DE LA REY (8)

Hierdie boeiende vertelling van verskeie burgers se herinneringe onder genl De la Rey tydens die Tweede Vryheidsoorlog van 1899-1902 geskryf deur Ignatius Mocke kan gelees word by

De la Rey

STRATEGIE (vervolg)

RUDOLF het dankbaar gebruik gemaak van elke vrye oomblikkie wat hy kon vind om Johanna te besoek.

Hy het soms met verbasing daaraan gedink dat hy, wat nog altyd sonder vroulike geselskap kon klaarkom, vir wie dit trouens iets was wat hy kon ontbeer, veral met die oorlogsgeweld gedurig om hom, so aanhanklik kan word. Johanna se gelaat, haar oë, die oomblikke wanneer hy daarin haar trotse liefde kon sien ... soos daardie onvergeetlike nag toe hy haar uit die  swart spioen se kloue gered het... was gedurig voor hom. Wanneer die oomblikke van rus aangebreek het—in die nag, om die kampvure, in die middae wanneer hy onder ’n boom afgesaal en in die koelte daarvan gelê het—het sy gedagtes onkeerbaar na haar uitgegaan. En in sulke oomblikke het hy geweet dat hy die groot liefde van sy lewe gevind het en dat geen vrou ooit weer dieselfde verlange in sy siel sou wakker maak nie. By hierdie gevoel was daar soms ’n skerp, onuitstaanbare onrus oor haar veiligheid. Hy het dikwels in die nag wakker geword en met angs in sy siel aan haar gedink.

Is sy veilig in daardie eensame, donker huis, met geen beskerming naby nie? Sou dit nie beter gewees het om haar aan te raai om konsentrasiekamp toe te gaan nie? Maar die blote gedagte hieraan het hom met weersin vervul en hy het geweet dat Johanna selfs die dood sal verkies bo die smart en smaad van die kampe. Sy het dikwels aan hom gesê dat sy nie sou toelaat dat die Engelse haar wegneem nie.

“Jy moet ons kom waarsku as hulle kom, Rudolf; ons kan vlug na ’n vrouelaer, alleen, as dit nie anders kan nie. Tant Hannie voel net soos ek.”

Maar die weke het verbygegaan en niks het gebeur nie. Een middag het Rudolf impulsief besluit om haar te gaan sien. Hy het verkenningswerk in die rigting van oom Giel se woonhuis gedoen en op die ingewing van die oomblik sy perd uit die pad gestuur, met die vaal voetpad af wat na die opstal lei.

Dit was ’n rastige en sonnige middag. In die vlak veld om hom het die herfsbruin gras windstil gestaan.

Net so vreedsaam was die uitsig op die ou boerewoning. Selfs op die werf was daar geen teken van lewe nie.

Rudolf het houtgerus oor die werf gery, terwyl die teuels slap langs sy perd se nek hang.

Hy was gelukkig, soos altyd wanneer hy haar weer kon sien. Dit het hom nie getref dat die huis byna onnatuurlik stil en verlate daaruit sien nie.

Hy was net deur die hek, geen honderd tree van die agterdeur af nie, toe ’n voorgevoel van naderende gevaar soos ’n elektriese skok deur sy liggaam gaan. Wat hom die skerpte van gesig gegee het, kon hy nooit later sê nie; in normale omstandighede sou hy dit nooit opgemerk het nie. Miskien, het hy dikwels later gedink, was dit ’ n boodskap wat Johanna aan hom gestuur het—woordeloos, met haar siel. Dit was nie onmoontlik nie, want op daardie oomblik het sy gedagtes met intense verlange na haar uitgegaan.

Hy het sy perd vir ’n ondeelbare sekonde ingetoom, toe sy oog die wit voorwerp buite teen die deur vang. Dit was klein, op die afstand nouliks so groot soos ’n hoenderveer; maar wat Rudolf se blik asof gefassineerd aan daardie deur vasgenael het, was die wyse waarop die wit voorwerp op en af gegaan het. ’n Skerp voorgevoel van gevaar het deur sy brein geflits en ’n beklemmende spanning het sy hande vaster om die teuels laat sluit. Hy het nouliks geaarsel. Die volgende oomblik het hy sy perd vinnig omgeruk en teruggejaag, deur die hek.

Die beweging was net betyds, want ’n paar sekondes daama het die koeëls aanhoudend om hom gereën. Dit was een van die hewigste sarsies wat hy nog ondervind het. Hy kon sien hoedat die grond om hom in die lug geskop word en die fluitende gesneip van koeëls wat teen klippe wegskram, was oral om hom in die lug.

Toe Rudolf skuins van die huis af langs die kampdraad wegjaag, het hy met ontsteltenis gemerk hoedat ’n dertigtal soldate by die deur uitborrel. ’n Oomblik later het hulle hom lostoom agterna gejaag.

Langs die kampdraad af, in die rigting van die plaashek, sowat ’n halfmyl van die huis af, het Rudolf sy perd vrye teuels gegee. Maar net toe die soldate deur die kamphek kom, het hy skielik ingeruk en afgespring. Sy geweer was aan sy skouers toe sy voete grond raak en die volgende oomblik het hy sy magasyn leeg geskiet. Twee perde het ruiterloos teruggehardloop hek toe.

Vir ’n oomblik het sy agtervolgers opmekaar gebondel, maar dadelik afgespring en vuur op hom oopgemaak. Nou het Rudolf weer om dood en lewe gejaag, maar hy kon sien dat hulle veld wen op hom: Hul perde was beter uitgerus as syne, want die afgelope maande het hy duisende myle afgelê in sy verkenningswerk. Daar was feitlik geen oomblik se rus vir sy ryperd nie.

Nader aan die plaashek het hulle beweeg. Wanneer hy afspring om te skiet, is hulle in die saal en jaag hulle terug. Wanneer hy opklim, brand hulle op hom los. Hy weet dat ses van hulle al in die stof gebyt het, te oordeel na die perde wat een na die ander langs die kampdraad terug na die huis gehardloop het.

Toe hy die hek bereik, het hy skielik bemerk dat dit gesluit is. Sy agtervolgers is kort op sy hakke; geen driehonderd tree agter hom nie. Hy durf nie aarsel nie, maar steek sy perd ongenadig hard in die sye met sy spore. Die hings klim ’n oomblik in die lug, hef sy voorlyf hoog op en die volgende oomblik seil hy los oor die hek.

Maar toe sy pote grondvat anderkant, voel Rudolf hoedat die dier se lyf krampagtig onder hom ruk; hy maak sy voete los uit die stiebeuels en hardloop van die hek af, teen die draad op. Die hings rol om, skop ’n paar keer in sy laaste stuiptrekkings en lê stil. Hulle moes hom ’n doodskoot gegee het.

Rudolf kniel nou agter ’n groot miershoop, die geweer aan sy skouer. Die Engelse is naby die draad. Aan die voorpunt jaag ’n groot, swartman, so naby dat Rudolf die blink sweet op sy gesig kan sien.

Hy hoor die naturel se uitbundige triomfkreet: “Daardie Boer is myne! Laat staan hom!”

Grimmig wag Rudolf onderwyl hy naderjaag. Hy sien hoedat die perd sy voorlyf lig en oor die hek spring. Op dieselfde oomblik skiet hy. Die baster tuimel uit die saal, val hard op die grond. Rudolf kan sien dat dit 'n kopskoot is. Toe die perd grondvat, is hy by en hak sy arm deur die teuels. Dit is ’n groot skimmelwit reun, pragtig versorg, met bruin, blinkende saal en dubbeltrenstoom.

Met die teuels in sy arm vuur hy nou op die Engelse, uit die vuis. As hulle omruk, spring hy in die saal en jaag na ’n naburige klipkoppie.

“Nou is ek reg vir hulle,” dink hy terwyl hy die leë patrone uit sy mauser haal en aanlê.

Maar die Engelse het dit beter geag om die stryd te laat vaar. Haastig ruk hulle hul perde om en jaag terug in die rigting van die huis. Op dieselfde oomblik sien Rudolf deur sy verkyker hoedat vyf burgers voor die deur afklim en binnegaan.

Die Engelse vorder tot by die plaashek en dan word hulle begroet deur ’n sarsie geweerskote uit die woonhuis.

En nou laat Rudolf nie langer op hom wag nie. Hy moet daardie burgers te hulp snel. Hy spring in die perd se saal en jaag terug, deur die hek, skuins af in die rigting van die kraal naby die huis. Binne ’n minuut lê hy agter die muur.

Nou het vir die vyand ’n benoude tydjie aangebreek. Hulle word van twee kante bestook. In die oop veld om hulle is daar geen skuiling nie en die Boere lê veilig verskans. Dit het nie lank geduur nie voordat hulle die hasepad gekies het.

Rudolf het opgestaan en tot voor die deur gery.

Toe hy afklim, kom Johanna, haar gesig bleek van spanning, uitgehardloop.

“Rudolf, jy is veilig. Goddank,” sê sy.

“Was dit jy wat my gewaarsku het?”

Sy knik en glimlag dapper.

“Met ’n sakdoek en ’n haarnaald.”

Hy kyk haar ongelowig aan.

“Hulle het vanmiddag hier opgedaag,” verduidelik sy, “die offisier het gesê hulle weet jy kom hierheen. Hy het vreeslike dreigemente teen jou geuiter: Dat hulle lankal ’n oog op jou het; dat jy hul swart spioene vermoor en dat hulle jou sal skiet, soos ’n hond. Hy het my verbied om my gesig by die deur te wys. Ons het in die kombuis gestaan, ek teen die agterdeur, hy en sy manskappe voor my. Hy het gedreig dat hy my ’n koeël sou gee as ek enige teken maak om jou op jou hoede te stel. O, Rudolf, dit was die verskriklikste tyd van my lewe.”

Hy druk haar saggies teen hom aan.

“En toe een van hulle wat by die venster uitgekyk het, skielik sê dat jy aankom, het ek byna kranksinnig geword. Daarbuite oor die werf— ek het dit geweet, want ek het geweet jy sou kom, die hele oggend al —het jy aangery gekom, onbewus van die moordenaars wat jou lê en inwag. Ek het my soms verbeel dat ek die geklap van jou perd se pote kon hoor, buite op die werf.

“Ek moes op my tande kners om nie histeries uit te skreeu en jou te waarsku nie."

Sy bly ’n oomblik stil.

“En toe?” vra Rudolf sag.

“Toe het ek skielik geweet, soos daardie nag, dat God my sou help. Ek het geweet dat hy my gebede verhoor het. lets, soos ’n stem wat nie my eie was nie, het aan my gesê: Daardie sakdoek in jou hand; steek dit deur een van die splete... jy het gesien watter wye splete daar in die onderste agterdeur is?”

Rudolf knik.

“Ek het ’n haarnaald uit my hare verwyder, versigtig, asof dit ’ n gebaar van wanhoop was wat ek gemaak het. En hulle het dit nie gesien nie. Dit het gedeug, Rudolf,” sê sy. “’n Paar sekondes later het een van die Engelse gesê: ‘He’s noticed something. There he goes!‘”

“Toe het ek geweet dat jy die sakdoek opgemerk het.”

 

TOE Rudolf die voorkamer binnekom, het hy met verbasing na die toneel voor hom gekyk.

Op vyf stoele om die tafel het oom Frikkie Els en sy “kommando” geskaar gesit. Daar was twee leë brandewynbottels voor hulle op die tafel.

“Hulle het dit hier vergeet,” sê oom Frikkie en beduie met sy duim in die rigting waar die Engelse verdwyn het.

Rudolf kan sy lag nie bedwing nie. Die “kommandant ’ en sy manne is beskonke. Dit is so duidelik soos die daglig.

“Was dit julle wat die Engelse verwilder het?” vra hy.

“Ons,” sê oom Frikkie, terwyl hy trots op sy bors slaan.

Johanna staan agter hom:

“Kom ons gaan tuin toe,” sê sy, “tant Hannie is besig om vir hulle kos te maak.”

Hy neem haar arm en langsaam stap hulle na die boord ...

Vervolg...