te kan word. Die regering en die koloniste van die Kaapkolonie moes dan alles in hul vermoë doen om sodanige onderhandelinge te bevorder.

Soortgelyke resolusies is op Moddergat, Caledon, Worcester, Robertson, die Paarl en Stellenbosch en Malmesbury aangeneem. Vergaderings wat soortgelyke simpatie met die Transvalers uitgedruk het, is ook gehou op Tulbagh, Hopefield, Vredenburg, Darling, Beaufort-Wes, Montagu, Ceres, Wellington, Clanwilliam, Murraysburg, Colesberg en elders.

Die gevoelens van die Kaapse Afrikaners is geweldig opgesweep deur beswaddering van die Transvalers en die Boere in die algemeen.

Talle gerugte van wreedhede en onkonvensionele oorlogoptrede aan Boerekant het die Kaap bereik. Die Evening Express het byvoorbeeld selfs op hierdie sensitiewe tyd teruggegryp na die slag van Boomplaats om sg Boereverraderlikheid te illustreer. Die koerant het vertel dat tydens die slag ’n Boer ’n Engelse offisier om genade gesmeek het. 'n Kwartier is toegestaan, maar nadat die offisier verbygery het, het die ondankbare kryger hom in die rug geskiet. Hierdie lafhartige daad sou openlik geregverdig gewees het deur verskeie Boere. “Op zulke verzinsels worden Engelsche krantenlesers thans onthaald,” het De Zuid-Afrikaan verklaar.

 

Die Patriot het ook vertel toe ’n valse berig die Kaap in Desember bereik dat 500 Boere gesneuwel het, ’n Engelssprekende uitgeroep het: “Nou gaat ek ’n jollie krismis hou.”

Maar die Kaapse Afrikaners het nie hierdie soort opsweping nodig gehad om hul vereenselwiging met die Transvalers in die oorlog tot uiting te laat kom nie. In die Paarl is weekliks bidure vir Transvaal gehou.

Veral in die korrespondensiekolomme van die Patriot het die Kaapse Afrikaners hulle onbeskaamd met die Transvalers vereenselwig. “Liefhebbende Stamverwanten en Geloofsgenoten. Met innerlyk medelyden gevoel ik dagelijks smart aan myn hart, vanwege uwe verdrukking,” het een geskryf; en ’n ander: “Die Boere is nie die Zoeloes nie; ek dink dit sal ’n weinig beter gaan as die dag by Isandhlawana, want die gehele Suid-Afrika sal sig verplig voel om ons broeders en kinders te gaan help in die Transvaal Republiek.” En ’n derde: “... wie zal niet met onze broeders en bloedverwanten in de Transvaal zamen weenen over het schreijend onregt hun aangedaan ...” Toe dit bekend word dat persone in die Wes-Kaap perde en muile opkoop vir die gebruik deur die Engelse troepe teen Transvaal, het die Patriot self die name en adresse van sowat 15 sulke persone gepubliseer, en ’n leser het ’n waarskuwing geplaas aan diesulkes “om hulle voete uit myn huis en van myn plaas te hou" as hulle nie op ’n onaangename wyse wil kennis maak met ’n ware Afrikaner nie.

Die Patriot het hom in sy redaksionele kommentaar en in sy spontane Afrikaans wat hom so uitstekend daartoe geleen het, onbelemmerd met die Transvalers geïdentifiseer. Veral belangrik in hierdie verband is die feit dat die koerant in dié proses morele regverdiging aan die Transvalers so stryd verleen het. So skryf die koerant dat hy alles in sy vermoë doen om 'n skikking te bewerkstellig: “Maar alleen nie ten koste van reg en geregtigheid nie. Die land hoort aan die Boere en hulle moet dit hê .. .”

En by 'n ander geleentheid: “Dan wat die arm van die Boere sal sterk is die gevoel van reg en van nasionaliteit aan hulle kant .. .” En die versekering:

“Engeland moet weet dat ’n oorlog teen die Transvaalse Boere sedelik 'n oorlog teen heel Suid-Afrika is.” Of in die woorde van sy eie korrespondent: “De Transvalers zyn geen rebellen, nimmer hadden zy een eed van getrouwheid gezworen an England. Nimmer waren zy onderdanen en nimmer wilden zy zulks wezen.”

Geen wonder dus nie dat die Patriot ’n wye leserskring in Transvaal tydens die oorlog opgebou het en dat die republikeinse leiers dikwels na die koerant om leiding opgesien het nie.

Dit het egter nie slegs by simpatiebetoning en raadgewing gebly nie. Die Kapenaars het ook begin om geld in te samel vir weduwees en wese en Boere wat deur die oorlog verarm is.

Op verskeie plekke is kollektelyste gesirkuleer en verskillende bedrae geld is na Transvaal gestuur, wat met groot erkentlikheid ontvang is. Ook mediese hulp is vir die Transvaalse gewondes gereël en twee mediese studente in Edinburg, Skotland naamlik Esselen en Voigt het hul studies voorlopig laat vaar ten einde die gewondes te kom verpleeg.

Die militêre oorwinnings van die Boere, wat as ’n groot verrassing vir die stoutmoedigste Kaapse Afrikaners gekom het, is met groot entoesiasme in die Kaap gevolg. John X Merriman het na aanleiding van die nuus oor Laingsnek in sy dagboek geskryf: “The news (was) received with almost unseemly exaltation by Dutch Afrikaners in Cape Town.'' En ná die oorwinning by Majuba het die Patriot uitgeroep: “Sigbaarder was Gods hand nog nooit in ons Geskiedenis nie."

Voorwaar, dit word tyd vir Engeland om te erken: "Dit is Gods vinger".

Die uiteindelike wapenstilstand is allerweë in die Kaap met groot vreugdebetoon verwelkom en die Patriot het sy blydskap getoon deurdat die uitgawe van 1 April 1881 in blou ink gedruk is - deur een historikus "A rhapsody in blue” genoem. Seker die meeste Kaapse Afrikaners was vir die eerste keer sedert die Groot Trek geestelik volkome vorenig met hulle republikeinse stamgenote. Die Oranjerivier- en Vaalriviergrense het vir nasionalisme laat bloei en dit het uitdrukking gevind in die ongekende groei van die eerste werklike politieke organisasie wat hul geken het - die Afrikanerbond, wat hul terselfdertyd met die republieke verenig het. Geen wonder dus nie dat ds S J du Toit verklaar het: “Die Bond het wortel gevat op Amajuba.”