“Daar is net een man wat ek meer verag as ’n kwaadstoker,” het generaal Koos de la Rey gesê, “en dit is die man wat hom steur aan die stories van so ’n skinderbek.”
Onder sy offisiere het hy enige neiging tot knoeiery met ferme hand onderdruk. En by een geleentheid het hy hardhandig afgereken met een van sy onderoffisiere wat op ’n skaamtelose wyse probeer het om die Generaal se guns “af te vry,” soos sy makkers spottend gesê het. Hierdie jong burger het homself beskou as ’n soort selfaangestelde nuusaandraer; as een van sy medeoffisiere iets doen wat hy as ’n misstap beskou, het hy subiet sy opwagting by die Generaal se tent gedoen en sy wapenbroer aangekla; dan was dit ’n krygsreël wat oortree is; by 'n ander geleentheid weer ’n opmerking wat slegte bedoelings verraai het. “Hy is een van die dae onder die Engelse, Generaal,” het hy by sulke geleenthede gewaarsku.
De la Rey se vertroude offisiere het geweet met watter walging en afsku dié soort kwaadstokery die Generaal vervul en dit het hulle nie verbaas nie toe hy eendag sy toevlug geneem het tot die enigste middel wat vir goed ‘n einde daar aan sou maak: Die sambok. Hy het die nuusaandraer flink afgeransel en daarmee is die rus en goeie trou in die kommando vir goed herstel.