Hierdie boeiende vertelling van verskeie burgers se herinneringe onder genl De la Rey tydens die Tweede Vryheidsoorlog van 1899-1902 geskryf deur Ignatius Mocke kan gelees word by
DIT is omstreeks agtuur in die aand. Op die vlak veld om die klein spoorweghaltetjie stuif ’n aanhoudende motreën neer. Uit die nat aarde styg die waterdamp soos ’n wit mistigheid omhoog.Rudolf staan in die skaduwee langs die houtgeboutjie wat dien as stasiekantoor en tuur stip langs die spoorweg wat wegslinger in die nag oneindigheid voor hom.
Die trein moes lankal die stasie binnegestoom het, want volgens die rapport wat hy ontvang het, sou dit twintig minute oor sewe aangekom het. Hy wonder half onrustig, half ergerlik, wat kon gebeur het.
Is die trein onderweg hierheen deur ’n los Boerekommando onderskep en ontspoor? Hy weet dat geeneen van De la Rey se afdelings so ’n fout sou begaan nie, want kaptein Schalk van der Westhuizen is uit die staanspoor op die hoogte gehou van die onderneming wat Rudolf vanaand sou aandurf en alle offisiere is daarvan in kennis gestel.
Sedert die gruwelike voorval op die eensame plaas waar die vier kinders om die lewe gebring is, het Rudolf feitlik geen slaap gehad nie. Geen steen het hy onaangeroerd gelaat om op “Scout X” se spoor te kom nie, maar tot dusver was al sy pogings vrugteloos. Wel het hy van afgesonderde boereplase berig ontvang dat die naturel met sy trawante in die omtrek gesien is, maar, hoewel hy telkens in alle haas na so ’n omgewing vertrek het, het hy altyd te laat op die toneel gekom.
Die uitgebreide verkenningstogte wat hy daarna ondemeem het, was vrugteloos. Dit was of ’n grimmige noodlot hom telkens ter elfderure die loef afgesteek het. Twee dae lank het hy die rante en vlak lappe bosse myle om Lichtenburg met die fynkam deurgeloop, maar hy kon geen teken vind, selfs nie eens ’n definitiewe gerug wat hom op die woestaard se spoor kon bring nie.
Gistermiddag het hy verkennerskaptein Van der Westhuizen eenkant toe geroep.
“Ek kan geen hond haaraf maak nie, Kaptein.”
Van der Westhuizen het hom ondersoekend aangekyk.
“Moenie so praat nie, Dolf. Hierdie werk vereis moed, ou seun en die vermoë om soos ’n esel aan te hou.”
“Maar verstaan jy nie my moeilikheid nie, Kaptein? Die swarte is op vrye voet en hy is in hierdie omgewing. As hy nog ’n gruweldaad moet pleeg voordat hy tot verantwoording geroep word, sal die Generaal my nooit vergewe nie.”
Van der Westhuizen het nadenkend met sy voorvinger en duim oor sy ken gevrywe en ’n tyd lank so gestaan, in gedagte.
“Ek dink ek het ’n plan, ou seun,” het hy na ’n rukkie gesê. “Jou moeilikheid is om op ’n betrokke oomblik met sekerheid vas te stel waar die vuilgoed hom bevind. As ons ’n rapport kan onderskep waarin instruksies aan hom vervat is, sal ons kan weet wat sy bewegings die volgende paar dae sal wees. Kom ons gaan kyk wat ons kan doen.”
In sy tent het hy die verslae wat sy verkenners die afgelope dae ingebring het, sorgvuldig deurgelees. ’n Tyd lank het hy niks gesê nie, maar toe hy skielik opkyk, kon Rudolf die verrassing op sy gesig lees.
“Henning het pas hierdie verslag ingebring,” sê hy, “lees dit.”
Gretig neem Rudolf die aangebode dokument op.
“Warning Spy X, be careful, De la Rey tracing whereabouts confidential information. Full instructions Train Y94 Station 1730 Eight o’clock...”
Rudolf laat sy blik ’n tweede keer oor die heliogram gaan.
“Waar het Henning dit gekry?”
“Onderskep van ’n Engelse flitsberig,” sê Van der Westhuizen.
“’n Waaghalsige stukkie werk. ’n Flank van die kommando is aangesê om ’n trein te ontspoor. Henning was by hulle. Hulle het die trein op die stasie gevang, maar die soldate het teruggeskiet. ’n Hewige geveg:
Op die ou einde moes die Engelse oorgee, maar hulle was ’n dapper klomp; hulle het alles verbrand, selfs die trein, waarop die Boere beslag kon lê. Henning het sy teenwoordigheid van gees behou en ’n hele boel flitse onderskep voordat hulle die helio kon verwoes. Hy het sy lewe gewaag; hier is ander berigte.” Van der Westhuizen blaai deur die papiere voor hom, “maar die belangrikste vir jou is op die oomblik die een oor die swart vuilgoed.”
“Dink jy X was op die trein?”
Van der Westhuizen haal sy skouers op.
“Moontlik,” sê hy. “Die helfte van die Engelse het ontvlug.
Hierdie waarskuwing,” sê hy, terwyl hy wys na die rapport wat Rudolf deurgelees het, “is duidelik: Die hooflaer het natuurlik berig ontvang van die ontsporing en hulle het geweet dat die Engelse, in geval hulle gevang word, veilig sou wees; ons skiet nie eerbare krygsgevangenes nie. Maar hulle het ook geweet wat die woestaard se lot sal wees as hy in ons hande val.”
“En trein Y94, Stasie l730?”
Van der Westhuizen glimlag.
“Ons ken hulle fratse, ou seun. Dis waar hierdie kamallie vanaand verdere instruksies moet ontvang.”
Hy buk en haal ’n koevert uit ’n tas langs hom.
’n Oomblik gaan sy vinger sorgvuldig oor ’n ingewikkelde tekening op die kaart binne-in. Rudolf staan nou agter hom en sy oë volg die alfabetiese simbole links langs die tekening af, tot waar hulle boontoe konsentries verbind word met die syfers aan die regterkant af.
“Hierso,” sê hy opgewonde.
“Kaptein, dis onder ons neus: Remfontein, geen tien myl hiervandaan nie!”
“Daar het jy dit,” sê Van der Westhuizen gewigtig, “dis waar jy hom gaan betrap.”
Van der Westhuizen het hom verlof gegee om ses gewapende burgers saam met hom te neem en nou, terwyl Rudolf met angstige oë in die donker voor hom staar, lê sy ses manskappe, drie aan weerskante van die spoorweg, in ’n spoelsloot. Hulle is so goed versteek dat selfs die soekligte uit die trein hulle nie maklik sal vind nie.
Rudolf glimlag as hy dink hoedat die “stasiemeester,” ’n ou, half besope Engelsman, hom nouliks ’n halfuur gelede onvoorwaardelik aan hulle oorgegee het. Die ou het, in ’n dronke roes, sy arms oor die tafel uitgesprei, in die kantoor gelê toe hulle hom oorval het. Hy was so beskonke dat hy niks kon verstaan van die vrae wat Rudolf vinnig op hom afgevuur het nie. En toe hulle sy arms en bene met toue vasbind en !n sakdoek styf oor sy mond trek en driedubbeld agter sy nek vasknoop, het hy net ’n paar dronk verwensinge laat hoor — teen die hele mensdom in die algemeen en teen niemand in besonder nie — en sy slaap hervat.
“Laat hom maar lê,” het Rudolf sy burgers aangeraai, “van sy kant, hoef ons niks te vrees nie.”
Daar was geen die minste gevaar dat enigiemand die aankomende trein sou kon waarsku nie, maar Rudolf het al hoe onrustiger geword na gelang die aand gevorder het.
Dit is reeds oor negeuur en nog is daar geen teken van die treinm nie.
Meteens spits hy sy ore. Vaag uit die verte, maar tog duidelik hoorbaar bo die geruis van die reën op die sinkdak van die geboutjie naby hom, het sy oor nou die skerp gefluit van ’n lokomotief gehoor.
Asof hy so beter sal kan sien, hou hy sy hand bokant sy oë en tuur lank in die rigting vanwaar hy die trein verwag.
Meteens skiet ’n breë straal lig uit die donkerte voor hom rakelings oor die stasie en as die trein ’n wye draai vat, bewe dit ’n oomblik hoog in die groen blare van ’n paar bloekombome, skeer deur die lig en van die troebel, wind gejaagde miswolke hoog teen die swart hemel.
Rudolf stap haastig oor die perron, links van die stasiegeboutjie af.
“Steyn,” sê hy, “sê jou manskappe moet gereed wees. Die trein kom.”
In doodse stilte wag sy manskappe onderwyl die geklop van die treinwiele op die spoorstawe nou vinnig naderkom.
Rudolf wag in sy skuilplek, sy liggaam styf aangedruk teen die muur van die gebou: Hy het besluit om nie aan die aanval deel te neem nie; hy was seker dat sy marine gou met die trein sou afhandel, maar as hy tussen hulle is, sou dit moeilik gaan om te verhoed dat enigeen uit daardie trein spring en ontsnap. En hier is sy eerste en laaste kans om die naturellespioen te betrap.
Hy het lank op hierdie oomblik gewag en nou, terwyl die trein met ’n oorverdowende gedreun die laaste boog anderkant die stasie vat, voel hy 'n ongeduldige krieweling in sy hande. Hy kan nouliks wag om met die gevreesde en berugte swart moordenaar kragte te meet.
Die trein is nou regoor hom, op die laaste gelykte na die stasie. Hy hoor hoedat die brieke vat-vat aan die ysterwiele en die geskuur van staal teen staal. Langsaam neem die snelheid af, onderwyl die gefluit van ontvliedende stoom skerp bokant die geknars van die wiele uitklink.
Meteens vat die wiele die spoorverlegging, onderwyl die trokke hard teen mekaar stamp; die trein ruk tot stilstand en die lokomotief skuif langsaam oor die verlegging, kantel ’n oomblik en val dan stadig skuins teen die perron. Oombliklik volg ‘n swaar, onheilspellende stilte en dan merk hy hoedat die masjinis haastig na buite spring. Uit die sloot naby hom kom die skerp geknal van ’n kleingeweer; die masjinis val agteroor, onderwyl sy lantern in ‘n breë ligboog aan Rudolf se voete te lande kom. Uit die oopgerukte vensters van die trein spring ’n paar soldate en hardloop na die beskerming van die stasiegeboutjie naby hulle; maar die burgers is gereed vir enige gebeurlikheid. Rudolf merk hoedat die een, voordat hy die ingang van die gebou bereik, sy arms omhoog gooi, neerslaan en ’n oomblik omrol. Hy hoor die man se benoude doodsroggel naby hom. Die ander een spring om en hardloop terug. Uit die sloot aan beide kante van die trein knal die kleingewere nou aanhoudend. Rudolf hou sy oë oop. Hy is daar oortuig van dat die swarte—want hy twyfel nie dat hy op die trein is nie—’n poging sal aanwend om te ontvlug. Meteens sien hy hoedat ’n deur van een van die agterste trokke oopgeruk word; die trok staan half in die skaduwee en dit is duidelik dat die burgers die vlugteling nie sal sien nie. ’n Groot swarte spring uit en hardloop weg van die trein oor die perron. Rudolf se hart klop luid in sy keel. Hy ruk sy rewolwer uit die skede en lêe aan; as die skoot knal, tuimel die swart man vooroor en bly langs die spoor lê. Haastig stap Rudolf in sy rigting.
“Ons het jou, né, outa?” sê hy.
Hy kan sien dat die swarte nie dood is nie. Hy kreun, terwyl sy bloedbelope oë bevreesd op Rudolf gerig is. Agter hom het die geskiet skielik opgehou en hy weet instinkmatig dat die soldate oorgegee het.
Hy neem ’n sterk dun kabeltou uit sy sak en bind die swarte se bene aanmekaar.
“Lê maar ’n bietjie so,” sê hy, “ons sal netnou met jou kom afreken.”
By die stasie gee hy instruksies dat sy manskappe die soldate in die stasiegebou moet toesluit.
“Sê aan hulle dat ons ’n paar gewapende wagte sal agterlaat om hulle op te pas, Steyn. Laat jou manne daarna die trein buite werking stel...”
Onderwyl die vemietigingswerk aan die gang is, stap hy met twee van sy manskappe terug na waar die swarte lê.
“Bring hom hiematoe,” is sy bevel. “Ek wil ’n bietjie inligting uit hom hê.”
’n Oomblik later dra hulle die swarte onder die afdak van die stasiegebou in.
Noudat die naturel se gesig herkenbaar is, voel Rudolf skielik teleurgesteld. Die skepsel is nie die berugte spioen nie; daarvan is hy seker, want as daar een gesig is wat hy teen die tyd ken, elke trek daarvan, dan is dit dié van die woesteling. Dan skiet ’n gedagte hom te binne: “Jy is ’n spioen, né?”
“Nee, Baas.”
“Soek sy sakke deur,” beveel Rudolf.
'n Oomblik later kom een van sy manskappe orent.
“Niks, Veldkornet,” sê hy, “maar ek sweer hy het die rapport opgevreet.”
Rudolf kom orent.
“Ons vat hom saam,” se hy grimmig. “Hy sal vanaand praat, of...”
Hy wend hom tot Steyn. “Sê jou manne moet spring, Steyn; die Engelse se versterkings is seker al op pad...”
Dit was halftien toe die sewe man met die gewonde naturel by ’n eensame Boerewoning daar naby aanry.
Rudolf haal ’n halfgebrande vetkers uit sy provisiesak en plak dit vas op die vensterbank van die groot kamer waarin hulle hulle bevind. Bokant hulle hang ’n paar sinkplate krom gebrand en die balke van die kamer is stukke houtskool wat nog ternouernood aanmekaar bly. Dit is duidelik dat die Engelse die huis afgebrand het, kort tevore.
Die fyn motreën stuif op hulle, maar die dak verleen ’n mate van beskerming.
“Pasop dat die kers nie uitwaai nie,” sê hy.
Een van die burgers buk oor die kers en weer met sy baadjie die koel reënwind af wat deur die stukkende venster na binne waai.
Rudolf trek sy baadjie uit en rol sy moue op, onderwyl die swarte met groot, angstige oë eenkant teen die muur toekyk.
“Gee my jou sambok, Steyn,” se Rudolf. “Ek hou nie daarvan om dit te doen nie, maar dit is die enigste uitweg.”
Hy wend hom tot die swarte.
“Outa,” sê hy met dodelike ems in sy stem, “die Engelse het jou ’n rapport gegee om vanaand hiernatoe te bring. Waar is daardie rapport?”
Die naturel se lippe is styf opmekaar gepers, maar geen woord ontsnap sy lippe nie. Rudolf voel hoedat sy ongeduld styg. Hierdie swarte het iets met die berugte Spioen X te doen; dit weet hy; en terwyl hy hier staan en sukkel om inligting uit die skepsel te kry, is die vuilgoed miskien weer besig met een van sy afskuwelike moorddade.
“Ek het nie tyd om te mors nie,” se hy kortaf. “Gaan jy praat of nie?’
Die swarte kners op sy tande en skud sy kop.
Rudolf vat die samboksteel vaster in sy hand en die volgende oomblik krul die swarte soos die houe op sy rug val. Die ander burgers kyk swygend toe.
“Gaan jy praat?” se Rudolf.
Die swarte het sy lyf vas teen die muur getrek half in ’n sittende posisie. Daar is nou ’n naakte, dierlike angs in sy oë.
“Goed,” sê Rudolf. “Dan het ek geen ander uitweg nie.”
“Baas,” sê die swarte toe hy sien hoedat Rudolf se gespierde arm met die sambok opgehef word, “wag, ek sal praat.”
Rudolf laat die sambok sak en trek sy baadjie aan.
“Jy het die rapport opgevreet?” Die swarte knik.
“Dit was ’n rapport aan die swart duiwel? Die groot spioen?”
Weer knik die swarte.
“Praat gou: Vertel my alles wat in daardie rapport gestaan het.”
“Die Engelse grootbaas het rapport aan hom gestuur om na die Noord-Vrystaat te gaan; hy weet baas De la Rey soek hom.”
“Waar is hy nou?” vra Rudolf.
“Hy is hier, my Baas. Hy was daar by die stasie. Ek weet. Hy het daar gewag. Toe julle ons vang, het hy gevlug.”
“Maar waar is hy nou?”
Die swarte bly ’n oomblik stil, sy oë gerig op Rudolf se gesig.
“In die rapport hy’t gesê hy moet na Rietfontein toe gaan, Baas. More die Engelse kommando sal hom daar kry.”
Rudolf voel hoedat ’n paniekerige angs hom oormeester. Rietfontein! Die plaas van kommandant Els. Dis waar Johanna en haar tante woon.
“Is dit die plaas van baas Els?”
“Ja, Baas.”
Rudolf draai om, sy gesig dodelik wit in die lig van die flikkerende vetkers.
“Steyn,” sê hy hees, “laat Badenhorst die swarter na generaal De la Rey se laer neem. En julle ander: Volg my onmiddellik!”
DIT was net na middernag toe Johanna uit ’n onrustige slaap wakker word: Sy gaan regop in die bed sit en luister ’n oomblik verward na die fyn getik van die reën teen die ruite. Sy hoor hoedat die wind buite deur die bome loei en teen die sinkdak beur.
Wat kon haar wakker gemaak het? As dit reën, slaap sy vas en diep, maar sy kan vaag onthou dat iets, ’n voetstap in die huis, miskien ’n vloerplank wat kraak, haar gesteur het.
“Tant Hannie,” roep sy sag, “slaap Tante?”
“Nee, my kind.”
Die ondertoon van vrees in die ouer vrou se stem ontgaan haar nie.
“Hier is iemand in die huis,” se tant Hannie.
Johanna staan uit die bed op, voel-voel haar pad tot by die tafeltjie teen die muur en dan raak haar vingers die vuurhoutjies. Haastig, met bewende hand, steek sy die vetkers aan. Die kamer is leeg en behalwe sy self en haar tante is daar niemand nie. Die gordyne voor die venster is oopgetrek, maar dit het sy self gedoen vanaand toe sy gaan slaap het. Deur die ruite sien sy vaag hoedat die reën soos ’n wit gordyn buite.oor die werf val.
“Waar is die geweer, Tante?”
’n Benoude angs laat haar hart nou onstuimig in haar keel klop.
“In die voorhuis, my kind; in die hoek by die voordeur.”
Versigtig maak Johanna die kamerdeur oop en sluip die voorhuis binne. Met ’n gevoel van onuitspreeklike verligting sluit haar vingers om die koue staal van die loop.
Maar op dieselfde oomblik val ’n helder lig op haar.
“Sit neer die geweer, Boervrou,” se ’n stem dreigend naby haar.
Haar hand sluit vaster om die loop en die volgende oomblik staan ’n groot swart man voor haar, sy gestalte onwesenlik, byna spookagtig in die flou vetkerslig.
Die geweer word ongenadig hard uit haar hand geruk.
“Julle is twee vroue hier,” se die swarte in vlot Afrikaans.
“Waar is die ander een?”
Sonder om op haar antwoord te wag, stap hy na die kamerdeur en pluk dit oop.
“Korm uit, Duusvrou,” sê hy, “of ek kom jou met die sambok haal.”
“Jy het geen reg om hier in te kom nie,” se Johanna met opmekaar geperste tande, “die Boere sal jou skiet hieroor.”
Die swarte kyk haar nou met ’n walglike spotlag aan.
“Die Boere kan my nie vang nie, Boermeisie,” sê hy. “Dis ek wat hulle vang.”
Hy draai om en seê iets in kaffertaal aan twee van sy trawante.
Hulle verdwyn in die kamer en ’n oomblik later kom hulle terug met tant Johanna tussen hulle.
Die swarte kyk haar brutaal aan.
“Ek het lankal ’n oog op julle twee,” sê hy. “Ek het lankal gesien dat die Boere hierlangs kom. My hande jeuk lankal vir julle.”
Hy kyk na Johanna en sy sien die dik gesig, afskuwelik in die onseker lig van die kers.
“Jy is jonk en mooi, Boermeisie,” sê hy. “Moenie bang wees nie. Ons sal jou nie slaan nie. Maar sy,” hy wys met die steelkant van die sambok na die ouer vrou, “met haar sal ons afreken. Sy gee kos vir die Boere.”
Byna histeriese haat oor die ongeoorloofde woorde vlam in Johanna se hart op. Haar hande is krampagtig saamgesluit en haar oë, wat ’n oomblik gelede toonbeelde van angs was, is nou met vlammende woede op die swarte se gesig gerig.
“Sy is nog al parmantig,” se die swarte kalm, “maar ons sal haar reg kry.”
Hy haal sy kakiekep af en gooi dit op ’n stoel.
“Dis koud buite, Boervrou,” se hy aan tant Hannie. “Ons het natgereën.”
“Waarom laat julle ons nie met rus nie?” vra die ouer vrou sag.
“Ons het julle niks gedoen nie.”
Die swarte kom nader en voordat sy die hou kan afweer, slaan hy haar deur haar mond met die skerp peits van die sambok.
Tant Hannie steier agteroor, terwyl die bloed in ’n rooi streep langs haar mond afloop.
In 'n oogwink is Johanna by haar, haar arms beskermend om haar tante.
“Ek sal saam met haar sterf,” sê sy met haar oë weifelloos op die swarte se gesig. “Jy kan doen wat jy wil, jou ellendeling!”
Die kaffer tree vorentoe en vat haar arm in !n ystere knelgreep.
“Jy is mooi en jonk, Boermeisie,” se hy deur sy tande, “maar moenie te parmantig word nie.”
Sy voel hoedat sy vingernaels in haar arm ingryp en sy kan nie ’n uitroep van pyn onderdruk as hy haar met ’n skielike beweging van sy arm wegruk van haar tante om haar teen die muur te slinger nie.
“Gaan maak vir ons koffie, Duusvrou,” sê hy met ’n spottende glimlag om sy mond, “of ek sal die sambok weer moet gebruik.”
Johanna merk hoedat haar tante tier-regop staan voor die swarte.
Sy het van die vloer opgestaan en kyk die ouer vrou nou smekend aan.
“Gaan, in Godsnaam, tant Hannie,” sê sy pleitend. “Moenie laat hy weer slaan nie...”
“Gaan saam met haar,” sê die naturel aan een van sy volgelinge, “en kyk dat sy nie gif in die koffie gooi nie.”
Tant Hannie draai om om die swarte te volg, onderwyl Johanna magteloos toesien. Sy durf haar tante nie alleen laat gaan nie; miskien is dit ’n set van die swarte om hulle van mekaar te kry. Maar dan dink sy met ontsetting aan die wrede sambokhou en sy ril. Radeloos en byna kranksinnig van angs staan sy aan die vloer vasgenael.
Die swarter dryf tant Hannie kombuis toe. In die middeldeur draai hy om en sê iets aan sy leier. Op dieselfde oomblik klink ’n enkele rewolwerskoot luid deur die huis en met ’n wilde mengeling van verligting, ongelowigheid en verbystering sien Johanna hoedat hy
inmekaar sak, ’n verdwaasde uitdrukking op sy gesig: Die bloed stroom vinnig uit ’n enkele koeëlgat voor sy kop.
Die ander swartes staan ’n oomblik vasgenael aan die vloer: Die leier gryp skielik na sy rewolwer.
“Neem weg jou hand, vuilgoed,” sê ’n stem gebiedend agter hulle. Die swarte swaai vervaard om na die voordeur en as Johanna haar gesig omdraai, gee sy ’n stap vorentoe. In die deur, sy jas tot onder sy ken toegeknoop, staan Rudolf Naude.
Sy blik is stip gevestig op die swarte se gesig. ’n Oomblik staan hy so en dan maak hy die deur oop en kom binne. Op sy hakke volg ses gewapende burgers, hul klere sopnat, maar hul gesigte vasberade en onheilspellend.
“Ontwapen hulle, Steyn,” sê Rudolf.
Uit die hoek van sy oog het hy die beweging gesien. Die spioen sou nie nou ’n kans kry om los te kom nie, nadat hy so lank na hom gesoekhet!
Johanna se waarskuwende: “Rudolf!” was onnodig.
Die swarte se beweging was blitsvinnig, maar Rudolf het vinniger gehandel. Toe hy die rewolwer uit sy skede pluk, tref die witman se vuis hom vol op die kakebeen, met ’n harde, dowwe slag. Sy bene vou inmekaar onder hom en dan lêe hy stil, onderwyl die rewolwer uit sy vingers op die vloer gly.
Binne enkele sekondes is al die swartes ontwapen.
“Vat hulle na die kombuis, Steyn,” se Rudolf “Vat al jou manne. Skiet as hulle vlug.”
’n Oomblik is die twee jongmense alleen.
Rudolf se arms sluit om Johanna se skouers, onderwyl sy haar gesig teen sy bors lê. Hy stryk vertroostend met sy hand oor haar hare, maar laat haar toe om vry-uit te huil. Dit is die enigste manier waarop sy die verskriklike spanning wat sy deurgemaak het, te bowe sal kom.
Tant Hannie het uit die kombuis gekom toe sy die rewolwerskoot hoor val het.
Nou staan sy op die drumpel, ’n glimlag van verligting en goedkeuring op haar gesig.
Rudolf het twee burgers laat agterbly om die vroue op te pas, onderwyl hy en die ander vier die swartes na buite geneem het. ’n Paar minute later het tien geweerskote die middernagtelike stilte verskeur.
Daama het die nag weer rustig om die huis gelê.
Toe hy terugkom, het hy Steyn eenkant toe geroep.
“Die bevel is in jou hande, ou swaer,” sê hy, “jy kan die kêrels terugneem. Sê aan kaptein Van der Westhuizen Spioen X sal ons nie meer moeilikheid gee nie.”
Hy en Johanna het lank voor die venster gestaan, haar hande in syne.
“God moes my gebed verhoor het,” sê sy sag, “om jou te stuur.”
“Ons sal nooit alleen wees nie, Johanna,” antwoord Rudolf. “Ons volk sal nooit alleen en verlore wees nie—solank ons in God glo.