DE LA REY (2)

Hierdie boeiende vertelling van verskeie burgers se herinneringe onder genl De la Rey tydens die Tweede Vryheidsoorlog van 1899-1902 geskryf deur Ignatius Mocke kan gelees word by

De la Rey

EERSTE DAE (2)

!n Gevoel van aangename ernstigheid het oor Rudolf gekom.
Die afgelope dae was vol donker herinneringe. Hulle het in ’n land gedwaal waar die lewe geen betekenis gehad het nie. Net die dood was om hulle, die bittere, laaste verwensinge van die sterwendes, die geroep om water, die gesmeek wat geval het op ore wat verdoof was deur die kanongebulder en die snerpende gefluit van koeëls om hulle.

Rudolf het daardie dag, in die loop van die geveg toe sy flank van die kommando skielik handgemeen geraak het met die vyand, gesien hoedat een van sy strydmakkers sterwe. Hy het agter ’n hoë klip gelê en skiet toe ’n afdeling van die vyand skielik uit digte struikgewas links van hulle op hulle afgestorm het. Die beweging was so onverwags dat Rudolf nouliks tyd gehad het om sy rewolwer uit die leerskede te pluk.
Maar sy jong vriend het ’n ondeelbare sekonde te laat bewus geword van die gevaar wat hom so skielik getref het. Voordat hy tot verhaal kon kom, was ’n soldaat voor hom met gevelde bajonet. Uit die hoek van sy oog het Rudolf net die wanhopige afweerbeweging van sy strydmakker gesien en’n oomblik later die geblits van die bajonet waarmee die vyand hom deurboor het. Slegs ’n gesmoorde doodskreet het sy lippe ontval, maar later, toe die vyandelike stormloop afgeweer was, het hy met verbasing gemerk dat die Engelsman reg teenoor die jong burger doodlê met ’n groot bloedkol op sy bors. In die hand van die gestorwe Boer, een vinger krampagtig om die sneller gekrul, het ’n rewolwer gelê. Hy moes met sy laaste kragte gevuur en sy vyand dodelik getref het.
Rudolf het met eerbied in sy hart na die kalm jong gelaat van die dooie langs hom gekyk, maar die voorval het ’n ontstemdheid in sy hart nagelaat. Miskien was dit omdat hy die burger so goed geken het.
Die vorige aand nog het hulle gesels en hy het Rudolf van sy ouers vertel. Sy vader wat saam met genl. De Wet op kommando was; sy moeder wat met haar twee jongste kinders op die plaas agtergebly het en ’n meisie wat op ’n Vrystaatse plaas vir hom wag. Nou was dit alles verby. Die hoop en die verwagtings...

In die hitte van die stryd kon hy al die dinge vergeet. Sy aandag was so volkome toegespits op die korrel van sy geweer, dat hy  nouliks die gekerm van die gewondes om hom gehoor het...

Die skril tone van die konsertina kom deur die nag na hom aangesweef. “Dit is al wat ons kan doen,” dink hy, “die stryd vergeet. Vanaand, hierdie oomblik, is al waarvan ons seker is...”

Hy voel die geselligheid wat om die flikkerende vure hang; die dankbaarheid van sy maats dat nog ’n dag verby is en nog ’n aand van rus vir hulle aangebreek het.

Meteens versterf die konsertinatone en die gesing word onderbreek. Asof die skielike stilte hom wakker skok, kom Rudolf teen sy saal orent.

Hy sien iemand haastig in sy rigting aangestap kom. ’n Oomblik later merk hy dat dit adjudant Le Roux is.

“Veldkomet,” sê Le Roux, “opdrag van die Generaal.  Almal byeen in die middel van die laer.”

’n Paar minute later was ’n groot skaar burgers om genl. De la Rey vergader. Aan hulle het hy die bevel gegee om terug te val op Spytfontein se rante. Wat dit hom gekos het, het geeneen van hulle besef nie. Sy kind, ’n veelbelowende jongman, is die dag in die geveg dodelik verwond en het ’n uur of wat tevore sy laaste asem uitgeblaas. In die krygsraad het die ou held in sy beste woorde probeer dat hulle nie die Modderrivierstelling nie behoort te verlaat nie. Toe die besluit van die krygsraad onder Cronjé se leiding anders uitkom, het hy gesê dat selfs die dood van sy seun hom nie so erg ter harte gaan as hierdie besluit nie. Maar hier voor sy burgers gee hy geen blyk van smart of verset nie. Onwrikbaar bedaard gee hy bevel tot die aftog soos die krygsraad besluit  het.

Sy senior kollega, genl. Piet Cronjé, wou die Engelse by Scholtznek gaan voorlê. Hulle sou tog daardeur tot Kimberley se ontset probeer opruk. Weer het De la Rey ’n harde stryd moes voer. Maar hierdie keer het sy struikelblok sy geleentheid geword.

“Bly weg van die rante — die Engelse grofgeskut soek altyd die koppies uit. Grawe vlak loopgrawe op die vlakte tussen Modderrivier en Magersfontein se rante,” was sy beskeie advies.

Cronjé het dit gekheid genoem, maar deur president Steyn se taktvolle tussenkoms het De la Rey se voorstel hierdie keer die besluit van die krygsraad geword. Snags is hard aan die loopgrawe gewerk. Bedags het die Engelse in die verkenningsballon hulle anderkant die rant gesien waar hulle lê en slaap. Die los grond voor die loopgrawe is met polle en bossies gekamoefleer. En toe die Skotte die nag voor Magersfontein se roemryke slag soos ’n groot swart muur in die reënerige newel opdoem, het ’n lang vuurstreep skielik op die vlakte voor hulle opgeflits. So het De la Rey se taktiek die sege van Magersfontein bewerkstellig en sy roem as een van die grootste strateë gevestig.

DIE eerste groot roemryke veldslae van die oorlog het verbygegaan. Magersfontein, Spioenkop, Stormberg, Colenso, was krygsverrigtinge wat die hele beskaafde wêreld met asemlosebewondering vervul het. Die nuus het deur alle lande weerklink: “Engeland verloor die oorlog.”

In Brittanje is 'n dag van verootmoediging verorden en die Engelse volksdigter, Rudyard Kipling, het een van sy gedenkwaardigste gedigte by hierdie geleentheid geskryf: “Die Britse Ryk het geen donkerder uur geken nie; sy vernedering is onuitspreeklik".

Aan al die fronte het die Boeremagte met onverwagte sukses opgetree.

Aan die Natalse front het genl. Piet Joubert Ladysmith beleër en het genl. Louis Botha vir Buller langs die Tugela keer op keer verslaan. By Magersfontein is Methuen teruggedryf en aan die Kaapse front het die Boeremagte die Kolonie binnegedring.

Maar vyandelike versterkings het die land begin binnestroom. In Kaapstad het Roberts aan wal gestap om die opperbevel oor die Britse leermagte oor te neem vir 'n groot offensief waarin die weerstand van die Boere gebreek moes word. By Modderrivier het generaal French met sy ruitery ’n bres in die Boerelinies geslaan en deurgebreek. Kimberley is ontset en kort daarop het die rampspoedige oorgawe van genl. Cronjé by Paardeberg gevolg. En meteens het dit gelyk of die hele landsverdediging ineenstort. Binne enkele weke het grootskeepse verbrokkeling en swak organisasie agter die Boerelinies begin. In die verwarring wat nou ontstaan het, het die drie grootste veldhere in die geskiedenis van die Afrikanernasie egter aan die dag getree:

De Wet in die Vrystaat en Botha en De la Rey in die Noorde.

Rudolf het pal onder generaal De la Rey geveg. Hy het gesien hoedat sy veldheer merkbaar verouder na mate die berigte van die rampspoedige terugslae wat die Boeremagte verduur
hul ore bereik. Maar in hierdie maande van vernedering het hy ook ’n onversetlike wilskrag in sy leier se siel sien groei. Net soos De Wet in die Vrystaat, het De la Rey in die noorde die moedelose burgers met sy onwrikbare moed en vertroue besiel.

“Wie huistoe wil gaan of sy wapens gaan neerlê, laat hom dit doen,” het hy gesê, “die skanddaad sal nie op my gewete rus dat ek oorgegee het toe dit gelyk het of die stryd verlore is nie. Ek wil geen lafaards by my hê nie. ’n Stryd word alleen groot wanneer dit op die oog verlore lyk. Laat dit ons roem wees dat ons alles gegee het, dat ons tot die bitter einde geveg het, toe die oorwinning verlore gelyk het."

Rudolf het gesien hoedat die woorde die moedeloosheid uit die burgers se harte verban. In die dowwe oë het weer vertroue opgevlam, ’n nuwe wil om te volhard...

DIE guerrillaoorlog het begin.

De la Rey se kommando het naby Lichtenburg afgesaal, aan die voet van ’n koprant wat eensaam in die groot vlakte uitgestrek getroon het.

Dit was ’n laat someraand. Om hulle was die vlak verskiet en die onafgebroke effenheid van die veld. Die aand was vol van die gekras van dikkopkorhane en die sagte, lokkende geroep van vlakpatryse. Die lug was helder, maar agter die stowwerige gesigseinder het vlieswolke uitgedryf, roosrooi in die lig van die ondergaande son.
“Dit gaan reën,” sê ’n jong burger langs Rudolf.

“Ja. Dit lyk so.”

In die dorre lug om hulle was ’n duidelike klammigheid en die rooi ligkrans om die maan het gedui op ’n naderende storm.

“Die storm sal ons op die vlakte vang.” Rudolf beskou die spreker glimlaggend. “Gee jy  om?”

“Verdomp nie!  Watter verskil maak dit of die Kakies jou skiet en of die weer jou raak slaan?”

“Hm... Ek voel net so.”

Die jong burger slaan ’n olierige pyp ongeduldig teen sy hakskeen uit. “Ek het al so baie natgereën dat ek ongemaklik voel in droë klere.”

Hy beskou sy stukkende baadjiemoue en skeefgetrapte skoene met weersin.

“Dis hoogtyd dat ons weer Kakies vang,” sê hy lakoniek, “om ons rantsoen klere en kos te kry.”

“Jy praat asof Haar Majesteit ons van klere en kos voorsien,” sê Rudolf geamuseerd.

“Dis tog die heilige waarheid,” se die jong burger eenvoudig. “Al hierdie klere wat ek aanhet, selfs hierdie newwies,” hy beduie met sy pypsteel na sy verweerde stewels, “dra die merk: ‘Made in England.’ Ons veg op Haar Majesteit se koste, my vriend.”

Hy swyg ’n oomblik.

“lets is weer aan die gang vanaand,” se hy mismoedig. “De la Rey hou kajuitraad.”

Rudolf knik. Dit was die hele dag vir hom duidelik dat daar iets aan die broei is.

“Ek dink jy is vanaand aan die beurt,” se Rudolf se makker.

Rudolf kyk verbaas op.

“Wat bedoel jy?”

“Ek hoor dat een van die Generaal se verkenners gister deur die Engelse geskiet is.”

“Geskiet?”

"Ja. Hy het glo spioenasiewerk gedoen; was in ’n Britse uniform.”

“Maar wat het dit met my te doen?”

Die jong burger haal sy skouers op.

“Ek mag natuurlik verkeerd wees,” sê hy, “maar ek hoor ’n voëltjie fluit dat die Generaal jou in sy plek gaan aanstel.”

Rudolf swyg, met ingehoue asem. Hy besef wat dit sal beteken: Elke dag met die dood speel en as hy in die vyand se hande val... Maar in die stilte bid hy dat wat die jong burger horn vertel, die waarheid mag wees. Die kommandolewe, selfs onder die stormagtige Boeregeneraal, het hom die afgelope paar maande verveel. Hy het al dikwels die begeerte gevoel om na De la Rey te gaan en hom sy dienste as verkenner aan te bied. Maar sy ingebore beskeidenheid het hom nog altyd weerhou. As die Generaal hom goed genoeg ag vir so ’n lewensbelangrike werk, dan sal hy hom self aanstel.

“Waar hoor jy dit?”

“Verbasend dat jy dit nog nie self gehoor het nie. Die hele kommando weet dit.”

Rudolf het die ure na sononder gespanne afgetel. Sy blik het gedurig gedwaal na waar generaal De la Rey en sy lyfwag samesprekinge hou, maar dit was al oor agtuur die aand toe ’n adjudant hom kom meedeel het dat die Generaal hom wil spreek.

Rudolf het eerbiedig geluister onderwyl generaal De la Rey aan hom die aard van die werk verduidelik.

“Jy sal bereid moet wees om die uiterste te waag. Die veiligheid van die gewone burger hang net soveel van julle kêrels af as van myself, Naudé,” het hy gesê, “ek hoop jy verstaan watter verantwoordelikheid jy sal onderneem.”

“Ek is bereid om dit te doen, Generaal,” sê Rudolf.

Generaal De la Rey bied hom sy hand. “Goed, ou seun,” sê hy onderwyl Rudolf sy hand vat, “mag God met jou wees.”

So het Rudolf Naudé verkennerskaptein Schalk van der Westhuizen ontmoet. Die hoof van die verkennerskorps was ’n kort, stewig geboude man van middeljarige leeftyd. Uit sy lewendige oë het onvermoeide lewenskrag gespreek en sy gebare het getuig van ’n rustelose energie. Daar was iets dinamies in die breedgeskouerde, gesette gestalte en toe Rudolf die eerste keer deur generaal De la Rey aan hom voorgestel is, was hy dadelik bewus van die deurdringende, ondersoekende blik in Van der Westhuizen se grysblou oë.

“Het jy al ooit verkennerswerk gedoen, Naudé?”

“’n Paar rapporte afgelewer, Kaptein. Nie veel nie.”

“Mmm. Jy verstaan natuurlik dat dit doodsgevaarlike werk is?”

“Heeltemal.”

“Goed. Kom my oor’n halfuur spreek. Ek het ’n rapport wat jy vanaand moet aflewer.”

Die ander burgers was al onder die velkomberse toe Rudolf daardie aand sy instruksies van Van der Westhuizen ontvang het:

Ongeveer vyf-en-twintig myl van waar die hoofkommando daardie aand gestaan het, in ’n suidwestelike rigting van Lichtenburg, was ’n klein afdeling Boere onder hoof-Veldkornet Ewert Steyn vasgekeer deur ’n groot mag Engelse. Rudolf moes sy rapport deur die Engelse linies neem, na Steyn. Volgens verslae wat ontvang is, kon met ’n mate van sekerheid gesê word dat Steyn se kommando in ’n nek tussen twee koppe lê. Rudolf moes horn meedeel dat ’n paar honderd man van generaal De la Rey se kommando die volgende oggend vroeg ’n pad deur die Engelse linies sou oopskiet waardeur hy kon ontvlug. Van der Westhuizen bring 'n kaart van die omtrek te voorskyn en dui die posisie van Steyn se kommando haarfyn daarop aan.

“Lewer die verslag af en kom dadelik terug om te rapporteer. Druk Steyn dit op die hart dat hy jou instruksies haarfyn moet uitvoer, anders is hy en al sy manne gevang. Vind die ligging van die Engelse haarfyn uit. Dit is uiters noodsaaklik dat ons dit weet. Vind die swak skakel in hul linies en sê Steyn moet daar deurbreek.”

Hy swyg ’n oomblik.

“Ja, en, Naudé,” sê hy, “jy sal in die uniform van ’n Engelse offisier moet gaan. Ek verstaan jy kan Engels praat?”

“Vlot, Kommandant.”

“Goed. Kry jou uniform by Alers. Totsiens en Gods seën.”

’n Halfuur later het Rudolf spore in sy skimmel se sye gedruk en haastig in die aangeduide rigting verdwyn. Hy het die topografie van Wes-Transvaal teen dié tyd soos die binnekant van sy hand geken en sy aangebore sin vir rigting sou hom onfeilbaar lei.

Dit was nog vroeg in die aand toe hy ver teen die bult voor hom die kampvure van die vyand gewaar. Myle ver teen die bulthellings het die vure gestrek, soos ’n grasbrand uit die verte gesien. Bokant die verligte horison weswaarts het die aandster laag bokant die bulte geflikker.

Aan die ingang van die laer het die wag skielik op aandag gekom. “Halt! Who goes there?”

Rudolf het die wagwoord in ’n kalm stem gegee en sonder meer het die wag hom deurgelaat.

Die soldate om die kampvure het hulle nie aan hom gesteur nie en hy het op ’n gemaklike drafstap tussen die tente deurgery. Hier en daar het ’n gewone soldaat hom gesalueer, maar origens het hy geen aandag getrek nie.

Maar toe hy die binneste grens van die kamp bereik, het sy moed hom byna begewe en ’n gevoel van paniek het hom beetgepak. Die wag het nadergestap en sy perd aan die toom gevat.

“Your password, Sir.”

Vir ’n ondeelbare sekonde kon hy geen woorde vind nie.

Moes hy die gewone wagwoord gee, of was hier ’n geheimsinnige kode nodig waarvan hy niks geweet het nie? As hy die verkeerde ding doen, is die vet in die vuur. Sy hele sending sou ’n mislukking wees, want dan sou hy die vyand net op sy hoede stel en sowel Steyn se kommando as die tweehonderd burgers van genl. De la Rey aan doodsgevaar blootstel. Daarenteen sou hy eweveel agterdog verwek as hy niks sê nie en eenvoudig aanry. Die wag sou hom nie laat begaan nie; moontlik nog op hom vuur.

Toe skiet ’n ingewing hom te binne: Dit is sy enigste uitkomkans.

Hy ruk hom regop in die saal en kyk die wag streng aan. “I am an officer, my man,” sê hy betigtend, “out on inspection duty!”

Die wag laat sy oë vlugtig oor die uniform gaan en doen ’n stap terug onderwyl hy salueer.

“Sorry, Sir; pass.”

Rudolf het geen tweede aansporing nodig nie. Haastig du hy sy perd met die spore. Dan bedink hy hom: Kaptein Van der Westhuizen het hom opdrag gegee om die ligging van die Engelse laer haarfyn uit te vind. Hier is sy kans!

“By the way,” sê hy kalm, “any reinforcements necessary, and where?”

Hy hou sy asem op onderwyl hy die sekondes angstig aftel. Nou of nooit. Verbeel hy hom dit, of het die wag hom ’n oomblik agterdogtig beskou?

“You need only inspect the line between those hills,” sê die wag, “hard work for a night, Sir!”

“Rather!”

Die wag beduie met sy hand óm die kamp.

“That is the only weak link. Was on point duty there this afternoon. Otherwise the line is well fortified.”

Nadat hy dubbel seker gemaak het van die plek waar die swak skakel in die omsingelingsring is, verlaat hy die wag op ’n vinnige galop. Maar toe hy ’n paar myl daarvandaan op die vasgekeerde Boerekommando afkom, kon hy nog die sweetdruppels op sy voorkop voel.

DIT was een van die trotste oomblikke in sy lewe toe sy Generaal hom die volgende dag ontbied om hom geluk te wens. “Een van die knapste stukkies werk wat ek nog gesien het, Naudé,” sê hy, “alles het pragtig afgeloop. Jy behoort een van ons beste verkenners te word.”

Guerrilla-oorlog en Krieket – vervolg...